Die Ou
Testament verkondig die evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus! Eeue voor
Jesus se geboorte kry ons hierdie profesie oor God se Dienskneg en wanneer ons
dit lees, dan sien ons die Dienskneg is niemand anders as Jesus Christus nie. Inderdaad
lyk dit of Jesaja 53 deel moet wees van die Nuwe Testament. Hier sien ons
inderdaad hoe groot God se genade is en hoe God se liefde jou vry maak.
Genade
Onbeskryflik Groot. Genade is ’n reusewoord. Amper TE GROOT om te
verstaan omdat genade ons NUUT MAAK. Genade is God se liefde aan die
werk.
Genade
is dat ons nie ontvang wat ons verdien nie.
Wat
verdien ons?
Ons
verdien die dood, want dit is wat die straf is, omdat ons teen God gerebeleer
het. Met ons sonde het ons die perfekte leefwêreld wat God vir ons gegee het
verander in die stukkende wêreld waarin ons vandag leef.
Dit
is een van die grootste krisisse in die geskiedenis van die wêreld, want as God
nie ingryp nie dan is alle hoop verlore. Die manier waarop God besluit het om
in te gryp is vir die mensdom onverstaanbaar. Iets waaraan hulle nooit eers
gedink het nie soos ons hoor in
Jes. 52:15 & 53:1
Maar hy gaan baie nasies
laat opspring van verbasing. Konings sal sprakeloos wees oor hom, want hulle
sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie, hulle sal iets te wete kom wat
hulle nog nooit gehoor het nie. Wie sal ons glo as ons hiervan vertel? Wie sal
die mag van die Here hierin kan raaksien?
God
se manier is vir die mens onsinnig want die helde van mense werk anders. Die
mens se helde is imposante figure. Iemand wat respek afdwing en wat met krag en
mag oorwin. God se Dienaar wie Hy gekies het om die grootste krisis van die
mensdom op te los is, nie iemand waarna jy twee keer sou kyk as jy Hom op
straat sou raakloop nie soos ons hoor in Jes. 53:2b - 3
Hy het nie skoonheid of prag
gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.
Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het,
iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie
gereken nie.
Waar
het jy nou al gehoor van ’n held wat doodgemaak word. In ons verwysingsraamwerk
oorwin die held altyd, maak nie saak watse gevare hy aan blootgestel word nie.
By God werk sy genade egter anders soos ons hoor in
Jes. 53:4 & 5
Tog het hy óns lyding op hom
geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf
word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op
hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.
Dit
is dan ook wat ons elke keer met die Nagmaal herdenk soos ons hoor in
1 Kor. 11:26
Elke keer as julle van
hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here
totdat Hy kom.
Hierdeur
herinner God ons dat die wonde wat ons sonde en die sondige gevolge van die
wêreld en die lewe ons toegedien het, deur Christus se wonde genees word. Hy herinner
ons dat die gees in my wat deur die sonde gedood is, weer lewend gemaak word
deur Christus se dood aan die kruis.
Hoe
verduidelik mens iets abstrak wat jy nie kan sien nie? Jy gebruik ’n voorbeeld
uit die leefwêreld wat almal ken en verstaan. Dit is wat God met brood en die
wyn doen tydens Nagmaal.
Hy
verduidelik twee sake naamlik hoe Christus dit gedoen het. Net soos wat die
brood gebreek word, is Christus se liggaam aan die kruis gebreek en net soos
die wyn uitgegooi word, is Jesus se bloed uitgestort.
Verder
verduidelik die brood en wyn ook hoe daar deur sý wonde vir ons genesing gekom
het. Net soos wat brood en wyn die liggaam se krag hernu sodat die liggaam die
wonde wat opgedoen word kan genees net so word ons geloofskrag in die
verlossing wat Christus bewerk het deur die Heilige Gees hernu.
Die
Heilige Gees bind ons deur die geloof al hoe stywer aan Christus vas sodat daar
vir ons genesing kan kom van die geestelike wonde wat die sonde ons toegedien
het.
Dit
is hoe die liefde van God ons vrymaak. Sy genade in aksie. Dit beweeg ons vanaf
ons sondige natuur na God se genade gewende liefde. Die troos wat ons ontvang
is dat ons nie God se liefde hoef te verdien nie. Goddelike genade stel nie
voorwaardes nie, het nie verwagtinge nie, deel nie reëls uit nie en verwyt
nooit nie.
Deur
sy genade sê God vir jou: “Ek het jou lief net soos jy is. Jy hoef nie ’n eers-’n
goeie mens te wees nie. Jy hoef nie eers te doen, of te werk, of goed te lyk,
of te gee en dien nie. Ek gee aan jou My vergifnis, aanvaarding en liefde
terwyl jy is wat jy is. Want Ek het gekom om uitgetorringde laslappie-mense se
lewens aanmekaar te werk tot ’n hemelse eenheid. Hy gee dit net eenvoudig vir
ons sonder dat ons iets in ruil daarvoor hoef te gee.
Genade
neem die onbruikbare stukkies van ons laslappielewens en werk dit, nog voor ons
vra, aanmekaar in pragtige heelwees-prentjies. Dit neem die hart wat deur die
modder gesleep is na die hemelse wassery toe en hang dit weer - silwerskoon en
netjies gestryk - op die hanger van die lewe.
Dit gee
vir moedeloses mense weer hoop, verander bitterheid in vergifnis en herskep
verlorenes in Ewigheidskinders. Deur genade word ’n troostelose toekoms omskep
in ’n lewe wat uitsien na more. Mense wat deur God se genade aangeraak word,
word deur God se liefde vrygemaak van die hopelose bestaan van ’n sondige lewe.
Van
die hopeloosheid van die doodsheid van sonde verander Christus met sy soenoffer
aan die kruis en sy opstanding, hopeloosheid in hoop. Hoop van ’n nuwe lewe
saam met God.
Al
wat jy moet doen is om God se genade deur geloof aan te neem. Glo dat Jesus deurboor
is vir jou oortredings, verbrysel is vir jou sondeskuld.
Glo
dat die straf wat ons vrede bewerk, op hom was, en dat daar deur sy wonde vir genesing
is. Glo dat Hy jou sondeskuld op Homself gelaai het.
Wanneer
jy opreg glo, sal jy vind hoe God se genade jou lewe verander. Dan sal jy nie
meer op jou ou sondige wee verder wil stap nie, want daar is ’n beter pad. ’n Nuwe
lewe saam met God.
Geliefdes
kom ons gaan sit nou aan by die tafel van die Here sodat Hy ons geloof kan
versterk sodat ons sy genade daardeur kan vasgryp.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking