Wys tans plasings met die etiket geseënd. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geseënd. Wys alle plasings

02 Februarie 2020

Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is


Datum: 2 Feb. 2020 GKE

Mat. 5 v 1 – 12
Teksverse Mat. 5 v 3 & 10



Is jy 'n burger van die Koninkryk van God? Wil jy ook deel in die seëninge wat burgers van die Koninkryk van God ontvang?


In die Bergrede hoor ons wat die sleutel is om te deel in seëninge van die Koninkryk van God. Die Bergrede is seker een van die grootste preke van alle tye. Jesus het sy bediening begin met die aankondiging: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” soos ons in Mat. 4 v 17 hoor. In Mat. 5 tot 7 wat ook as die Bergrede bekend staan hoor ons nou meer van hierdie Koninkryk van God. Die Bergrede is inderdaad die grondwet van die Koninkryk van God.

Jesus begin sy preek met die woorde Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is” Hoe kan jy ook deel hê in hierdie seën?

In Rom. 4 v 6 hoor ons:
So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om:
Dit is hieruit duidelik dat jy nie God se seën kan ontvang deur iets te doen om dit te verdien nie. God spreek jou vry. En dit is inderdaad wat Jesus sê “...wat weet hoe afhanklik hulle van God is....” Jy is van God afhanklik om sy seën te ontvang. Dit is net Hy wat dit vir jou kan gee.

Die kern van die sonde is dat die mens nie van God afhanklik wil wees nie en daarom is dit nodig dat jy jou voor God moet verootmoedig. Met ander woorde jy moet nadink oor jou sonde en dat sonde jou van God vervreem.

Jy moet verstaan dat jy niks kan doen om hierdie gebreekte verhouding met God te herstel nie. Dit is net God wat dit kan herstel deur die sonde te straf. Jesus het gekom om die straf vir die sonde te dra. Jy moet glo dat Jesus gekom het om jou straf vir die sonde te dra deur met sy lewe te betaal en dat Hy met sy opstanding vir jou 'n nuwe lewe saam met God verwerf het.

Met ander woorde jy moet weet hoe afhanklik jy van God is. Jy moet weet dat elke oomblik van jou bestaan totaal in God se hande is en dat Hy alles onderhou. Dit is net God wat dit moontlik maak dat ons kan lewe. En wanneer jy dit besef, dan besef jy dat jy reeds deur God geseën is.

Wat beteken dit om geseënd te wees? Wanneer Jesus sê dat jy geseënd is voeg Hy by “want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Jy staan in 'n nuwe verhouding tot God en jy dra die Koninkryk van God in jou hart saam en die Heilige Gees beheer jou lewe. Jy laat jou nie meer deur jou sondige natuur lei nie, maar jy laat jou deur die Heilige Gees lei.

Jy is nie meer bang vir God nie en vrees nie meer vir sy wraak nie. Jy beleef en ervaar die liefde van God in jou lewe en jy is seker dat daar niks is wat jou van die liefde van Christus kan skei nie.

Hierdie eerste saligspreking is dan ook die kern van die hele Bergrede. Christus se teenwoordigheid en die sy bemoeienis in jou lewe is dan ook die agtergrond waarteen die eise in Bergrede wat volg verstaan moet word.

God se seën sluit in dat Hy jou deur die Heilige Gees sal troos wanneer jy treur oor jou sonde en ongeregtigheid in jou eie lewe wanneer jy jou voor God verootmoedig, maar ook wanneer jy treur oor die ongeregtigheid wat daar in die samelewing teenwoordig is. God se troos sluit in dat jy nie in moedeloosheid sal verval wanneer jy die onreg in die wêreld sien nie. Jy sal vashou aan sy hoop in die wete dat Hy steeds in beheer is.

God se seën sluit in dat jy nou anders na die lewe kyk. Jy verruil jou hardvogtigheid vir sagmoedigheid. Jy gee om vir jou medemens. Dit sluit in dat jy met deernis in liefde uitreik na mense en hoe meer jy dit doen hoe warmer brand God se liefde in jou hart.

God se seën sluit in dat daar 'n begeerte in jou hart sal wees waar jy na God se geregtigheid verlang met die wete dat God steeds in beheer is en dat sy geregtigheid sal seëvier selfs al lyk dit soms nie so nie. Jy sal jou vertroue in God stel en hoe meer jy dit doen hoe meer sal jy God se teenwoordigheid in jou lewe raaksien.

God se seën behels dat daar vrede sal wees, veral in jou hart en dat jy sy vrede sal najaag en verruil vir die twis en onmin in die wêreld. In plaas daarvan om twis en onmin aan te blaas, span jy jou kragte in om vrede te bewerkstellig.


Hier kry ons dan ook 'n baie groot belofte. “Die vredemakers sal kinders van God genoem word.” Dit is hier waar ons sien hoe anders dit is in God se koninkryk. In die wêreld het die burgers van 'n land nie 'n persoonlike verhouding met die heerser van daardie land nie.

In God se Koninkryk staan die mense wat sy seën ontvang in 'n direkte persoonlike verhouding met Hom wat net so persoonlik is soos wat 'n pa se verhouding met sy kinders is. Jy het direkte toegang na God toe met die wete dat Hy daar is vir jou en dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie.

Kinders van God lyk en leef anders as wat die wêreld doen en die wêreld hou nie van mense wat anders is nie, veral nie as hulle nie met die verkeerde van die wêreld wil saamgaan nie. Hier hoor ons weereens die belofte “want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Die belofte hier is dat jy deel van God se kinders is wat sy seën ontvang en jy weet dit want jy wil volgens God se norme en standaarde doen wat reg is, selfs al word jy vervolg daaroor.

Weereens ontvang ons die versekering van God se seën wanneer mense jou beledig en slegmaak omdat jy 'n Christin is en volgens Christelike standaarde wil leef.

Hiermee saam kom dan ook die belofte van 'n ewige heerlikheid saam met God waar Hy al die trane sal afdroog en daar geen pyn, leiding of dood meer sal wees nie.

God se Koninkryk sluit die hele wêreld in, die hele heelal in waar Hy in beheer is. Binne in hierdie Koninkryk is diegene wat sy seën ontvang. Jy kan weet of jy deel is van daardie groep mense want:
Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Diegene wat egter hulle rug op God draai ontvang sy straf en nie sy seën nie. Geliefdes, jy kan nie maar net aangaan met jou lewe asof God nie bestaan nie en dan verwag dat Hy jou sal seën nie.

weet jy hoe afhanklik jy van God is?

Luister na Jesus se uitnodiging:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Kom na Jesus toe. Glo die evangelie en ontvang God se seën.

Amen











04 Maart 2014

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is

15 Feb. 2014         Mat 5:1-11 Teksvers Mat 5:3

Lof-Psalm     Sb. 11-3:1 & 3   
Na Wet         Ps. 147-1:1 & 2 
Na Gebed     Sb. 15-1:1 - 4     
Slotsang       Ps. 146-1 : 2 & 3

Inleiding
’n Mens wil nie afhanklik wees nie. Nie van jou medemens nie en veral nie van God nie want dit beteken dat jy jouself aan Hom moet onderwerp, dat jy Hom moet gehoorsaam en vertrou. My trots laat dit nie maklik toe nie! Geliefdes as u nou enigsins dink, gelukkig is ek darem nie so nie. Ek is darem nie so sleg nie dan wys hierdie gedagtes juis vir my dat daar so ’n tikkie hoogmoed by my teenwoordig.

Wat is my reaksie wanneer die ouderling met my praat oor een of ander aspek van my lewe wat nie reg is nie? Voel ek verontwaardig? Is my reaksie “Wie is die kerk om vir my te kom voorsê?” Ek besluit self en niks of niemand gaan my kom voorskryf nie! Is dit nie maar hoogmoed nie? Hoogmoed en vriendskap met die wêreld is boesemvriende. Is ek nog betrokke by wêreldse praktyke soos byvoorbeeld onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid met ander woorde owerspel (dit wil sê om in ’n seksuele verhouding buite die huwelik te wees)? Is daar nog vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap in my lewe teenwoordig?

(Ootmoed) Erken my opstand teen God se gesag in my lewe.
Solank as wat ek sonde in my lewe goedpraat met allerlei verskonings is ek nog in opstand teen God se gesag in my lewe. Dan aanvaar ek nie dat ek van God afhanklik is nie en is hoogmoed nog ’n kenmerk van my lewe.

Die hele Skrif is duidelik dat God hoogmoed verag, en tog is dit deel van ons daaglikse lewe. Dit is ’n sonde waarvan elke mens hom elke dag moet bekeer. Solank as wat ek nog die lewe in hoogmoedige onafhanklikheid benader sal ek nie God se seën in my lewe ervaar nie. Solank as wat ek nog in vriendskap met die wêreldse dinge handhaaf bedroef ek die Heilige Gees. Die Gees eis ons heeltemal vir God alleen op en word bedroef as ons vriende van die wêreld is.

Juis omdat die Gees die mens opeis vir die Here, skenk Hy meer genade, sodat die band met die Here kan groei. Die genade word nie aan die hoogmoediges gegee nie, maar aan die nederiges. Die hoogmoediges is hulle wat hulle teen God se gesag in opstand kom, wat op hulself vertrou en selfs gebed misbruik om hul eie sondige begeertes te bevredig.

As ek God se seën in my lewe wil ervaar is dit nodig dat ek vas oortuig moet wees dat ek met my hoogmoedige onafhanklikheid geen seën of vrede in die lewe kan vind nie.

(Verlossing) Waar vind ek dan seën en ware vrede?
Die nederiges aan die ander kant is hulle wat weet dat hulle alleen van God afhanklik is en voor Hom in ootmoed buig. (Ootmoed beteken om teenoor God te erken dat ek nie vir Hom luister nie en dat ek my eie kop volg.) Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Die Griekse woorde wat met “weet hoe afhanklik” vertaal is, beteken letterlik om arm van gees te wees. Dit dui op ’n totale afhanklikheid van God. Dit beteken nie om agterlik en eenvoudig te wees nie. Arm van gees staan in teenstelling met die wêreldse waardes van eie waan en hoogmoed. Dit is ’n absolute eerlikheid waarin ek erken dat ek voor God met leë hande staan en dat ek niks het om te gee nie. Om te verstaan dat daar niks is wat ek kan doen om te maak dat God my moet liefhê nie.

Dit is om voor God te staan en te erken ek is skuldig. Ek verdien die dood en niks meer nie. Om te weet dat ek geen aanspraak kan maak op goeie gesondheid, ’n goeie werk nie of van God kan eis dat dit met my moet goed gaan nie. Dat ek nie enige reg het om kwaad te word wanneer daar teenspoed oor my pad kom nie. Daar is absoluut niks waarop ek aanspraak kan maak nie. Dat ek maar alleen om genade kan pleit.

Ons kan nie werklik weet hoe afhanklik ons van God is nie as die Heilige Gees dit nie aan ons openbaar nie. In Luk 11:13 hoor ons
As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.
Daarom moet ons tot die Here bid sodat die Gees ons kan laat glo dat ons geseën is wanneer ons weet hoe afhanklik ons van God se genade in Jesus Christus is.

Die Here sê vir ons dat wanneer ons by hierdie punt kom, dat ons geseën is. Om geseënd te wees beteken dat God se genade oor ons skyn. Sy genade wat Jesus Christus aan die kruis vir ons verwerf het en dat ons daarom weer in die regte verhouding tot God kan staan. Dit alleen verskaf geluk en vrede selfs te midde van beproewings soos honger en vervolging.

Om te weet hoe afhanklik ons van God is, is om vas en seker te glo dat ons alleen in Christus van ons eie selfsugtige hoogmoed gered kan word.

(Dankbaarheid) Ontvang die ewige lewe
Elkeen wat erken hoe afhanklik hulle van God is, ontvang ’n wonderlike belofte.
(Mat 5:3)
Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik  hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Om die ewige lewe te ontvang beteken om in die regte verhouding met God te leef. Elkeen wat in ’n regte verhouding tot God leef is aan God gehoorsaam en aanvaar wat God sê wat reg en verkeerd is en verstaan ook hoekom God sê dat sekere praktyke wat vir die wêreld aanvaarbaar is, verkeerd is. Wanneer ek die koninkryk van God ontvang is daar ’n opregte begeerte by my om werklik los te breek van die sonde wat nog in my lewe teenwoordig is. Ek bid dat die Heilige Gees my daarmee sal help sodat ek in dankbaarheid in ware liefde en eensgesindheid met my naaste kan leef.

Slot
Geliefdes ons vier volgende week die Heilige Nagmaal. Laat ons daarom in hierdie week wat voorlê opnuut met die Heilige Gees se hulp die sondes wat nog in my lewe teenwoordig is, identifiseer sodat ek kan besef hoe afhanklik ek van God is. Kom ons hou vas aan God se belofte van genade in Jesus Christus sodat ons ook deel kan hê aan sy koninkryk waar God se liefde in plaas van die wêreld se haat en selfsug heers. Kom ons hou vas aan die belofte van God wat Hy vanoggend vir ons gegee het:
Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik  hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Amen