06 Oktober 2013

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne

17 Aug. 2013 Jes. 42:18 – 43:28
Fokusgedeelte : Jes. 43:1
Lof-Psalm   Ps. 42:1 & 3       (OAB)
Na Wet       Ps. 38:1 & 17     (OAB)
Na Gebed   Ps. 118:1 2         (OAB)
Slotsang     Ps. 42:5 & 7       (OAB)

Inleiding
Vandag is ons voorbereidingsdiens vir Nagmaal volgende week. Die rede daarvoor vind ons 1 Kor. 11:28
Maar elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink
Dit is ’n geleentheid wat God ons gee om weer te gaan nadink oor wat die Nagmaal werklik vir ons beteken. Die vraag is nou geliefdes: “Hoe berei ons, ons voor vir die Heilige Nagmaal?”

In die Nagmaalsformulier word dit vir ons soos volg verduidelik:
Die ware selfondersoek bevat drie hoofpunte:
1) Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en ons met diepe berou hieroor voor God verootmoedig. (Erken dat ek verkeerd gedoen het)
2) Ons moet die vaste belofte van God glo dat al ons sondes alleen op grond van die soenverdienste van Christus vergewe is en dat sy volkome geregtigheid ons toegereken en geskenk is.
3) Ons moet die opregte begeerte hê om met ons hele lewe dank aan God te bewys, opreg voor Hom te wandel en in ware liefde en eensgesindheid met ons naaste te lewe.

In ons teksgedeelte gee die Here vir ons so ’n bietjie perspektief oor bogenoemde drie sake wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop: sonde, verlossing en dankbaarheid.

Sonde
Die boek Jesaja kan in twee hoofdele opgedeel word. Jes. 1-39 en Jes. 40-66. Die eerste deel handel oor die tyd toe Juda en Israel gevaar geloop het om deur die Assiriërs ingeneem en in ballingskap weggevoer te word. Die tweede deel handel oor die tyd toe Juda in ballingskap was, ongeveer een en ’n half eeu na die tyd van die profeet Jesaja. Die gedeelte is gerig aan ’n platgeslane volk en verkondig dat die Here die Skepper en Verlosser is, die regeerder van alles. Daarom kan Hy red.

Die Here het sy volk telkemale gewaarsku om hulself te bekeer, maar hulle wou nie luister nie en daarom is hulle in ballingskap weggevoer soos ons hoor in Jes. 42:24 & 25a
Wie het van Jakob ’n gevangene gemaak, wie het vir Israel oorgegee aan dié wat buit gemaak het? Is dit nie die Here nie, Hy teen wie ons gesondig het? Ons wou nie sy wil doen nie, ons wou nie na sy woord luister nie. Daarom het Hy sy toorn teen hulle laat ontvlam: die geweld van oorlog.

Sonde beteken om in opstand teen God te kom deur ongehoorsaam te wees aan Hom. Dit beteken om nie God se gesag in ons lewens te aanvaar nie. Om net mooi die teenoorgestelde te doen wat God vir ons sê om te doen. Dit beteken om liefde vir selfsug en haat te veruil. Sonde is om teen my beterwete van God af weg te draai en dit hou baie ernstige gevolge vir in. In Jes. 42:25b waarsku die Here sy volk hierteen:
Daar was vlamme rondom hulle, maar hulle wou nie verstaan nie; dit het hulle gebrand, maar hulle wou dit nie ter harte neem nie.
Die gevolg vir Israel was dat hulle in ballingskap weggevoer is na ’n vreemde land weg van alles wat vir hulle kosbaar was. Hulle het nie meer grond besit nie. Hulle was weg van die tempel af waar hulle God aanbid het.

Dit is wat sonde in ons lewens ook doen. Dit bring verwydering tussen ons en God en daarom sien ons dat die gevolge van hierdie opstand teen God ook in ons lewens raak. Die vrug hiervan is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns wat in ons lewens teenwoordig is.

Die eerste aspek van my voorbereiding is dus dat ek teenoor God moet erken dat ek ’n probleem het (verootmoediging) met die verhouding tussen my en God en dat ek moet besef dat ek dit nie self kan oplos nie. Dit is seker een van die moeilikste dinge vir ’n mens om te doen. As dit nie vir die Heilige Gees was wat my daartoe lei nie sal ek dit uit my eie nooit kan doen nie.

Verlossing
Vir die Israeliete wat in sak en as in Ballingskap sit kom daar ’n wonderlike troos van verlossing soos ons hoor in Jes.43:1-3a
Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Israel is as ’n klomp slawe weggevoer na ’n vreemde land toe en hulle kan absoluut niks daaraan doen nie. Vir hierdie slawevolk bring die Here die wonderlike troos: “Alhoewel julle niks kan doen nie, Ek kan alles doen!” Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne

Die klem val hier op die Here wat sy volk red en hulle verlos uit die slawerny waarin hulle vasgevang is. Die Here sê: “Ek verlos jou” en in Jes. 43:11 sê die Here
Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie.

Dit is dikwels hier waar ons die denkfout maak oor voorbereiding. Ons kry so maklik die persepsie dat ek vir die Here moet wys dat ek eintlik nie so sleg is nie. Ja, ek het nou wel so bietjie droog gemaak, maar ek gaan van nou af harder probeer. As ons mooi luister na wat die Here hier en in die res van die Bybel vir ons sê, sal ons agterkom dat dit nie ek is wat myself moet regruk en verander nie. Ek kan nie al wil ek ook. Die Here vat my en Hy red my omdat Hy vir my lief is soos Hy vir ons sê:
Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Hy dra ons wanneer ons deur diep waters moet gaan in die lewe. Daar waar die lewe te swaar word dra Hy ons. Daar waar dit vir my voel ek kan nie meer nie, gee Hy vir ons die krag om aan te gaan. Daar waar die vuur van my opstandigheid teen die Here dreig om my heeltemal te verskroei beskerm Hy ons omdat Hyself deur die water en vuur van die kruis vir ons gegaan het. Christus het die duurste prys betaal wat ’n mens kan. Hy het met sy lewe betaal en dit is wat ons met die Heilige Nagmaal kom herdenk sodat die Heilige Gees daarmee ons geloof kan versterk. En die troos wat ons ontvang is die sekere en vaste wete dat ons met Christus verenig is deur ’n onbreekbare band van die Heilige Gees.

Dit beteken prakties dat ek verseker kan weet dat selfs in my slegste tye en diepste oomblikke van donkerte God nooit spyt was dat Hy my gered het nie. NOOIT NIE! Soos Hy in Jes. 43:4 bevestig:
Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

Die tweede aspek van my voorbereiding gaan dus daaroor dat ek besef dat ek nie meer kan nie en dat die enigste uitweg by God self lê. Dat ek sal besef dat die waarborg van my verhouding met God nie in my swak hande lê nie, maar in die sterk band van geloof wat God self in persoon van die Heilige Gees aan my gee. Dis nie ek wat moet goed wees nie. Dit is God se genade wat my red.

Dankbaarheid
In Jes. 43:18 sê die Here vir die volk
Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.
Dit wat in die verlede is, is klaar afgehandel. Wanneer die Here sonde vergewe het dink Hy nooit weer daaraan nie soos ons hoor in Ps. 103:12
So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Nou is dit vorentoe. Dit is hoe dit vir ons ook moet wees. Die sonde in my verlede is soos ’n donker gat in die diepste binneste van ’n tronk. As ek daarvan gered is en vrygemaak is, gaan ek tog nie weer vrywillig daarnatoe terugkeer nie! God het vir my ’n nuwe lewe gegee waar ek verlos is van die selfsug en haat en ongeluk. Waarom sou ek daarnatoe wou terugkeer? Uit dankbaarheid wil ek weer leef en nie vasgevang wees in die doodsheid van die sonde nie. Ek kan hierdie nuwe lewe leef omdat die Gees my dra en in staat stel om dit te doen.

Slot
Waaroor gaan voorbereiding? Drie eenvoudige sake. Sonde, verlossing en dankbaarheid. Geliefdes kom ons maak hierdie week wat voorlê erns met ons voorbereiding sodat ons die volle troos kan ontvang wat die Here vir ons met die Nagmaal gee.

Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking