Psalm 42 & 43
Waarom is ek so in
vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!”
Die Psalms is een van die kosbaarste skatte wat
God onder leiding van sy Gees vir ons laat neerskryf het. Deur hierdie bundel
liedere raak God die hart van elke gelowige oor al die eeue aan.
Elke Psalm raak my persoonlik. Daar is tye wat ek saam
met die Psalmdigter by God smeek om hulp. Ander tye wat ek voor God my skuld moet
bely. Dan is daar ook tye waar ek voor God kla en worstel met die hoekoms en
die waaroms van die lewe, maar daar is ook tye waar ek vir God dankie sê vir
ryke seëninge wat Hy aan my gegee het en waar ek Hom groot maak in my
lied.
Die Psalmboek gaan oor al die wydtes en die
dieptes van ons menswees.
Veral ook hier in Psalm 42-43 beleef ons die
verskillende uiterstes van die gelowige se gemoed.
“Waarom is
ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” In hierdie Psalm sien ons hoe...
Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God
Diep in ‘n gat met al my probleme en al my twyfel tot
bo op ‘n berg waar my geloofsvertroue lofsing tot Gods eer. Deur hierdie hele
Psalm wissel ons tussen hierdie twee uiterstes: twyfel en hoop. Wanneer ‘n mens
hierdie Psalm lees vind jy jouself
so maklik in die gemoed van hierdie digter.
Hoe baie keer trek ons omstandighede ons so diep
in ‘n gat van twyfel in. Net om die volgende oomblik tot die besef te kom van
God se sorg, sy trou en sy liefde vir my. Moet ons elkeen nie eerlik bely dat die
stryd tussen twyfel en hoop so deel van my eie lewe is nie?
Psalm 42 en 43 moet eintlik een Psalm wees. Die opbou
van hierdie twee psalms vorm ‘n lied met ‘n refrein wat twee keer in Psalm 42
(6+12) en eenkeer in Psalm 43 (5) voorkom. Tog word daar reeds al in die oudste
geskrifte tot ons beskikking ‘n onderskeid tussen hierdie twee psalm
gemaak.
Drie keer bevind die digter hom in die laagtes van
vertwyfeling en sing Hy: “Waarom is ek so
in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” En drie keer styg hy uit in
geloofsvertroue en sing: “Vertrou op
God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied
sing. Hy is my helper en my God!”
In die eerste vers lees ons dat hierdie “’n Gedig
van die Koragiete” is. Die Koragiete was
die nageslag van Korag = ‘n Leviet = wat in die woestyn teen Moses in opstand
gekom het (Num. 16:1,2,35) en wat met sy lewe daarvoor betaal het. Baie jare later sou Dawid die familie van
Korag opdrag gegee het om, wanneer die tempel deur Salomo opgerig is, hulle die
leiding by die tempelsang moes neem (1 Kron. 15:17; 16:41). Hierdie diens het hulle tot lank na die
ballingskap verrig (2 Kron. 35:15).
As sangleier moes die digter dus baie keer die
volk na die tempel toe begelei het terwyl hy voorgegaan het in die lofprysing
van God om daar in die tempel in die heerlike teenwoordigheid van God te wees.
Dit was iets wat die digter baie goed geken het en waarin hy hom gereeld kon in
verlustig.
Maar dit is nou juis hier waar die digter se groot
ellende begin. Want hy is skierlik vêr
van die tempel af weg. Heel moontlik was hy een van die ballinge wat gedwing
was om vêr van die tempel in die vreemde tussen heidene te gaan woon.
Dit is hier in die vreemde waar hy terugdink aan
die goeie ou dae toe hy saam met ‘n skare feesgangers na God toe kon gaan.
Dit is hier in die vreemde dat sy verlange na God
en sy tempel soos ‘n swaard deur sy siel steek: “2Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U,
o God! 3My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek
ingaan en voor die aangesig van God verskyn? 4My trane is my spys
dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?” (OAV)
Om iets te verstaan van hierdie digter se ellende
moet ons weet wat die tempel vir die Israeliete in die OT beteken het. Die
tempel was die plek waar die verbondsark gestaan het = die tempel was die plek
wat God self met sy heilige teenwoordigheid gevul het (vgl. 2 Kron. 5). Om in
die tempel te wees was om in die teenwoordigheid van die lewende God self te
wees, want by Hom is die lewe. Net soos ‘n wildsbok nie sonder water kan lewe
nie, is die digter weg van God af sterwend en smag Hy na die Bron van alle
lewe.
Ken elkeen van ons nie ook maar daardie gevoel
van: God is so bitter vêr.
ð Ek lees Bybel, maar dit is asof God niks vir my te
sê het nie;
ð Ek bid maar my gebede gaan nie verder as hierdie
vier mure nie;
ð Ek gaan kerk toe, maar daar is net te veel ander
dinge in my gedagtes en in my lewe ..... wat God so bitter vêr maak.
En dan die verlange, die terug dink na dae toe God
so naby aan my was. Dit laat ‘n mens worstelend die vraag vra: Hoekom voel God
so vêr? Ek verlang daarna dat Hy weer naby my moet wees.
En asof dit nie genoeg is nie kom die sorge van
die lewe en net soos golwe waar die een die ander volg, tref die terugslae die
digter. Die gevolg: al sy vyande spot
hom en sê: “En waar is jou God nou?” (42:11).
Die heiden nasies van destyds wat om Israel gewoon
het, was deeglik bewus van die groot dade wat God onder sy volk verrig het. Ook
was dit iets waaroor die Israeliete nie stil gebly net nie. Gereeld het hulle
getuig van die groot wonders wat God in hulle geskiedenis gedoen het. Met
watter genoegdoening moes hulle nie die digter gespot het, toe dit lyk asof God
hom nie meer help nie?
“My Rots,
waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die
vyand?”
Wanneer alles begin verkeerd loop, my lewe, my
huwelik, my werk, my finansies plus nog die gevoel dat God vêr van my is, dan
hoor ons die spotlag van die duiwel hier agter ons: “En waar is jou God nou?” Het Hy dan nie belowe dat Hy altyd by jou
sal wees nie? Het Hy jou nie dalk vergeet nie?
God is so vêr,
Hy het my vergeet..... die bitter vertwyfeling. Wie ken dit nie? Dae en nagte se worsteling
met probleme. Dae en nagte se vertwyfeling. Dit is so eg menslik en niemand van
ons spring dit vry nie.
Weet u geliefdes, vir die ongelowige eindig die
stryd tussen twyfel en hoop altyd weer by twyfel.
Maar vir die gelowige?
Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God
“Waarom is
ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!”
In die moeilikste omstandighede, al is daar baie
rede vir vertwyfeling en baie rede om te kerm is daar ‘n groter rede om dit NIE te doen nie, want ons het ‘n
lewende hoop!
Ons teksvers stel dit: “Vertrou op God” = OF soos die OAV dit stel: “Hoop op God”
“Hoop op God”
moet ons nie verwar met die woordjie hoop wat ons elke dag gebruik nie. As ek
hoop dat my gunsteling rugbyspan môre sy wedstryd gaan wen, dan is daar ‘n
goeie kans dat dit nie gaan gebeur nie. Ons idee van hoop hou ‘n groot mate van
onsekerheid in.
Daarteenoor beteken Bybelse hoop om oortuig te
wees. Om seker te wees van die dinge
waarop ek hoop (Heb. 11:1). Om seker te wees dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk”. Dat ek so seker is van God se trou dat ek selfs in die
donkerste nag kan sing: Ja, ek sal weer
vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!”
Maar wat is dit wat hierdie Koragiet soveel
sekerheid en soveel hoop vir die toekoms gegee het?
In Psalm 42 bou die digter sy geloofsverwagting op
dit wat God in die verlede gedoen
het. Hy dink terug aan al die goedheid van God wat hy daar by die tempel in God
se teenwoordigheid beleef het (v.5) . Maar ook op dit wat God nou in die hede doen. Al slaan die storms om hom,
weet Hy dat “die Here weer op ‘n dag sy
trou sal laat blyk” (v. 9) .
As ons terugkyk op ons verlede, as ons ook nou om
ons rondkyk midde watter omstandighede ek my ook al mag bevind, glo ek dat
elkeen van ons genoeg rede het om dit uit te roep: “Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my
helper en my God!” Al was dit nie altyd maklik nie, was God nog altyd tot
hiertoe by ons gewees.
Maar in Psalm 43 kyk die digter ook die toekoms in. Hy
sien dat God hom weer gaan terug lei na Hom toe. "Stuur u lig en u waarheid dat dié my
lei en my bring na u heilige berg, na u woning! Laat my ingaan na die altaar
van God” (v. 3-4). Die digter het die sekerheid gehad dat God
hom weer terug sal laat gaan na Jerusalem.
Onder leiding van die Heilige Gees, sien die digter reeds
die Lig wat hom gaan terug lei na God toe en hoor hy reeds die waarheid van
verlossing. Hy sien ons enigste hoop, Jesus Christus raak. Christus
wat self gesê het: Ek is die Lig
vir die wêreld (Joh. 8:12)
As ek glo dat Jesus Christus waarlik mens geword het,
gekruisig is en opgestaan het uit die dood en dat Hy nou aan die regterhand van
God sit en dat ek by sy wederkoms mede erfgenaam gaan wees van ‘n ewige heerlikheid,
kan ek ook nou deur sy oë na my lewe kyk.
Al die moeilikhede wat my elke dag soos groot golwe tref is
niks in vergelyking met die ewige heerlikheid wat Christus aan my beloof het
nie.
Jesus het gesê: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6). Aan die kruis was Christus deur God
verlaat. Daardeur het Hy vir ons die weg
gebaan na God toe sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Hy gee
vir ons die ewige lewe en dit beteken dat ons nou reeds elke dag deur die
geloof by Hom kan ingaan en in sy teenwoordigheid kan wees. ‘n Teenwoordigheid
wat met Christus se wederkoms weer volmaak sal wees wanneer ek veilig tot in
ewigheid in my Vader se woning sal wees
Die
hoop van die Psalm digter het vir hom in die toekoms gelê. In die toekoms het
hy gesien dat Hy weer by God sal wees.
Vir ons is Christus se daad van verlossing ‘n
vaste sekerheid wat reeds gebeur het.
Soveel te meer kan ons die toekoms in kyk met ‘n vaste hoop op
Christus se wederkoms en kan ons uitsien na die dag wanneer ons elkeen veilig
by God sal wees.
Soveel te meer kan ons ons oë op Christus, op God gerig hou “...die God oor wie ek wil jubel en juig, ....dat
ek U kan loof met die lier, o God, my God!” (43:4)
Geliefdes, wanneer dit voel asof ek so bitter vêr
van God is, as die lewens storms dreig om my te oorweldig, as my teëspoed en
terugslae my laat dink dat God my vergeet het:
Kyk op, kyk na Christus ons enigste hoop
Want dan, ja dan alleen kan die stryd tussen
twyfel en hoop wat ook in my binneste woed eindig in ‘n lofsang tot God
O my siel, waarom so onrustig?
En wat buig jy jou in my?
Vertrou op God, in Hom weer
rustig!
In sy lof sal ek my
verlustig
“Waarom is
ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!”
Amen
