Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Skriflesing Rom. 1 v 16 – 32 ; (TV Rom. 1 v 17) en Sondag 1 Heidelbergse Kategismus. (geplaas aan die einde van die preek. lees dit saam met die skrifgedeelte hierbo genoem)
Die lewe is nie maklik nie.
'n Druppel gal is in die soetste wyn;
'n traan is op elk' vrolik' snaar,
in elke lag 'n sug van pyn,
in elke roos 'n dowwe blaar.
Hierdie woorde van Eugene Marais is so waar! Daar is maar altyd ’n kinkel
in die kabel.
Hoekom?
Hoekom moet die lewe so moeilik wees? Hoekom moet daar altyd iets verkeerd
loop?
God sê vir ons hoekom, geliefdes. In Rom. 8 v 20 hoor ons:
Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie
uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.
Hoekom het God dit gedoen? Hy sê vir ons hoekom geliefdes. In Rom. 1 v 18
hoor ons:
God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die
goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle
ongeregtigheid probeer onderdruk.
Ons sonde is die oorsaak dat God die Skepping aan die verydeling onderwerp
het, geliefdes.
En dit is net hier waar die probleem inkom, want dit is nie in ons aard om
verantwoordelikheid te aanvaar nie. Toe God vir Adam en Eva oor hulle rebelse
opstand gekonfronteer het, het beide skuld ontken. En niks het verander nie.
Die mens weier nog steeds om verantwoordelikheid te aanvaar. Ons leef in ’n
wêreld wat verkondig, die mens is inherent goed.
Maar dit is nie so nie geliefdes! In Rom. 1 v21 hoor ons dat alhoewel die
mens weet wie God is, eer en dank hulle Hom nie as God nie.
Dit is hier waar die kern van die probleem lê, geliefdes. Die algemene
opvatting is dat sonde eintlik nie so erg is nie, maar ons kyk die wortel van
die probleem mis, wanneer ons so redeneer geliefdes. Ons is so geneig om die
ernstigheid van sonde af te maak. Sonde is nie maar net dat ons een of ander
reël oortree het nie.
In sy diepste wese, is sonde opstand teen God soos ons in Rom. 1 v 23 hoor:
In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God
stel hulle beelde wat lyk soos ’n verganklike mens of soos voëls of diere of
slange
Die wortel van sonde lê daarin dat die mens iets anders in die plek van God
stel. Moenie julle blindstaar teen die afgode wat in die Bybel genoem word nie.
Ons het ons eie afgode, rykdom, aansien eer en die grootste afgod wat daar is,
is die eie ek.
Die dieptepunt van sonde is dat jy van die Bron van lewe afgesny word en
die gevolge is verskriklik. Wanneer jy van die Bron van lewe, d.w.s. God
afgesny word is die enigste alternatief die ewige dood. Ons leef in ’n wêreld
wat die werklikheid van die hel en satan ontken. Die gevolg is dat ons ernstige
gevolge van sonde miskyk.
Dit is eers wanneer jy die ernstige gevolge van jou sonde besef, dat jy
verstaan dat jy Troos nodig het.
Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Die wêreld vertel jou, dat
jy jouself kan red. Vir elke onderwerp is daar verskeie selfhelp boeke
beskikbaar. Volg net stappe een, twee en drie en siedaar, jou probleem is
opgelos!
Maar die hartseer werklikheid is dat jy jouself nie kan help nie, want maak
nie saak wat jy doen nie, jy bly steeds gebonde aan die vloek van die sonde. Jy
kan jouself nie red nie, want jy is van nature geneig om God en jou naaste te
haat.
Daar is net een uitweg. Jy moet glo in die Goeie Nuus. Jy moet die
Evangelie glo dat Jesus vir jou met sy bloed d.w.s met sy lewe betaal het. Hy
het met sy kosbare bloed vir al jou sondes ten volle betaal en jou uit alle
heerskappy van die duiwel verlos, soos Die Here ook vir ons in Rom. 1 v 17 sê:
In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense
van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar
geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”
Jesus het die verskriklike gevolge van die sonde oorwin. Hy het met sy lewe
aan die kruis daarvoor betaal, maar Hy het ook die gevolge van sonde tot niet
gemaak met sy opstanding. Hy het die vloek van die sonde dood oorwin.
Wat is jou troos geliefdes? Die troos is dat jy kan lewe, dat jy met
liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie, maar aan jou getroue
Verlosser, Jesus Christus behoort.
Beteken dit dat God nou die swaarkry in hierdie lewe gaan wegvat? Nee
geliefdes. Soms neem Hy wel ’n struikelblok uit jou weg, maar nie altyd nie. In
hierdie lewe bly die vloek van verydeling steeds daar. Dit is eers in die
volgende bedeling, God sê ewigheid waar ons verlos word van die verydeling wat
hierdie lewe kenmerk. Wat wel waar is, is dat jy nie meer alleen is nie. God is
by jou en wanneer die lewe te swaar rak, dra Hy jou.
Jou troos is dat jy in lewe en in sterwe aan Jesus Christus behoort. Die
Here sê vir ons in Rom. 1 v 17 “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy
glo, sal lewe.” En daarom bely ons ook “Hy verseker my ook deur sy Heilige
Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan
vir Hom te lewe.
Wat beteken dit om vir God te lewe? Die duiwel probeer ons oortuig dat ons
nou die “lekker” dinge in die lewe moet prysgee wanneer ons vir God begin lewe.
MOET HOM NIE GLO NIE! Onthou, hy is ’n liegbek! Dit is sy manier van die begin
af. Daar in die paradys het hy met leuens vorendag gekom en hy doen dit nog
steeds! Hy het nie sy strategie verander nie, want dit werk so goed!
Kom ons kyk wat is hierdie “lekker” dinge wat jy moet prysgee. In Rom. 1 v
28 hoor ons dat dit al die dinge is wat onbetaamlik is. En in Rom. 1 v 29 hoor
ons dat hierdie onbetaamlike dinge beslis nie lekker is nie.
Dit is ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; jaloesie, moord,
twis, bedrog en kwaadwilligheid. Verder is dit ook skinder en kwaad praat; haat
teenoor God, hooghartigheid, aanmatigendheid en verwaandheid. Dit is ook om
kwaad uit te dink, ongehoorsaam aan hul ouers en om onverstandig, onbetroubaar,
liefdeloos, hardvogtig te wees.
Wat gee God in die plek van die satan sê “lekker” dinge? Hy gee vir ons sy
liefde soos ons hoor in 1 Joh. 4 v 19. Ons het lief omdat God ons eerste
liefgehad het.
In teenstelling met die onbetaamlikhede gee liefde vir ons die volgende
soos ons in 1 Kor. 13 v 4 - 7 hoor:
Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is
nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel
nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie
boek van die kwaad nie.
Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor
die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Wanneer jy vir ander mense begin omgee, weet dit is God sê liefde wat Hy in
jou ingeplant het wat in jou werk. Wanneer jy God sê liefde begin uitleef dan
leef jy vir God. Dan begin jy die doel bereik wat God vir jou gegee het.
Slot
Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Jou enigste troos is dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie
aan jouself nie, maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.
Wat moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?
Drie dinge.
Ten eerste, hoe groot jou
sonde en ellende is. Jy moet verstaan wat die verskriklike gevolge van die
sonde is, naamlik die hel, d.w.s om ewig van God geskei te wees.
ten tweede; hoe jy van al jou sonde en ellende verlos
word. Jy moet die Evangelie glo, die Goeie Nuus dat Jesus Christus jou enigste
Verlosser en Saligmaker is. Jy moet glo dat Hy vir jou sondes aan ’n vervloekte
kruishout gesterf het en dat Hy opgestaan het uit die dood en daardeur vir jou
die ewige lewe gee.
en ten derde hoe jy God vir
so 'n verlossing dankbaar moet wees. Jy moet die liefde wat God deur die
Heilige Gees in jou geplant het leef.
Amen
SONDAG 1.
1 Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in
sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus
Christus behoort (c). Hy het met sy
kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy
van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my
op so 'n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan
val nie (g). Alles moet inderdaad tot my
saligheid dien (h). Daarom verseker (i)
Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte
gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (k).
(a) Rom
14:8. (b) 1 Kor 6:19. (c) 1 Kor 3:22; Tit 2:14:
(d) 1 Pet 1:18, 19;1 Joh 1:7;
2:2, 12. (e) Heb 2:14;1 Joh
3:8; Joh 8:34-36. (f) Joh 6:39;
10:28; 2 Tess 3:3; 1 Pet 1:5.
(g) Matt 10:30; Luk 21:18. (h) Rom 8:28.
(i) 2 Kor 1:22; 5:5; Ef 1:14;
Rom 8:16. (k) Rom 8:14;1 Joh 3:3:
2 Vraag:
Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en
sterwe?
Antwoord: Drie dinge (a): Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is
(b); ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word
(c) en ten derde hoe ek God vir so 'n verlossing dankbaar moet wees (d).
(a) Matt
11:28-30; Ef 5:8. (b) Joh 9:41;
Matt 9:12; Rom 3:10;1 Joh 1:9;10. (c) Joh 17:3;
Hand 4:12 10:43. (d) Ef
5:10; Ps 50:14; Matt 5:16;
1 Pet 2:12; Rom 6:13; 2 Tim 2:15: