25 November 2020

Gebed 09 - Vergeef ons, ons oortredinge soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree

`n Reeks oordenkings oor gebed

These medetations are also available in English

Die 1ste oordenking: Gebed 01 - Hoekom moet 'n gelowige bid

Die vorige oordenking: Gebed 08 - Gee ons vandag ons daaglikse brood

Die volgende oordenking: Gebed 10 - Laat ons nie in die versoeking kom nie, maar verlos ons van die bose


Gebed 09

Vergeef ons, ons oortredinge soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree

Luk. 15 v 17 & 18

“Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger. Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!

In die vorige bede het ons gebid vir ons liggaamlike nood en nou bid ons vir ons geestelike nood. Die verlore seun kom in hierdie bede huis toe om vergifnis by sy Vader te soek.

Hier smeek ons dat God ons nie ons misdade en boosheid wat ons nog aankleef sal toereken nie. Ons bid hier vir die erfskuld wat ons nog aankleef asook ons eie skuld wat ons ontdek onder die verkondiging van die Woord en die getuienis van die Heilige Gees. Hierdie is 'n voortgaande proses, want uit ons eie maak ons, ons skuld nog elke dag net groter.

Ons smeek hier dat God ons misdade en boosheid ter wille van die bloed van Christus, ons nie toereken nie. Hierdie is 'n eerlike belydenis waar ons nie ons sonde en skuld ontken nie. Die enigste gronde waarop ons hierdie pleidooi kan maak is die bloed van Jesus Christus.

Vergewingsgesindheid is 'n genadegawe. Die vergewensgesindheid in my eie hart is die bewys van God se genade in my lewe. Alhoewel ons dit uit genade ontvang sonder enige verdienste aan ons kant lê dit ook 'n verantwoordelikheid op ons om dit wat ons van God ontvang te gebruik en toe te pas. Daarom moet daar ook 'n ernstige voorneme by ons wees om ons naaste te vergewe.

In hierdie bede kom ek met 'n skuldbesef en belydenis na die genadetroon van God en ek vind vergifnis en vergewensgesindheid.

Hou aan om hierdie gebed te bid totdat ons met die Wederkoms, volmaak en sonder sonde, voor die genadetroon vergader.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking