13 Augustus 2013

Jesus bring hoop vir moedelose en gebroke mense

11 Aug. 2013 Jes. 42:1-9 & 2 Kor. 12:7-10
Fokusgedeelte : Jes. 42:3 & 2 Kor.:12:9
Lof-Psalm Ps. 111:1, 2 & 3      (NAB)
Na Wet Sb. 9-1:1 & 11            (Sb 26 in swart Psalmboek)
Na Gebed Ps. 34:1, 2 & 5        (OAB)
Slotsang Ps. 147:1, 2 & 3         (OAB)

Ons leef in ’n wêreld wat nie baie geduld met swakheid het nie. As jy nie meer funksioneer soos daar van jou verwag word nie, word jy eenkant toe gestoot en weggegooi. Daar is nie tyd of plek vir swakheid nie. Daar word van jou verwag om sterk te wees. Moenie vir die wêreld wys dat jy kwesbaar is nie. Maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie, sorg dat jy glimlag. Daarom kry ons ook sulke motiverende spreukwoorde soos: “maak nie saak hoe jy voel nie, staan op, trek aan en veg vir wat joune is” of “wat die lewe na jou kant toe bring, selfs as dit seermaak, wees net sterk en maak of alles goed en reg is. Onthou sterk mure skud, maar hulle val nie om nie.”

Dit klink alles baie mooi, maar eintlik skuil daar ’n troostelose boodskap agter sulke mooi klinkende spreukwoorde. Wat sê dit eintlik vir jou? Moenie vir die wêreld jou swaarkry wys nie, want niemand gee om nie! Sorteer jou probleme by jouself uit en moenie ander daarmee pla nie! Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik. Hulle wat nie die paal haal nie word eenkant toe gestoot. Die wêreld het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. Die probleem is egter die dat wêreld vol is van stukkende en moedelose mense.

God het ons geroep om as sy kerk sy lig in ’n donker wêreld in te dra wat Hom nie ken. Die probleem is egter dat elkeen van ons ook maar een of ander stukkie seer het wat ons met ons saamdra. Hoe kan ons God se troos aan ’n moedelose en stukkende wêreld bring wanneer ons self ook soms stukkend en moedeloos is? As ons volgens wêreldse maatstawe meet is ons nie goed genoeg nie, maar God werk egter anders as die wêreld. Sy werk word gedoen deur gebroke mense, mense wat die nood en seerkry van die wêreld verstaan. In Jes. 42 leer die Here ons dat Hy deur middel van ons gebrokenheid en onvolmaaktheid sy wil met die wêreld bereik.

Jesaja 40 – 66 is geskryf om die Israeliete wat daar in die vreemde in gevangenskap is te bemoedig. Vir hierdie klein hopelose klompie Israeliete sê God deur sy profeet Jesaja dat daar hoop is vir die toekoms. Die boodskap van hoop is nie net in die verlossing van Israel uit ballingskap nie. Dit is veel groter want God wil deur die swak, nederige, magtelose groepie ballinge sy verlossingswerk laat uitkring tot aan die uithoeke van die aarde. God gee aan hulle die spesiale taak om sy wil aan al die nasies bekend te maak en om die moedelose mense te inspireer om weer lig te sien soos ons hoor in Jes.42:1-9.

Die beginsel dat God deur gebrokenheid sy wil met die wêreld bereik word vir ons duidelik gewys deur die lewe en werk van Jesus Christus. In Hom kry die “onlogiese” logika van God prakties gestalte. God bereik sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid selfs die dood heen.

God roep ons ook in ons gebrokenheid om sy wil aan die wêreld bekend te maak. Die troos wat ons het is dat Hy ons met sy Gees toerus om die werk te doen waartoe Hy ons geroep het. Volgens die manier wat Christus sy werk gedoen het moet ons ook in sagkens werk en deernis betoon aan dié wat gebroke en moedeloos is. Ons kan dit doen omdat God met ons ook sagkens werk en dat Hy vol deernis is vir ons gebrokenheid soos ons hoor in Jes. 42:3
’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.

Die beeld van ’n lamppit wat dof brand is dalk nie so bekend met ons jonger mense nie. Die lamppit is ’n langwerpige stuk linne ongeveer so 2cm breed en 3mm dik. Die doel van die lamppit is om die olie wat onder in die lamp is op te suig en boontoe te bring na daar waar die vlam brand. Wanneer die lamppit egter te kort raak en dit nie meer in die olie hang nie, brand die vlammetjie al hoe flouer omdat daar nie meer olie is om te brand nie. So ’n vlammetjie wat flou brand word dan ook maklik uitgedoof.

Is dit nie hoe ons ook maar baie maal voel nie? ’n Vlammetjie wat so flou brand dat die geringste windjie dit sal uitblaas. Elkeen van ons het elkeen maar sy eie bekommernisse wat ons met ons saamdra. Dikwels voel dit vir ons dat ons nie eens genoeg lig het om ons eie donkerte in die lewe te verlig nie, wat nog daarvan om ’n lig te wees vir ander? Die troos wat die Here vir ons gee is dat dit juis dan is wanneer ons bruikbaar is soos ons ook hoor in 2 Kor. 12:9a
My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

Wanneer ons nie meer krag het om aan te gaan nie is dit juis Christus se krag wat ons dra soos ons hoor in 2 Kor. 12:9b & 10
Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Die wêreld is in nood omdat sonde veroorsaak dat die mens se verhouding met God deur sonde vernietig is. Dit het meegebring dat mense se onderlinge verhoudings ook beskadig is. In Jes. 42:6 & 7 hoor ons dat God vir Christus as sy dienaar geroep het om die gebroke verhouding tussen God en die mens en tussen mense onderling te herstel.
Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.

God se verbond is ’n vaste ooreenkoms wat Hy reeds met Abraham gemaak het en telkemale weer bevestig het met die gelowiges wie Hy uitverkies het. Die inhoud van daardie ooreenkoms is dat Hy onderneem om ons God te wees en dat ons sy volk moet wees. Met ander woorde God onderneem om die gebroke verhouding wat deur ons sonde veroorsaak is te herstel. In Jes. 42:7 hoor ons dat Hy sy verbond deur Jesus Christus bekragtig. Jesus Christus het met sy offer aan die kruis die gebroke verhouding tussen God en die mense kom herstel. Dit is die goeie nuus, dit wil sê die evangelie wat ons aan die wêreld moet uitdra. Jesus laat mense wat deur sonde verblind word vir God se liefde weer sien dat God liefde is. Dat mense wat deur sonde vasgevang is daarvan bevry kan word. Hierdie werk van God word in ons gebrokenheid gedoen en ons kan dit doen omdat ons krag in Jesus Christus gesetel is.

Die wonderlike troos hierin is dat Jesus nie net vir ons sondes in die verlede gesterf het nie. Hy het ook gesterf vir alles wat ons nou in die lewe moet deurmaak omdat Jesus hoop bring vir moedelose en gebroke mense. Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik en het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. In Jesus Christus bereik God sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid selfs die dood heen.

Geliefdes, As die lewe jou moedeloos maak gemaak het. As jy uitgeput en oorlaai is kom na Jesus toe en Hy sal julle rus gee.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking