Wys tans plasings met die etiket onvoorwaardelike liefde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket onvoorwaardelike liefde. Wys alle plasings

25 Mei 2025

Wat is werklike liefde en hoe lyk dit?


 1 Joh. 4 v 7 tot 21  Teksverse 1 Joh. 4 v 9 - 10

 Sing

Ps. 18-1 v 1

Sb. 9-3 v 1 & 2

Ps. 119-1 v 19

Sb. 2-4 v 1 & 3

 Inleiding

Wat is werklike liefde? Liefde is ʼn abstrakte begrip en dit is nie maklik om dit te definieer nie. Die woordeboek gee ʼn definisie maar nog steeds nie ʼn bevredigende verduideliking nie. Om werklik te weet wat liefde beteken, is dit nodig om na die bron van liefde te gaan.

 In 1 Joh. 4 v 8 hoor ons

“Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde..”

Om dus werklik te verstaan wat liefde is, is dit nodig om God te leer ken. Ons kan God op twee maniere leer ken. Eerstens deur die grootsheid van die natuur is dit duidelik dat daar ʼn God is wat alles geskep het. Tweedens leer ons God persoonlik ken deur sy Woord. Derhalwe om ʼn antwoord te kry op ons vraag: “Wat is werklike liefde en hoe lyk dit?” is dit nodig dat ons, ons antwoorde in die Bybel soek.

 Dwarsdeur die Bybel hoor ons van God en liefde. Vandag staan ons stil by 1 Joh. 4 v 7 tot 21 om ʼn beter begrip te kry van wat liefde is en hoe dit lyk.

 Wat is liefde?

In 1 Joh. 4 v 10 hoor ons wat werklike liefde is:

Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Weereens bevestig die Bybel dat God die Bron van liefde is, want liefde begin nie by ons nie, dit begin by God.

 En dan hoor ons wat liefde is. Ten diepste het liefde te doen met ʼn verhouding. Die verhouding tussen God en die mens en dan die onderlinge verhouding tussen mense. Ons hoor in die vers dat versoening nodig is omdat sonde ons verhouding met God gebreek het. Ten diepste is sonde die mens se rebelsheid wat weier om God se gesag te aanvaar.

 In 1 Joh. 4 v 9 hoor ons:

Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

Hier hoor ons dat die gevolg van die mens se sondige rebelse opstand teenoor God, die dood is. God wys sy liefde deur sy Seun na die wêreld toe te stuur om die straf van die dood op Hom te neem. Jesus het die dood wat ons verdien op Homself geneem. Omdat Jesus God is, is Hy magtiger as die dood. Jesus het die dood oorwin deurdat die Heilige Gees Hom uit die dood uit opgewek het. Jesus het die dood gevat en in die plek daarvan lewe gegee.

 In 1 Joh. 4:16b hoor ons hoekom God die opoffering gemaak het:

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Omdat God die mens liefhet, het Hy van sy kant af die gebreekte verhouding wat die sonde veroorsaak het, reggemaak.

 In 1 Joh. 4 v 13 hoor ons dat die Heilige Gees vir ons God se liefde wys en in 1 Joh. 4 v 15 & 16 hoor ons dat ons deur geloof in Jesus deel het in die verhouding wat God uit liefde herstel het.

 Dit is wat ware liefde is, God wat van sy kant af die gebreekte verhouding tussen God en mens herstel het.

 Vandag wys die Here vir ons dmv die sakrament van die Heilige Nagmaal met die tekens van brood en wyn hoe Hy van sy kant af die gebreekte verhouding tussen God en mens herstel het.

 Hoe lyk ware liefde?

Ons hoor in 1 Joh. 4 v 7, 11 en 21 ons behoort mekaar lief te hê. Die liefde wat God vir ons gee behoort ook in ons lewens sigbaar te wees. Maar hoe lyk die liefde wat in ons lewens sigbaar behoort te wees?

 In 1 Joh. 4 v 9 & 10 hoor ons, liefde is opoffering. Nie net ʼn klein opoffering nie, nee dis ʼn opoffering wat alles vra. Jesus het sy lewe geoffer. Wanneer die Here dus vir ons sê dat ons mekaar behoort lief te hê, sê Hy vir ons dat ons opofferings vir mekaar moet maak. Ons behoort mekaar se belange op die hart te dra en nie toe te laat dat ons selfsug in die omgee vir mekaar se pad staan nie.

 In 1 Joh. 4 v 17 & 18 hoor ons dat vrees vir God se straf en oordeel nie deel is van God se liefde nie. God se liefde verseker jou dat jy nie meer hoef bang te wees vir die doodsheid van die sonde nie, want deur sy liefde het God vir jou lewe gegee.

 Liefde vra opoffering en werklike liefde beteken dat jy daardie opoffering doen omdat jy van jou kant af dit wil doen en nie omdat jy deur vrees gedwing word nie.

 Maar selfs hierin gee God vir ons die liefde wat Hy vra. Ons hoor in 1 Joh. 4 v 19:

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.

 God gee vir jou sy liefde. Vat sy liefde deur geloof, maak dit deel van jou lewe en leef God se liefde deur mekaar lief te hê.

 Kom ons sit nou aan by die tafel van die Here om deur die tekens van brood en wyn te sien hoe sy liefde lyk.

Amen 

06 Oktober 2013

God gee vir ons al die verskillende gawes om ons van sy liefde te leer

Son. 22 Sep 2013 GKE
Inleiding
Verlede week het ons gehoor dat God liefde is en daarom kan en behoort ons mekaar ook lief te hê. Omdat God ons eerste liefgehad het met Jesus Christus se soendood aan die kruis kan ons ook liefhê. Die vraag is: “hoe moet ons mekaar lief hê?” Liefde is ’n woord wat so maklik verkeerd verstaan kan word. Ons dink so maklik sentimenteel oor liefde. Liefde is egter baie meer as twee jong verliefdes wat handjies vashou en verlore in mekaar se oë staar.

In 1 Kor. 13 verduidelik die Here presies wat liefde werklik is. Wanneer ons na hierdie gedeelte luister dan is dit belangrik dat ons kennis neem van die konteks waarbinne die Here dit vir ons gee. Ons moenie die fout maak om te dink dat dit maar net ’n sentimentele liefdeslied wat losstaande binne hierdie brief voorkom nie. Paulus is eintlik besig om die gemeente uit trap! Net in die vorige hoofstuk beskryf Paulus die verskillende gawes wat die Heilige Gees aan sy kerk gee. Hierdie gawes was ook teenwoordig in die kerk in Korinte. Die probleem was egter dat hulle sommige geestesgawes belangriker as ander beskou en in hulle hoogmoed daarna gestrewe om aansien te bekom, deur die beoefening van sogenaamd belangrike gawes.

In hierdie gedeelte verduidelik Paulus vir die gemeente in Korinte dat al die geestelike gawes een doel voor oë het en dit is om die gemeente te leer hoe hulle God se liefde teenoor mekaar moet uitleef. Hiermee leer die Here ons ook wat die liefde prakties is en hoe ons dit teenoor mekaar moet uitleef.

In 1 Kor. 13 leer die Here ons drie belangrike aspekte van die liefde:
1) Die liefde is noodsaaklik
2) Wat is die aard van liefde en
3) Die liefde is vir altyd.

Die liefde is noodsaaklik
Sonder liefde is die beoefening van al die geestelike gawes nutteloos en sinneloos. Wat help dit dat ’n mens die gawe van tale het as dit nie liefde bevorder nie? Sonder liefde is die gawes van die verstand, van wonders en onthouding heeltemal nutteloos! In Hoofstuk 12 wys Paulus die Korintiërs daarop dat hulle strewe na beter of hoër gawes liefdeloos is.

Hulle het die gawe van spreek in tale gebruik om te wys hoe belangrik hulle was. As jy nie in tale gespreek het nie was jy as minderwaardig beskou. Ons vind hierdie siening vandag nog onder sommige gelowiges. Hulle heg ’n soort rangorde daaraan en die spreek in tale wys dat jy al baie gevorder het en dat dit as te ware van jou ’n “superchristen” maak.

Paulus wys ons egter dat die spreek in tale eintlik maar selfsugtige handeling is omdat dit op jouself gerig is soos ons hoor in 1 Kor. 14:4
Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op
Die geestesgawes moet dus gebruik word om mekaar op te bou. Liefde het ten doel om jou naaste se belange te bevorder en nie om jou eie belange ten koste van jou naaste te bevorder nie. As jy dit doen dan is jy soos ’n leë blik wat ’n groot geraas maak. Dit trek baie aandag, maar dit is leeg en nutteloos.

As die geestelike gawes dus op ’n liefdelose manier gebruik word om eie belange te bevorder is dit nutteloos omdat die doel van geestelike gawes is om die gemeente te leer hoe hulle God se liefde teenoor mekaar moet uitleef.

Wat is die aard van liefde?
In 1 Kor. 13:4-7 verduidelik Paulus vir die Korintiërs hoe die liefde prakties lyk. Dit is moeilik om ’n abstrakte begrip soos liefde te definieer. Dink maar bietjie na oor hoe julle dit sal doen as iemand vir jou vra: “Wat liefde nou eintlik is? Verduidelik dit asb. vir my.” Wat sal jy hom antwoord? Hiermee leer die Here ons wat ware liefde is. Hy doen dit deur aan ons te vertel wat liefde wel is en ook om aan ons uit te wys wat liefde nie is nie.

Paulus beskryf die liefde as geduld met mense wie jy sukkel om lief te hê. Bly altyd vriendelik. Vriendelikheid soek steeds die toenadering en wil verhinder dat vervreemding tussen persone of partye intree. Dit is nogal ’n uitdaging. Dit is maklik om geduldig en vriendelik te wees met mense van wie jy hou. Dit is nie so maklik met mense van wie jy nie so baie hou nie. Hoe tree ons teenoor mekaar op as ons nie heeltemal oor ’n saak saamstem nie? Is ons ’n voorbeeld vir die wêreld daarbuite wat ons mat valkoë dophou?

Dan beskryf Paulus wat liefde nie is nie. Die liefde is nie afgunstig nie. Jaloesie bly maar altyd ’n probleem by ons. Gun ons mekaar werklik die seëninge wat God aan ons uitdeel? Die liefde is nie grootpraterig nie en is nie verwaand nie. Net so ’n moeilike een. Hoe maklik dink ons nie dat ons so ’n bietjie beter as ander is nie? Dis waar die geskinder vandaan kom. Het jy gehoor so en so het al weer dit of dat gedoen? Dit word gewoonlik oorvertel met gesindheid “ek sal dit darem nie doen nie!” Ons sien so maklik ander se foute raak, maar nie ons eie foute nie en dan dink ons dat ons beter as ander mense is.

Die liefde handel nie onwelvoeglik nie. d.w.s. dit tree nie ongemanierd op nie. Dieselfde woord kom in 1 Kor. 7:36 voor, waar dit gaan om ’n oneerbare handeling teenoor die verloofde. Ons moet dus dink aan ’n optrede waardeur die gevoel van ’n ander seergemaak word. Die liefde sal altyd gevoelig genoeg wees om sulke ruwe optrede uit te skakel.

Die liefde is nie liggeraak nie. Dit lees nie kwade bedoelings in iemand se optrede of gesprek nie. Hoe maklik neem ons nie aanstoot van iets wat iemand heel onskuldig gesê of gedoen het nie?

Die Here leer ons dat die aard van liefde daaruit bestaan dat ware liefde in alle opsigte onselfsugtig is, dit vra nie: “wat kan ek kry?” nie, maar eerder: “wat kan ek gee?”

Die liefde is vir altyd
Liefde het ewigheidswaarde. In 1 Joh. 4:12 hoor ons:
Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.
God se doel met ons is dat sy liefde in ons volkome sal word. In hierdie lewe is ons nog onvolmaak in ons liefde, maar God gee die gawes wat Hy aan elkeen uitdeel sodat Hy daardeur ons liefde tot volmaaktheid kan slyp. Wanneer daardie doel bereik word, is die gawe van profesie en die ander geestelike gawes nie meer nodig nie. Daarom sien ons ook uit na die volmaaktheid waar ons ewig saam met God sal wees.

Wat die hede betref roep Paulus ons op om nie meer soos kinders te wees in ons geloofslewe nie. Kinders is liggeraak en tree onvolwasse op. Paulus se oproep is dat ons die kinderagtigheid agterwee moet laat en volwasse te word sodat ons die onderskeidingsvermoë kan ontwikkel en kan groei na die volmaaktheid van God se liefde.

Ware Christelike liefde is seker die omvattendste menslike eienskap wat daar is.  Dit het tot gevolg dat ’n mens onselfsugtige naastediens verrig; dit is dus die bewys dat jy opreg omgee.  “Geloof” is die vashou aan God en dit vorm die fondament en kern van ons bestaan;  “hoop” dui op die gelowige gesindheid en verwagting, en “liefde” op die daadwerklike optrede. As ’n mens geloof en hoop het, is jy ook toegerus om waarlik lief te hê, want dan verstaan jy hoe God liefgehad het.

Samevatting
Liefde is noodsaaklik. As die geestelike gawes dus op ’n liefdelose manier gebruik word om eie belange te bevorder is dit nutteloos omdat die doel van geestelike gawes is om die gemeente te leer hoe hulle God se liefde teenoor mekaar moet uitleef.

Die Here leer ons dat die aard van liefde daaruit bestaan dat ware liefde is in alle opsigte onselfsugtig is, dit vra nie: “wat kan ek kry?” nie, maar eerder: “wat kan ek gee?”

God se volmaakte Liefde is die einddoel wat God met ons wil bereik en Hy gee aan ons sy geestelike gawes sodat ons daardeur mekaar kan slyp tot volmaakte liefde.

Kom ons wees gehoorsaam aan God deur mekaar onselfsugtig lief te hê.

Amen