Wys tans plasings met die etiket My genade is vir jou genoeg. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket My genade is vir jou genoeg. Wys alle plasings

14 Junie 2026

Genade onbeskryflik groot - 02


 2 Kor. 12:1-10

2 Kor. 12:1-10

Teksverse 2 Kor. 12:7-9

Daarom, sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, 'n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Inleiding

Wat is genade? Ons het verlede week gehoor dat genade nie maar net ’n geskenkpakkie is wat ons uit die hemel ontvang nie. Dit is soveel meer. Genade is God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het wat Homself aan ons gee. Ons het gehoor dat die aard en karakter van God se genade is dat Hy omgee vir ons. Hy het ’n diep, deernisvolle liefde vir ons en daarom buk Hy af na ons sonder dat ons iets hoef te doen om dit te verdien en dat ons op Hom kan reken omdat Hy betroubaar is.

Vandag gaan ons hoor wat God se genade vir ons beteken. Paulus beskryf hier in 2 Kor. 12 wat God se genade vir hom beteken het en daarmee saam ook wat dit vir ons beteken.

Agtergrond

Ons kry dikwels gedeeltes in die Skrif wat so ’n bietjie kripties is en wat nie baie detail deurgee nie. In vandag se teks vind ons twee voorbeelde daarvan. Om te verstaan moet ons kyk na die konteks van die brief wat Paulus aan die gemeente in Korinte geskryf het.

Die gemeente in Korinte was soos ’n tiener kind wat vol moeilikheid was wat vir Paulus grys hare gegee het. Tog was Paulus baie lief vir die gemeente en daarom het hy verskeie briewe aan die gemeente geskryf. Soms was hulle net so rebels soos ’n tiener in die sin dat daar sommige lidmate was wat Paulus se gesag as apostel bevraagteken het. In hierdie brief klaar hy ’n paar misverstande op en verdedig hy sy gesag as apostel.

Hy doen dit egter nie uit ’n posisie van eie gesag of dat hy so ’n wonderlike begaafde mens is nie. Paulus se gesag as apostel lê nie in sy eie krag nie, maar daarin dat hy deur God se genade die bediening ontvang het.

In 2 Kor. 12: 2 hoor ons:

Ek ken 'n man wat aan Christus behoort. Veertien jaar gelede is hy weggeruk tot in die derde hemel.

Paulus beskryf hier ’n ervaring wat hy gehad het om God te ontmoet, maar hy gee nie baie detail daarvan nie en daarom moet ons versigtig wees dat ons nie meer in die Skrif in lees as wat daar staan nie want die fokus is nie daarop nie.

Daarom verwys hy ook na homself in die derde persoon omdat die fokus nie op hom is nie. Paulus gee doelbewus nie detail nie omdat die fokus op God se genade is en dat dit die basis is van sy apostelskap.

Die doring in die vlees

Die fokus is God se genade en daarom vertel Paulus ook van ’n intense pynlike persoonlike ervaring wat hy gehad het wat verduidelik wat God se genade vir hom beteken het en hier kom ons by nog ’n kriptiese beskrywing van Paulus se doring in die vlees sonder dat hy detail daaroor gee.

Weereens moet ons oppas om nie op ’n dwaalspoor te gaan nie, want dan mis ons dit waaroor dit werklik gaan. Verskillende kommentare en verklarings gee dikwels heel party moontlike verklarings van wat Paulus se doring kan wees, maar ek gaan dit nie eers noem nie, want op die uiteinde bly dit maar net bloot spekulasie.

Ons hoor nie hier wat Paulus se doring was nie, omdat Paulus se doring nie noodwendig beskrywend is van wat ons eie dorings is nie. Elke persoon se doring is uniek en wat hier belangrik is, is dat net soos wat God sy genade vir Paulus se doring gegee het, dat God se genade daar is vir elkeen om ons te dra in ons swaarkry in ons eie unieke situasie.

Ons weet nie wat Paulus se doring is nie, maar wat ons wel hoor, is dat dit nie maar net lastigheid was nie. Dit was ’n intense beproewing. Paulus gebruik die beeld van ’n boodskapper van satan wat hom met vuiste slaan om te verduidelik hoe swaar hy gekry het.

Die tweede ding is dat God dit toegelaat het. Die perspektief hierop is dat niks buite om God gebeur nie en dat Hy nie onverhoeds gevang word nie. God is in beheer en ons is nie maar bloot net aan die noodlot uitgelewer nie.

Wat was Paulus se reaksie? Sy reaksie was maar net tipes wat ons reaksie is oor die swaarkry in ons lewens. “HERE vat dit asb. Weg!” Paulus het drie maal gebid dat sy doring weggeneem moet word en hier kom ons by ’n moeilike werklikheid in die lewe. God laat swaarkry en pyn in ons lewens toe. Hier kry ons die perspektief daarop.

Die prys van God se genade

God se antwoord op Paulus se pleidooi om die doring weg te vat verduidelik vir ons wat sy genade vir ons beteken. Paulus vra: “HERE vat dit asb. Weg!” en God antwoord: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

God sê nie hier vir Paulus, “Nee, Ek gaan nie jou pyn wegvat en jy moet nou maar sien kom klaar nie.” Sy antwoord is: Hy gee Homself, die ewige God, Skepper van die hemel en aarde wat in deernis en omgee afbuk na jou pyn met die waarborg van sy onbreekbare verbondstrou om daar te wees vir jou wanneer die dorings in die lewe jou steek.

Sonde het skeiding gebring tussen ons en God en om dit moontlik te maak vir God om daar te wees midde in jou pyn moet die prys vir sonde betaal word. Die prys vir ons sonde is die dood en dit moet betaal word sodat geregtigheid kan geskied. God die Vader het sy Seun gestuur om die prys van ons sonde aan die kruis te betaal, en die Heilige Gees het Hom uit die dood opgewek sodat ons kan lewe.

Wanneer God vir Paulus sê: "My genade is vir jou genoeg," sê Hy eintlik: "Paulus, kyk na die prys wat Ek betaal het om jou in my teenwoordigheid te hê. As my genade só duur was, dink jy Ek sal jou nou alleen los met hierdie doring? As my genade genoeg was om jou ewige skuld te betaal, is dit meer as genoeg om jou daaglikse swakheid te dra."

Waarom is daar dorings in die lewe?

Ons kry hier die perspektief van hoe God se genade ons dra deur die swaarkry en pyn van die lewe. Hoogmoed is wanneer jy net op eie krag wil staatmaak en dit is die wortel van sonde wat skeiding tussen die mens en God gebring het.

Die probleem is dat ons eie krag ons nie kan dra nie. Ons is op pad na die ewige heerlikheid waar die gevolge van sonde, naamlik die pyn en swaarkry van die lewe nie meer daar gaan wees nie, maar ons is nog nie daar nie en ons het God se krag nodig om in hierdie lewe staande te kan bly.

As God vir Paulus bloot die doring weggeneem het, sou Paulus dalk 'n hoogmoedige, selfvoldane apostel geword het wat in sy eie krag probeer werk het. Deur die doring te los, moes Paulus elke oggend op sy knieë gaan en sê: "Here, ek kan nie vandag sonder U nie." En in daardie afhanklikheid het Paulus die "soveel meer" van God se genade beleef. Hy het God se eie teenwoordigheid en krag gekry.

Genade beteken soms dat God my so lief het, dat Hy my nie sal spaar van die doring as die doring die enigste manier is om my naby aan Sy hart te hou nie.

Ons hoor in Mat. 5:3:

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.

Ons het dikwels ons eie oplossings en dan wil ons net hê dat God daardie oplossings implementeer. Die probleem is dat daardie oplossings dikwels nie die beste oplossing is nie en dat dit die gevaar inhou om ons op die uiteinde in die verderf te stort omdat dit ons van God vervreem.

Om kommer- en sorgvry te wees ver van God is veel erger as om ’n doring te hê met God aan jou sy.

Slot

God se genade is dat Hy Homself aan ons gee en dikwels het ons die dorings in die lewe nodig om dit raak te sien sodat ons vanuit God se krag begin leef en nie op ons eie krag staatmaak nie.

Moenie in die dorings van die lewe vaskyk nie. Sien God se genade raak en leef vanuit God se krag want God se genade is al wat ons in die lewe nodig het. Sien raak dat jy sonder God nie een enkele tree kan gaan nie. Vra die HERE elke dag: "Here, gee my U genade. Moenie my vandag alleen los nie. Trek saam met my in my dag in."

Amen