Teksverse 2 Kor. 4 v 8 & 9
Daar was sekerlik dae wat glad verloop het en dinge net
reg in plek geval het, maar daar was ook dae wat jy oor die klippe moes klouter
om net op ’n beter plek te kom as gister. Daar was dae wat ek op my knieë
gekruip het omdat ek nie krag gehad het om te loop nie. Deur God se genade was
daar ook dae waar ek rustig sonder omkyk of omdraai kon loop.
As jy so terugkyk na die jaar wat verby is en jy kon
kies, sou jy kies dat dinge anders in jou lewe gedurende 2025 verloop het? Of
vind jy berusting daarin dat dit die pad is wat God vir jou gekies het? Wat
gaan die nuwe jaar vir ons inhou? Gaan daar ook klippe wees om oor te
klouter?
In ons teksgedeelte kry ons perspektief oor die pad wat
God besig is om met ons te stap. Paulus kyk terug na die pad wat hy geloop het om
die evangelie te verkondig. Op hierdie reispad was daar ook verskeie
struikelblokke waaroor hy moes kom. Ons hoor in 2 Kor. 1 v 8
Ons wil
hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie
Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte
gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.
Paulus fokus egter nie op die swaarkry of op sy eie krag
om dit te oorkom nie. Hy fokus op God en hoe God hom deur dit gedra het. In 2 Kor.
4 v 7 hoor ons hoe Paulus na homself verwys as ’n kleipot wat maklik breek,
maar binne in is ’n skat van onskatbare waarde. Die skat is God se krag wat in
Jesus se dood en opstanding openbaar word. Die soeklig is dus nie op Paulus se
lyding nie, maar wel op God wat hom dra in sy lyding.
In 2 Kor. v 8 & 9 hoor ons die erns van Paulus se
lyding:
In
alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;
ons is
oor raad verleë, maar nie radeloos nie;
ons
word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,
op die
grond neergegooi, maar nie vernietig nie.
Paulus maak egter nie of sy lyding niks ernstig is nie. Ons
hoor hoe Paulus verdruk is. Die Griekse woord wat met verdruk vertaal word,
beteken letterlik om styf saamgepers te word. Hy word met ’n verlammende gewig
van verdriet neergedruk. Hy word saamgepers, maar hy word nie verpletter nie.
Op vier verskillende maniere beskryf Paulus wat sy lyding
aan hom doen, (verdruk, verleë vir raad, vervolg en op die grond neergegooi) maar
dat dit hom nie vernietig nie. Die versekering dat God hom dra, maak dit
moontlik vir hom om aan te gaan.
Hy weet ook dat terwyl hy hier op aarde is, dat daar nog
weer swaarkry oor sy pad gaan kom. Dit wat tot nou toe gebeur het is nie die
einde nie, maar hy sien uit na ’n tyd wanneer hy volkome verlos gaan word
wanneer hy saam met Christus in ’n verheerlikte liggaam opgewek gaan word.
Al sy lyding het hom nie vernietig nie, nie omdat hy so
sterk was om dit kon verdra nie, maar omdat hy veilig in die hande van God deur
dit gedra is. Hy staar verwerping in die gesig maar niks sal hom uiteindelik
verslaan of vernietig nie omdat God se liefde hom deur dit dra.
Sy lyding het hom wel as ’n kleipot laat kraak, maar hy
is nie uitmekaar gebreek nie. God se krag hou dit aanmekaar en die lig wat deur
hierdie krake skyn is niks anders as die lig van God se genade in die lewe,
sterwe en opstanding van Jesus nie.
In 2 Kor. 4 v 10 hoor ons dat ons in ons lyding deel het
aan die sterwe van Jesus sodat Jesus deur ons sterflike bestaan sigbaar kan
word. Deur Jesus se dood gee God lewe. Hierin word ’n groot geheim geopenbaar.
God werk met Paulus se gebrokenheid. God se krag word in gebrokenheid sigbaar.
Wanneer God hom gebruik en sy kragte gee in, dan vind hy
dat dit nie sy krag is nie, maar God se krag wat hom dra. Dit het Paulus gekeer
om in sy eie krag die taak wat God hom gegee het aan te pak. Dit het hom ook
geleer dat wanneer hy iets aanpak, dat hy nie sy eie krag as maatstaf moet
gebruik om te bepaal hoe groot hy moet dink nie.
In 2 Kor. 4 v 15 hoor ons dat die doel is om meer mense
met God se genade te bereik. Dit gaan oor Koninkrykswerk. Dit gaan daaroor dat
mense wat God nie ken nie, Hom kan leer ken. En deur dit alles ontvang God die
eer.
Geliefdes, wanneer jy so terugkyk oor die jaar wat verby
is, wat sien jy raak? Sien jy die donker valleie waardeur jy gestap het? Sien
jy die kere toe jy heeltemal moedeloos was? Sien jy jou prestasies raak? Is
daar dinge wat jy anders sou wou hê? Of sien jy raak hoe God se genade jou deur
dit wat Hy oor jou pad gebring het, jou gedra het? Kan jy ook saam met Paulus
sê :
In
alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;
ons is
oor raad verleë, maar nie radeloos nie;
ons
word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,
op die
grond neergegooi, maar nie vernietig nie.
Elkeen van ons het een of ander hou gekry wat ’n kraak of
twee in die erdekruik veroorsaak het. Vir elkeen is die houe wat jy ontvang net
so ernstig as wat Paulus se lyding vir hom was. Dit gaan nie hier daaroor om
mee te ding wie se terugslae was die ergste nie.
Dit gaan oor jou persoonlike pad wat jy gestap het en hoe
jy die swaarkry gedeeltes daarvan ervaar het. Sien jy raak hoe God se krag jou
erdekruik aanmekaar hou? Sien jy dat die lig wat deur hierdie krake skyn, niks
anders is as die lig van God se genade in die lewe, sterwe en opstanding van
Jesus nie?
Wat is jou verwagting vir die nuwe jaar? Gaan jy 2026 met
hoop tegemoet? Verwag jy dat die nuwe jaar net voorspoed moet inhou? Of is die
hoop wat jy koester in God se liefde gevestig?
Hou jy vas aan die wete dat net soos God jou deur 2025
gedra het, dat Hy jou ook deur 2026 sal dra? Gee God se krag jou moed om groter
dinge aan te pak as dit waarvoor jy in eie krag voor kans sien? Gaan jy in 2026
die wêreld met woord en daad vertel van God se liefde wat Hy in Jesus se lewe,
sterwe en opstanding uit genade aan ons geskenk het? Gaan die wêreld raaksien
dat jy Jesus se volgeling is?
Die kleipot van ons lewe word gekraak deur die stampe en
stote van die lewe, maar dit kan ons nie vernietig nie, want God se krag is die
gom wat ons aanmekaar hou. Die lig wat deur die krake skyn is sy genade in die
lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. God het jou deur 2025 gedra en
Hy sal jou ook deur 2026 dra!
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking