06 Augustus 2013

Ken ek God net met my kop of ken ek Hom met my hart ook?

Luk 24:1 – 35 teksvers 32

Sondag 7 v&a 21 Heidelbergse Kategismus
21  Vraag:  Wat is 'n ware geloof?
Antwoord:  'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Inleiding
Is ons nog opgewonde oor die Goeie Nuus van Jesus Christus? Weet ons wat die Goeie Nuus vir ons beteken? Onthou ons nog dat ons elke Sondag die opstanding van Jesus Christus as ’n feesdag behoort te vier? Ons verwys ook na die Goeie Nuus van Jesus Christus as die Evangelie. Wat is die Evangelie? Kan ons die Evangelie glo as ons nie weet wat dit is nie? Kan ons aan iemand anders vertel wat die Evangelie is as ons self nie weet wat dit is nie?

Die Evangelie, dit wil sê die Goeie Nuus van Jesus Christus is dat Hy vir my sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy die dood oorwin deur sy opstanding. Sy opstanding is die bewys dat God my sondes vergewe het sonder dat ek iets hoef te doen om dit te verdien en daarom kan ek nou met ’n lewe wat aan God toegewy is vir Hom dankie sê.

Nou dat ons weet wat die Evangelie is, moet ons nog ’n vraag vra: “glo ons dit?” Daar is twee kante van die saak. ’n Kopkennis van wat die Evangelie is en ’n hartskennis, dit wil sê ek glo dat die Evangelie ook vir my waar is. In die verhaal van die Emmausgangers sien ons hoe dit prakties werk. Daar sien ons wat se invloed dit op ’n mens se lewe het wanneer die kopkennis van die Evangelie in ’n hartskennis verander.

Kopkennis
’n Kopkennis alleen help nie. Jesus se volgelinge het geweet dat Hy gekruisig moes word, maar ook dat Hy uit die dood moes opstaan. Jesus het dit immers op ten minste drie geleenthede vir hulle vertel soos ons in Luk 9:21, 9:44 en 18:25 hoor. Verder het die vroue wat van die leë graf af terug gekom het dit ook vir hulle vertel. Maar hulle het dit nie geglo nie soos ons hoor in Luk 24:11
Maar vir hulle het hierdie verhaal na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie.

Hulle het vergeet wat Jesus self vir hulle hieroor gesê het en nou dat die vroue vir hulle daarvan vertel het, het hulle dit nie geglo nie! Is dit nie ook maar hoe dit in ons lewens gaan Nie geliefdes? Hoeveel maal hoor ons nie van God se trou en liefde in sy Ewige Woord nie? En wanneer ons daaraan herinner word, dan glo ons nie. Dink maar aan die woorde van Psalm 46 soos ons dit ook so dikwels al gesing het. “God is ’n toevlug in die nood .........” En wanneer die lewe begin druk? Glo ons dit?

Wat is die effek wat hierdie ongeloof op ’n mens se lewe het? In die verhaal hoor ons hoedat hulle uitmekaar begin gaan het en dat hulle met moedeloosheid oorval is soos ons hoor in Luk 24:17.
Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”
Met somber gesigte gaan hulle staan
En dan vertel hulle vir Jesus hoe hulle hoop teleurgestel is, daardie hoop wat hulle gehad het dat Israel verlos sou word is nou tot niet.

Hier is twee dinge duidelik. Hulle het die belofte van hoop en redding verkeerd verstaan en hulle het die waarheid wat die vroue vertel het onstellend gevind omdat dit nie ingepas het by hul verkeerde verwagting nie.

Is dit nie ook maar ons probleem nie? Is daar nie maar by ons ook ’n gebrek aan vreugde en opgewondenheid oor die evangelie nie? Raak ons nie maar ook al hoe minder nie? Volgens die Kerkalmanak was die aantal belydende lidmate in 2001 216 en nou is ons skaars 120. Hoeveel van die 120 woon gereeld eredienste by? Is die gebrek aan vreugde en opgewondenheid oor die Evangelie nie dalk die rede waarom mense nie meer ywerig is om daarna te kom luister nie? Is daar nie dalk ook maar ’n mate van gebrek van geloof by ons teenwoordig nie. Glo ons werklik dat die Evangelie hier en nou ’n verskil in ons lewens kan maak? Word ons nie ook maar ontsteld wanneer ons die waarheid hoor dat ons nie werklik sulke goeie mense is soos wat ons dink nie?

Wat is die rede daarvoor? In Luk 24:25 hoor ons Jesus se antwoord op hulle swaarmoedigheid:
Toe sê Hy vir hulle: “Wat ’n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”
’n Gebrek aan begrip. Hulle het nie verstaan nie. En hoekom nie? Daar was ’n traagheid van Gees teenwoordig om werklik by die Woord uit te kom en daarom het hulle nie geglo dat dit persoonlik op hulle van toepassing was nie. Dit was maar net ’n kopkennis en nie ’n hartskennis nie.

Hartskennis
Wat is die oplossing vir die probleem? Ons kopkennis moet in ’n hartskennis verander. Hoe gebeur dit? In Luk 24:27 hoor ons hoe Jesus hulle na die Woord toe terug geneem het:
Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.
Hulle het Jesus nie dadelik herken nie, maar daar het ’n verandering by hulle begin gebeur soos ons hoor in Luk 24:32:
Hulle sê toe vir mekaar: “Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie?”
Dit het veroorsaak dat daar ’n begeerte by hulle was om nog meer van Jesus se teenwoordigheid te ervaar, selfs al het hulle Hom nog nie herken nie.

Wat het gebeur nadat Hulle Jesus herken het? Dit het oorgekook in hulle soos ons hoor in Luk 24:33:
Hulle het dadelik opgestaan en na Jerusalem toe teruggegaan.
Hulle het weer betrokke geraak by die ander gelowiges en hulle kon nie stilbly oor wat met hulle gebeur het nie. Hulle swaarmoedigheid is in vreugde en opgewondenheid verander oor God se teenwoordigheid in hul lewens.

Wat is die oplossing vir ons gebrek van vreugde en opgewondenheid? Keer terug na die Woord toe. Luister na wat die Heilige Gees vir ons daar wil sê en leer. Selfs al herken ons nie dadelik God se teenwoordigheid in ons lewens nie, is Hy teenwoordig en verander Hy ons kopkennis in hartskennis. Die wonder van sy genade is dat as ons met sy Woord besig is, sal ons Hom ook eventueel in ons lewens raaksien en sy liefde en vrede in ons lewens ervaar. Dit sal ’n vreugde en opgewondenheid in ons lewens aan die brand steek wat ons nie sal kan wegsteek nie. Dit sal soos ’n helder ligbaken uitstaan en almal sal dit sien.

Geliefdes verstaan u nou ons belydenis oor wat ’n ware geloof is in Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus?
'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.
Geliefdes as u nie dadelik verstaan nie, moenie bekommer nie. Bly net besig met God se Woord en luister na die stem van die Heilige Gees. God sal dan ook ’n vuur in ons harte aansteek wat van ver af gesien en gehoor sal word.

Daardie vuur sal ons ook laat ervaar hoe God ons gebruik om sy Koninkryk hier op aarde te laat uitbrei. Geliefdes, kom ons keer terug na God se Woord en die beloftes van die Evangelie sodat ons kopkennis ook in hartskennis kan verander.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking