13 September 2026

Vertrou net op die HERE alleen om jou deur die moeilike tye te dra


PSALMS 131

Ek het rus gevind

1'n Pelgrimslied. Van Dawid.
Selfverheffing en hoogmoed
is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is.
2Ek het rus en kalmte gevind.
Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.
3Wag op die Here, Israel,
nou en vir altyd.

Inleiding

Die lewe het ’n geneigdheid om ’n mens te bekruip en jou van agter af ’n dwarsklap te gee wat jy nie verwag nie. Die een oomblik loop jou lewe nog klopdisselboom en die volgende oomblik tref daar ’n krisis jou. Die skielike dood van ’n geliefde. My gesondheid wat al hoe meer agteruitgaan. Die damme word al hoe leër as gevolg van die droogte wat net nie wil breek nie. Noem maar op, u ken die slegte dinge wat met ons gebeur geliefdes.

Te midde van hierdie stryd van die onreg wat die lewe my aandoen is die vraag: “Is dit wat met my gebeur die belangrikste saak wat my geluk in die lewe bepaal?” Moet ek na die dinge kyk wat met my en rondom my gebeur en sê: “Dit is my lewe?” As my lewensomstandighede my geluk in hierdie wêreld bepaal, raak die lewe bitter moeilik en kan dit sover gaan dat ek nie meer kans sien vir die lewe nie!

Die mens se worstelstryd met die lewe is absoluut tydloos. Die omstandighede waarbinne dit plaasvind verander, maar ons belewenis daarvan bly net dieselfde as wat dit vir alle mense van alle tye is. Dawid het ook maar ’n worstelstryd in sy lewe gehad. Nadat hy as koning gesalf is, moes hy vir sy lewe vlug en moes hy etlike jare in die berge wegkruip vir Saul wat hom wou doodmaak. Sy eie seun Absolom het ’n staatsgreep teen hom uitgevoer om in sy plek koning te word. Dawid het dus ook maar sy eie lewenskrisisse gehad net soos elkeen van ons ook ons eie lewenskrisisse het.

Ons weet nie wat die oorsaak van Dawid se worsteling was toe hy Psalm 131 geskryf het nie. Maar ons weet dit was meer as wat hy as mens kon hanteer. Dit was iets wat hom in sy denke wou verstrengel, (vers 1) dit was iets wat hom in sy siel getref het (vers 2) Dit was iets wat hy nie kon omvat en onder beheer bring nie.

Hier in Ps. 131 leer die HERE ons hoe ons die worstelvrae in ons lewens moet hanteer. Ons sien in die Psalm dat die omstandighede nie weggevat word nie, maar dat die HERE vir ons hier iets openbaar wat groter is as ons omstandighede. Hier sien ons hoe die storm hier binne in my stilgemaak word ten spyte ten spyte van die storm wat daar buite om ons woed. Hier leer die HERE ons waar ons rus en vrede moet soek. Die HERE leer ons hier om aan Hom die beheer van ons lewens te gee.

Gee die beheer van jou lewe aan God

In vers 1 sê Dawid hier op vier verskillende maniere hoe afhanklik hy van God is. Hy maak dus nie meer op homself staat nie, maar hy vertrou net op die Here alleen.

    i.        Ek is nie hoogmoedig nie

  ii.        Ek vertrou nie net op myself nie

iii.        Ek beskou myself nie beter as ander nie

iv.        Ek probeer nie om sake op te los wat bo my vuurmaakplek is nie

Dawid sê hier dat hy as te ware sy eie belangrikheid (dit wil sê sy eie ek) heeltemal op die agtergrond skuif.

Dawid het aan God die beheer oor sy lewe oorgegee. Hy soek nie meer antwoorde op die hoekom en waarom vrae nie. Hy gee inderwaarheid sy “reg” om te verstaan op. As ons in ʼn verhouding met die HERE wil staan dan moet ons ook ons eie hoogmoed en trots in ons sak steek. Die HERE belowe ons wel inderdaad dat ons nie bo ons vermoëns versoek sal word nie soos ons 1 Kor. 10v13 hoor:

Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.

Hoekom voel dit dan so dikwels dat die lewenskrisisse wat oor ons pad kom, ons heeltemal wil oorweldig? Is dit nie dalk omdat ons self die krisisse wil hanteer sonder God nie? Wanneer ek op myself begin vertrou raak ek hoogmoedig en dink ek meer van myself as wat ek behoort te dink. Dan probeer ek sake oplos wat bokant my vermoë is, dinge wat vir my alleen te groot is om te hanteer.

Is dit nie maar ook wat in die paradys gebeur het nie, geliefdes? Deur te eet van die boom van kennis goed en kwaad wou die mens self beheer oorneem en wou die mens nie meer op God staatmaak nie.

Wanneer ons self sonder God se hulp die beheer in ons lewens wil oorneem dan lei dit daartoe dat dit wat met gebeur my lewensgeluk bepaal. Dan ry my emosies wipplank saam met die gebeure in my lewe. Dan ry ek op die pieke van geluk wanneer dit goed gaan met my. Aan die ander kant gooi elke krisis hoe klein of groot ook al in my lewe my op die grond neer. Dan is daar geen stabiliteit in my lewe nie en ondervind ek ook geen vrede nie.

Die HERE sê hier in Ps. 131 vir ons hoe ons rus en vrede kan vind, self wanneer ons in die middel van ’n lewenskrisis is. Hy sê hier in vers 2 vir ons dat ons veilig in sy arms kan voel.

Ons kan veilig Voel in God se arms

In vers 2 maak die Psalmdigter van ʼn buitegewone voorbeeld gebruik om sy boodskap baie duidelik te maak en te beklemtoon. Hy vergelyk God hier met ʼn moeder. Die OAV gee die betekenis ʼn bietjie duideliker deur.

2Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.

Wanneer Dawid hier van sy siel praat dan bedoel hy “die innerlike wese wat jou menswees verteenwoordig” Dit wil sê hierdie onstuimigheid wat hier in my binneste woed, dit is wat tot bedaring gebring moet word.

Wanneer hy sê dat hy sy siel tot bedaring gebring het, dan kan ons dit vergelyk met water wat stil en rustig vloei. Dink hier aan ʼn rivier of ʼn stroom wat stadig vloei. As jy so na die water kyk dan lyk dit nie eers of dit vloei nie. Dit is net as jy blaar of ʼn stokkie dophou dat sien die water vloei stadig verby. Dit is wat met hierdie onstuimigheid hier binne in my moet gebeur, dit moet stil en rustig word net soos stroom wat stadig en rustig hier voor my verby vloei.

In die tweede deel van die vers word die voorbeeld van ʼn kind wat gespeen is genoem. In vandag se taal sou ons sê dat dit ʼn kind is wat van sy bottel af is of wat nie meer aan sy ma drink nie. Wanneer ʼn kind gespeen word, is dit gewoonlik vir die kind nogal traumaties omdat hy van die sekuriteit wat hy met die bottel of moedersmelk gehad het ontneem word.

So ʼn kind verstaan ook nie altyd hoekom dit moet gebeur nie. Sy ma weet egter dat dit nodig is, maar sy is gewoonlik nie onverskillig teenoor haar kind se ongemak nie. Wanneer die kind so onrustig is, dan tel sy hom op haar skoot en binne haar arms voel die kind dan veilig en tevrede.

Dit is die vergelyking wat die Psalmdigter hier maak. Net soos ʼn kind veilig en geborge voel in sy ma se arms kan ons ook veilig en geborge voel in die arms van God. Niemand kan werklik die pyn en hartseer verstaan wat elkeen ervaar nie. Tog weet God en Hy kan ons vertroos deur figuurlik sy arms om ons te vou. Dit is egter net God se kinders wat hierdie troos kan ervaar. Hoe weet ons of ons kinders van God is? Eenvoudig geliefdes
Rom. 10v9

As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

Vir sy kinders sê die HERE vanoggend dat Hy hulle met sy liefdevolle arms wil toevou. Daarom sê Hy vir ons: “wag op die HERE, nou en vir altyd”

Wag op die Here

Beteken dit dat ons nou maar net agteroor moet gaan sit en wag dat die HERE dinge in my lewe moet beter maak? Nee geliefdes, dalk sal ons beter verstaan as ons na die Jesus se uitnodiging in Mat 11v28 luister wat eintlik maar dieselfde opdrag is as ons teksvers:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Die Hebreeuse woord wat met wag vertaal word het die betekenis van om net op die HERE alleen te vertrou. Ek moet my hele lewe aan God toevertrou en nie op myself staatmaak om die slegte dinge wat met my gebeur, probeer hanteer nie.

Hoe doen ons dit? Maak tyd in jou lewe om stil te word voor God. Maak jou los van jou eie belangrikheid deur aan God te erken dat jy van Hom afhanklik is. Spandeer tyd saam met God deur in gebed met Hom te praat en deur Bybelstudie te luister na Hom wanneer Hy met ons praat. Wanneer ons op die HERE in vertroue wag dan bepaal God my lewensvreugde en nie my omstandighede nie.

Slot

Wanneer die lewe ons ’n dwarsklap gee moet ons nie in hoogmoed probeer om die slegte dinge in die lewe sonder God op ons eie hanteer nie. Ons moet ten volle op die HERE vertrou net soos ’n klein kindjie op sy ma vertrou en daarom tevrede is in sy ma se arms.

Die HERE bemoedig ons vanoggend met die wete dat Hy ons vertroos nou en ook in die toekoms. Wanneer ons op die HERE in vertroue wag dan bepaal God my lewensvreugde en nie my omstandighede nie. Vertrou net op die HERE. Vertrou dat Hy jou deur die moeilike tye in die lewe sal dra.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking