Wys tans plasings met die etiket ampte in die kerk. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket ampte in die kerk. Wys alle plasings

04 Oktober 2026

Die oes is groot, maar die arbeiders min


 Teks: Mat. 9:35-38 & 1 Tim. 3:1-13

Teksverse Mat. 9:37-38

Toe Jesus die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.

Jesus sien die skare wat geestelik mishandel, uitgemergel en gestroop is van hul vrede. Die godsdiens van hulle tyd het nie vir die mense rus gebring nie. Dit het hulle geestelik afgemat en uitgeput omdat die godsdienstige leiers van hulle tyd ’n onmoontlike las van mensgemaakte reëls en wette op hulle skouers gelaai het.

Daardie toestand van die samelewing so bietjie meer as 2000 jaar gelede beskryf maar ook die samelewing waarin ons vandag leef. Baie mense beleef dat die kerk ’n swaar las op hulle skouers plaas en draai daarom weg van die kerk af.

Dit verlig egter nie hul nood nie. Inteendeel, dit maak hulle nood net soveel groter en daarom is hulle inderdaad moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.

Wat is Jesus se reaksie teenoor hierdie mense wat wegdraai en verlore raak? Hy veroordeel hulle nie. Nee, Hy kry hulle innig jammer. Ons sien hier die hartklop van God teenoor 'n verlore mensdom.

Jesus se emosie is nie simpatie nie. Dit is baie meer as om net die nood raak te sien. Dit is ’n diepe empatie waar Hy self ook die pyn en verlorenheid van die mensdom aan sy lyf voel. Hy deel in die hartseer, pyn en verlorenheid van die mensdom.

Die diepste oorsaak van die mensdom se nood is nie fisies nie. Jesus het reeds die siektes en kwale genees van die mense wat daar bymekaar was. Die grootste nood van die mensdom is omdat hulle verhouding met God beskadig is en dit is hierdie verlorenheid van die mensdom wat Jesus in sy wese aanvoel.

Jesus het nie net die verlorenheid van die mensdom raakgesien nie, Hy het daadwerklik iets aan die saak gedoen! Ons hoor in Joh. 10:17-18

“Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

Jesus het sy lewe afgelê sodat verlore mense weer met God versoen kan word.

Vir die verlore mensdom om weer met God versoen te word, is dit nodig dat hulle die goeie nuus van Jesus Christus moet hoor en daarom sê Jesus in
Mat. 9:37 en 38

“Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.”

Dit is die taak van die kerk van ons Here om die evangelie uit te dra en binne die kerk van die Here is daar die verskillende ampte, naamlik die amp van gelowiges, die diaken amp en die ouderling amp. Die predikant is ook maar net ’n ouderling wat preek gawes het.

Ons staan vandag stil by die amp van ouderling en diaken maar dit wat ons hier hoor is net so van toepassing op die amp van die gelowige.

In 1 Tim. 3:1-7 sê die Here vir ons wat die karakter eienskappe van ’n ouderling is. ’n Ouderling moet onberispelik wees. Met ander woorde sy gedrag moet van so ’n aard wees dat daar geen fout gevind daarin kan word nie.

Verder moet hy getrou aan sy vrou wees. Letterlik staan daar dat hy 'n man met net een vrou moet wees. Met ander woorde hy moenie met ander vrouens rond flankeer nie.

Hy moet ook nugter wees. D.w.s. hy moet verstandig en beskaafd wees. Sy oordeelsvermoë moet helder wees sodat hy moeilike besluite kan neem sonder dat sy denke deur emosies, vooroordeel of impulse verblind word.

Hy moet emosioneel stabiel wees, d.w.s Hy reageer nie roekeloos, drasties of uit woede nie, maar behou sy kalmte onder druk.

Hy moet geestelik waaksaam wees sodat hy gevare en dwaalleer vroegtydig kan raak sien en hy laat hom nie deur elke nuwe wind van leerstelling meesleur nie.

Dus moet hy innerlik self gedissiplineerd wees en uiterlik helder en standvastig in sy optrede wees.

Hy moet ook bekwaam wees om te onderrig. Die ouderling amp is ’n amp van kerkregering en daarom moet hy homself in die Woord verdiep sodat hy met die Woord kan regeer en ook versorg.

Verder moet hy nie aan drank verslaaf of 'n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie.

Indien ’n ouderling nie sy huis goed regeer nie sal hy kwalik in staat wees om die regeer amp in die kerk uit te oefen.

Om bogenoemde te kan doen, moet hy nie ’n nuwe gelowige wees nie omdat mens groei in die geloof. D.w.s hy moet darem al ’n volwasse gelowige wees.

In 1 Tim. 3:8-12 hoor ons ook wat die eienskappe van ’n diaken moet wees.

In die kerk vervul diakens 'n baie praktiese rol soos om barmhartigheidswerk te doen, hulpbronne aan wese en weduwees uit te deel en gemeentelike sake te hanteer.

Daarom moet diakens persone van goeie karakter wees. Hulle moet hul geloof en roeping ernstig opneem en is daarom nie oppervlakkig, ligsinnig of roekeloos in hul optrede nie.

Diakens moet betroubaar in praktiese sake wees, omdat hulle met mense se nood en met die gemeente se finansies werk. Hulle integriteit moet bo alle verdenking wees sodat die gemeenskap hulle kan vertrou.

Verder moet hulle ook die Evangelie se eer beskerm en daarom moet hulle in hul lewenswandel eer aan God en die gemeente bring en nie op 'n manier optree wat skande of diskrediet oor die kerk bring nie.

Hulle moenie uit twee monde praat nie. D.w.s ’n diaken moenie iets agter ’n mens se rug sê wat hulle nie voor daardie persoon sal sê nie. Hulle verander nie hul standpunt of storie net om die gehoor tevrede te stel nie.

Hulle moet betroubaar wees ten opsigte van vertroulike inligting. Met ander woorde , hulle moenie inligting wat aan hulle toevertrou is gebruik om verdeeldheid of praatjies in die gemeente te saai nie. Daar mag nooit ’n versteekte agenda of manipulasie in hulle woorde wees nie.

Verder moet hulle ook nie aan drank verslaaf of op oneerlike winsbejag uit wees nie en moet hulle in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou.

Diakens moet getrou wees in hulle huwelike en hulle huishoudings moet ook goed bestuur word.

Geliefdes, as ons so na die vereistes van ouderlinge en diakens luister, en terloops, dit is ook maar die vereistes wat vir elke gelowige gestel is, kan mens dalk sê: “Sjoe! Hoe kry mens dit reg?

In my jong dae toe ek nog ’n diaken was het een van die manne op ’n diakonie kongres gesê: “Dis ’n TALL ORDER!”

Die vraag wat voor elkeen van ons voete lê vanoggend, ouderlinge, diakens maar ook aan elkeen wat in die amp van gelowige staan is: “Waar staan ek ten opsigte van dit wat die Here van ons vra? Hoe kry ek dit reg?”

Wat het Jesus gesê direk nadat Hy genoem het hoe groot die oes is en hoe min die arbeiders? Bid! Bid in afhanklikheid tot God vir die gawes wat Hy vra.

In Titus 3:10 kry ons so bietjie verder duidelikheid:

'Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. '

Wanneer ons luister na die gawes wat benodig word is dit nie iets wat ons doen nie. Op ons eie is ons nie in staat om dit te doen nie! Op die uiteinde is dit nie wat ons doen nie, maar wat God in ons deur die Heilige Gees doen.

Daarom is dit so belangrik vir elke ouderling en diaken en daarmee saam ook elkeen van ons wat in die amp van gelowige staan om naby God te leef in afhanklikheid van die Heilige Gees wat ons dra in die geloof.

Geliefdes, Jesus het gesê ons moet bid. Waarvoor moet ons bid? In Luk. 11:13 kry ons die antwoord:

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”

Vra vir die leiding van die Heilige Gees in die uitoefening van julle amp (ouderling, diaken en ook vir die amp van gelowige). Moenie dit in eie krag probeer doen nie.

Geliefdes, die oes is groot en die arbeiders min. Laat ons as kerk van ons Here aan die werk spring om die oes in te bring.

Amen