Wys tans plasings met die etiket ootmoed. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket ootmoed. Wys alle plasings

29 Maart 2015

Jesus, dink ook aan my!


GKE 29 Mar 2015
Luk. 23:26-43 & Mat. 1:21
Teks Luk. 23:43
Sing:
Sb 5-3v1 & 2
Ps. 51-1 v 8
Sb 5–1 v 2
Ps. 73–1 v 9, 10 & 11

Inleiding
Kruisig Hom! Kruisig Hom! So het die skare nog kort tevore geskreeu tydens Jesus se verhoor. En nou is Hy op pad na Golgota, die kopbeenplek toe. So uitgeput is Hy dat Hy nie in staat is om selfs die dwarsbalk van sy kruis dra nie. ’n Sekere Simon van Serena word gedwing om dit te dra. Hoe eensaam is dit nie? Niemand is bereid om Hom te help nie.

Jesus word gekruisig
’n Groot klomp mense loop agterna om te sien wat gaan gebeur. Onder hulle is daar ook ’n groep vroue wat by voorbaat oor Hom getreur en gehuil het. Jesus se reaksie hieroor is op die oog af vreemd. Hy sê vir die vroue om nie oor Hom te huil nie, maar dat hulle oor hulself moet huil. Wat Hy hiermee bedoel is dat die oordeel van God oppad is daarom moet hulle daaroor bekommerd wees want niemand gaan dit vryspring nie. Jesus verwag nie simpatie nie. Wat Hy verwag is geloof, berou en bekering.

Uiteindelik bereik die stoet Golgota met die skedelagtige voorkoms net buite Jerusalem langs ’n groot pad. Die Romeinse soldate het die regop paal in die grond ingeplant. Nadat hulle Jesus se klere uitgetrek het moes Hy op sy rug met sy arms oopgesper bo-op die dwarsbalk gaan lê sodat hulle Hom daarop kon vasspyker. Daarna is Hy met dwarsbalk en al aan die regop paal opgehys en daarna is die twee balke aan mekaar vasgebind. Laastens is sy voete aan die regop paal vasgespyker. Bokant sy kop is daar ’n bord wat sy sogenaamde misdaad aangedui het: “die Koning van die Jode” in drie tale sodat almal kon verstaan, maar hoeveel het werklik verstaan?

So is daar ook twee misdadigers saam met Hom gekruisig en nou hang Hy tussen hulle, een aan sy linkerkant en een aan sy regterkant. So is die profesie van Jes. 53 en Ps. 22 vervul. Hy is as misdadiger beskou. Die soldate verdeel sy klere onder mekaar, maar loot oor wie sy onderkleed moet kry.

Jesus se reaksie
Jesus se reaksie hierop is nie woede en verbittering nie, maar vergifnis:
“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Hier demonstreer Jesus sy opdrag, julle moet julle vyande liefhê (Mat 5:44)
“Julle moet julle vyande liefhê en julle moet bid vir dié wat julle vervolg”
maar ten spyte van hierdie liefdesdaad is daar nog steeds mense wat onaangeraak is daardeur. Die raadslede lag Hom uit en spot Hom. Smalend snou hulle Hom toe (vgl. Luk. 23:25):
Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.
Die soldate neem ook deel aan hierdie gespottery. Selfs een van die misdadigers wat saam met Hom die pyn van die kruis ervaar, doen mee aan die gespottery.

Twee antwoorde op God se genade: negatief of positief:
Negatief
In hierdie misdadiger sien ons die kenmerkende reaksie van mense wat geen berou het oor hul dade nie. Hulle sien nie hul eie foute raak nie, maar die foute van ander mense sien hulle alte maklik raak. Hulle sien nie die erns van hul probleem raak nie. Mense sonder sondebesef mis die genade van God. Dis mense wat God die skuld gee vir hul eie sondige optrede. Dit is nooit hulle skuld wanneer dinge verkeerd loop nie, maar altyd iemand anders se skuld. Dis een van die belangrikste kentekens van ’n geharde sondaar en ons sien dit reeds direk na die sondeval daar in die paradys. Dis nie my skuld, maar altyd iemand anders se skuld. Eva het die slang blameer, Adam het Eva blameer en op die uiteinde het hy God blameer. Dit is wat hierdie misdadiger doen. Hy blameer God.

Positief
Teenoor hierdie misdadiger se optrede is die ander misdadiger. Tot hier toe het hulle dieselfde lot gehad. Beide het ’n lewe van misdaad gekies. Beide ontvang nou die straf waarmee misdaad beloon word, maar op die kruis langs Christus loop hul paaie uitmekaar. Die een kies die ewige dood en die ander kies die ewige lewe. Beide het Jesus se gebed gehoor: (vgl. Luk 23:33)
“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

In hierdie gebed hoor ons die Evangelie, die goeie nuus van verlossing deur Jesus Christus. In dit wat Hy hier bid, vra Hy die Vader: “moet hulle nie straf nie, maar straf my!” Een misdadiger verhard sy hart en die een hoor die Evangelie, die goeie nuus dat daar deur Christus vergifnis van sonde is omdat Hyself die straf daarvoor dra. Die Evangelie van die kruis stel elke mens voor ’n besliste keuse: verharding of bekering. Die kruise aan weerskante van die Christus dui die pad na bo, maar ook die pad na onder.

In die gebed van die tweede misdadiger (Luk. 23:42):
“Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”
hoor ons die onmisbare vereiste vir die gebed van iemand wat Hom voor God verootmoedig. Hy het sy skuld ontdek en besef hoe verlore hy voor die regverdige oordeel van God staan. Hy besef dat hy reeds verlore is, maar hy gryp na die reddingstou van liefde wat Jesus met die gebed van sy eerste kruiswoorde na hom toe uitgegooi het. Hy besef dat Hy in homself niks goed het wat hom kan red nie. Al waarop hy sy hoop kan plaas is God se genade.

Die inhoud van die gebed van verootmoediging is dit wat net ’n mens wat sy eie onvermoë besef kan bid. Hy smeek nie vir ’n plek in die koninkryk nie, want hy besef dat hy geen aanspraak daarop kan maak nie. Al wat hy vra is dat Jesus maar net aan DINK. Hy smeek nie om saligheid of iets spesifiek nie, hy vra net die aandag van Jesus die Koning. Al wat hy vra is maar net ’n krummeltjie van God se genade want hy besef dat hy op niks aanspraak kan maak nie. Hy het alles prys gegee.

Hoe is so ’n eenvoudige, maar diep opregte gebed moontlik? Dit is alleen maar net moontlik wanneer die Heilige Gees ’n mens se hart verbrysel. Dit is wanneer die Gees die eiegeregtigheid en eie belangrikheid, die eie ek in my afbreek. Dit sien ons wanneer hy die ander misdadiger met sy verharde hart bestraf (vgl. Luk. 23:40&41):
“Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”
Daarom durf hy eintlik nie om iets van Jesus te vra nie. Hy smeek maar net “Jesus, dink ook aan my!” God se genade vra nie, ’n hoogdawerende gebed nie. In eenvoud kan ons ook maar net gelowig bid, “Jesus, dink ook aan my!”

In Jesus se antwoord sien ons die grootheid van God se liefde en genade. Jesus kan en wil verlossing gee en daarom antwoord Hy hierdie misdager (vgl. Luk. 23:43):
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”
In plaas van die krummeltjie wat hierdie misdadiger vra, gee Jesus alles, nie net kwytskelding van skuld nie, maar ook die heerlikheid van die Paradys. Om die Paradys te ontvang moet mens eers gelowig by Golgota verbygaan.

In sy antwoord maak Jesus ook die belofte “....... saam met My”. Wanneer Ek gaan, gaan jy ook! Dit is die klimaks van God se genade, naamlik om gemeenskap met God te beleef. God is by my en ek is in sy teenwoordigheid. Dit is ook nie maar net ’n vae belofte nie, nee dit is vas en seker. Jesus sê: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.” Nie eers eendag daar ver nie, maar VANDAG nog. Die ewige lewe saam met God begin vandag nog waar ons die heerlike teenwoordigheid van God kan beleef.

Persoonlike boodskap
Die vraag is nou geliefdes: “wat hou die kruiswoorde van Jesus vir my in?” Wanneer ons voor die kruis van Jesus Christus te staan kom, kan ons nie maar net passief daaroor wees nie. Niemand word onaangeraak agtergelaat nie! Die kruis vra van elkeen wat is jou antwoord? Is dit die onverskilligheid van die eerste misdadiger? Ten spyte van die Evangelie wat ek gehoor het, gaan ek hier weg asof niks verander het nie. Ek onthou dalk vir so ’n kort rukkie die mooi preek, maar dit verander niks aan my lewe nie. Ek gaan maar net nog steeds aan en leef my lewe asof God nie bestaan nie. Die eerste misdadiger was so naby aan God, maar tog het Hy vir ewig verlore gegaan! Hy het sy Verlosser gesien en gehoor. Hy is gewaarsku, maar het nie gehoor gegee nie.

Of is my reaksie ook die eenvoudige gebed van die tweede misdadiger? “Jesus, dink ook aan my!” Die belofte op hierdie gebed word egter net vir my ontsluit wanneer ek dit in ware ootmoed bid. Dit tree slegs in werking wanneer ek my eie skuld ontdek en besef hoe verlore ek werklik is wanneer ek voor die regverdige oordeel van God staan. Luister ek na die stem van die Heilige Gees in my lewe? Gryp ek God se genade in geloof aan deur hulpeloos met opregte bekering uit die diepte van my elende te smeek: “Jesus, dink ook aan my!” As dit my reaksie is, dan kan ek met vaste sekerheid weet dat Jesus se antwoord: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” ook vir my bedoel is.

Geliefdes, wat is my reaksie op die kruisboodskap van Jesus Christus? Is ek soos die eerste misdadigers wat ten spyte daarvan dat ek die Evangelie gehoor my hart verhard, of is ek soos die tweede misdadiger wat sy eie skuld ontdek het in die diepe besef van sy verlorenheid bid: “Jesus, dink ook aan my!”
Amen

04 Maart 2014

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is

15 Feb. 2014         Mat 5:1-11 Teksvers Mat 5:3

Lof-Psalm     Sb. 11-3:1 & 3   
Na Wet         Ps. 147-1:1 & 2 
Na Gebed     Sb. 15-1:1 - 4     
Slotsang       Ps. 146-1 : 2 & 3

Inleiding
’n Mens wil nie afhanklik wees nie. Nie van jou medemens nie en veral nie van God nie want dit beteken dat jy jouself aan Hom moet onderwerp, dat jy Hom moet gehoorsaam en vertrou. My trots laat dit nie maklik toe nie! Geliefdes as u nou enigsins dink, gelukkig is ek darem nie so nie. Ek is darem nie so sleg nie dan wys hierdie gedagtes juis vir my dat daar so ’n tikkie hoogmoed by my teenwoordig.

Wat is my reaksie wanneer die ouderling met my praat oor een of ander aspek van my lewe wat nie reg is nie? Voel ek verontwaardig? Is my reaksie “Wie is die kerk om vir my te kom voorsê?” Ek besluit self en niks of niemand gaan my kom voorskryf nie! Is dit nie maar hoogmoed nie? Hoogmoed en vriendskap met die wêreld is boesemvriende. Is ek nog betrokke by wêreldse praktyke soos byvoorbeeld onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid met ander woorde owerspel (dit wil sê om in ’n seksuele verhouding buite die huwelik te wees)? Is daar nog vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap in my lewe teenwoordig?

(Ootmoed) Erken my opstand teen God se gesag in my lewe.
Solank as wat ek sonde in my lewe goedpraat met allerlei verskonings is ek nog in opstand teen God se gesag in my lewe. Dan aanvaar ek nie dat ek van God afhanklik is nie en is hoogmoed nog ’n kenmerk van my lewe.

Die hele Skrif is duidelik dat God hoogmoed verag, en tog is dit deel van ons daaglikse lewe. Dit is ’n sonde waarvan elke mens hom elke dag moet bekeer. Solank as wat ek nog die lewe in hoogmoedige onafhanklikheid benader sal ek nie God se seën in my lewe ervaar nie. Solank as wat ek nog in vriendskap met die wêreldse dinge handhaaf bedroef ek die Heilige Gees. Die Gees eis ons heeltemal vir God alleen op en word bedroef as ons vriende van die wêreld is.

Juis omdat die Gees die mens opeis vir die Here, skenk Hy meer genade, sodat die band met die Here kan groei. Die genade word nie aan die hoogmoediges gegee nie, maar aan die nederiges. Die hoogmoediges is hulle wat hulle teen God se gesag in opstand kom, wat op hulself vertrou en selfs gebed misbruik om hul eie sondige begeertes te bevredig.

As ek God se seën in my lewe wil ervaar is dit nodig dat ek vas oortuig moet wees dat ek met my hoogmoedige onafhanklikheid geen seën of vrede in die lewe kan vind nie.

(Verlossing) Waar vind ek dan seën en ware vrede?
Die nederiges aan die ander kant is hulle wat weet dat hulle alleen van God afhanklik is en voor Hom in ootmoed buig. (Ootmoed beteken om teenoor God te erken dat ek nie vir Hom luister nie en dat ek my eie kop volg.) Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Die Griekse woorde wat met “weet hoe afhanklik” vertaal is, beteken letterlik om arm van gees te wees. Dit dui op ’n totale afhanklikheid van God. Dit beteken nie om agterlik en eenvoudig te wees nie. Arm van gees staan in teenstelling met die wêreldse waardes van eie waan en hoogmoed. Dit is ’n absolute eerlikheid waarin ek erken dat ek voor God met leë hande staan en dat ek niks het om te gee nie. Om te verstaan dat daar niks is wat ek kan doen om te maak dat God my moet liefhê nie.

Dit is om voor God te staan en te erken ek is skuldig. Ek verdien die dood en niks meer nie. Om te weet dat ek geen aanspraak kan maak op goeie gesondheid, ’n goeie werk nie of van God kan eis dat dit met my moet goed gaan nie. Dat ek nie enige reg het om kwaad te word wanneer daar teenspoed oor my pad kom nie. Daar is absoluut niks waarop ek aanspraak kan maak nie. Dat ek maar alleen om genade kan pleit.

Ons kan nie werklik weet hoe afhanklik ons van God is nie as die Heilige Gees dit nie aan ons openbaar nie. In Luk 11:13 hoor ons
As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.
Daarom moet ons tot die Here bid sodat die Gees ons kan laat glo dat ons geseën is wanneer ons weet hoe afhanklik ons van God se genade in Jesus Christus is.

Die Here sê vir ons dat wanneer ons by hierdie punt kom, dat ons geseën is. Om geseënd te wees beteken dat God se genade oor ons skyn. Sy genade wat Jesus Christus aan die kruis vir ons verwerf het en dat ons daarom weer in die regte verhouding tot God kan staan. Dit alleen verskaf geluk en vrede selfs te midde van beproewings soos honger en vervolging.

Om te weet hoe afhanklik ons van God is, is om vas en seker te glo dat ons alleen in Christus van ons eie selfsugtige hoogmoed gered kan word.

(Dankbaarheid) Ontvang die ewige lewe
Elkeen wat erken hoe afhanklik hulle van God is, ontvang ’n wonderlike belofte.
(Mat 5:3)
Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik  hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Om die ewige lewe te ontvang beteken om in die regte verhouding met God te leef. Elkeen wat in ’n regte verhouding tot God leef is aan God gehoorsaam en aanvaar wat God sê wat reg en verkeerd is en verstaan ook hoekom God sê dat sekere praktyke wat vir die wêreld aanvaarbaar is, verkeerd is. Wanneer ek die koninkryk van God ontvang is daar ’n opregte begeerte by my om werklik los te breek van die sonde wat nog in my lewe teenwoordig is. Ek bid dat die Heilige Gees my daarmee sal help sodat ek in dankbaarheid in ware liefde en eensgesindheid met my naaste kan leef.

Slot
Geliefdes ons vier volgende week die Heilige Nagmaal. Laat ons daarom in hierdie week wat voorlê opnuut met die Heilige Gees se hulp die sondes wat nog in my lewe teenwoordig is, identifiseer sodat ek kan besef hoe afhanklik ek van God is. Kom ons hou vas aan God se belofte van genade in Jesus Christus sodat ons ook deel kan hê aan sy koninkryk waar God se liefde in plaas van die wêreld se haat en selfsug heers. Kom ons hou vas aan die belofte van God wat Hy vanoggend vir ons gegee het:
Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik  hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Amen