23 Feb. 2014 1 Kor. 5:17-21 teksvers 1 Kor. 5:21
Ps. 107-1:1 & 10
Ps. 119-2 v 19
Ps. 119-2 v 26 &
27
Ps. 23-1 v 3
Ps. 116-2
Sb 12-3 v 1 & 2
Inleiding / sonde
As daar nou een ding in die lewe
wat skadelik vir ’n verhouding is, is dit ontrouheid. Dit is immers die enige
grond wat Jesus gee om ’n egskeiding te regverdig. Om jou man of vrou jou
verneuk is nie ’n goeie taktiek om ’n sterk verhouding te bou nie. Die Bybel
gebruik die beeld van ’n huwelik om die verhouding tussen God en mens uit te
beeld. (kerk is bruid en God bruidegom )
Die mens was ontrou in daardie
verhouding. Die ontrou was nie agteraf en weggesteek nie. Nee, dit was openlik
blatant. Soos ’n bruid wat na die huweliksonthaal saam met ’n ander man weggaan
terwyl die bruidegom alleen agterbly. Dis wat die mens met God gedoen het. Deur
ons sonde het ons van ons liefdevolle Vader weggedraai. (Vroue ruil vir hulself
die rolle van bruid en bruidegom om. Bruidegom het weggeloop en bruid
agtergelaat)
Nagmaal / verlossing
Wat sou u gedoen het as u die
bruidegom was in so ’n situasie? Sal u haar weer gaan opsoek het nadat sy heel
nag saam met ’n ander man ontrou was? Dit is presies wat God gedoen het! Deur
sy groot liefde het Hy vir ons ’n manier gevind om die gebroke verhouding weer
te herstel.
Ek gebruik verskillende beelde om
te verduidelik omdat een enkele beeld nie ’n volledige verduideliking kan
verskaf nie. Daarom gebruik ek nou ’n volgende beeld om te verduidelik. Die
straf vir die ontrou is die dood. Om jouself van God los te maak is soos ’n
takkie wat van ’n plant afgebreek word. Vir ’n kort rukkie bly die blare nog
groen, maar nie lank nie dan begin dit verlep. Binne ’n kort tydjie is daardie
takkie dood.
Die mens het homself deur sy sonde
van God losgemaak en nou sit hy in ’n verskriklike dilemma. Dit is soos om in
’n diep donker put af te spring met gladde wande wat 100 meter diep is. Ongelukkig
het jy jouself nog doodgeval ook. Verstaan u hoe onmoontlik dit vir so iemand
is om self uit daai put te kom? Net so onmoontlik is dit vir die mens om die
gebroke verhouding met God te herstel.
Dit wat die mens nie kan doen nie,
doen God. Hy haal ons uit die put uit en Hy maak ons weer lewendig soos ons
hoor in 2 Kor. 5:18a
Dit alles is die
werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen
Die manier waarop Hy dit gedoen
het verduidelik Hy in 1 Kor. 5:21 aan ons
Christus was
sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur
ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.
Christus wat sonder sonde was het
ons sonde op Hom geneem en sy onskuld het Hy vir ons gegee. As ons terugkeer na
ons eerste beeld van die bruid wat met ’n vreemde man weggeloop het. God se
vergifnis werk nie maar net soos die bruidegom wat vir die bruid sê, “toemaar
ek vergewe jou.” Jy kan maar weer terugkom. Nee geliefdes, daar vind ’n
ruiltransaksie plaas. Dit is soos die bruidegom wat die bruid se ontrou wegneem
en op homself plaas sodat dit hy was wat weggeloop het en nie sy nie.
Die bruidegom se onskuld word vir
die bruid gegee en die bruid se skuld word vir die bruidegom gegee. Dit wil sê
dit is nou asof die bruid nooit weggeloop het nie, maar die bruidegom. Die
enigste manier wat die skuld weggeneem kan word is dat die bruidegom doodgemaak
word en dit is wat Jesus doen. Hy neem ons skuld op Hom en daarvoor is Hy aan
’n vervloekte kruishout doodgemaak. Christus se geregtigheid is dus nou aan ons
gegee omdat Christus ons ongeregtigheid op Hom geneem het. (Geregtigheid =
sonder sonde).
Dankbaarheid
Die gevolg van God se liefde is
dat die verhouding tussen die mens en God herstel is. Die mens wat van die lewe
afgesny was, het nou weer die lewe soos ons hoor in 1 Kor. 5:17
Iemand wat aan
Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Hoe kry ek deel daaraan? Deur
geloof. Ek moet glo dat Jesus my sonde op Hom geneem het en dat Hy sy
geregtigheid in ruil daarvoor aan my gegee het en dat ek nou as gevolg daarvan
’n nuwe mens in Christus is. Vir diegene wat nie glo nie vind die
ruiltransaksie nie plaas nie.
Wat beteken dit prakties vir my?
Dit beteken dat ek nou weer God se liefde in plaas van sy wraak beleef. Dit
beteken dat ek ’n lewende hoop het om ewig saam met God te wees wanneer ek die
tentwoning van hierdie lewe agterlaat. Dit beteken dat my lewe weer sin het en
dat ek nie maar net uitgelewer is aan toeval nie. Dit beteken dat ek ’n doel in
die lewe het om God beter te leer ken en dien. Dit beteken dat ek vreugde en
vrede wat in God gewortel is, deel is van my lewe.
Slot
Dis wat die Here op ’n sigbare
wyse vir ons deur middel van die Nagmaal wys in die tekens van brood en wyn. Hy
wys vir ons dat ons doelbewus en moedswillig ons van die lewende God losgemaak
het. Hy wys vir ons dat Hy op grond van sy groot liefde die gebroke verhouding
tussen ons en ons Vader herstel het in Jesus Christus en dat ons deur middel
van geloof daarin kan deel. Hy wys vir ons dat ons weer lewe, liefde, hoop,
betekenis, vreugde, doelgerigtheid en vrede in ons lewens saam met God kan
ervaar.
Kom ons gaan sit nou aan by die
tafel van die Here sodat ons geloof daardeur versterk kan word.
Amen