14 Desember 2025

Jesus gee lewende water aan almal wat dors het

 


Joh. 4v1 – 42 Teksverse Joh. 4v10, 14 & 23-24 2020 Vertaling

Die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put wys vir ons hoe Jesus ’n mens se lewe verander. Jesus is op pad van Judea af na Galilea toe en Hy “moes” deur Samaria gaan. Dit is nie omdat dit die beste of kortste pad was nie. Hy moes deur Samaria gaan want Hy het ’n afspraak met ’n vrou gehad wat deur die lewe eenkant toe gestoot is. Dit was ’n afspraak wat haar lewe verander het.

Hierdie vrou was op ’n plek in haar lewe waar sy eintlik nie wou wees nie. Sy pas nie binne die sosiale kringe in die dorp nie, want sy kom op die hitte van die dag water haal en nie vroeg oggend saam met die ander vroue nie. Verder het sy die lewe vir haarself nog moeiliker gemaak met die verkeerde keuses wat sy gemaak het.

En dan onverwags kom Jesus in haar lewe in met ’n versoek vir ’n bietjie water. Dit is egter ’n versoek wat die vrou bewus maak van ’n veel dieper dors as ’n fisiese dors na water.

So half onwillig word sy gelei om na binne te kyk, daardie selfondersoek wat ’n mens maar eerder wil vermy omdat dit ongemaklike waarhede aan die lig bring. Aanvanklik is sy so half ongeërg met Jesus: Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe is dit moontlik dat u wat 'n Jood is, vir my, 'n Samaritaanse vrou, water vra om te drink?”

Die Samaritane en die Jode het nie goed met mekaar oor die weg gekom nie omdat die Jode die Samaritane as tweede klas burgers behandel het omdat die Samaritane van gemengde afkoms was. Hulle was die nageslag van die Israeliete wat met die Assiriërs ondertrou het nadat dié hulle in Ballingskap weggevoer het.

Jesus laat Hom egter nie deur hierdie rassediskriminasie tussen die Jode en die Samaritane afsit nie. Sy antwoord bring die diepste nood van hierdie vrou na vore: “As jy van die gawe van God geweet het, en wie dit is wat vir jou vra, ‘Gee vir My water om te drink,’ sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het. ”

Die vrou verstaan egter nog nie werklik nie. Sy dink dit gaan nog steeds oor fisiese water en sy antwoord so half en half met ’n afjak. “Meneer, u het nie eers 'n skepding nie, en die put is diep. Waarvandaan kry u dan die lewende water? U is tog nie belangriker as ons vader Jakob nie, hy wat die put aan ons gegee het, en self daaruit gedrink het, en ook sy seuns en sy vee?”

Geliefdes is dit nie hoe dit ook maar in ons lewens gaan nie? Hierdie vrou het ’n behoefte na iets meer in die lewe as wat sy tans het. En dan kom die Here in haar lewe in en wys dit vir haar, maar sy sien dit nog nie raak nie. Hoeveel keer gryp die Here nie in ons lewens in en dan sien ons nie die werklike rede daarvoor raak nie?

Hoeveel maal sien ons net soos hierdie vrou net die fisiese materiële behoeftes raak, maar ons mis die geestelike behoeftes? Here help tog net asb. met hierdie probleem wat ek het. Laat dit asb. tog net beter gaan met my geldsake. Here as ek tog net ’n ander motor kan kry. As dit tog maar net beter met my gesondheid kan gaan. En so raak ons verstrengel in die oppervlakkigheid van die materialistiese hier en nou. Is ons slegs bekommerd oor die tydelike dinge in ons lewens, maar ons mis die dieper geestelike sake wat ewigheidswaarde het.

Jesus raak egter nie ongeduldig met die vrou nie. Hy verduidelik nog verder vir haar dat enige iemand wat maar net van hierdie fisiese water drink, dit wil sê vashaak by die wêreldse dinge maar net weer dors gaan kry. Solank as wat ons, ons geestelike dors met wêreldse dinge probeer les gaan dit nooit geles word nie.

Net die lewende water wat Jesus self vir ons gee kan daardie dors les. ...... wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom 'n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.

Wat is hierdie “lewende water” waarvan Jesus praat?

Dit is die ewige lewe en die geestelike vernuwing wat die Heilige Gees in mens werk.

Die lewende water wat Jesus verniet gee, het Hom baie duur gekos. Hy moes met sy lewe aan ’n vervloekte kruishout daarvoor betaal sodat ons kan lewe. Sodat ons in vrede met mekaar en in vrede met God kan leef. Sodat ons werklik by die dinge kan uitkom wat saak maak in die lewe deur vir mekaar om te gee.

Nou eers besef die vrou waarvan Jesus praat en sy vra vir Hom om vir haar van daardie water te gee. Voordat sy egter van die water kan kry moet daar nog iets gebeur. Sy moet eers haar eie hulpeloosheid vanweë haar sonde raaksien en daarom sê Jesus vir haar: “Gaan roep jou man en kom terug hierheen.”

Sy probeer nog wegskram deur te sê dat sy nie ’n man het nie, maar daar is niks wat ’n mens vir God kan wegsteek nie. Wanneer Jesus die volle werklikheid vir haar blootlê probeer sy nog ’n maal. Sy maak gebruik van die taktiek wat ons as kinders vervolmaak het. So binne die eerste vyf minute vra iemand vir die wiskunde onnie iets oor die naweek se rugby en voor jy jou oë kan uitvee is die periode om.

So probeer sy om die aandag van haarself af weg te lei met vraag oor waar daar aanbid moet word. Ons doen dit vandag nog geliefdes. So neem ons ook die fokus van Jesus af weg deur ons besig te hou met allerlei kleinighede soos wat die presiese modestyl moet wees waaraan ons kleredrag moet voldoen wanneer ons kerk toe gaan of watter liedere ons mag en nie mag sing nie of wat die grote moet wees van die houers waaruit ons Nagmaalwyn moet drink.

Jesus laat egter nie toe dat die vrou die fokus verskuif nie. Hy bring die gesprek weer terug na wat werklik saak maak. Hy sê vir haar: “Vrou, glo My, daar kom 'n tyd dat julle die Vader nóg op hierdie berg, nóg in Jerusalem sal aanbid. Julle aanbid dit wat julle nie verstaan nie; ons aanbid dit wat ons verstaan, want die verlossing kom uit die Jode. Daar kom egter 'n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. ”

Jesus se antwoord aan die vrou dring tot die kern deur. Hy sê vir haar waaroor dit werklik gaan. Dit gaan nie oor waar jy aanbid nie, maar oor jou hart ingesteldheid. Hoe lyk jou hart? Aanbidding is nie aan ’n plek of kultuur vasgebind nie. Dit gaan oor ’n ware ontmoeting met God. Deur die Heilige Gees maak God dit moontlik om by die waarheid Jesus Christus uit te kom. Om by God uit te kom, moet jy by Christus, die Messias uitkom want Hy is die een wat die Vader gestuur het om die volk te red.

Nou kom die Samaritaanse vrou by die dieptepunt van haar geestelike dors uit waarheen Jesus haar gelei het. Sy sê: “Ek weet die Messias kom wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak. ” En dan antwoord Jesus haar: “Ek Is, is die Een wat met jou praat.”

Jesus stel Homself as “EK IS” aan haar voor. Reeds in Eksodus 3:14 stel God Homself as “EK IS wat EK IS” voor. Hier identifiseer Jesus Homself as God wat naby gekom het. Hy is Emmanuel, “God by ons”. Dis God wat die lewende water van die ewige lewe gee. Jesus het ’n Goddelike afspraak gehad met hierdie vrou. Daarom “MOES” Hy deur Samaria gaan.

En haar ontmoeting verander haar hele lewe. Ons sien in hierdie verhaal watter radikale invloed Jesus se lewende water op die lewe van hierdie vrou gehad het. Sy wat uitgestoot was en haarself eenkant gehou het en wat nie eens water saam met die ander vroue by die put water kom haal het nie, gaan nou uit en vertel aan almal wat sy tot nou toe vermy het die Goeie Nuus van die lewende water wat Jesus vir haar gegee het.

Geliefdes, Jesus het vandag ’n afspraak met jou. Hy bring vir jou die lewende water van die ewige lewe. Hy is Emmanuel, God met jou en Hy vra dat jy Hom in Gees en waarheid sal aanbid. Uit sy genade gee Hy alles. Na sy Hemelvaart het Hy die Heilige Gees gestuur om elke oomblik van elke dag by jou te wees.

Uit genade gee God vir jou sy liefde. Hy gee vir jou die waarheid dat jy deur geloof in Jesus Christus die lewende water van die ewige lewe ontvang. Jy hoef niks te doen om God se liefde te verdien nie. Hoe gaan jy op God se liefde reageer? Genade beteken dat God alles doen, maar daarmee maak Hy ons nie passiewe robotte nie. Deur die Heilige Gees lei Hy ons na die waarheid van Jesus Christus. Gaan jy liefde teruggee? Gaan jy uit God se genade begin leef? Die ewige lewe wat God gee begin nou reeds sodat jy jou lewenspad hiervandaan saam met God kan stap.

Begin jou dag met gebed sodat jy intens van God se teenwoordigheid in jou lewe bewus kan wees. Deel jou dag met God soos jy deur die dag gaan. Hy sê vir ons, bid gedurig. Praat met God. Laat Hy deel wees van jou lewe. Laat Hom toe om jou laste te dra wat die lewe oor jou pad bring. Maak tyd in jou dag om na God se stem uit sy Ewige Lewende Woord te luister. Sluit jou dag af met gebed. Aanbid God in Gees en in Waarheid.

Geliefdes, het jy dors? Kom dan na Jesus toe want Hy gee lewende water aan almal wat dors het.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking