God,
die Skepper van hemel en aarde is in Christus my Vader op wie ek kan vertrou
Joh. 1v1 tot 18; Teksvers Joh. 1v12 & 13
3 Nov. 2019 GKE
Sondag 9
26 Vraag: Wat glo jy as jy sê: Ek glo
in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Antwoord: Ek glo
dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met
alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en
voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my
God en Vader is. (c) Op Hom vertrou ek
so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig
is, sal versorg nie (d). Hy sal ook al
die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander
(e), omdat Hy dit as 'n almagtige God kan (f) en ook as 'n getroue Vader wil
doen (g).
(a) Gen 1 en 2; Eks 20:11; Job 33:4, 38, 39; Hand 4:24;
14:15; Ps 33:6; Jes 45:7.
(b) Heb 1:3; Ps 104:27-30; 115:3;
Matt 10:29; Ef 1:11: (c) Joh 1:12;
Rom 8:15; Gal 4:5-7; Ef 1:5.
(d) Ps 55:23; Matt 6:25, 26; Luk 12:22.
(e) Rom 8:28: (f) Jes 46:4; Rom 10:12.
(g) Matt 6:32, 33; 7:9-11.
Inleiding
Hoe lyk ’n ideale
vader? Die ware vaderfiguur is ’n simbool van liefde, goedgesindheid en sorg.
Hy is iemand wat jy kan vertrou, iemand wat jy kan navolg en bowenal iemand wat
jy kan liefhê. Waar vind ons ’n ideale vader? Ons manne wat alreeds kinders het
moet maar kyk of ons gaan pas by die kriteria en die jongmanne moet maar kyk of
hulle kans sien vir die ideaal wat gestel word, want dit is voorwaar ’n baie
hoë standaard wat gestel word.
As ek so na myself kyk
dan moet ek erken dat daar baie geleenthede was waar ek ver te kort geskied het
as ’n vader. As ons werklik ’n ideale vader wil hê, dan is daar maar net een:
ons Vader wat in die hemel is. Wanneer ons, ons geloof bely met die Twaalf
Artikels, dan begin ons by God ons Vader. “Ek glo in God die Vader, die
Almagtige Skepper van hemel en aarde.”
Die hoofgedagte van
hierdie belydenis is: “Die Skepper is my Vader” In hierdie
belydenis gaan dit nie soseer oor die detail van die skepping of hoe dit
plaasgevind het nie. Die hoofsaak van die belydenis gaan oor die Persoon, die
Ewige God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het en wat my verhouding
met Hom is. Dit gaan dus nie hier oor die skepping op sigself nie, maar veel
eerder oor wie dit is wat geskep het. In Ps. 19v2 hoor ons die wonderlike
skeppingslied wat getuig oor die almal van God:
Die
hemel getuig van die mag van God,
die
uitspansel maak die werk van sy hande bekend.
As ons die wonder van
God se skepping aanskou, dan sê dit vir ons iets van die almag en die grootheid
van die Skepper wat dit uit niks uit tot stand gebring het. Dan kan ons ook
maar net saam met Dawid die wonder van God besing soos hy dit in Ps. 8v2 doen:
Here,
ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,
hoe
glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
Maar daarmee saam kom
die vraag dan ook na vore: “waarom sou die almagtig God wat die hemel en die
aarde geskep het Homself met ons klein nietige mense bemoei?” Ps. 8v5:
4 As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het,
5 wat is die mens dan
dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
In ons belydenis lê die
sleutel. Ons bely “Ek glo in God die Vader....” Ons verwys na God as ons Vader
omdat Hy Homself so in sy ewige Woord openbaar. Hierin lê die sleutel van ons
verhouding met God. Ons verwys nie na Hom as my alleen God nie, want dit sou ’n
verkeerde verhouding aandui. As ek na God verwys as my God, dan kom daar so ’n
sweempie van beheer en manipulasie deur. My God.....? Met ander woorde God is
my besitting wat ek aangeneem het. Die inisiatief van die verhouding lê dus by
my! Heeltemal in stryd met die Skrif!
Nee geliefdes, ons
bely, dit wil sê ons glo vas en seker dat God, die Vader van Jesus Christus ter
wille van sy Seun Christus ook my Vader is. As dit van my as mens afgehang het
sou ek nooit vir God gekies het nie. Die mens het dan juis in rebelse opstand
teen God se gesag sy rug op God gedraai en God verwerp. (Vgl. Joh. 1v11)
Hy
het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.
En tog deur God se
genade word almal nie verwerp nie. Daar is sommiges wat tot God mag nader soos
die Here ook vir ons in Joh. 1v12 en 13 sê:
12 Maar aan almal wat Hom
aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te
word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n
mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.
Gedring deur die
Heilige Gees neem die uitverkore kinders van God, Jesus Christus se verlossingsdaad
aan die kruis deur geloof aan en daardeur kry hulle die voorreg om kinders van
God genoem te word. Elkeen wat glo dat Jesus Christus vir sy of haar sondes aan
die kruis gesterf het en dat Jesus vir hulle die ewige lewe verwerf het met sy
oorwinning van die dood, mag vir die ewige God wat die hemel en die aarde
geskep het Vader noem.
Geliefdes, sien u die
verskil tussen net my God en ons belydenis se my God en Vader? My God alleen
dui op ’n baie manipulerende verhouding tussen God en die mens waar die mens in
beheer is, terwyl my God en Vader dui op ’n baie intieme verhouding. Die
verhouding tussen ’n pa en sy kind is baie nou en intiem. Ons beleef dit ook
wanneer ons klein kleuterkindertjies vir ons pappa sê. En dit is inderwaarheid
ook die vlak van ons verhouding met ons Hemelse Vader. (Vgl. Rom. 8 15)
Die
Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie
weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders
van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.
Abba is ’n Aramese
woord wat aanvanklik deur kleuters gebruik is en kan inderwaarheid as pappa
vertaal word. Abba Vader dui dan ook op die kinderlike vertroue wat ons as
kinders van God in Hom het. Sien u die Groot verskil geliefdes? My God:
arrogant, manipulerend met die inisiatief wat van my af uitgaan teenoor Abba
Vader wat op ons absolute kinderlike vertroue in God ons Vader dui. Met Abba
Vader kom al die inisiatief van God en nie van ons nie. God wat sy Seun
uitstuur en die Heilige Gees wat vir ons die geloof gee om Jesus Christus se
verlossingsdaad ons eie te maak.
Daarom glo ons ook vas
en seker dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus ter wille van sy Seun
Christus ook ons God en Vader is. Ons glo dat Hy die hemel en aarde met alles
wat daarin is, uit niks geskep het en ook dat Hy dit deur sy ewige raad en
voorsienigheid nog onderhou en regeer. Omdat God ons Vader is weet ons verseker
dat ons met kinderlike vertroue op Hom kan staatmaak. In Joh. 1v16 sê Hy vir ons:
Uit
sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.
Uit die oorvloed van
God se genade weet ons dat Hy ons met alles wat vir liggaam en siel nodig is
sal versorg. Ons vertrou ons Vader met kinderlike vertroue en daarom weet ons
ook dat Hy al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor ons beskik, tot ons
beswil sal verander. In die prediking oor Sondag 10 sal ons in meer detail op
hierdie aspek ingaan.
Ons vertrou dat God ons
Vader vir ons sal sorg omdat Hy dit as Skepper van hemel en aarde KAN
doen, maar veral ook omdat Hy dit WIL doen as ons Vader.
Elkeen wat Jesus
Christus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van
God te word. Wanneer ons dus bely :
“Ek
glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en aarde”
Dan doen ons dit in die
wete dat God, die Skepper van hemel en aarde, in Christus my Vader is
op wie ek kan vertrou.
Geliefdes, wanneer ons
die slaggate op ons lewenspad in 2011 tref, hou vas aan die wete dat ons ’n
Hemelse Vader het op wie ons kan vertrou. In daardie seerkry en hartseer dae,
gaan na jou Hemelse Pappa sodat Hy jou met sy liefde kan toevou. Hoeveel te
meer gaan ons nie die vreugdes van die lewe geniet wanneer ons dit met ons
Hemelse Vader kan deel nie. Geliefdes hou vas aan die wete dat die Almagtige
God en Skepper van die Hemel en die Aarde in Christus ons Vader is op wie ons
kan vertrou.
Amen