08 September 2019

02. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees? Die kerk is 'n huisgesin

8 Sep. 2019
Skriflesing: Luk. 15 v 11 - 32

Teksverse: Luk. 15 v 17 & 18 



Ons is besig om weer te fokus op wat dit beteken om kerk van die Here te wees deur te kyk hoe lyk die kerk na aanleiding van die verskillende beelde oor kerkwees wat ons in die Skrif vind. Deur middel van die beelde verduidelik die Heilige Gees vir ons hoe lyk die kerk van die Here en hoe dit moet funksioneer.

Ons het verlede week begin met die beeld, “Die kerk is die bruid van Christus.” Hierdie week staan ons stil by die beeld wat die kerk van die Here voorhou as 'n huisgesin van God.

Die beeld waar gelowiges as huisgesin voorgehou word loop soos 'n goue draad deur Bybel. Vandag kyk ons na die beeld van wat kerkwees is soos 'n huisgesin soos dit in die gelykenis van die verlore seun aan ons voorgehou word. Verlede week het ons gehoor dat ons aan Jesus onderdanig moet wees. In hierdie gelykenis verduidelik dat Heilige Gees aan ons wat dit werklik beteken om aan Jesus onderdanig te wees.

Daar is drie karakters in hierdie gelykenis. Die vader en sy twee seuns. As jy hierdie gelykenis net oppervlakkig lees kom jy maklik tot die verkeerde slotsom dat dit gaan oor die ‘slegte’ seun en die ‘goeie’ seun. Die gelykenis vertel egter 'n ander storie, want daar is twee verlore seuns, nie net een nie.

Ons sien maklik die rebelse sondige optrede van die jonger seun raak. In rebelse opstand teen sy vader se gesag, eis hy voortydig sy erfdeel en dan vertrek hy om dit op in 'n uitspattige immorele lewe uit te leef terwyl sy ouer broer gehoorsaam by die huis bly. Wanneer die jonger seun deur sy omstandighede gedwing word om tot inkeer te kom en terug te keer huis toe sien ons in sy vader se optrede God se grenslose liefde en genade vir verlore sondaars raak.

In die huisgesin van die kerk is daar baie jonger seuns wat wegraak omdat hulle deur die wêreld daarbuite ingesluk raak. Hulle is op die uiteinde van die dag net name op ons lidmaatregister.

Die fokus van hierdie gelykenis is egter nie net op die jonger broer nie, want die gelykenis stop nie hier nie. Die optrede van die ouer seun leer ons wat dit beteken om werklik kerk van die Here te wees.

Anders as sy jonger broer is hy die gehoorsame een. Hy is dus die ‘goeie’ seun. As ons net op 'n moralistiese wyse na hierdie gelykenis kyk, sal ons sê: “Moenie soos die jonger seun wees nie, volg die voorbeeld van die ouer broer se gehoorsaamheid.”

Die probleem hiermee is egter dat altwee seuns van die vader vervreem is. Ten spyte van sy gehoorsaamheid en getrouheid om agter te bly om te sorg dat alles aangaan is die ouer broer net so verlore soos sy rebelse jonger broer. Die vader moet altwee innooi om saam met hom fees te vier.

Die jonger seun gaan in, maar die ouer broer weier om in te gaan na die fees wat sy vader gereël het. Hy verneder as te ware sy vader. Sy vader moet na hom toe uitkom om by hom te pleit. Dit help egter niks nie. Die disrespekvolle manier wat die oudste seun sy vader aanspreek en sy argument bring sy ware gesindheid na vore.

Hy hou sy gehoorsaamheid as rede voor en insinueer daarmee dat sy vader hom iets skuld vir sy goeie gedrag. Hy is kwaad omdat sy vader dit wat na sy mening hom toekom, op sy jonger broer uitmors.

Altwee die seuns streef op die uiteinde na dieselfde doelwit na. Hulle stel nie regtig in die pa belang nie, hulle wil net sy goed hê. Hulle metodes verskil, maar hulle streef dieselfde uitkoms na. Die jonger broer rebelleer en eis sy vader goed, terwyl die ouer broer deur sy gehoorsaamheid en goeie gedrag die vader wil dwing om sy goed vir hom te gee. Nie een van die twee broers het die vader vir homself liefgehad nie. Hulle het maar net hul vader gebruik vir dit wat hulle uit hom kon kry.

In 'n sekere mate is die ouer broer se optrede gevaarliker as die jonger broer sin. Die jonger broer kom op 'n stadium tot inkeer en kom terug na die vader toe en vier saam met hom fees. Die ouer broer gaan egter nie in na die fees toe nie. As jy meen dat daar nie fout is by jou nie, sal jy nie tot inkeer kom nie. As jy besef dat jy siek is, sal jy dokter toe gaan, maar as jy nie wil erken dat jy siek is nie sal jy nie die dokter besoek nie en die gevolge daarvan kan lewensgevaarlik wees.

In hierdie gelykenis word ons gekonfronteer met die ware karakter van sonde. Sonde is nie net 'n lys reëls wat jy oortree nie. Die ouer broer het nie die reëls oortree nie, maar hy was ook verlore. Die probleem is dat jy die regte ding kan doen, maar dan is dit nog steeds verkeerd. Die vraag is: “wat is jou motivering?” Is jy gehoorsaam aan God omdat jy vir Hom lief is, of is jy gehoorsaam bloot net vir die seëninge wat jy van God wil ontvang. Ek is mos 'n goeie Christin, daarom moet God sorg dat dit goed gaan met my.

Dis maklik om die jonger broer gesindheid by my raak te sien. Die vraag is egter: “sien ek ook die ouer broer gesindheid by myself raak?” 'n Toets is om jouself af te vra: “hoe beleef jy jou lewe in die huisgesin van God?” Is dit gevul met vreugde of is dit net 'n moeitevolle pligsbesef soos dit was in die geval met die ouer broer in die gelykenis wat met bitterheid vir sy pa sê: “Kyk, al die jare werk ek soos ’n slaaf vir Pa?” Die probleem is dat hy nie sy vader se liefde raaksien en beleef nie.

In almal van ons is daar 'n stukkie van die jonger broer, maar ook die ouer broer teenwoordig. Die vraag is: “hoe word ek daarvan bevry?”

Eerstens moet jy dus besef dat jy verlore is. Die jonger broer het tot inkeer gekom en sy sondes teenoor sy vader gaan bely. Dit moet jy doen of jy nou 'n jonger broer of 'n ouer broer is. Jy moet jouself voor God verootmoedig want voordat jy nie besef hoe verlore jy sonder God is nie, sal jy ook nie die volle diepte van sy liefde en genade verstaan nie.

Dit is egter nie al nie. Hierdie gelykenis word voorafgegaan deur die gelykenisse van die verlore skaap en die verlore penning. Ons kan hulle inderdaad die drie gelykenisse van verlorenheid noem. In al drie word iets verloor en ook teruggevind. Daar is egter ook 'n verskil tussen die eerste twee en die laaste een. In die eerste twee het iemand uitgegaan en gesoek totdat dit wat verlore is weer teruggevind is. Met die verlore seun het dit nie gebeur nie.

Dit is wat die ouer broer moes doen, maar hy het nie. In Jesus vind ons egter die ouer broer wat uitgaan en soek. Hy is die ware ouer broer.

Daar was egter 'n koste aan verbonde om die jonger broer terug te neem wat die ouer broer nie bereid was om te betaal nie. Toe die jongste sy erfdeel geëis het, is dit wat oorgebly die ouer broer sin. Om die jonger broer terug te neem in die huishouding het, beteken dus dat die ouer broer sy erfdeel wat oorgebly het met die jonger broer sou moes deel. Dis deel van die rede hoekom die ouer broer so ongelukkig was dat die vader die jongste terug geneem het.

Om verlore sondaars terug te bring in God se huishouding vra 'n duurder prys as wat die ouer broer in die gelykenis moes betaal. Jesus moes met sy lewe boet en uit liefde het Hy dit gedoen.

Dis wat ons moet verstaan. Dit is net God se genade en liefde wat ons verlos van ons verlorenheid. Die jongste seun het sy vader se vergifnis aanvaar en ingegaan na die feesmaal toe. Die oudste seun het gedink dat hy dit kon verdien, maar dis nie sy dade wat hom gered het nie. Dis die vader se liefde.

Hy moes dit net aanvaar, maar hy wou nie. Indien jy nie God se genade en liefde aanvaar nie deel jy nie in die feesmaal nie. Die oudste seun het nie in die feesmaal gedeel nie omdat hy hardnekkig geweier het. Dit was nie die vader wat hom uitgehou het nie. Dit was sy eie hardkoppigheid. Geliefdes moenie dat jou hardkoppigheid en eie geregtigheid in die pad staan om saam met God fees te vier nie.

God wil hê dat ons, sy kinders saam met Hom kom feesvier. Dis wat ons nou reeds moet doen in ons kerkwees as huisgesin van God en waar ons, ons moet voorberei vir die groot feesmaal, die bruilof van die Lam wanneer Jesus weer kom.

Geliefdes beleef die vreugde daarvan om deel van God se huisgesin te wees in die gemeente waar Hy ons in geplaas het. Doen dit vir wie God is en nie met bybedoelings vir dit wat ons kan kry nie. Doen dit met die diepe besef wat dit ons ouer broer Jesus gekos het om ons weer met God te versoen. Dink daaraan dat Jesus sy lewe vir jou gegee het en jou met sy bloed gekoop het sodat jy saam met jou broers en susters kan deel in God se feesmaal. In ons Kerkwees is 'n huisgesin wat moet omgee vir mekaar. Leef daarom ook soos God se huisgesin in liefde saam.
Amen




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking