Oor
18 dae vier ons Kersfees. Christene herdenk met Kersfees dat Christus as ’n mens
gebore is. In die Ou Testament kry ons talle beloftes van die Messias wat gaan
kom. In Jesaja 7 word die beloofde Messias “Emanuel” genoem wat beteken “God
met ons”.
Met
ander woorde God is ’n “vêr” God wat nie omgee nie. Dit beteken dat God omgee
en dat Hy elke dag persoonlik in jou lewe teenwoordig is.
Ons
gaan vandag bietjie stilstaan by wat beteken die belofte van “Emanuel”. In
Jesaja 7 word die belofte van die teken “Emanuel” in die eerste plek aan die
huis van Dawid gegee, maar dit is ’n belofte wat ook ’n verdere vervulling het
in die geboorte van Christus.
Ons
gaan dus eerste stilstaan by wat die betekenis was van die Emanuel teken vir
die eerste hoorders en daarna hoe daardie betekenis deurgetrek word na Christus
toe en wat daar belofte van Emanuel vir ons vandag hier en nou beteken.
Wat
beteken die teken van Emanuel vir die eerste hoorders daar in die tyd van
Jesaja.
Ons
hoor hier in Jesaja 7 van ’n krisis situasie. Die gebeure speel af tydens die
Siro-Efraimitiese oorlog 734 v.C.
Konings
Pekah van Israel en Resin van Sirië wil koning Agas van Juda dwing om hulle te
help in hulle oorlog teen Assirië. Agas weier egter en daarom wil hulle hom
onderwerp om hom te dwing.
Juda
se koning, Agas en die volk, is bang, paniekerig en vol ongeloof. God stuur egter
sy profeet Jesaja om vir hulle te sê: “Moenie vrees nie. Ek sal julle red.”
God
gaan so ver om vir Agas ’n buitengewone teken aan te bied. Agas kan kies watter
bonatuurlike of selfs kosmiese teken hy wil hê.
Agas
weier egter en op die oog af klink dit vroom, want Deut. 6:16 verbied die volk
om God te “versoek”. maar in Jes. 7 is dit God wat die teken aanbied. Deur sy
weiering rebelleer Agas eintlik teen God. Ons lees in 2 Kon. 16:7-8 dat hy reeds
besluit het om eerder op Assirië te vertrou en daardeur het hy die verbondstrou
van God verwerp.
Daarom
berispe God in Jes. 7:13 Dawidshuis:
Luister
tog, o huis van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei, dat
julle my God ook vermoei nie?
Dit
wys vir ons dat Agas nie net namens sy eie naam optree nie maar dat hy die hele
koninklike dinastie se roeping versaak.
Agas
word egter nie toegelaat om God se raadsplan te keer nie en daarom Gee God self
sy eie teken soos ons hoor in Jes. 7:14:
Daarom
sal die Here self aan julle 'n
teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel
noem.
Hierdie
teken het eerstens ’n onmiddellike betekenis vir Juda, maar dit het ook ’n verreikende
groter betekenis vir die hele mensdom.
In
die eerste plek is hierdie ’n teken van hoop vir Juda, maar dit is inderdaad
ook ’n teken van oordeel. Die Here
bied in die eerste plek vir Agas hierdie teken as ’n teken van hoop waar Hy sê:
“Moenie bang wees nie. Die plan van hierdie twee konings sal nie slaag nie. Agas,
jy hoef nie bang te wees nie. God is met julle.”
Agas
se ongeloof verander dit egter in ’n teken van oordeel omdat hy doelbewus die Here se verlossing verwerp soos ons ook
hoor in Jes. 7:17
Maar
die Here sal oor jou en jou volk en die huis van jou vader dae laat kom soos
daar nie gekom het van die dag dat Efraim van Juda afgeval het nie — die koning
van Assur!
Agas
het inderdaad ook tot ’n droewige einde gekom soos ook verder aan die Bybel in 2
Kron. 28:22-27 hoor.
Die
betekenis van die teken is dus duidelik ’n boodskap van hoop vir diegene wat in
geloofsvertroue hulle vertroue ten volle op God plaas, maar vir hulle wat in
ongeloof vanaf God wegdraai is dit ’n teken oordeel.
Wat
beteken die Emanuel teken vir ons vandag?
Die
Bybel gee nie vir ons veel detail oor die teken se onmiddellike vervulling nie.
Wat wel duidelik is, is dat die teken wel in vervulling gegaan het as bewys dat
God getrou is aan sy woord. Dit word egter nie in detail uitgespel nie, want
die fokus is op die verdere belofte van hoop wat in die teken vir ons gegee
word.
In Matteus
1 hoor ons wat die groter belofte was van die teken in Jes. 7:14. Daar het ’n engel
vir Josef verduidelik van sy verloofde wat swanger was deur die Heilige Gees en
dat Jesus ons Verlosser gebore sou word.
In
Mat. 1:22 & 23 hoor ons
22En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat
die Here deur die profeet gespreek het:
23 Kyk, die maagd sal swanger
word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal
word: God met ons.
Die
kind Emmanuel (God met ons) is vir ons gebore en dit is wat ons as Christene met
dankbare eerbied teenoor God met Kersfees in gedagtenis bring.
Oorspronklik
het die teken van Emmanuel God se verbondstrou aan Juda te midde van
oorlogsbedreiging bevestig. Die teken het vir Juda bevestig dat God se
teenwoordigheid werklik is en dit is wat Emmanuel vandag nog vir ons ook doen.
Dit
het vir Juda van God se verbondsliefde, beskerming en heerskappy verseker en
net so verseker dit ons vandag ook van God se verbondsliefde, beskerming en
heerskappy in ons lewens.
God
self het in menslike gestalte by ons kom woon en daarom kan ons verseker weet God
werklik teenwoordig is in ons lewens in Christus, deur die Gees, nou én tot die
voleinding toe.
Net
soos die oorspronklike Immanuel teken Jes. 7 hoop gebring te midde van
onsekerheid en vrees bring die vervulling van die Immanuel teken in Christus
vir ons hoop, want God is teenwoordig by ons in ’n wêreld vol van onsekerheid
en vrees.
Matteus
sê dat Jesus die finale, volkome Immanuel is, en daarmee beantwoord hy
dieselfde vraag vir elke gelowige deur alle eeue heen: God het nie net ’n
boodskap gestuur nie. Hy het self gekom!
Wat sê
dit vir ons geliefdes?
Ø Jou
geloof rus nie op jou eie prestasie of geestelike standvastigheid nie, maar op
God se nabyheid.
Ø Jy
hoef nie jou lewe alleen te dra, bestuur of reg te maak nie—Immanuel dra jou.
Ø Wanneer
jy konflik, onsekerheid of pyn beleef, hoef jy nie te vra “Waar is God?” nie.
Ø God
ís hier by jou. In Christus en in die Gees. Hy sal jou nie alleen los nie, want
Hy is elke oomblik van elke dag by jou.
Immanuel
is God wat verlossing bring deur oordeel heen. In Jes. 7 het ons gehoor dat
Immanuel ’n teken van hoop is vir diegene wat op God vertrou, maar dat dit ook ’n
teken van oordeel is vir diegene wat God verwerp.
En
by die kruis klim hierdie spanning tot ’n hoogtepunt. Christus dra self die
oordeel aan die kruis en maak die vloek van die dood tot niet met sy opstanding
sodat God se Immanuel teenwoordigheid vir jou ’n werklikheid kan wees.
Jesus
is Immanuel, God by jou. Daarom kan jy verseker weet dat jou hele lewe, jou
werk, huis, familie, woede, vrese, siekte plaasvind binne God se
teenwoordigheid. Niks in jou lewe gebeur buite Christus se hand nie.
Immanuel
gee vir ons ’n lewende hoop dat ons op pad is na ’n ewige heerlikheid saam met
God waar daar geen trane, hartseer, pyn of dood gaan wees nie. Vir ewig en
altyd in God se teenwoordigheid.
Immanuel
is ’n teken van hoop vir elkeen wat in Jesus Christus glo en wat sy volle
vertroue en hoop op God alleen plaas en saam met Hom wandel.
Dit
is egter ook ’n teken van oordeel vir elkeen wat sy rug op God draai. Die hoop
van God se teenwoordigheid in jou lewe is net vir diegene wat in Jesus Christus
as sy enigste Verlosser en Saligmaker glo.
Omhels
Immanuel, d.w.s gryp God se teenwoordigheid in jou lewe met geloof vas. Leef
deur jou geloof in Jesus Christus die lewe wat God vir jou beplan het sodat
Immanuel nie vir jou ’n teken van oordeel word nie.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking