Datum: 20 Jul. 2025 GK BSH & RB – Ds. George van der Walt
Skriflesing: Psalm
131
Teksvers: Ps. 131 v 2
Wat
maak jy wanneer die lewe jou omdop? Wat maak jy wanneer die lewe nie meer sin
maak nie? Wat maak jy wanneer jy die middelpunt van ’n lewens storm word? Ons
sien hoe mense deur krisisse gaan, maar dit is anders wanneer die
lewenskrisisse aan jou deur klop. Wanneer die dokter vir jou sê “jammer......”.
Wanneer jy die oproep kry oor ’n geliefde wat nie meer daar is nie.
Dit
is nie net swaarkry wat die lewe moeilik maak nie. Soms raak jy so vasgevang in
die gang van die lewe, dat jy jouself verloor. Nog ’n dag, nog ’n afspraak in
jou besige lewe.................
Die
Here gee vandag vir ons Psalm 131 om ons te help om die onstuimigheid in ons
gemoed tot ruste te bring. Dit is 'n Psalm met 'n lewens-veranderende
perspektief wat in 'n baie klein pakkie verpak is.
Die
Psalm is maar drie verse lank, een van die kortste Psalms, maar die inhoud
daarvan is groot. Die Here gee vandag vir ons hierdie kort Psalm om die onrus
in ons gemoed stil te maak, om stilte en gemoedsrus in sy arms te vind.
Dawid
begin hierdie Psalm met die grootste bron van onrus in die mens se gemoed. Die
eie ek en selfbelangrikheid:
Selfverheffing
en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.
Hy
bely hier dat hy maar net 'n nietige mens is wat God se sorg in sy lewe nodig
het. Om rustigheid in jou lewe te vind, is dit nodig dat jy verby jouself moet
kyk. Om heeltyd mense te moet oortuig hoe belangrik jy in die lewe is, bring
baie onrus in jou gemoed. Om gemoedsrus te vind is dit nodig dat jy van jouself
af moet wegdraai.
Dit
beteken egter nie, dat jy nie belangrik is nie. Jy is vir God kosbaar. Dit is
juis omdat jy so kosbaar vir God is dat Hy wil hê dat jy van jouself af moet
wegdraai.
Hy
het jou so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie
verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. Daarom doen God ook moeite met
jou.
Daarom
wil Hy hê dat jy die fokus van jouself af moet draai na Hom toe sodat Hy uit sy
genade vir jou rus en stilte in jou lewe kan gee. Dit eers wanneer jy besef dat
jy God se sorg nodig het dat jy werklik rus en stilte in sy arms kan vind.
Dan
gaan Dawid aan na die tweede bron van onrus, die strewe om alles in jou lewe
self te beheer.
Ek
maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge
wat bo my vermoë is.
Een
van die groot redes wat onrus in jou gemoed bring is die strewe om dit in die
lewe wat jy nie kan beheer nie, te wil beheer nie.
Wanneer
die lewe onderstebo raak wil ons weet “hoekom?” Hoekom het hierdie siekte
gekom? Kan dit nie maar net weggebly het sodat die lewe normaal kan aangaan
nie? Hoekom moet ons deur ongeneeslike siektes geteister word? Hoekom moet
mense wat nog jonk is doodgaan?
Ons
wil verstaan waarom die lewe is soos dit is. Ons wil in beheer wees van ons
lewens. Die probleem is egter dat ons nie alles kan verstaan of beheer nie.
In
Pred. 8 v 17 sê die Here vir ons:
die
mens is nie in staat om wat in hierdie wêreld gebeur, te verstaan nie. Hoe hy
hom ook al inspan en soek, hy verstaan nie. Al sê die wyse hy weet, kan hy nie
verstaan nie.
Hier
in Psalm 131 gee Dawid sy reg op om te verstaan. Hy erken dat daar dinge in
hierdie lewe is wat hy nie kan beheer nie.
Geliefdes,
dit is OK om nie alles te verstaan nie. Dit is OK om te aanvaar dat die lewe
nie altyd sin maak nie. Wat Dawid hier sê is dat hy God vertrou om sy
lewensloop te bepaal. Hy vertrou dat God beter weet, al lyk dit nie vir hom of
die lewensloop wat God bepaal het, sin maak nie.
Hoe
het Dawid dit reggekry? Ons hoor in Ps. 131 v 2 Hy het rus en kalmte by God
gaan soek.
Dit
is egter nie 'n passiewe aksie nie. Die 1933/53 OAV gee die betekenis van vers
2 bietjie duideliker weer:
Waarlik,
ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak
Dit
is 'n aktiewe aksie waar jy die fokus van jouself af wegneem en dit op iets
groters as jy plaas. Waar jy van jouself af wegkyk en kyk na God in jou lewe.
Waar jy besluit om jou volle vertroue op God te plaas. Waar jy besluit om jou
deur die Heilige Gees te laat lei.
Maar
ons moet dit nie verkeerd verstaan nie. Dit gaan nie hieroor dat jy in eie krag
harder moet probeer nie, want as jy dit sou doen, sal jy net nog meer onrus en
onvrede in jou gemoed veroorsaak, omdat jy dit nie gaan regkry nie.
Maar
hoe moet jy dit dan doen?
Dawid
gebruik hier die beeld van 'n moeder se liefde en versorging van haar kind om
God se liefde en versorging vir ons te verduidelik.
Soos
’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid
gevind.
Die
1933/53 OAV wat 'n meer letterlike vertaling is, gee die betekenis van hierdie
beeld nog duideliker deur:
soos
’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.
'n
Kind wat gespeen is begin nou al bietjie meer onafhanklik raak om die wêreld op
sy eie te verken. Wanneer dinge egter te veel vir die kindjie raak, hardloop hy
na sy ma toe.
Dan
gaan dit nie meer vir die kind oor die moedersmelk wat hy by sy ma kan kry nie.
Dit gaan oor sy ma as persoon. Wanneer die wêreld te veel raak vir die kind, vind
hy rustigheid en kalmte in die arms van sy moeder. Sy is vir hom 'n bron van
kalmte en vrede.
’n
Kind wat nog nie gespeen is nie, se fokus is om gevoed te word en die
onmiddellike tevredenheid wat hy by sy moeder kan vind. Die hooffokus is om sy
onmiddellike behoeftes te bevredig. Dit gaan oor dit wat die kind by sy moeder
kan kry eerder as wat dit om haar as persoon gaan.
’n
Kind wat gespeen is aan die ander kant, omhels sy moeder uit 'n begeerte na
liefde, nabyheid en geselskap. Dit gaan hier vir die kind om die ma as persoon eerder
as om dit wat hy by haar kan kry.
God
is vir Dawid sy bron van kalmte en vrede. Soos 'n kind by sy ma kalmte en vrede
soek, moet jy by God kalmte en vrede soek.
Nie vir dit wat God
vir jou kan gee nie, maar omdat Hy God is. Jy vind vrede en geluk by God, nie
omdat Hy moeilike omstandighede wegvat nie, maar juis omdat Hy teenwoordig is
in jou lewe.
In 2 Kor. 12 v 7 - 9
hoor ons hoe Paulus vir die Here vra om ’n moeilike omstandigheid uit sy lewe
weg te vat, maar die Here het gesê: “Nee! My genade is vir jou genoeg.”
Dis
die teenwoordigheid van God en sy genade in jou lewe wat vir jou rus en vrede
gee. Ware gemoedsrus is nie die afwesigheid van moeilike omstandighede nie. Dit
is die teenwoordigheid van God!
As
jy in Jesus glo, is jy 'n kind van God soos ons in
Joh. 1 v 12 hoor:
Maar
aan almal wat Jesus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om
kinders van God te word.
Die
aktiewe aksie wat jy moet doen om by God rus en kalmte te vind, is om te glo
dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is en dan moet jy op grond
daarvan na God toe kom. Om God op te soek vir wie Hy is en nie vir dit wat Hy
vir kan doen nie. Soek na die teenwoordigheid van God in jou lewe. Bid dat die
Heilige Gees ’n werklikheid in jou lewe sal wees. Om toe te laat dat die
Heilige Gees jou lei.
Wanneer
jy dit doen sal jy vind dat jy in die arms van God nie omgee as die lewe nie is
soos wat jy gedink het dit moet wees nie. Jy vind berusting en troos in die
arms van God. Dan is dit nie jou omstandighede wat bepaal of jy rus en vrede
het in die lewe nie. Die teenwoordigheid van God gee vir jou rus en vrede selfs
wanneer die wêreld op sy kop staan.
Dawid
sluit hierdie Psalm af met 'n opdrag om vas te hou aan die rus en vrede wat jy
by God vind:
Wag
op die Here, Israel, nou en vir altyd.
Wag
op die Here, is die sekere wete dat God daar is vir jou, dat Hy vir jou sal
sorg hier waar jy nou is. Wag op die Here beteken om te aanvaar dat jy nie
alles in die lewe kan beheer nie.
Wag
op die Here is die vaste vertroue dat Hy jou sal dra deur die storm. Dit is om
vas te glo dat Hy jou beste belange op die hart dra, self wanneer Hy nie die
moeilike omstandighede wegneem nie. Wag op die Here is om steeds te vertrou dat
God in beheer is, selfs wanneer dit nie vir jou lyk of die lewe sin maak nie.
Wag
op die Here beteken ook dat jy vas en seker glo dat wanneer jy hierdie lewe
verlaat, jy ewig saam met God sal wees waar daar geen hartseer, pyn of dood
meer sal wees nie.
Vind
rus in die arms van God deur jou eie onvermoë te bely en te erken dat jy Hom
nodig het. Gee die reg op om alles te wil verstaan en beheer in hierdie lewe en
plaas jou vertroue op God.
Glo
dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is, want dit gee vir jou die reg om
troos en tevredenheid by God te vind soos wat 'n kindjie by sy moeder
tevredenheid vind. Wag met 'n verwagting en hoop wat op God gefokus is.
Geliefdes
jou omstandighede bepaal nie of jy rus en vrede in hierdie lewe gaan hê nie. Dis
net in die arms van God waar jy rus en vrede sal vind. Gaan soek na rus vrede
in die arms van God.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking