06 Oktober 2013

God gee vir ons al die verskillende gawes om ons van sy liefde te leer

Son. 22 Sep 2013 GKE
Inleiding
Verlede week het ons gehoor dat God liefde is en daarom kan en behoort ons mekaar ook lief te hê. Omdat God ons eerste liefgehad het met Jesus Christus se soendood aan die kruis kan ons ook liefhê. Die vraag is: “hoe moet ons mekaar lief hê?” Liefde is ’n woord wat so maklik verkeerd verstaan kan word. Ons dink so maklik sentimenteel oor liefde. Liefde is egter baie meer as twee jong verliefdes wat handjies vashou en verlore in mekaar se oë staar.

In 1 Kor. 13 verduidelik die Here presies wat liefde werklik is. Wanneer ons na hierdie gedeelte luister dan is dit belangrik dat ons kennis neem van die konteks waarbinne die Here dit vir ons gee. Ons moenie die fout maak om te dink dat dit maar net ’n sentimentele liefdeslied wat losstaande binne hierdie brief voorkom nie. Paulus is eintlik besig om die gemeente uit trap! Net in die vorige hoofstuk beskryf Paulus die verskillende gawes wat die Heilige Gees aan sy kerk gee. Hierdie gawes was ook teenwoordig in die kerk in Korinte. Die probleem was egter dat hulle sommige geestesgawes belangriker as ander beskou en in hulle hoogmoed daarna gestrewe om aansien te bekom, deur die beoefening van sogenaamd belangrike gawes.

In hierdie gedeelte verduidelik Paulus vir die gemeente in Korinte dat al die geestelike gawes een doel voor oë het en dit is om die gemeente te leer hoe hulle God se liefde teenoor mekaar moet uitleef. Hiermee leer die Here ons ook wat die liefde prakties is en hoe ons dit teenoor mekaar moet uitleef.

In 1 Kor. 13 leer die Here ons drie belangrike aspekte van die liefde:
1) Die liefde is noodsaaklik
2) Wat is die aard van liefde en
3) Die liefde is vir altyd.

Die liefde is noodsaaklik
Sonder liefde is die beoefening van al die geestelike gawes nutteloos en sinneloos. Wat help dit dat ’n mens die gawe van tale het as dit nie liefde bevorder nie? Sonder liefde is die gawes van die verstand, van wonders en onthouding heeltemal nutteloos! In Hoofstuk 12 wys Paulus die Korintiërs daarop dat hulle strewe na beter of hoër gawes liefdeloos is.

Hulle het die gawe van spreek in tale gebruik om te wys hoe belangrik hulle was. As jy nie in tale gespreek het nie was jy as minderwaardig beskou. Ons vind hierdie siening vandag nog onder sommige gelowiges. Hulle heg ’n soort rangorde daaraan en die spreek in tale wys dat jy al baie gevorder het en dat dit as te ware van jou ’n “superchristen” maak.

Paulus wys ons egter dat die spreek in tale eintlik maar selfsugtige handeling is omdat dit op jouself gerig is soos ons hoor in 1 Kor. 14:4
Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op
Die geestesgawes moet dus gebruik word om mekaar op te bou. Liefde het ten doel om jou naaste se belange te bevorder en nie om jou eie belange ten koste van jou naaste te bevorder nie. As jy dit doen dan is jy soos ’n leë blik wat ’n groot geraas maak. Dit trek baie aandag, maar dit is leeg en nutteloos.

As die geestelike gawes dus op ’n liefdelose manier gebruik word om eie belange te bevorder is dit nutteloos omdat die doel van geestelike gawes is om die gemeente te leer hoe hulle God se liefde teenoor mekaar moet uitleef.

Wat is die aard van liefde?
In 1 Kor. 13:4-7 verduidelik Paulus vir die Korintiërs hoe die liefde prakties lyk. Dit is moeilik om ’n abstrakte begrip soos liefde te definieer. Dink maar bietjie na oor hoe julle dit sal doen as iemand vir jou vra: “Wat liefde nou eintlik is? Verduidelik dit asb. vir my.” Wat sal jy hom antwoord? Hiermee leer die Here ons wat ware liefde is. Hy doen dit deur aan ons te vertel wat liefde wel is en ook om aan ons uit te wys wat liefde nie is nie.

Paulus beskryf die liefde as geduld met mense wie jy sukkel om lief te hê. Bly altyd vriendelik. Vriendelikheid soek steeds die toenadering en wil verhinder dat vervreemding tussen persone of partye intree. Dit is nogal ’n uitdaging. Dit is maklik om geduldig en vriendelik te wees met mense van wie jy hou. Dit is nie so maklik met mense van wie jy nie so baie hou nie. Hoe tree ons teenoor mekaar op as ons nie heeltemal oor ’n saak saamstem nie? Is ons ’n voorbeeld vir die wêreld daarbuite wat ons mat valkoë dophou?

Dan beskryf Paulus wat liefde nie is nie. Die liefde is nie afgunstig nie. Jaloesie bly maar altyd ’n probleem by ons. Gun ons mekaar werklik die seëninge wat God aan ons uitdeel? Die liefde is nie grootpraterig nie en is nie verwaand nie. Net so ’n moeilike een. Hoe maklik dink ons nie dat ons so ’n bietjie beter as ander is nie? Dis waar die geskinder vandaan kom. Het jy gehoor so en so het al weer dit of dat gedoen? Dit word gewoonlik oorvertel met gesindheid “ek sal dit darem nie doen nie!” Ons sien so maklik ander se foute raak, maar nie ons eie foute nie en dan dink ons dat ons beter as ander mense is.

Die liefde handel nie onwelvoeglik nie. d.w.s. dit tree nie ongemanierd op nie. Dieselfde woord kom in 1 Kor. 7:36 voor, waar dit gaan om ’n oneerbare handeling teenoor die verloofde. Ons moet dus dink aan ’n optrede waardeur die gevoel van ’n ander seergemaak word. Die liefde sal altyd gevoelig genoeg wees om sulke ruwe optrede uit te skakel.

Die liefde is nie liggeraak nie. Dit lees nie kwade bedoelings in iemand se optrede of gesprek nie. Hoe maklik neem ons nie aanstoot van iets wat iemand heel onskuldig gesê of gedoen het nie?

Die Here leer ons dat die aard van liefde daaruit bestaan dat ware liefde in alle opsigte onselfsugtig is, dit vra nie: “wat kan ek kry?” nie, maar eerder: “wat kan ek gee?”

Die liefde is vir altyd
Liefde het ewigheidswaarde. In 1 Joh. 4:12 hoor ons:
Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.
God se doel met ons is dat sy liefde in ons volkome sal word. In hierdie lewe is ons nog onvolmaak in ons liefde, maar God gee die gawes wat Hy aan elkeen uitdeel sodat Hy daardeur ons liefde tot volmaaktheid kan slyp. Wanneer daardie doel bereik word, is die gawe van profesie en die ander geestelike gawes nie meer nodig nie. Daarom sien ons ook uit na die volmaaktheid waar ons ewig saam met God sal wees.

Wat die hede betref roep Paulus ons op om nie meer soos kinders te wees in ons geloofslewe nie. Kinders is liggeraak en tree onvolwasse op. Paulus se oproep is dat ons die kinderagtigheid agterwee moet laat en volwasse te word sodat ons die onderskeidingsvermoë kan ontwikkel en kan groei na die volmaaktheid van God se liefde.

Ware Christelike liefde is seker die omvattendste menslike eienskap wat daar is.  Dit het tot gevolg dat ’n mens onselfsugtige naastediens verrig; dit is dus die bewys dat jy opreg omgee.  “Geloof” is die vashou aan God en dit vorm die fondament en kern van ons bestaan;  “hoop” dui op die gelowige gesindheid en verwagting, en “liefde” op die daadwerklike optrede. As ’n mens geloof en hoop het, is jy ook toegerus om waarlik lief te hê, want dan verstaan jy hoe God liefgehad het.

Samevatting
Liefde is noodsaaklik. As die geestelike gawes dus op ’n liefdelose manier gebruik word om eie belange te bevorder is dit nutteloos omdat die doel van geestelike gawes is om die gemeente te leer hoe hulle God se liefde teenoor mekaar moet uitleef.

Die Here leer ons dat die aard van liefde daaruit bestaan dat ware liefde is in alle opsigte onselfsugtig is, dit vra nie: “wat kan ek kry?” nie, maar eerder: “wat kan ek gee?”

God se volmaakte Liefde is die einddoel wat God met ons wil bereik en Hy gee aan ons sy geestelike gawes sodat ons daardeur mekaar kan slyp tot volmaakte liefde.

Kom ons wees gehoorsaam aan God deur mekaar onselfsugtig lief te hê.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking