Lees Matteus 5 - 7
1
Inleiding
Hoe moet ons
dankbaarheidslewe lyk? Onthou dit is die derde ding van die drie dinge wat ons moet
weet. (Ek is ʼn verlore sondaar. Ek word daarvan verlos wanneer ek glo dat Jesus
vir my sondes aan die kruis gesterf het en hoe moet ek dankie sê).
Hier in
Matteus 5 – 7 wat ook as die bergrede bekendstaan sê die Here vir ons hoe ons
as Christene behoort te leef. Matteus 5-7 kan ook beskryf word as die grondwet
van God sê koninkryk. Hoe moet die burgers in God sê koninkryk leef.
As ons so na
die bergrede luister kan ons baie maklik sê, “SJOE! Dis baie gevra!” Daarom is
dit baie belangrik dat ons goed moet kennis neem wat die Here vir ons daarin sê.
Die bergrede stel nie die voorwaardes waaraan jy moet voldoen voordat jy ʼn burger
van die Koninkryk kan wees nie. Christus praat nie hier met mense wat buite is
en nog wil inkom nie.
Kyk mooi na
hoe Jesus die Bergrede begin. Die Bergrede begin met God sê seën. Dit volg
dieselfde lyn as die Wet wat God in die Ou Testament gee. Hy het eers sy volk
uit Egipte verlos en dan gee Hy sy wet sodat sy volk kan weet hoe hulle moet
leef. In die bergrede verduidelik Jesus vir die burgers van God sê Koninkryk wat
dit beteken om volgens God sê wet te leef.
Hoe weet jy
of jy ʼn burger van die Koninkryk van God is? Wanneer jy opreg glo dat Jesus jou
enigste Verlosser en Saligmaker is, dan kan jy met sekerheid weet dat jy ʼn burger
in God sê Koninkryk is.
Die Bergrede
begin by God en hoe Hy ons anders maak. Daardeur maak Hy dit vir ons moontlik
om sy wil te doen. Jesus sê inleiding met die Bergrede is “Geseënd is die wat
weet hoe afhanklik hulle van God is”.
Dis nie uit
eie krag wat jy volgens die grondwet van die Koninkryk van God moet leef nie. Dis
deur God sê krag en daarom het Hy die Heilige Gees gestuur om ons te lei en by
te staan daarin.
Dit is so dat die Bergrede duidelike eise stel, maar dit kom eers nadat die genade van God die grondslag daarvoor gelê het. Geen mens kan in eie krag aan die Bergrede gehoorsaam wees nie en ons hoef ook nie. God gee die krag. Gebruik dit! Doen dit uit dank vir sy genade!
2
Sout en Lig
Na die
saligsprekinge in die Bergrede gebruik Jesus twee beelde om te verduidelik dat ʼn
Christen sê lewe radikaal anders as die wêreld daarbuite moet wees. En baie
belangrik, Hy begin weereens nie met wat ons moet doen en wat ons behoort te
wees nie.
Hy begin met
wat God ons gemaak het en hoe ons moet wees. Ons IS “sout vir die aarde”
en ons IS “die lig vir die wêreld”.
Eers dan
volg wat Hy van ons verwag. Jesus roep ons om daadwerklik te leef soos God ons
gemaak het: om ons lig te laat skyn en om soos sout alle bederf teen te gaan.
God sê genade
is soos energie wat ons in staat stel om radikaal anders te leef. Die gawes wat
God skenk is die gereedskap wat Hy gee om ons roeping te vervul.
Christene moet
ʼn verskil in die wêreld maak. Onthou egter: Die Here vra nie van jou om die
hele wêreld te verander nie. Maak ʼn verskil binne jou leefwêreld.
Nadat die
Jode uit Ballingskap teruggekeer het moes elkeen voor sy eie huis bou om die
muur om Jerusalem weer op te bou. Wees lig en sout in jou eie huis. Daar waar
jy werk. Daar waar jy by jou vriende bymekaarkom. Daar waar jy vreemdelinge ontmoet
in die winkel en op straat.
Onthou net.
Dit gaan nie sonder teenstand gebeur nie. Moenie die ontsettende mag van die
sonde onderskat nie en moenie moedeloos word nie. Moenie dit uit eie krag
probeer nie. Bid dat die Heilige Gees jou sal bystaan en lei.
Maar weet
ook dat wanneer die Here in Mat 5:48 sê “Wees julle dan volmaak soos julle
hemelse Vader volmaak is” beteken dit nie dat ons nou al perfek, sonder
enige sonde kan wees nie.
Die Bybel
stel dit baie duidelik dat ons in hierdie lewe steeds val en struikel soos ons bv.
in 1 Joh. 1:8-10 hoor:.
8As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself
en is die waarheid nie in ons nie. 9Maar as ons ons sondes bely – Hy
is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle
ongeregtigheid. 10As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak
ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.
Daar waar jy
val en struikel, staan weer op. Bely jou sondes teenoor God en gaan dan voort
om sout en lig te wees in die wêreld.
3
Die diepte van
die wet.
Hier in die
Bergrede maak Jesus die volle betekenis van die wet wat God reeds in Eksodus 20
gegee het nog duideliker.
Jesus stel
nie die wet ter syde nie. Ons rigsnoer vir ons dankbaarheidslewe bly steeds die
wet. Jesus het nie gekom om die wet te ontbind nie, maar om dit te vervul deur
wat Hy self gedoen en gely het.
So ontvou Hy
die wet in sy volle skerpte. Die wet reik veel dieper as wat ons dink, of wat
die Fariseërs en Skrifgeleerdes daarvan gemaak het.
Sewe keer
(die getal van volmaaktheid) stel Jesus die tradisionele beskouing van die
godsdienstige leiers en ook dit wat ons so dikwels van die wet maak, teenoor
wat die werklike betekenis van die wet is.
Bv. Moord.
Dit begin in die hart en daarvolgens moet ons elkeen van ons erken dat ons moordenaars
is. Egbreek begin reeds in die onkuise begeertes in jou hart. Op die uiteinde
laat Hy dit uitloop op die groot gebod wat die vervulling van die wet is:
Liefde.
Op die
uiteinde mag ons nie onderskeid tref tussen vriend en vyand nie. Ons Vader
diskrimineer nie. Hy skenk sy liefdegawes aan ons almal en daarom kan ons ook
nie diskrimineer in ons liefde vir ons medemens nie.
Ons moet
volledig en onvoorwaardelik gee aan almal wat die Vader op ons lewensweg plaas.
4
So leef ʼn Christen.
In Matteus 6-7
trek Jesus die kring nog wyer oor hoe ons orals en altyd as Christene behoort
te leef. Die wêreld moet deur ons optrede kan sien dat ons kinders van ons
hemelse Vader is.
Die onderwerpe
wat Jesus uitlig is:
¨ Hulp aan die armes, hoe ons moet bid
en as ʼn mens vas:
Doen dit vir God, en nie om daarvan ʼn vertoning voor mense te maak nie!
¨ Hoofsaak en bysaak:
Kry jou prioriteite reg. Is God en wat Hy beveel, sy Koninkryk en wat dit inhou,
werklik nommer een in jou lewe?
¨ Oordeel en selfbeoordeling:
Vee eers voor jou eie deur voor jy die splinter uit jou buurman sê oog wil
uithaal.
¨ Gebedsverhoring:
As mense mekaar help, hoeveel te meer sal God ons nie alles gee wat ons nodig
het nie!
¨ Volharding:
Hou aan. Gee alles wat jy het want die einde is meer as die moeite werd.
¨ Verleiding:
Pas op vir mooi praatjies. Kyk na wat mense doen en lei daaruit af wat hulle
werklike motiewe is.
¨ Daders van die woord:
Wat help dit om te weet wat reg is as jy dit nie ook doen nie?
Hiermee sluit Jesus die bergrede dan ook af en Hy
onderstreep dat ons nie net maar moet praat nie. Ons moet dit wat Hy ons leer
daadwerklik gaan doen!
5
Slot
God gee vir
ons sy genade. Hy het ons so lief dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié
wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Gaan nou en
leef God sê genade uit in jou lewe deur die krag van die Heilige Gees. Wanneer
jy uit genade leef sal jou lewe radikaal anders wees en dan sal jy sout en lig
wees.
ʼn Christen sê
dankbaarheidslewe lyk radikaal anders as die wêreld daar buite. Gaan uit. Wees
sout en lig vir die wêreld.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking