15 Februarie 2026

God het jou lief, Leef daarom vir Hom


Christus het ook eenmaal vir ons sondes gely om ons tot God te bring

Ons luister vanoggend na die Woord van die Here uit:

1 Tess. 5 v 12-28

Inleiding

Wat is ons reaksie op die genade wat ons van God ontvang?

Met Nagmaal sien ons op ’n sigbare wyse hoe groot God se genade in ons lewens is. In die brood en wyn sien ons hoe Jesus Christus vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout vasgespyker is.

Dit laat ons opnuut weer besef hoe onmoontlik dit is om onsself van die sonde slawerny te verlos. Dit versterk ons geloof sodat ons kan weet waar ons verlossing van die sonde slawerny in ons lewens kan vind en wanneer ons opreg daaroor nadink, kan ons nie anders as om vir God dankie te sê deur soos verloste kinders van God te leef nie.

Nagmaal wys vir ons: God het jou lief, Leef daarom vir Hom.”

Rom. 12 v 1 som dit mooi op:

op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen.

Hoe gee ons, onsself aan God as ’n heilige offer?

God gee vir ons in sy Woord baie praktiese riglyne hoe om dit te doen. Ons gaan vanoggend fokus op die riglyne wat Hy aan die gemeente in Tessalonika gegee het omdat dit ook vir ons gemeente van toepassing is.

Eerstens net ’n kort agtergrond oor hierdie brief aan die gemeente in Tessalonika.

Agtergrond

In Handelinge 17 hoor ons dat die gemeente in Tessalonika tydens Paulus se tweede sendingreis in Asië tot stand gekom het. Verder hoor ons ook dat Paulus nie baie lank in die gemeente kon preek nie. Dit was nie veel meer as drie weke voordat hy vir sy lewe moes vlug nie.

In hierdie eerste brief aan Tessalonika hoor ons dat Paulus baie bekommerd was oor die welstand van die jong gemeente wat hy so inderhaas moes verlaat. Daarom het hy vir Timoteus gestuur om te gaan kyk hoe dit in die gemeente gaan.

Timoteus het teruggekom met die blye berig dat dit baie goed gaan in die gemeente, maar dat hulle tog sekere geloofskennis ontbreek het. Hulle was veral onkundig oor die wederkoms van Jesus Christus en daarom fokus Paulus in die twee briewe wat hy aan die gemeente geskryf het daarop om hulle baie spesifiek ten opsigte van die wederkoms te onderrig en dat alles wat hulle doen juis op hierdie Christelike hoop van die wederkoms gerig moet wees.

In die tweede helfte van die brief gee hy dan ook baie praktiese riglyne aan die gemeente hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus.

In ons teks gedeelte vind ons ’n samevatting daarvan.

Daarin leer ons

(1) hoe ons optrede teenoor die ampsdraers in die gemeente behoort te wees;

(2) hoe ons onderlinge verhoudings behoort te wees en

(3) hoe ons verhouding teenoor God behoort te wees.

Uit hierdie riglyne kan ons ook leer hoe om te leef met die hoop op die wederkoms van Jesus Christus.

Wat behoort ons reaksie te wees op die genade wat ons van God ontvang?

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons, onsself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is. Eenvoudig gestel:

God het jou lief, Leef daarom vir Hom.”

Hoe moet ons optrede teenoor die ampsdraers wees?

Wat moet ons gesindheid wees teenoor die ouderlinge en diakens wat die Here in die gemeente daargestel het?

In 1 Tess. 5 v 12 & 13 sê die Here vir ons:

Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar.

Slaan ag op die onderwysing wat hulle uit die Woord aan julle bring en wees dankbaar vir wat die bediening in julle lewens beteken.

As dit nodig is dat ons deur hulle tereggewys moet word dan moet ons besef dat hulle dit in opdrag van die Here doen. As daar iets is in my lewe is wat nie reg is nie en die ouderling wys my daarop, dan moet ek besef dat die Here deur die ouderling met my praat.

Wees dankbaar vir die werk wat die diakens doen en ondersteun hulle werk. Leef in vrede met mekaar saam. Moenie in ’n stryd met die ampsdraers van die gemeente betrokke raak nie.

Hoe moet ons onderlinge verhoudings wees?

Omdat ons die Here se persoonlike liefde ervaar behoort daardie liefde ook in ons onderlinge verhoudings sigbaar te wees.

In 1 Tess 5V14-15 sê die Here dan ook vir ons hoe ons teenoor mekaar moet optree.

Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. Sorg dat niemand ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense.

Ons moet op mekaar ag gee en verkeerde gedrag moenie goedgepraat word nie. In Tessalonika was daar ’n klomp mense wat onder die voorwendsel van die wederkoms opgehou werk het en so op hulle gelowiges begin teer het. Sulke gedrag was onaanvaarbaar.

Verder moet ons mekaar ook ondersteun. Daar kom tye in mens se lewe wanneer jy baie broos is weens verskeie omstandighede soos siekte, hartseer en sulke dergelike dinge. In sulke omstandighede moet ons mekaar ondersteun en daar wees vir mekaar.

Die opdrag om met almal geduldig te wees wys ons weereens daarop dat ons optrede deur liefde vir mekaar gemotiveer moet word.

Moenie ’n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. As iemand ons te na gekom het dan moet ons hulle vergewe. Vergifnis beteken nie om die ander persoon net so seer te maak soos hy/sy my gemaak het nie! Vergifnis beteken ook nie dat ons die slegte gedrag van ander goedkeur of dat dit nie saak maak nie. Vergifnis beteken om nie ’n wrok in jou hart saam te dra nie. Dit beteken om die saak aan die Here op te dra en om Hom daarmee te vertrou.

Ons moet mekaar se belange op die hart dra, met ander woorde ons moenie ons eie belange voorop stel nie. Selfsugtigheid is een van die grootste oorsake van onmin tussen mense. Ons moet vir mekaar omgee.

Hoe moet ons verhouding met God wees?

In 1 Tess 5v16 – 22 sê die Here vir ons:

16Wees altyd bly. 17Bid gedurig. 18Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

19Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20Moenie profesieë geringskat nie, 21maar toets dit alles, behou wat goed is, 22en bly weg van alles wat sleg is.

Ons moet blymoedig wees. Met ander woorde moenie op die negatiewe fokus nie. Mens is so maklik net op dit wat sleg en verkeerd is gefokus dat ons naderhand dit wat goed en mooi is miskyk. Ons moet IN ALLE OMSTANDIGHEDE dankbaar wees omdat ons weet dat die Here ons dra deur die moeilike tye.

Dit is inderdaad soos ons in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus bely dat ons in voorspoed dankbaar moet wees en in teenspoed geduldig moet wees in die vaste vertroue dat Here alles ten goede laat meewerk.

Bid gedurig. Dit beteken dat ons in alle tye biddend moet leef. Gebed is ons kommunikasie kanaal met God. Moet dit nie afskeep nie. Paulus vra ook in 1 Tess. 5 v 25 dat die gemeente vir hom moet bid. Geliefdes bid julle gereeld vir julle dominee? Sonder julle gebede kan ek nie my werk behoorlik doen nie. Ons moet vir mekaar bid.

’n Verhouding sonder kommunikasie kan tog nie werk nie. Ons praat met God deur gebed, maar ons moet ook na Hom luister wanneer Hy met ons praat deur prediking en ook ons gesamentlike en persoonlike Bybelstudie.

Wanneer ons nie eredienste bywoon nie en ook nie Bybel lees nie, staan ons die werking van die Heilige Gees teë, want die Gees werk deur die Lewende Woord van God. Die Gees werk nooit los van die Woord nie. Om aan die Here gehoorsaam te wees beteken dat ons doelbewus die goeie sal kies en wegbly van dit wat sleg is.

In 1 Tess 5v23 & 24 bid Paulus dan ook dat God die gemeente in die totaliteit van hul menswees sal bewaar sodat hulle onberispelik sal wees wanneer Jesus weer kom. Die verlossing in Jesus Christus is volmaak en daarom kan ons volkome vertrou dat Hy ons volkome sal verlos van die slawebande van die sonde. In vers 24 spreek Paulus dan ook die vaste vertroue uit dat God dit sal doen omdat HY getrou is.

Slot

Op grond van die groot ontferming van God behoort ons onsself as lewende en heilige offers aan God te gee wat vir Hom aanneemlik is. Met ander woorde, God het jou lief, Leef daarom vir Hom.

Ons doen dit deur die leiding van die ampsdraers in die gemeente te respekteer. Ons doen dit deur mekaar in liefde te ondersteun en mekaar se belange te dra. Ons doen dit deur in ’n lewendige verhouding met God te leef deur in gebed met Hom te praat en om na Hom te luister in die woordverkondiging en persoonlike en gesamentlike Bybelstudie.

Laat ons daarom op grond van die groot ontferming van God onsself as lewende en heilige offers aan God gee wat vir Hom aanneemlik is.

God het jou lief, Leef daarom vir Hom.”

Amen


 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking