Teksvers Ps. 22 v 2
5 Feb 2017 GKE
Sing
Sb. 17-1 v 1 , 4 & 6
My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as
ek om hulp roep? Dit is ’n hulproep van
gelowiges oor al die eeue heen. Daar kom tye in ‘n mens lewe waar alles net
verkeerd loop. Jy is nog besig om te probeer bepaal hoe jy die huidige krisis
moet hanteer, dan slaan die volgende een jou ook onderstebo. Dit voel vir jou
of jy heeltemal aan jou eie lot oorgelaat is en dat die Here nie eers jou nood
raaksien nie. Jou gebede voel leeg en dit voel vir jou of daar geen antwoord is
nie.
Het u al so
gevoel geliefdes? Voel u dalk nou so? Wil u ook saam met die Psalmdigter uitroep:
My God, my God, waarom het U my verlaat
en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook
snags, maar ek kry geen rus nie. Moet tog nie so ver van my af weg bly nie,
want die nood is naby en daar is niemand wat help nie. Here, moet tog nie so
ver bly nie, help my tog gou! Luister
dan na hoe die Here ons hulproep met Ps.
22 antwoord.
As ons na die
verlede en so om ons heen kyk is dit egter duidelik dat ons nie alleen staan in
beproewing nie. Dit help om te weet dat daar ook ander gelowiges is wat deur
beproewing geteister word, maar tog bied dit nie 100% troos nie. Om te voel dat
God ver van my is, is ’n angswekkende gevoel.
In Ps. 22:2 & 3 hoor ons hoe
verlore en verlate Dawid voel, maar dit wat hy volgende sê in vers 4 & 5
gee vir ons perspektief.
U is tog die Heilige
wat woon waar die lofsange van Israel weerklink!
Op U het ons
voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered.
Ten spyte
daarvan dat Dawid verlore en verworpe voel fokus hy op twee waarhede. God
regeer in heiligheid en Hy is getrou om sy om sy uitverkorenes te red.
Vertrou op die waarheid en nie jou gevoelens nie
Wanneer dit
vir jou voel of God ver is, vertrou op sy karakter, wie Hy werklik is. God leer
ons in sy Woord dat Hy oral teenwoordig is en dat Hy regeer. Dit voel dalk vir
my of God ver is, maar die waarheid is dat Hy nie is nie. Die waarheid is dat
ek nie alleen is nie.
Aan die ander
kant beteken God se heiligheid dat ek nie verdien om naby God te wees nie. God
leer ons ook in sy Woord van sy genade. Een van die sewe kruiswoorde wat Jesus
uitgeroep het is juis Ps. 22v2. In Mat
27:46 hoor ons:
Teen drie-uur het
Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God,
waarom het U My verlaat?
In Ps. 22 hoor ons die profesie van
die enigste mens wat werklik deur God verlaat is. Jesus wat aan ’n vervloekte
kruishout in ware Godverlatenheid gehang het sodat ons nooit weer deur God
verlaat sal word nie. Jesus Christus is ons waarborg dat ons altyd toegang tot
God het.
Wanneer jy
nie die krag van God se teenwoordigheid ervaar nie, vertrou op sy troue
verbondsliefde waarmee Hy ons red. In Ps. 22:4-6 hoor ons hoe Dawid onthou het hoe God sy
voorvaders gered het.
Wonder u soms
of God jou dalk nie vergeet het nie? Het Hy dalk hierdie keer nie tyd om na my
nood om te sien nie? Wanneer u so voel geliefdes, hou vas aan God se beloftes
wat Hy in sy Woord vir ons gee. Die kruis verseker ons van God se genade en dat
Hy na ons omsien.
Wanneer dit vir jou voel of God ver is, laat die
waarheid jou gevoel verander.
Ons hoor hoe
Dawid deur verskeie verse sy klagtes teenoor die Here uitstort. Hy onthou van
God se heiligheid en sy verlossing. Tog is hy eerlik oor sy gevoelens. Ons bv hoor
in Ps. 22:15 &
16:
Ek is soos
uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword,
dit smelt weg in my. Ek is so min werd soos ’n potskerf, my tong kleef aan my
verhemelte, U laat lê my asof ek dood is.
Moenie skaam
wees om jou hart teenoor die Here uit te stort nie. Om die waarheid van die
Here se heiligheid en sy genade te ken beteken egter nie dat ons nie ons
gevoelens teenoor die Here mag verwoord nie. Vertel die Here hoe jy die
swaarkry in jou lewe beleef. Hy verstaan beter as enige een hoe jy voel. Praat
met die Here.
Soos ons met Ps. 22 vorder hoor ons hoe iets
merkwaardigs met Dawid gebeur. Terwyl hy sy hart teenoor die Here uitstort
verander die waarheid sy gevoelens. In Ps. 22:23-25 hoor ons hoe sy wanhopige klagtes in
sekerheid en vertroue verander.
U het my gebed
verhoor! Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente, U in die volle
vergadering prys. Julle wat die Here dien, prys Hom! Vereer Hom, nageslag van
Jakob! Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel! Die nood van die hulpelose het
Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar
die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor.
Soos wat ons
besig is met God se woord, word ons hopeloosheid verander in hoop. Dit is nie
ons gevoelens wat bepaal of God naby of ver is nie. Dit is sy karakter, wie Hy
is. En deur sy Woord leer ons God ken. Wanneer dit vir jou voel of God ver is,
weet dat jy niks hoef te doen om God nader te bring nie, want Hy is reeds naby!
God se genade word nie bepaal deur wat ons doen nie, maar wel deur wie en wat
Hy werklik is.
Wanneer die
lewe te veel word, hou vas aan God se beloftes. Moenie dat jou gevoelens jou op
’n dwaalspoor lei nie. Laat die waarheid van God se karakter jou gevoel
verander. Neem Jesus se belofte in Mat.
11:28 ernstig op en kom na die enigste bron van vrede en rus.
“Kom na My toe,
almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking