22 November 2019

05. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees? Huisgesin 3


God, die Skepper van hemel en aarde is in Christus my Vader op wie ek kan vertrou
Joh. 1v1 tot 18;  Teksvers Joh. 1v12 & 13
3 Nov. 2019 GKE



Sondag 9

26  Vraag:  Wat glo jy as jy sê:  Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Antwoord:  Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is.  (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d).  Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as 'n almagtige God kan (f) en ook as 'n getroue Vader wil doen (g).
(a) Gen 1 en 2;  Eks 20:11;  Job 33:4, 38, 39;  Hand 4:24;  14:15;  Ps 33:6;  Jes 45:7.  (b) Heb 1:3;  Ps 104:27-30;  115:3;  Matt 10:29;  Ef 1:11:  (c) Joh 1:12;  Rom 8:15;  Gal 4:5-7;  Ef 1:5.  (d) Ps 55:23;  Matt 6:25, 26;  Luk 12:22.  (e) Rom 8:28:  (f) Jes 46:4;  Rom 10:12.  (g) Matt 6:32, 33;  7:9-11.

Inleiding

Hoe lyk ’n ideale vader? Die ware vaderfiguur is ’n simbool van liefde, goedgesindheid en sorg. Hy is iemand wat jy kan vertrou, iemand wat jy kan navolg en bowenal iemand wat jy kan liefhê. Waar vind ons ’n ideale vader? Ons manne wat alreeds kinders het moet maar kyk of ons gaan pas by die kriteria en die jongmanne moet maar kyk of hulle kans sien vir die ideaal wat gestel word, want dit is voorwaar ’n baie hoë standaard wat gestel word.

As ek so na myself kyk dan moet ek erken dat daar baie geleenthede was waar ek ver te kort geskied het as ’n vader. As ons werklik ’n ideale vader wil hê, dan is daar maar net een: ons Vader wat in die hemel is. Wanneer ons, ons geloof bely met die Twaalf Artikels, dan begin ons by God ons Vader. “Ek glo in God die Vader, die Almagtige Skepper van hemel en aarde.”

Die hoofgedagte van hierdie belydenis is: “Die Skepper is my Vader” In hierdie belydenis gaan dit nie soseer oor die detail van die skepping of hoe dit plaasgevind het nie. Die hoofsaak van die belydenis gaan oor die Persoon, die Ewige God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het en wat my verhouding met Hom is. Dit gaan dus nie hier oor die skepping op sigself nie, maar veel eerder oor wie dit is wat geskep het. In Ps. 19v2 hoor ons die wonderlike skeppingslied wat getuig oor die almal van God:
Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.

As ons die wonder van God se skepping aanskou, dan sê dit vir ons iets van die almag en die grootheid van die Skepper wat dit uit niks uit tot stand gebring het. Dan kan ons ook maar net saam met Dawid die wonder van God besing soos hy dit in Ps. 8v2 doen:
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
Maar daarmee saam kom die vraag dan ook na vore: “waarom sou die almagtig God wat die hemel en die aarde geskep het Homself met ons klein nietige mense bemoei?” Ps. 8v5:
4 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het,
5 wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

In ons belydenis lê die sleutel. Ons bely “Ek glo in God die Vader....” Ons verwys na God as ons Vader omdat Hy Homself so in sy ewige Woord openbaar. Hierin lê die sleutel van ons verhouding met God. Ons verwys nie na Hom as my alleen God nie, want dit sou ’n verkeerde verhouding aandui. As ek na God verwys as my God, dan kom daar so ’n sweempie van beheer en manipulasie deur. My God.....? Met ander woorde God is my besitting wat ek aangeneem het. Die inisiatief van die verhouding lê dus by my! Heeltemal in stryd met die Skrif!

Nee geliefdes, ons bely, dit wil sê ons glo vas en seker dat God, die Vader van Jesus Christus ter wille van sy Seun Christus ook my Vader is. As dit van my as mens afgehang het sou ek nooit vir God gekies het nie. Die mens het dan juis in rebelse opstand teen God se gesag sy rug op God gedraai en God verwerp. (Vgl. Joh. 1v11)
Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

En tog deur God se genade word almal nie verwerp nie. Daar is sommiges wat tot God mag nader soos die Here ook vir ons in Joh. 1v12 en 13 sê:
12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.
Gedring deur die Heilige Gees neem die uitverkore kinders van God, Jesus Christus se verlossingsdaad aan die kruis deur geloof aan en daardeur kry hulle die voorreg om kinders van God genoem te word. Elkeen wat glo dat Jesus Christus vir sy of haar sondes aan die kruis gesterf het en dat Jesus vir hulle die ewige lewe verwerf het met sy oorwinning van die dood, mag vir die ewige God wat die hemel en die aarde geskep het Vader noem.

Geliefdes, sien u die verskil tussen net my God en ons belydenis se my God en Vader? My God alleen dui op ’n baie manipulerende verhouding tussen God en die mens waar die mens in beheer is, terwyl my God en Vader dui op ’n baie intieme verhouding. Die verhouding tussen ’n pa en sy kind is baie nou en intiem. Ons beleef dit ook wanneer ons klein kleuterkindertjies vir ons pappa sê. En dit is inderwaarheid ook die vlak van ons verhouding met ons Hemelse Vader. (Vgl. Rom. 8 15)
Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.

Abba is ’n Aramese woord wat aanvanklik deur kleuters gebruik is en kan inderwaarheid as pappa vertaal word. Abba Vader dui dan ook op die kinderlike vertroue wat ons as kinders van God in Hom het. Sien u die Groot verskil geliefdes? My God: arrogant, manipulerend met die inisiatief wat van my af uitgaan teenoor Abba Vader wat op ons absolute kinderlike vertroue in God ons Vader dui. Met Abba Vader kom al die inisiatief van God en nie van ons nie. God wat sy Seun uitstuur en die Heilige Gees wat vir ons die geloof gee om Jesus Christus se verlossingsdaad ons eie te maak.
Daarom glo ons ook vas en seker dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus ter wille van sy Seun Christus ook ons God en Vader is. Ons glo dat Hy die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en ook dat Hy dit deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer. Omdat God ons Vader is weet ons verseker dat ons met kinderlike vertroue op Hom kan staatmaak. In Joh. 1v16 sê Hy vir ons:
Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.
Uit die oorvloed van God se genade weet ons dat Hy ons met alles wat vir liggaam en siel nodig is sal versorg. Ons vertrou ons Vader met kinderlike vertroue en daarom weet ons ook dat Hy al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor ons beskik, tot ons beswil sal verander. In die prediking oor Sondag 10 sal ons in meer detail op hierdie aspek ingaan.

Ons vertrou dat God ons Vader vir ons sal sorg omdat Hy dit as Skepper van hemel en aarde KAN doen, maar veral ook omdat Hy dit WIL doen as ons Vader.

Elkeen wat Jesus Christus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Wanneer ons dus bely :
“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en aarde”
Dan doen ons dit in die wete dat God, die Skepper van hemel en aarde, in Christus my Vader is op wie ek kan vertrou.

Geliefdes, wanneer ons die slaggate op ons lewenspad in 2011 tref, hou vas aan die wete dat ons ’n Hemelse Vader het op wie ons kan vertrou. In daardie seerkry en hartseer dae, gaan na jou Hemelse Pappa sodat Hy jou met sy liefde kan toevou. Hoeveel te meer gaan ons nie die vreugdes van die lewe geniet wanneer ons dit met ons Hemelse Vader kan deel nie. Geliefdes hou vas aan die wete dat die Almagtige God en Skepper van die Hemel en die Aarde in Christus ons Vader is op wie ons kan vertrou.  

Amen




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking