Lees Mat. 16:13-19 – teksverse Mat. 16:16, 18 & 19
NGB Art. 27 & Heidelbergse Kategismus Sondag 52 vrae 54 en 55
1.
Inleiding
waarheen is Gereformeerde Kerk Bloemfontein Suidheuwels
op pad?
Voordat ons daardie vraag kan beantwoord is dit nodig dat
ons net weer vir onsself “uitmaak wat of wie is die kerk?”
Om te verstaan wat of wie die kerk is gaan ek net eers
gou stilstaan by wat die kerk nie is nie.
2.
Wat is die kerk nie?
Die kerk is nie ʼn gebou nie. Tog praat ons dikwels van
die gebou waar ons bymekaarkom as die kerk. ʼn Beter manier om na die gebou waar
ons bymekaarkom te verwys is: ʼn kerkgebou. Tog is dit ook so dat wanneer ons na
die gebou as kerk verwys, dan bedoel ons Doppers gewoonlik nie dat dit die kerk
is nie. Ek glo ons bedoel daarmee dat wanneer
ons van die gebou as kerk praat dat dit die
plek is waar ons as kerk
bymekaarkom.
Die kerk is ook nie ʼn institusie of organisasie nie. Ek
dink ons maak meer dikwels die fout om so aan die kerk te dink en dit is ook
waar die wanpersepsie van mense vandaan kom wanneer hulle die kerk as ʼn aparte
entiteit van hulself sien. Die kerk maak sus of so en die kerk wil net
voorskryf ens. Die ons en hulle sindroom hoort nie in die kerk nie.
Die kerk is ook nie die dominee of kerkraad of ouderlinge
nie. Hulle is deel van die kerk, maar hulle is nie op hul eie die kerk nie.
Die kerk is ook nie ʼn sosiale klub nie. Dit klink logies
dat nie is nie, maar dit is verbasend hoeveel mense in praktyk die kerk as ʼn klub
uitleef. ʼn Klub soos bv. ʼn gholfklub is ʼn sosiale organisasie waarby mense met belange
wat hulle deel aansluit en hulle besluit self tot watter mate en hoe gereeld hulle
betrokke wil wees en watter saamkom geleenthede hulle wil bywoon. Dit is beslis
nie kerk nie.
3.
Wat is die kerk dan?
Om die regte antwoord op die vraag te kry is dit
belangrik dat ons kyk na wat die Bybel daaroor te sê het, want die grondslag
van die kerk is die waarheid van die woord van God.
Die Griekse woord wat ons met ‘kerk’ vertaal is Ekklesia.
Dit beteken letterlik uitgeroep. Daarom bely ons dat Christus uit die hele
menslike geslag vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is
versamel.
In Mat. 16:18 hoor ons:
En Ek sê vir jou: Jy is
Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die
doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Die kerk van wie Jesus hier praat is al die gelowiges (lewendig
en dood) van die begin tot die einde. Dit wil sê, dit is die somtotaal van al
die gelowiges oor al die eeue heen. Ons praat hier van die universele onsigbare
kerk. Daarom bely ons ook dat ons glo aan ʼn heilige, algemene Christelike kerk.
Die Bybel leer ons ook dat die kerk 'n plaaslike groep
identifiseerbare gelowiges is wat aan Christus en mekaar toegewy is, wat
saamwerk om God te verheerlik en sy sending te dien soos ons bv. in Hand. 14:23
hoor:
In elke gemeente het
hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die
apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.
In hierdie geval is die Griekse woord ‘Ekklesia’ met ‘gemeente’
vertaal.
Dit is belangrik dat ons moet insien dat die Bybel nie na
twee aparte tipes kerk verwys nie. In albei gevalle verwys dit na die kerk van
Christus in verskillende gedaantes. Sien dit so. Die universele onsigbare kerk
word sigbaar in die plaaslike gemeentes.
In die Bybel gebruik God ook verskillende beelde om vir
ons te verduidelik wat die kerk is. Ek gaan hier net ʼn paar voorbeelde noem. Bv.
Bruid van Christus (Ef. 5:25-28); Kudde van God (1 Pet. 5:2); Die Saailand van
God (1 Kor. 3:9); Lewende boustene van ʼn geestelike gebou (1 Pet. 2:5).
Dan is daar ook die beeld van ʼn liggaam van Christus (Ef.
1:22-23). Laasgenoemde is een van die bekendste beelde en daarom verwys ons ook
na die mense in die kerk as lidmate (ledemate). Ons is inderdaad die hande en
voete van Jesus hier op aarde.
Die Bybel noem ook dat ons ʼn huisgesin is omdat ons
kinders van God is (Joh. 1:12) en daarom verwys ons ook na mekaar as broeders
en susters.
Al hierdie beelde druk een gedagte uit, nl. dat die kerk ʼn
vergadering is. Almal saam is bv. die bruid van Christus, ens. Die kerk is ʼn vergadering
en daarom is dit eintlik verkeerd om te vra: “wat is die kerk?” Ons moet eerder
vra: “wie is die kerk?”
4.
Wie is die kerk?
In
Sondag 21 vraag en antwoord 54 van die Heidelbergse Kategismus bely ons:
Die Seun
van God verkies vir
Hom uit
die hele menslike geslag 'n gemeente aan
wie Hy die ewige lewe
gee.
Hoe doen Hy
dit?
Hy kies
hierdie gemeente uit deur sy Gees en Woord in die eenheid
van ʼn ware
geloof.
Hy vergader
hulle van
die begin van die wêreld af tot die einde toe, en verder beskerm
en onderhou Hy hulle.
Ons bely ook:
dat ek
daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly.
Wie is die kerk? Die kerk is die mense wat deur God
uitverkies is; deur die bloed van Christus gekoop is; deur die Heilige Gees tot
woning van die Heilige God gemaak is en daarom is die kerk heilig. Dit beteken
dat die kerk die eiendom van die heilige God is. Ons behoort aan Hom en daarom
is ons heilig.
Ons kan ook sê die kerk is Christelik, want die kerk
behoort aan Jesus Christus. Hy is die hoof van die kerk en ons is die liggaam.
Die kerk staan en val met die belydenis van Petrus wat ons in Mat. 16:16 hoor: “U
is die Christus, die Seun van die lewende God.”
Ons is Christene omdat ons deur die Heilige Gees gesalf
is tot lede van Christus. Verstaan U nou waarom die kerk van Christus radikaal
anders as die wêreld daar buite is?
5.
Wat is die doel van die kerk?
Die doel van die kerk is om God te eer en om sy Koninkryk
aan die wêreld sigbaar te maak. Een van die kenmerke van ʼn ware kerk is suiwere
woordverkondiging. Deur woordverkondiging word die Koninkryk van God sigbaar.
Die kerk wys vir die wêreld dat God regeer sodat Hy geken, aanbid en verheerlik
kan word.
In Mat. 28:18-20 gee Jesus die opdrag aan sy kerk:
'Jesus kom toe nader en sê
vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na
al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van
die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou
wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die
voleinding van die wêreld.”'
Die kerk moet die evangelie, die goeie nuus van die
verlossing in Jesus Christus verkondig sodat elke uitverkore kind van God dit
kan hoor en dit glo om weer met God versoen te word.
Deur suiwere woordverkondiging en die suiwere bediening van
die sakramente (tweede kenmerk van ʼn ware kerk) word die gelowiges toegerus om
uit te gaan in die wêreld om Jesus vir die wêreld te wys deur dit wat hulle sê en
dit wat hulle doen.
Met ander woorde om sout en lig vir die wêreld te wees.
In Mat. 16:19 hoor ons:
Ek sal aan jou die sleutels
van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in
die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel
oopgesluit bly.”
Deur
die sleutel van woordverkondiging van die evangelie
word die Koninkryk van die hemel oopgesluit vir diegene wat dit glo, maar dit word ook
toegesluit vir hulle wat nie die evangelie glo nie.
Deur die sleutel van die
tug word die Koninkryk van die hemel toegesluit vir hulle wat hulle nie wil bekeer nie, maar
oopgesluit vir diegene wat hulle berouvol aan die vermaning van die tug
onderwerp en hulle bekeer.
Die tug is dan ook die derde
kenmerk van ʼn ware kerk om te verseker dat ons getrou bly aan die woord. Die
woord Gereformeerd beteken om te
reformeer, dit wil sê om terug te verander na die woord toe.
Ons
moet egter nie misverstaan wat die kerklike tug is nie. Dit is nie straf nie.
Tug is ʼn liefdesmiddel om mense tot berou en bekering te bring.
Die
kerk het alleen die gesag van die sleutels van die Koninkryk van die hemel in soverre hulle dit
gebruik in ooreenkoms met die woord. Die gesag van die kerk berus in die woord
en sodra die kerk afwyk van die woord, het hulle geen gesag meer nie.
6.
Die struktuur van die kerk
God is ʼn God van orde en daarom het Jesus ook ʼn struktuur
in die kerk ingestel sodat alles ordelik kan verloop. Ons leer in die Bybel dat
daar vier ampte in die kerk is, nl. Predikante, ouderlinge, diakens en
gelowiges. Elkeen van die hierdie ampte is gelyk en nie een is hoër as die
ander nie.
Die amp van predikant behels om herder en leeraar te wees
wat die gemeente lei. Die amp van ouderling is kerkregering en daarom moet ons hulle
ook daarvoor respekteer. Die amp van diakens is om die gemeente te lei om die liefdesdiens
uit te oefen.
Die amp van die gelowige is profeet, priester en koning. Die
amp van die gelowige is ook van toepassing op die ander ampte. As profeet moet
ons Christus bely en ʼn profeet is ook die mondstuk van God. As priesters moet
ons onself aan Hom toewy as lewende offers van dankbaarheid. En as konings moet
ons koninklik stry teen die sonde en die duiwel en sy ganse ryk.
Wat is ons plig in die kerk?
Sondag 52 vraag en antwoord 55 spel dit vir ons uit:
55
Vraag:
Wat verstaan jy onder
die gemeenskap van die heiliges?
Antwoord:
Ten eerste dat die gelowiges,
almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en
aan al sy skatte en gawes deel het.
Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.
7.
Slot
Die vraag wat elkeen van ons onsself moet afvra is: “Is ek
ʼn ware lidmaat van die kerk?” Glo ek opreg in Jesus Christus as my enigste
Verlosser en Saligmaker? Leef ek uit my geloof? Ontvlug ek die sonde en jaag ek
die geregtigheid na? Het ek die ware God en my naaste lief?
Ons is nog nie volmaak nie, maar die vraag is: “stry ons
deur die genade van die Heilige Gees ten bloede toe teen die sonde?”
Weet dat die ware is gelowige onvolmaak en daarom is die
kerk ook onvolmaak.
Geliefdes, waarheen is Gereformeerde Kerk Bloemfontein Suidheuwels
op pad? Ons kan net een doelwit voor oë hê. Ons moet ware kerk van ons Here Jesus
Christus wees.
Amen
Wat bely
ons t.o.v. die kerk:
NGB ARTIKEL
27
DIE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK
Ons glo en bely 'n enige katolieke of
algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo,
wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas
is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees.
Hierdie kerk was daar van die begin van die
wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige Koning, wat
nooit sonder onderdane kan wees nie.
En hierdie heilige kerk word deur God teen
die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein
is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die
Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar
het wat die voor Baäl gekniel het nie.
Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in,
gebonde aan of bepaal tot 'n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor
die hele wêreld versprei en verstrooi.
Tog is dit met hart en wil en deur die krag
van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.
Heidelbergse Kategismus SONDAG
21
54
Vraag:
Wat glo jy van die
heilige, algemene, Christelike kerk?
Antwoord:
Dat die Seun van God (a)
uit die hele menslike geslag (b) vir Hom 'n gemeente wat tot die
ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d)
in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld
af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g)
en dat ek daarvan 'n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).
(a) Ef 5:26; Joh 10:11;
Hand 20:28; Ef 4:11-13. (b) Gen 26:4;
Op 5:9. (c) Rom 8:29; Ef 1:10-13.
(d) Jes 59:21; Rom 1:16; 10:14-l7;
Ef 5:26. (e) Hand 2:42,
Ef4:3-5. (f) Ps 71:17, 18; Jes 59:21;
1 Kor 11:26. (g) Matt 16:18; Joh 10:28-30;
Ps 129:1-5. (h) 1 Joh 3:I4,
19-21; 2 Kor 13:5; Rom 8:l0.
(i) Ps 23:6; 1 Kor 1:8, 9; Joh 10:28;
1 Joh 2:19; 1 Pet 1:5.
55
Vraag:
Wat verstaan jy onder
die gemeenskap van die heiliges?
Antwoord:
Ten eerste dat die
gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus
gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a). Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes
gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b).
(a) 1 Joh 1:3; Rom 8:32;
1 Kor 12:12, I3; 1 Kor 6:17. (b) 1 Kor 12:21; 13:1, 5;
Fil 2:4-8.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking