Skriflesing: Luk. 1 v 5 – 38 Teksvers Luk.
1 v 37
Inleiding
Hoe kan die onmoontlike moontlik wees? Hoe sal jy reageer op ’n
boodskap wat iets aankondig wat volgens alle logiese denke onmoontlik is? In
ons teks sien ons dat daar twee uiteenlopende reaksies is.
Aan die een kant sien ons ’n reaksie van ongelowige skeptisisme en
aan die ander kant kinderlik gelowige aanvaarding. In hierdie twee
uiteenlopende reaksies wys die Here vir ons dat niks vir God onmoontlik is nie.
Inleiding
Hoe kan die onmoontlike moontlik wees? Hoe sal jy reageer op ’n
boodskap wat iets aankondig wat volgens alle logiese denke onmoontlik is? In
ons teks sien ons dat daar twee uiteenlopende reaksies is.
Aan die een kant sien ons ’n reaksie van ongelowige skeptisisme en
aan die ander kant kinderlik gelowige aanvaarding. In hierdie twee
uiteenlopende reaksies wys die Here vir ons dat niks vir God onmoontlik is nie.
In die eerste plek: Ongelowige skeptisisme
Sagaria was ’n priester by die tempel in Jerusalem. Daar was
destyds egter veel meer priesters as wat vir die tempeldiens nodig is. Dawid
het al ’n 1000 jaar voor Christus gereël dat priesters in 24 afdelings verdeel
word sodat elkeen ’n week lank die tempeldiens kon behartig.
In die tyd van Christus was hierdie afdelings egter nog steeds te
groot om vir elkeen ’n beurt te gee en daarom moes die betrokke week se
tempelwerk onder mekaar verdeel word deur die lot te werp soos ons dan ook hoor
in
Luk. 1v8 & 9:
8
Op ’n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die
priesterdiens voor God te verrig, 9 is hy volgens die priesterlike
gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die
wierook op die altaar te brand.
Een van die heel belangrikste take wat ’n priester in die tempel
kon verrig, was om die reukoffer altaar skoon te maak en dan nuwe reukwerk te
offer as simbool van gebed. Dit was so ’n buitengewone taak dat ’n priester net
een maal in sy lewe die geleentheid gekry het om dit te doen.
Met hierdie taak het die priester eers die volk by God
verteenwoordig en daarna kon hy God weer by die volk verteenwoordig wanneer hy
buitentoe gegaan het om die wagtende skare in die Naam van die Here te seën.
Sagaria was dus besig met die hoogtepunt van sy priesterlike
loopbaan toe die engel Gabriel aan hom verskyn het met ’n haas ongelooflike
boodskap soos ons hoor in
Luk. 1v12 & 13:
12
Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, 13
maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is
verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes
noem.
Voordat ons na Sagaria se reaksie op hierdie boodskap kyk moet ons
net sy omstandighede in ag neem. In Luk. 1 v 7 hoor ons:
Hulle
het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei
reeds op ver gevorderde leeftyd
Rasioneel gesproke was dit wat Gabriel aangekondig het dus
onmoontlik. Daarom moet ons nie so verbaas wees oor Sagaria se reaksie nie –
Luk. 1 v 18:
Toe
sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is ’n ou man, en my vrou
is al op ver gevorderde leeftyd.”
Baie skepties en vol ongeloof vra Sagaria vir ’n teken om hom te
oortuig dat hierdie boodskap die waarheid is. Dit is nie dat Sagaria ’n slegte
en ongelowige mens was nie. Ons hoor in Luk. 5 v 6 dat hy en Elisabet getrou
was in hul godsdiens:
Hulle
was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en
voorskrifte van die Here onderhou.
Is dit nie maar hoe dit met ons ook gaan nie, geliefdes? Ons is
getrou in ons godsdiens. Ons lewe ’n goeie lewe. Ons drink nie en hou nie
uitspattige partytjies nie. Ons woon gereeld die eredienste by, maar wanneer die
toets kom, daar waar ons werklik op God moet vertrou om ons in ’n menslik
gesproke onmoontlike situasie te help, dan vertrou ons nie die Here nie.
Dit is wat ongeloof is, dat ons nie vertrou nie. Dit is wat
Sagaria se probleem was. Hy het teen die rasionele feite vasgekyk en daarom het
hy God nie vertrou om die onmoontlike moontlik te maak nie.
Dit is wat ons vandag sien. Ons leef mos in ’n moderne wêreld wat
van beter weet, daarom kan ons nie meer in ’n maagdelike ontvangenis glo nie.
Christus het nie regtig opgestaan nie. So sê die tydsgees van ons moderne
wêreld vir ons. Dit bring mee dat ek God nie werklik vertrou om in my
persoonlike omstandighede in te gryp en ’n verskil te maak nie.
Ek glo nie dat God ’n verskil kan maak in my huwelik wat maar net nie
wil vlot nie. Ek glo nie dat God iets kan doen aan die seer hier diep binne in
my wat die lewe my toegedien het nie. Ek glo nie dat God iets kan doen aan die
hartseer en verlange na ’n geliefde wat skielik uit my lewe weggeruk is nie.
Daarom kan ek nie meer bid nie. Daarom kan ek nie meer Bybel lees
nie en as ek bid dan voel dit vir my of ek maar net hier teen die plafon
vaspraat. As ek Bybel lees dan verstaan ek nie.
Die engel se antwoord aan Gabriel se versoek vir ’n teken is amper
onbegryplik soos ons hoor in Luk. 1 v 19:
Ek
is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en
hierdie goeie tyding vir jou te bring.
In wese sê die engel Gabriel vir hom: “Niks is vir God onmoontlik
nie!” Die belofte van ’n kind vir Elisabet en Sagaria is ’n baie spesiale
belofte, want dit is hy wat vir Christus die wegbereider sal wees.
Hy moet die volk voorberei op Christus se koms. Hy moet die volk
voorberei vir die volgende aankondiging van ’n menslik gesproke onmoontlike
gebeurtenis.
Tweedens ’n kinderlik gelowige aanvaarding
Ongeveer ses maande later kom die hemelse boodskapper met nog ’n
ongelooflike boodskap. Weereens op ’n baie persoonlik intieme wyse. Hierin sien
ons weereens hoe bedagsaam ons Here is.
Hy oorrompel nie mense deur sommer net uit die bloute op te tree
nie. Hy neem sy kinders saam in wat Hy gaan doen op ’n baie besonderse manier.
Die Koning van alle konings is op pad, maar dit word nie met ’n trompetgeskal
op die pleine aangekondig nie. Die boodskap word op ’n baie intieme en
persoonlike manier oorgedra aan die persoon wat direk by hierdie gebeure
betrokke is.
In teenstelling met Sagaria wat maar net nie kon glo nie, glo sy
die ongelooflike. Nie dat dit haar nie skud nie. Sy is verbysterd en kan nie
verstaan waarom die engel haar aanspreek as “begenadigde” nie en hoe sy
wat ’n maagd is ’n kindjie in die wêreld kan bring.
Die engel verduidelik (vir sover dit verduidelik kan word) en hy
sluit sy verduideliking af met dieselfde versekering wat hy aan Sagaria gegee
het: “Niks is vir God onmoontlik nie.” Die verskil tussen Maria en
Sagaria is Maria se kinderlike gelowige onvoorwaardelike aanvaarding van die
wil van die Here soos ons hoor in Luk. 1 v 38:
Maria
sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”
Hierin sien ons ook duidelik watse verskil Christus in ’n mens se
lewe maak. Sonder Christus tree ons in ongeloof en in wantroue teenoor God op.
Sonder Christus is ons verwyder van God se genade. Maar in Christus lewe ons
deur God se genade soos ons hoor in
1 Kor. 15 v 22:
Net
soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus
lewend gemaak word.
Die evangelie van Jesus Christus is vandag nog net so ’n radikale
boodskap wat vir skeptiese en siniese wêreld haas ongelooflik klink. Die
boodskap van God wat mens geword het bly ongelooflik vir diegene wat God met
hul verstand probeer uitpluis.
Vir diegene wat Christus se versoeningswerk met God in kinderlike
geloof aanvaar is daar die wonderlike troos “Niks is vir God onmoontlik nie”.
Christus maak dit moontlik dat ek sal vertrou dat God groter as my pyn en
hartseer is.
Geliefdes, wat ook al die situasie en hartseer is. Hou vas aan God se genade in Jesus Christus met die troosvolle wete dat die boodskap van die engel Gabriel ook vir ons is:
Niks is vir God onmoontlik nie.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking