24 November 2020

Gebed 07 - Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel

 

`n Reeks oordenkings oor gebed

These medetations are also available in English

Die 1ste oordenking: Gebed 01 - Hoekom moet 'n gelowige bid

Die vorige oordenking: Gebed 06 - Laat U koninkryk kom

Die volgende oordenking: Gebed 08 - Gee ons vandag ons daaglikse brood


Gebed 07

Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel

Miga 6 v 8

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Rom. 8 v 28

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

 

Die wil van God. Dit is van die begin af 'n struikelblok gewees waarteen die mens in opstand kom. Om God se wil bo jou eie sondige wil te plaas is menslik gesproke onmoontlik. Dit kan alleen gebeur wanneer ons deur ons geloof in die evangelie verlos is en God ons deur sy Gees daartoe lei. Dit is dan waarvoor ons in hierdie bede bid.

 

Die gebed om aan God se wil gehoorsaam te wees behels dat ons vra dat God ons deur sy Gees lei om ons eie sondige wil prys te gee, want ons eie wil is die oorsaak van al ons ellende. Die prysgee van ons eie wil is dus 'n saak van bekering, want alhoewel ons vra dat God ons deur sy Gees daartoe lei, is jy nie passief in die opgee van jou eie wil nie.

 

In die prysgee van my eie wil moet ek myself aan God se wil oorgee. Dit beteken dat ek moet aanvaar dat God se wil goed is, want alleen ons Goeie Vader se wil is goed en heilig.

 

Al kan ons God se wil nie altyd verstaan nie, moet ons beide sy geopenbaarde wil (soos in sy Woord vergestalt) asook sy verborge wil wat in sy beskikking tot uitdrukking kom as volmaak en goed aanvaar sodat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar sal wees.

 

Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

 

Dit beteken ook dat ek berus en nie fout vind met en beterweterig wees teenoor God se wil nie. Verder ook dat ek nie God se wil probeer verdraai om my eie wil te pas nie.

 

Hierin bid ons ook dat God ons deur sy Gees sal lei om die posisie waarin Hy ons plaas binne sy kerk (amp van gelowige, diaken, ouderling of leerouderling) gehoorsaam sal aanvaar en dat ons die pligte daaraan verbonde so sal uitvoer dat dit sal strek tot sy eer en die uitbreiding van die sy Koninkryk.

 

Hierdie gehoorsaamheid behels ook dat ek my dagtaak in welke vorm ook al sal sien as die plek waarin God my geplaas het en dat ek dit sal uitvoer asof dit vir die Here is.

 

Die afsluiting ‘soos in die hemel’ is dat ons soos die hemelinge voor sy troon, God se wil met vreugde sal volbring en dat ons daarmee ook bid vir die voleinding wanneer ons as nuwe mense geen botsing met God se wil meer sal ken nie.

 

In hierdie derde bede bid ons dus dat God ons deur sy Gees sal lei en ons die vermoë gee om gehoorsaam te wees sodat ons, ons eie wil sal prysgee en sy wil sal uitvoer soos dit in die hemel geskied.

 

Amen







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking