30 November 2020

Gebed 12 - Onse Vader

 

'n Reeks oordenkings oor gebed

These medetations are also available in English

Die 1ste oordenking: Gebed 01 - Hoekom moet 'n gelowige bid

Die vorige oordenking: Gebed 11 - Aan U behoort die koninkryk en diekrag en die heerlikheid tot in ewigheid – Amen

Hierdie is die laaste oordenking oor die reeks oor gebed

Gebed 12

Onse Vader

 

Onse Vader wat in die hemel is.

U is deur Christus ons Vader en daarom kom ons in geloofsvertroue na U toe met die wete dat U ons gebed verhoor en dat U in U almag in alles vir ons sal sorg wat ons vir liggaam en siel nodig het.

 

Laat u Naam geheilig word.

Help ons om U reg te ken sodat ons U kan heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter.

Gee verder dat ons, ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster word nie, maar geëer en geprys word.

 

Laat u koninkryk kom. 

Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons, ons hoe langer hoe meer aan U sal onderwerp.  Bewaar u kerk en laat dit groei.  Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees.

 

Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. 

Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam sal wees, sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer soos die engele in die hemel.

 

Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is, sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. Gee daarom dat ons, ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.

 

Vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.  

Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus, nie toe nie.  Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind. Gee aan ons die ernstige voorneme om ons naaste van harte te vergewe.

 

En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.

Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie.  Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie.  Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.

 

Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee sodat ons nie vir onsself die roem toeëien nie, maar dat u heilige Naam ewig geprys sal word

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking