Wys tans plasings met die etiket Psalm 131. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Psalm 131. Wys alle plasings

13 September 2026

Vertrou net op die HERE alleen om jou deur die moeilike tye te dra


PSALMS 131

Ek het rus gevind

1'n Pelgrimslied. Van Dawid.
Selfverheffing en hoogmoed
is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is.
2Ek het rus en kalmte gevind.
Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.
3Wag op die Here, Israel,
nou en vir altyd.

Inleiding

Die lewe het ’n geneigdheid om ’n mens te bekruip en jou van agter af ’n dwarsklap te gee wat jy nie verwag nie. Die een oomblik loop jou lewe nog klopdisselboom en die volgende oomblik tref daar ’n krisis jou. Die skielike dood van ’n geliefde. My gesondheid wat al hoe meer agteruitgaan. Die damme word al hoe leër as gevolg van die droogte wat net nie wil breek nie. Noem maar op, u ken die slegte dinge wat met ons gebeur geliefdes.

Te midde van hierdie stryd van die onreg wat die lewe my aandoen is die vraag: “Is dit wat met my gebeur die belangrikste saak wat my geluk in die lewe bepaal?” Moet ek na die dinge kyk wat met my en rondom my gebeur en sê: “Dit is my lewe?” As my lewensomstandighede my geluk in hierdie wêreld bepaal, raak die lewe bitter moeilik en kan dit sover gaan dat ek nie meer kans sien vir die lewe nie!

Die mens se worstelstryd met die lewe is absoluut tydloos. Die omstandighede waarbinne dit plaasvind verander, maar ons belewenis daarvan bly net dieselfde as wat dit vir alle mense van alle tye is. Dawid het ook maar ’n worstelstryd in sy lewe gehad. Nadat hy as koning gesalf is, moes hy vir sy lewe vlug en moes hy etlike jare in die berge wegkruip vir Saul wat hom wou doodmaak. Sy eie seun Absolom het ’n staatsgreep teen hom uitgevoer om in sy plek koning te word. Dawid het dus ook maar sy eie lewenskrisisse gehad net soos elkeen van ons ook ons eie lewenskrisisse het.

Ons weet nie wat die oorsaak van Dawid se worsteling was toe hy Psalm 131 geskryf het nie. Maar ons weet dit was meer as wat hy as mens kon hanteer. Dit was iets wat hom in sy denke wou verstrengel, (vers 1) dit was iets wat hom in sy siel getref het (vers 2) Dit was iets wat hy nie kon omvat en onder beheer bring nie.

Hier in Ps. 131 leer die HERE ons hoe ons die worstelvrae in ons lewens moet hanteer. Ons sien in die Psalm dat die omstandighede nie weggevat word nie, maar dat die HERE vir ons hier iets openbaar wat groter is as ons omstandighede. Hier sien ons hoe die storm hier binne in my stilgemaak word ten spyte ten spyte van die storm wat daar buite om ons woed. Hier leer die HERE ons waar ons rus en vrede moet soek. Die HERE leer ons hier om aan Hom die beheer van ons lewens te gee.

Gee die beheer van jou lewe aan God

In vers 1 sê Dawid hier op vier verskillende maniere hoe afhanklik hy van God is. Hy maak dus nie meer op homself staat nie, maar hy vertrou net op die Here alleen.

    i.        Ek is nie hoogmoedig nie

  ii.        Ek vertrou nie net op myself nie

iii.        Ek beskou myself nie beter as ander nie

iv.        Ek probeer nie om sake op te los wat bo my vuurmaakplek is nie

Dawid sê hier dat hy as te ware sy eie belangrikheid (dit wil sê sy eie ek) heeltemal op die agtergrond skuif.

Dawid het aan God die beheer oor sy lewe oorgegee. Hy soek nie meer antwoorde op die hoekom en waarom vrae nie. Hy gee inderwaarheid sy “reg” om te verstaan op. As ons in ʼn verhouding met die HERE wil staan dan moet ons ook ons eie hoogmoed en trots in ons sak steek. Die HERE belowe ons wel inderdaad dat ons nie bo ons vermoëns versoek sal word nie soos ons 1 Kor. 10v13 hoor:

Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.

Hoekom voel dit dan so dikwels dat die lewenskrisisse wat oor ons pad kom, ons heeltemal wil oorweldig? Is dit nie dalk omdat ons self die krisisse wil hanteer sonder God nie? Wanneer ek op myself begin vertrou raak ek hoogmoedig en dink ek meer van myself as wat ek behoort te dink. Dan probeer ek sake oplos wat bokant my vermoë is, dinge wat vir my alleen te groot is om te hanteer.

Is dit nie maar ook wat in die paradys gebeur het nie, geliefdes? Deur te eet van die boom van kennis goed en kwaad wou die mens self beheer oorneem en wou die mens nie meer op God staatmaak nie.

Wanneer ons self sonder God se hulp die beheer in ons lewens wil oorneem dan lei dit daartoe dat dit wat met gebeur my lewensgeluk bepaal. Dan ry my emosies wipplank saam met die gebeure in my lewe. Dan ry ek op die pieke van geluk wanneer dit goed gaan met my. Aan die ander kant gooi elke krisis hoe klein of groot ook al in my lewe my op die grond neer. Dan is daar geen stabiliteit in my lewe nie en ondervind ek ook geen vrede nie.

Die HERE sê hier in Ps. 131 vir ons hoe ons rus en vrede kan vind, self wanneer ons in die middel van ’n lewenskrisis is. Hy sê hier in vers 2 vir ons dat ons veilig in sy arms kan voel.

Ons kan veilig Voel in God se arms

In vers 2 maak die Psalmdigter van ʼn buitegewone voorbeeld gebruik om sy boodskap baie duidelik te maak en te beklemtoon. Hy vergelyk God hier met ʼn moeder. Die OAV gee die betekenis ʼn bietjie duideliker deur.

2Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.

Wanneer Dawid hier van sy siel praat dan bedoel hy “die innerlike wese wat jou menswees verteenwoordig” Dit wil sê hierdie onstuimigheid wat hier in my binneste woed, dit is wat tot bedaring gebring moet word.

Wanneer hy sê dat hy sy siel tot bedaring gebring het, dan kan ons dit vergelyk met water wat stil en rustig vloei. Dink hier aan ʼn rivier of ʼn stroom wat stadig vloei. As jy so na die water kyk dan lyk dit nie eers of dit vloei nie. Dit is net as jy blaar of ʼn stokkie dophou dat sien die water vloei stadig verby. Dit is wat met hierdie onstuimigheid hier binne in my moet gebeur, dit moet stil en rustig word net soos stroom wat stadig en rustig hier voor my verby vloei.

In die tweede deel van die vers word die voorbeeld van ʼn kind wat gespeen is genoem. In vandag se taal sou ons sê dat dit ʼn kind is wat van sy bottel af is of wat nie meer aan sy ma drink nie. Wanneer ʼn kind gespeen word, is dit gewoonlik vir die kind nogal traumaties omdat hy van die sekuriteit wat hy met die bottel of moedersmelk gehad het ontneem word.

So ʼn kind verstaan ook nie altyd hoekom dit moet gebeur nie. Sy ma weet egter dat dit nodig is, maar sy is gewoonlik nie onverskillig teenoor haar kind se ongemak nie. Wanneer die kind so onrustig is, dan tel sy hom op haar skoot en binne haar arms voel die kind dan veilig en tevrede.

Dit is die vergelyking wat die Psalmdigter hier maak. Net soos ʼn kind veilig en geborge voel in sy ma se arms kan ons ook veilig en geborge voel in die arms van God. Niemand kan werklik die pyn en hartseer verstaan wat elkeen ervaar nie. Tog weet God en Hy kan ons vertroos deur figuurlik sy arms om ons te vou. Dit is egter net God se kinders wat hierdie troos kan ervaar. Hoe weet ons of ons kinders van God is? Eenvoudig geliefdes
Rom. 10v9

As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

Vir sy kinders sê die HERE vanoggend dat Hy hulle met sy liefdevolle arms wil toevou. Daarom sê Hy vir ons: “wag op die HERE, nou en vir altyd”

Wag op die Here

Beteken dit dat ons nou maar net agteroor moet gaan sit en wag dat die HERE dinge in my lewe moet beter maak? Nee geliefdes, dalk sal ons beter verstaan as ons na die Jesus se uitnodiging in Mat 11v28 luister wat eintlik maar dieselfde opdrag is as ons teksvers:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Die Hebreeuse woord wat met wag vertaal word het die betekenis van om net op die HERE alleen te vertrou. Ek moet my hele lewe aan God toevertrou en nie op myself staatmaak om die slegte dinge wat met my gebeur, probeer hanteer nie.

Hoe doen ons dit? Maak tyd in jou lewe om stil te word voor God. Maak jou los van jou eie belangrikheid deur aan God te erken dat jy van Hom afhanklik is. Spandeer tyd saam met God deur in gebed met Hom te praat en deur Bybelstudie te luister na Hom wanneer Hy met ons praat. Wanneer ons op die HERE in vertroue wag dan bepaal God my lewensvreugde en nie my omstandighede nie.

Slot

Wanneer die lewe ons ’n dwarsklap gee moet ons nie in hoogmoed probeer om die slegte dinge in die lewe sonder God op ons eie hanteer nie. Ons moet ten volle op die HERE vertrou net soos ’n klein kindjie op sy ma vertrou en daarom tevrede is in sy ma se arms.

Die HERE bemoedig ons vanoggend met die wete dat Hy ons vertroos nou en ook in die toekoms. Wanneer ons op die HERE in vertroue wag dan bepaal God my lewensvreugde en nie my omstandighede nie. Vertrou net op die HERE. Vertrou dat Hy jou deur die moeilike tye in die lewe sal dra.

Amen

20 Julie 2025

In die arms van God


 Datum: 20 Jul. 2025 GK BSH & RB – Ds. George van der Walt

Skriflesing: Psalm 131

Teksvers: Ps. 131 v 2

Wat maak jy wanneer die lewe jou omdop? Wat maak jy wanneer die lewe nie meer sin maak nie? Wat maak jy wanneer jy die middelpunt van ’n lewens storm word? Ons sien hoe mense deur krisisse gaan, maar dit is anders wanneer die lewenskrisisse aan jou deur klop. Wanneer die dokter vir jou sê “jammer......”. Wanneer jy die oproep kry oor ’n geliefde wat nie meer daar is nie.

Dit is nie net swaarkry wat die lewe moeilik maak nie. Soms raak jy so vasgevang in die gang van die lewe, dat jy jouself verloor. Nog ’n dag, nog ’n afspraak in jou besige lewe.................

Die Here gee vandag vir ons Psalm 131 om ons te help om die onstuimigheid in ons gemoed tot ruste te bring. Dit is 'n Psalm met 'n lewens-veranderende perspektief wat in 'n baie klein pakkie verpak is.

Die Psalm is maar drie verse lank, een van die kortste Psalms, maar die inhoud daarvan is groot. Die Here gee vandag vir ons hierdie kort Psalm om die onrus in ons gemoed stil te maak, om stilte en gemoedsrus in sy arms te vind.

Dawid begin hierdie Psalm met die grootste bron van onrus in die mens se gemoed. Die eie ek en selfbelangrikheid:

Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.

Hy bely hier dat hy maar net 'n nietige mens is wat God se sorg in sy lewe nodig het. Om rustigheid in jou lewe te vind, is dit nodig dat jy verby jouself moet kyk. Om heeltyd mense te moet oortuig hoe belangrik jy in die lewe is, bring baie onrus in jou gemoed. Om gemoedsrus te vind is dit nodig dat jy van jouself af moet wegdraai.

Dit beteken egter nie, dat jy nie belangrik is nie. Jy is vir God kosbaar. Dit is juis omdat jy so kosbaar vir God is dat Hy wil hê dat jy van jouself af moet wegdraai.

Hy het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Daarom doen God ook moeite met jou.

Daarom wil Hy hê dat jy die fokus van jouself af moet draai na Hom toe sodat Hy uit sy genade vir jou rus en stilte in jou lewe kan gee. Dit eers wanneer jy besef dat jy God se sorg nodig het dat jy werklik rus en stilte in sy arms kan vind.

Dan gaan Dawid aan na die tweede bron van onrus, die strewe om alles in jou lewe self te beheer.

Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,

dinge wat bo my vermoë is.

Een van die groot redes wat onrus in jou gemoed bring is die strewe om dit in die lewe wat jy nie kan beheer nie, te wil beheer nie.

Wanneer die lewe onderstebo raak wil ons weet “hoekom?” Hoekom het hierdie siekte gekom? Kan dit nie maar net weggebly het sodat die lewe normaal kan aangaan nie? Hoekom moet ons deur ongeneeslike siektes geteister word? Hoekom moet mense wat nog jonk is doodgaan?

Ons wil verstaan waarom die lewe is soos dit is. Ons wil in beheer wees van ons lewens. Die probleem is egter dat ons nie alles kan verstaan of beheer nie.

In Pred. 8 v 17 sê die Here vir ons:

die mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie verstaan nie.

Hier in Psalm 131 gee Dawid sy reg op om te verstaan. Hy erken dat daar dinge in hierdie lewe is wat hy nie kan beheer nie.

Geliefdes, dit is OK om nie alles te verstaan nie. Dit is OK om te aanvaar dat die lewe nie altyd sin maak nie. Wat Dawid hier sê is dat hy God vertrou om sy lewensloop te bepaal. Hy vertrou dat God beter weet, al lyk dit nie vir hom of die lewensloop wat God bepaal het, sin maak nie.

Hoe het Dawid dit reggekry? Ons hoor in Ps. 131 v 2 Hy het rus en kalmte by God gaan soek.

Dit is egter nie 'n passiewe aksie nie. Die 1933/53 OAV gee die betekenis van vers 2 bietjie duideliker weer:

Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak

Dit is 'n aktiewe aksie waar jy die fokus van jouself af wegneem en dit op iets groters as jy plaas. Waar jy van jouself af wegkyk en kyk na God in jou lewe. Waar jy besluit om jou volle vertroue op God te plaas. Waar jy besluit om jou deur die Heilige Gees te laat lei.

Maar ons moet dit nie verkeerd verstaan nie. Dit gaan nie hieroor dat jy in eie krag harder moet probeer nie, want as jy dit sou doen, sal jy net nog meer onrus en onvrede in jou gemoed veroorsaak, omdat jy dit nie gaan regkry nie.

Maar hoe moet jy dit dan doen?

Dawid gebruik hier die beeld van 'n moeder se liefde en versorging van haar kind om God se liefde en versorging vir ons te verduidelik.

Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

Die 1933/53 OAV wat 'n meer letterlike vertaling is, gee die betekenis van hierdie beeld nog duideliker deur:

soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.

'n Kind wat gespeen is begin nou al bietjie meer onafhanklik raak om die wêreld op sy eie te verken. Wanneer dinge egter te veel vir die kindjie raak, hardloop hy na sy ma toe.

Dan gaan dit nie meer vir die kind oor die moedersmelk wat hy by sy ma kan kry nie. Dit gaan oor sy ma as persoon. Wanneer die wêreld te veel raak vir die kind, vind hy rustigheid en kalmte in die arms van sy moeder. Sy is vir hom 'n bron van kalmte en vrede.

’n Kind wat nog nie gespeen is nie, se fokus is om gevoed te word en die onmiddellike tevredenheid wat hy by sy moeder kan vind. Die hooffokus is om sy onmiddellike behoeftes te bevredig. Dit gaan oor dit wat die kind by sy moeder kan kry eerder as wat dit om haar as persoon gaan.

’n Kind wat gespeen is aan die ander kant, omhels sy moeder uit 'n begeerte na liefde, nabyheid en geselskap. Dit gaan hier vir die kind om die ma as persoon eerder as om dit wat hy by haar kan kry.

God is vir Dawid sy bron van kalmte en vrede. Soos 'n kind by sy ma kalmte en vrede soek, moet jy by God kalmte en vrede soek.

Nie vir dit wat God vir jou kan gee nie, maar omdat Hy God is. Jy vind vrede en geluk by God, nie omdat Hy moeilike omstandighede wegvat nie, maar juis omdat Hy teenwoordig is in jou lewe.

In 2 Kor. 12 v 7 - 9 hoor ons hoe Paulus vir die Here vra om ’n moeilike omstandigheid uit sy lewe weg te vat, maar die Here het gesê: “Nee! My genade is vir jou genoeg.”

Dis die teenwoordigheid van God en sy genade in jou lewe wat vir jou rus en vrede gee. Ware gemoedsrus is nie die afwesigheid van moeilike omstandighede nie. Dit is die teenwoordigheid van God!

As jy in Jesus glo, is jy 'n kind van God soos ons in
Joh. 1 v 12 hoor:

Maar aan almal wat Jesus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Die aktiewe aksie wat jy moet doen om by God rus en kalmte te vind, is om te glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is en dan moet jy op grond daarvan na God toe kom. Om God op te soek vir wie Hy is en nie vir dit wat Hy vir kan doen nie. Soek na die teenwoordigheid van God in jou lewe. Bid dat die Heilige Gees ’n werklikheid in jou lewe sal wees. Om toe te laat dat die Heilige Gees jou lei.

Wanneer jy dit doen sal jy vind dat jy in die arms van God nie omgee as die lewe nie is soos wat jy gedink het dit moet wees nie. Jy vind berusting en troos in die arms van God. Dan is dit nie jou omstandighede wat bepaal of jy rus en vrede het in die lewe nie. Die teenwoordigheid van God gee vir jou rus en vrede selfs wanneer die wêreld op sy kop staan.

Dawid sluit hierdie Psalm af met 'n opdrag om vas te hou aan die rus en vrede wat jy by God vind:

Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.

Wag op die Here, is die sekere wete dat God daar is vir jou, dat Hy vir jou sal sorg hier waar jy nou is. Wag op die Here beteken om te aanvaar dat jy nie alles in die lewe kan beheer nie.

Wag op die Here is die vaste vertroue dat Hy jou sal dra deur die storm. Dit is om vas te glo dat Hy jou beste belange op die hart dra, self wanneer Hy nie die moeilike omstandighede wegneem nie. Wag op die Here is om steeds te vertrou dat God in beheer is, selfs wanneer dit nie vir jou lyk of die lewe sin maak nie.

Wag op die Here beteken ook dat jy vas en seker glo dat wanneer jy hierdie lewe verlaat, jy ewig saam met God sal wees waar daar geen hartseer, pyn of dood meer sal wees nie.

Vind rus in die arms van God deur jou eie onvermoë te bely en te erken dat jy Hom nodig het. Gee die reg op om alles te wil verstaan en beheer in hierdie lewe en plaas jou vertroue op God.

Glo dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is, want dit gee vir jou die reg om troos en tevredenheid by God te vind soos wat 'n kindjie by sy moeder tevredenheid vind. Wag met 'n verwagting en hoop wat op God gefokus is.

Geliefdes jou omstandighede bepaal nie of jy rus en vrede in hierdie lewe gaan hê nie. Dis net in die arms van God waar jy rus en vrede sal vind. Gaan soek na rus vrede in die arms van God.

Amen