Wys tans plasings met die etiket Ek is die Lig vir die wêreld. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ek is die Lig vir die wêreld. Wys alle plasings

26 Maart 2013

Jesus is die lig vir die wêreld en daarom kan ons ligmense wees


24 Mar. 2013 Gen. 1:1-3 ; Joh. 1:1-12; ; Joh. 3:19-21; Joh. 8:12; Joh. 12:35-36
Teksverse – Joh. 8:12

Lof-Psalm Ps. 107 v 1             (OAB)
Na Wet Ps. 19 v 4                   (OAB)
Na Gebed Ps. 1 v 1 & 4          (NAB)
Slotsang Ps. 119 v39               (OAB)

Vooraf
Soos ons verlede Sondag gehoor het, is ons tans besig met die sewe “Ek is....” uitsprakevan Jesus.
i      Ek is die Brood wat lewe gee – Joh. 6:35
ii     Ek is die Lig vir die wêreld – Joh. 8:12
iii     Ek is die opstanding en die lewe – Joh. 11:25
iv     Ek is die ingang vir die skape – Joh. 10:7,9
v     Ek is die goeie Herder – Joh. 10:11
vi     Ek is die weg en die waarheid en die lewe – Joh. 14:6
vii    Ek is die ware wingerdstok – Joh. 15:1
Ons het verlede stilgestaan by “Ek is die Brood wat lewe gee” waar ons gehoor het dat Jesus ons geestelike honger versadig met die Brood wat lewe gee. Vandag is ons by die tweede “Ek is...” uitspraak:  Ek is die Lig vir die wêreld; waar die Here vir ons sê dat ons ligmense is omdat Jesus die Lig vir die wêreld is.

Inleiding
Sonder lig is lewe onmoontlik. Voordat daar lig was daar nie lewe nie. In Gen. 1:2 hoor ons dat voor daar lig was, was die aarde heeltemal onbewoonbaar en alles was in duisternis gehul. Maar God vat die duisternis uit sy skepping weg deur net te sê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. Hierna volg die skeppings gebeure waarvan ons in Gen. 1 hoor. God skep lewe en Hy sê dit is baie goed. Die oomblik toe God lig bring, kom daar lewe. Lewe vir plante, diere, voëls en eindelik vir die mens.

Wanneer Jesus dus in Joh. 8:12 sê: “Ek is die lig vir die wêreld” verwys Hy terug na hierdie skeppingsgebeure. Hy verduidelik vir ons hiermee wie en wat Hy werklik is en Hy vertel ook vir ons daarmee wat Hy vir ons doen en wat ons deur Hom kan word. In Joh. 1:2-5 hoor ons:
Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Jesus is die bron van lig en lewe en lig en lewe is onafskeidbaar deel van mekaar. Wanneer Jesus dus vir ons sê: “Ek is die lig vir die wêreld”, sê Hy vir ons Hy is die Bron, die Kern en die Oorsprong van alle lig.

Duisternis
Direk nadat Jesus daar in die tempel by die offergawekiste uitgeroep het “Ek is die lig vir die wêreld”, sê Hy:
Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie
Lig wys na God en duisternis na dit wat boos is, sonde en die in sonde gevalle wêreld. Kort na die skeppings gebeure kom daar weer ’n diep donkerte oor die aarde. Die mens val in sonde en dit bring die swart donkerte van sonde, dood en die hel.

In die plek van vreugde en vrede kom daar, hopeloosheid, ongeluk, onmin. Weer is daar duisternis oor God se skepping, maar tog hou God aan om lig te wees. Die duisternis van die sonde kon nie die lig uitdoof nie soos ons hoor in Joh. 1:5:
Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Jesus is die ware Lig wat na die wêreld toe gekom het. Jesus het die houvas van donkerte op ons lewens gebreek en daarom hoef die uitverkore kinders van God nie meer in die duisternis van die sonde te leef nie.

Hoe weet mens of hierdie belofte vir jou bedoel is? In Joh. 1:12 hoor ons:
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Elkeen wat die Lig van Jesus in geloof aanneem hoef nie meer in die duisternis te leef nie. Die teendeel is egter ook waar soos ons hoor in Joh. 3:19-20:
En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.

Hoe weet mens dus dat jy ’n kind van God is? In Joh. 3:21 hoor ons:
Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.
As jy na die Lig toe kom, dan weet jy dat jy ’n kind van die Lig is. As jy Jesus volg hoef jy nie meer in duisternis te leef nie.

Kinders van die Lig
Wat ’n wonderlike troos is dit nie! Ons kan kinders van die Lig wees! Volgelinge van Jesus kry die wonderlike troos dat hulle nie meer in die donkerte van die sonde vasgevang is nie, inteendeel hulle sal die lig hê wat lewe gee. Dit is die belofte wat Jesus maak wanneer Hy sê: “Ek is die Lig vir die wêreld. Wie My volg sal die lig hê wat lewe gee.” Die vraag wat elkeen vanoggend van ons vir onsself moet vra is: “Is ek ’n volgeling van Jesus Christus?” Want om die Here se ligglans in my lewe te ervaar moet ek Jesus ken en liefhê. As ek deur die Gees gelei word om te sê: “ja Here, ek het U waarlik lief met alles wat in my is, dan het ek die Lig wat lewe gee!

Wat beteken dit vir my as ek die Lig het wat lewe gee? Dit beteken ek is ’n kind van die LIG. Iets van God se Lig moet nou deurbreek in my lewe, in my gedagtes, in my beplanning, in my besluite en my dade. My lig is moontlik die enigste Bybel wat baie mense ooit sal lees!

Dit is belangrik dat ons moet verstaan dat dit nie my eie krag is wat my lig laat skyn nie. Ons is soos hierdie ligte wat mens in die son los sodat sy battery gelaai kan word en wanneer die donker kom dan skyn dit omdat die son die batterye gelaai het.

Hoe laai ek my geestelike batterye sodat ek as ligdraer vir Jesus kan skyn? In Ps. 119:105 sê die Here vir ons:
U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
As ek gereeld die Woord lees en daarmee besig is in Bybelstudies en eredienste, word my geestelike batterye gelaai. As ek nie my geestelike batterye laai nie raak dit al hoe moeiliker om op die donker onseker pad van die lewe te beweeg. As my battery gelaai is, kan die lig van die Woord so skyn dat ek weet wat om te doen wanneer ek voor moeilike keuses in die lewe te staan kom.

Hoe skyn my lig om die donkerte van die mense wat die Here oor my pad stuur te verlig? Hoe reageer ek wanneer die besige winkel assistent ’n fout maak? Hoe reageer ek wanneer die ou mens net so ’n bietjie geselsskap en tyd uit my besige skedule vra? Maak ek tyd vir my gesin? Is ek net so ongeskik terug wanneer ek met ’n ongepoetse ongeskikte mens gekonfronteer word? In kort kan ek myself afvra: “is ek ’n ligmens?”
Amen