26 November 2020

Gebed 10 - Laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die bose

`n Reeks oordenkings oor gebed

These medetations are also available in English

Die 1ste oordenking: Gebed 01 - Hoekom moet 'n gelowige bid

Die vorige oordenking: Gebed 09 - Vergeef ons, ons oortredinge soos ons ook dievergewe wat teen ons oortree

Die volgende oordenking: Gebed 11 - Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid – Amen


Gebed 10

Laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die bose

1 Pet. 5 v 8

Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

 Met ons gebed het ons in ons binnekamer tot ons Hemelse Vader gebid. Ons het ons lewensnood en sondeskuld voor sy voete kom neerlê, maar nou moet ons verder gaan op die gevaarlike lewenspad en daarvoor bid ons ook.

 Ons bid hierdie bede omdat ons so swak is. Die gevaar van versoeking wag ons in soos 'n brullende leeu wat op soek is na iemand om te verslind en in onsself is ons so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie.

 Daarom bid ons tot ons Vader dat Hy ons so in sy wyse beskikking moet lei en versterk deur die Heilige Gees sodat ons die sonde kan misloop, want ons vertrou ons in alles toe aan sy bewaring en leiding.

 Ons bid hierdie bede omdat ons vyande so gevaarlik en sterk is. Hulle is inderwaarheid doodsvyande, naamlik die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur.

 Die duiwel is 'n leuenaar en moordenaar. Die Bybel beskryf hom in Open. 12 v 3 en 20 v 2 as 'n listige slang van verleiding en 'n draak van verwoesting.

 Die wêreld daarbuite ontken dat God bestaan en dit sluit al die sondige praktyke in wat in rebelse opstand teen God se gesag is.

 Ons eie sondige natuur is ons eie vyandskap teen God wat voortspruit uit die verwoestende rebelse opstand teen God deur ons eerste voorouers, Adam en Eva. Die kenmerke daarvan wat ons ook in ons eie lewens vind, is onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge.

 Hierdie doodsvyande span saam om ons ondergang te bewerk en hulle hou nie op ons aan te val nie.

 Bid daarom in geloofsvertroue vir die leiding en beskerming van ons Hemelse Vader om jou te versterk in hierdie stryd (aangesien ons self so swak en ons vyande so sterk is) totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.

Amen

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking