Skrif: Psalm 134
1'n
Pelgrimslied.
Kom, prys die Here,
julle almal wat Hom dien,
julle wat in die nag in die tempel van die
Here staan!
2Hef julle hande in gebed op na die heiligdom
en prys die Here!
3Mag die Here jou seën uit
Sion,
Hy
wat hemel en aarde gemaak het.
Sing Ps. 146-1 v 1
Wanneer ons met die dood van ’n geliefde
gekonfronteer word, word ons tot stilstand geruk. Dit konfronteer jou met ʼn
onomkeerbare onherroeplike situasie wat nie een van ons kan verander nie. Mens
begin as te ware met ’n nuwe hoofstuk in jou lewe. In Psalm 134 sê die Here vir
ons hoe ons in hierdie nuwe hoofstuk moet voortgaan.
Psalm 134 is die laaste van ’n versameling
van vyftien Psalms (Psalms 120 – 134) wat tradisioneel deur Joodse pelgrims
gesing is terwyl hulle na Jerusalem gereis het vir godsdienstige feeste.
Die reis na Jerusalem was ’n moeisame reis
deur bergpasse heen waar strykrowers dikwels die reisigers voorgelê het en
daarom het die pelgrims ook in groepe saamgereis vir veiligheid.
Psalm 134 was dan ook die lied wat hulle
gesing het wanneer hulle laat middag hulle bestemming bereik het.
In Ps. 134:1 is die oproep om die Here te
prys.
Wanneer ons terugkyk na hierdie
pelgrimsliedere dan sien ons al die redes waarom hulle die Here moes prys.
ð Psalm
120:1-7; vertel van verlossing van wrede vyande;
ð Psalm
121:1-8; van God se voortdurende bewaring van sy volk;
ð Psalm
122:1-9; van vreugde en vreugde wat verwesenlik word in die aanbidding van die
Here;
ð Psalm
123:1-4; van voortdurend op God wag in tye van benoudheid;
ð Psalm
124:1-8; van verlossing van wrede vyande;
ð Psalm
125:1-5; van ervaring van God se beskermende sorg;
ð Psalm
126:1-6; van die vreugde van God se verlossing;
ð Psalm
127:1-5; van die Here alleen as ons vaste Bewaarder;
ð Psalm
128:1-6; van God se genade en goedheid waarmee Hy ons seën;
ð Psalm
129:1-8; van baie verdrukkinge, maar van bewaring in almal;
ð Psalm
130:1-8; van hoe God se seën mens ophef;
ð Psalm
131:1-3; van die siel wat in die vrede van God bewaar word;
ð Psalm
132:1-18; van die voorspoed van die Kerk; en
ð Psalm
133:1-3 van haar eenheid; en nou in
ð Psalm
134:1-3 is daar, soos dit ook al mag wees, die bevel om die Here te loof.
Prys die Here vir sy genade, hulp,
verlossings, en onuitspreeklike seëninge wat Hy tot dusver gegee het.
Hierdie pelgrimstog wat hulle onderneem het,
was nie net ’n fisiese reis om van punt A na punt B te kom nie. Dit was ook ’n
geestelike reis.
Die dood van ’n geliefde bring mens tot
stilstand. En wanneer mens terugdink oor hul lewensreis saam, dan kan mens nie
anders as om die Here te prys vir al die seëninge wat Hy op daardie reis
verskaf het nie. Kyk terug na die goeie herinneringe van die Here se seën, wat
die Here vir julle gegee het, toe julle saam op daardie lewensreis was.
In Ps. 134:1 hoor ons :
Kom, prys die Here,
julle almal wat Hom
dien,
julle wat in die nag
in die tempel van die Here staan!
Die oproep om die Here te prys word gerig aan
almal wat die Here dien en ook aan hulle wat in die nag in die tempel diens
gedoen het.
Wat die Here ook hier vir ons sê, is hoe om
deur die donker tye op die pad vorentoe te kom. Wanneer die pad te swaar raak,
prys die Here.
In Habakuk 3:17-19 hoor ons:
17Al
sou die vyeboom nie bot nie
en daar geen druiwe
aan die wingerde wees nie,
al sou die olyfoes
misluk
en die lande geen oes
lewer nie,
al sou daar geen
kleinvee in die kampe meer wees nie
en die beeskrale
sonder beeste wees,
18nogtans
sal ek in die Here jubel,
sal ek juig in God,
my Redder.
19Die
Here my God gee vir my krag.
Hy maak my voete soos
dié van 'n ribbok,
op hoë plekke laat Hy
my veilig loop.
Prys die Here vir sy liefde en die wete dat
Hy ons nooit alleen laat nie.
In Ps. 134:2 hoor ons hoe ons dit moet doen
Hef julle hande in
gebed op na die heiligdom
en prys die Here!
Die Here beloof ons op soveel plekke in sy
Woord dat daar waar jy God opsoek, Hy jou ook sal opsoek.
Ons hoor byvoorbeeld In 2 Kron. 15:2:
As julle by die Here
is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind;
maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.
Nader tot die Here in gebed en luister na sy
troos wat Hy vir ons in sy Woord gee. Hef jou hart in gebed op na die Here toe.
Bring jou sorge en hartseer, jou seerkry en pyn na Hom toe en ervaar sy troos.
In Ps. 134:3 hoor ons wat gebeur wanneer ons
die Here prys:
Mag die Here jou seën
uit Sion,
Hy wat hemel en aarde
gemaak het.
Wanneer ons die Here prys en wanneer ons tot
Hom nader, seën Hy ons. Hy seën ons met die troos dat Hy altyd daar sal wees en
dat Hy ons sal dra deur die donker swaarkry tye.
Hy seën ons met die sekere wete dat elkeen
wat in geloof vashou aan die soen verdienste van Jesus Christus aan die kruis
en sy oorwinning oor die dood met sy opstanding, die ewige lewe sal beërwe. Wat
’n seën en troos is dit nie om te weet dat wanneer jy op die einde van jou
lewensreis hier op aarde kom, dit nie die einde is nie.
Daardie geweldige troos om te weet dat jou
dood ’n heerlike deurgang na die ewigheid saam met God is. Om ewig saam met God
te wees, waar daar geen hartseer, smart, pyn of dood meer sal wees nie.
Die Here het ons tot hiertoe gebring. Hoe
gaan ons nou hiervandaan verder?
Hou in geloof vas aan Jesus Christus as jou
enigste Verlosser en Saligmaker. Kyk terug na die seëninge wat die Here vir ons
alreeds gegee het op ons lewensreis en prys Hom daarvoor. Nader tot Hom in
gebed en soek sy teenwoordigheid vir die pad vorentoe en weet dat Hy jou sal
seën.
Prys die Here op jou pelgrimstog deur die
lewe.
Amen
Antwoord met Ps. 134-1 v 4
Laat Heer u seën op ons daal,
U guns uit Sion ons bestraal!
U wat beveel en dit geskied,
Wil Heer, u seën oor ons gebied!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking