27 Oktober 2019

04. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees? Die kerk is 'n huisgesin wat deur God geroep is om die waarheid te verkondig en beskerm.


Datum: 27 Okt. 2019 GKE

Skriflesing: 1 Tim. 3 v 14 - 16
Teksvers: 1 Tim. 3 v 15




Hierdie is die vierde preek in die reeks “wat beteken dit om kerk van die Here te wees.” Om dit te verstaan fokus ons op die beeldspraak wat in die Bybel gebruik word om te verduidelik wat is die kerk en hoe moet dit funksioneer.

In ons teks hoor ons dat die kerk vir God 'n belangrikste skakel is in hoe Hy Hom aan die mensdom openbaar.

Paulus wil seker maak dat die boodskap by die gemeente uitkom en dat die bekendmaking daarvan nie vertraag sal word nie, daarom skryf hy vir Timoteus ook 'n brief. In 1 Tim. 3 v 15 hoor ons:
Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.

In ons teksvers roer Paulus drie kern kenmerke van kerkwees aan. Die eerste kenmerk is hoe gesinslede van God se huisgesin hulle moet gedra. Die tweede kenmerk is dat God die gesinslede uitverkies het en dat Hy hulle in 'n gemeente saamgevoeg het. Die derde kenmerk is dat God sy ewige waarheid aan hulle gegee het om te bewaar en verkondig.

1. Die eerste kenmerk - Hoe behoort gesinslede van God se huisgesin hulle te gedra.
In 'n huisgesin is daar ouers wat voorloop, wat leiding neem en so is dit ook in die huisgesin van God. Daarom is daar ouderlinge wat leiding neem in die gemeente en hulle moet hierdie leierskap in liefde uitoefen.

Binne 'n huisgesin is daar ook 'n besonderse band tussen die gesinslede. Daarom is daar ook 'n gesegde wat sê “bloed is dikker as water.” In die huisgesin van God word die gesinslede deur die bloed van Jesus Christus saamgebind. Ons is inderdaad bloed broers en susters in die gemeente en die vraag is nie of ons van mekaar hou of nie. Die vraag wat elke broer en suster vir hom- of haarself moet beantwoord is: “sal ons mekaar liefhê?”

Almal wat deel is van 'n huisgesin is ook nie presies dieselfde nie. Elkeen het sy eie unieke geaardheid en persoonlikheid. So is dit ook in die huisgesin van God. Ons is nie almal dieselfde nie. Ons het kinders, jongmense en oumense in die gemeente en elkeen het sy eie unieke persoonlikheid en daarmee vul ons mekaar aan en bou ons mekaar. So word ons lewens van jongs af aan gevorm binne milieu van ons kerklike huisgesin.

'n Gesin is 'n veilige hawe waar die gesinslede mekaar bemoedig, maar ook vermaan. Binne die huisgesin koester ons mekaar in 'n web van liefdevolle onderlinge verhoudings. Is daar binne ons gemeente 'n veilige hawe waar ons mekaar koester en werklik omgee vir mekaar?

2. Die tweede kenmerk - God het die gesinslede uitverkies en Hy het hulle in 'n gemeente saamgevoeg.
Die kerk is nie maar net 'n sosiale klub waar mense besluit het om by aan te sluit nie. Die kerk bestaan uit mense wat God uitgekies het en wat Hy saam in 'n huisgesin by mekaar gevoeg het. Wanneer jy lid van 'n klub is besluit jy self hoe betrokke jy wil wees en of jy net inskakel wanneer dit jou pas.

In die kerk werk dit anders, want jy is 'n geroepene van God. Hy het elkeen met 'n doel geroep en in 'n gemeente te plaas. As jy nie jou roeping binne die huisgesin waarin God jou geplaas het uitleef nie, is daar 'n gebrek en dit strek tot nadeel van al die lede. As jy jouself eenkant hou benadeel jy jouself en OOK die ander lede!

Binne die kerk sien ons hoe die verbond van God prakties werk. God belowe in die verbondsbelofte dat Hy vir ons 'n God sal wees en dat ons sy volk sal wees. In Mat. 18:20 sê Jesus vir ons dat daar waar twee of drie in sy Naam vergader, Hy self ook daar teenwoordig is.

Die troos hierin is dat jy God sal vind daar waar gewone Christene in die plaaslike kerk bymekaar kom. Jy hoef Hom nie te soek op eksotiese of afgesonderde plekke wat moeilik bereikbaar is nie.

3. Die derde kenmerk is dat God sy ewige waarheid aan die kerk gegee het om te bewaar en verkondig.
Ons hoor hier dat die fondament van die waarheid in die kerk gesetel is. Die kerk moet hierdie waarheid bewaar, maar is ook die draer daarvan. Dis nie iets wat die kerk vir haarself mag hou nie. Dit moet met woord en daad in die wêreld uitgedra word.

Hierdie waarheid sal net geloofwaardigheid hê wanneer dit uitgeleef word. Dit moet prakties in die lewens van die huisgesin van God sigbaar wees. Wat sien die wêreld raak wanneer hulle na die huisgesin van God kyk?

Wat presies is hierdie waarheid? In 1 Tim. 3 v 16 spel die Here dit vir ons uit:
16En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid  van ons godsdiens groot is:

ð As mens het Jesus in die wêreld gekom,
ð deur die Gees bevestig is
ð dat die reg aan sy kant is,
ð aan die engele het Hy verskyn;
ð aan die heidennasies is Hy verkondig,
ð  in die hele wêreld is Hy geglo,
ð en in heerlikheid is Hy opgeneem.

Hierdie waarheid is die verhaal van Jesus Christus wat in 'n stal gebore is. Hy het soos 'n baie eenvoudige mens geleef en Hy het 'n skandedood op 'n vervloekte kruis gesterf. Maar die Heilige Gees het bevestig dat Hy die Seun van God is en het Hom op Paas-sondig uit die dood opgewek. Hy is gesien deur die engele, maar nie deur almal op aarde nie. Sy verhaal moet nog aan die wêreld verkondig word en hulle moet dit glo. Wanneer dit gedoen is ontvang Hy al die heerlikheid wat Hom toekom.

Die waarheid is die evangelie en die kerk is die draer en beskermer van dit. Die kerk is die nuwe mensdom in wording waar die Koninkryk van God erken, eerbiedig en in die wêreld uitgeleef word.

Wanneer ons so na die kerk kyk dan moet ons erken dat dit moeilik is om te glo. Ons is maar net gewone mense wat heel dikwels nie eers deur die invloedrykes raakgesien word nie. Moenie moedeloos word nie. Dis op die uiteinde nie ons wat in eie krag die wêreld moet verander nie. God is besig om die wêreld deur middel van sy kerk hier op aarde te verander. Al wat ons moet doen is om die roeping uit te leef om kerk te wees. Dit wat vir die wêreld soos 'n mislukking lyk is God se grootste oorwinning. Toe Jesus gesterf het, het die wêreld gedink dat die Messias wat gekom het 'n mislukking was en tog was dit die grootste oorwinning oor die bose in die hele geskiedenis van die mensdom.

Geliefdes, wat is die kerk? Die kerk is 'n huisgesin wat deur God geroep is om die waarheid te verkondig en beskerm.

Leef u roeping as lid van die huisgesin van God uit want God is besig om ons te gebruik om die wêreld te verander.
Amen




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking