Wys tans plasings met die etiket Paassondag. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Paassondag. Wys alle plasings

12 April 2020

Hoe vertrou jy die Here wanneer jou wêreld buite beheer raak?

Datum:12 Apr. 2020 GKE – Live Stream
Skriflesing: Ps. 11; Joh. 1 v 15; 2 v 18-22; Mat. 27 v 51; Heb. 4 v 14 – 16
Teksvers: Ps. 11 v 4

Sing
Ps. 42-1 v 1 & 3
Ps. 86-1 v 1

Die preek is ook op video by die 


Donderdagaand het ons die slegte nuus gehoor dat ons inperking met nog twee weke verleng is tot die einde April. Dit hou verreikende gevolge vir ons land in.

Reeds voor die verlenging het ekonome bereken dat ons lands se ekonomie tussen 4 en 6% kan inkrimp hierdie jaar en dat volgende jaar ook 'n moeilike jaar gaan wees. Daar word verwag dat baie besighede bankrot gaan speel en dat talle mense hul werk gaan verloor.

Dis inderdaad 'n moeilike tyd wat vir ons voorlê. By baie mense kom die vraag na vore: “hoekom laat 'n liefdevolle God soveel swaarkry en lyding toe?”

Daar is baie bemoedigende boodskappe wat ons met reg aanspoor om op God te vertrou en dit is inderdaad wat ons moet doen. Die vraag is nou net: “hoe doen jy dit?” Hoe vertrou jy God wanneer jou wêreld buite beheer raak?

In Psalm 11 gee die Here vir ons 'n antwoord op die hierdie vraag. In Psalm 11 hoor ons van 'n lewenskrisis wat Dawid beleef het. Dis inderdaad 'n moeilike situasie waarin hy verkeer het.

Dawid se raadgewers moedig hom aan om te vlug, want daar is 'n groot gevaar wat dreig. Dawid weet egter dat hy as koning ter wille van sy volk nie kan vlug nie, want dit sal baie negatiewe gevolge vir hulle inhou. Daarom luister Dawid nie na sy raadgewers nie.

in Ps. 11:1a hoor ons wat sy antwoord is op die raad wat hy ontvang:
By die Here skuil ek
Hy vind sy ankers by die Here in tye van nood.

In Psalm 11 v 4a hoor ons hoekom Dawid nie paniekerig raak nie:
Die Here is in sy heilige tempel!
Die Here is op sy troon in die hemel!
Ons hoor in Psalm 11 v 4 twee redes waarom Dawid die Here vertrou en nie paniekerig raak nie.

Die eerste is: Die Here is op sy troon in die hemel!
Met ander woorde die Here is in beheer.

Wanneer daar 'n krisis ontstaan, dan kyk ons so maklik teen die hier en nou vas en ons sien nie raak dat God ook met hierdie krisis besig is om sy ewige raadsplan uit te voer nie. Dit was die probleem met Dawid se raadgewers. Hulle het net teen die huidige krisis vasgekyk en dit het hulle paniekerig gemaak.

Die feit dat ons nie raaksien of verstaan hoekom iets gebeur nie, beteken nie dat die Here nie 'n goeie rede het waarom Hy dit toelaat nie.

Dawid sê hier: “Die Here is op sy troon in die hemel.” Hy is die ewige God wat die hemel en die aarde gemaak het. Daar is niks wat Hom onkant vang nie. Daarom moet ons Hom vertrou.

Ons verstaan nie hoekom hierdie pandemie die wêreld getref het nie. Ons kan nie verduidelik hoekom die Here dit toelaat nie, maar ten spyte daarvan moet ons die Here vertrou.

Die tweede rede wat Dawid gee verduidelik vir ons waarom ons die Here kan vertrou. “Die Here is in sy heilige tempel!“

Hier vind ons 'n profetiese heenwysing na Jesus Christus. Die tempel en die aanbiddingspraktyke in die tempel was alles profetiese heenwysing na Jesus Christus. Die altaar en die offers het profeties heengewys na Christus wat Homself op die kruis geoffer het.

Die allerheiligste deel wat agter die swaar tempel gordyn afgesper was en waar die hoë priester net eenmaal 'n jaar kan ingaan om te offer, is simboliek van God se heiligheid. Die offer wat die priester gedoen het om versoening te doen vir die volk se sondes, was 'n profetiese heenwysing na Jesus Christus wat met sy offer aan die kruis vir ons versoening vir ons sondes gedoen het.

God is heilig en daarom kon die gewone volk nie by die allerheiligste deel ingaan nie, want niemand kan die heiligheid van God aanskou sonder om verteer te word nie.

Toe Moses gevra het om God te sien, het God hom in 'n klipskeur met sy hand toegemaak en Moses kon net die teenwoordigheid van God aanvoel, want as hy God se heerlikheid gesien het sou hy sterf.

Dit is hier waar die betekenis van Paasfees duidelik na vore kom. In die Ou Testament mag niemand die heerlikheid van die Here aanskou het nie.

In die Nuwe Testament in Joh. 1 v 14 hoor ons egter:
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
Hier het nou 'n verandering ingekom. In Jesus kan ons God se heerlikheid sien sonder om te sterf.

Die verwysing na die tempel in Psalm 11 v 4 verwys na Christus. Ons hoor in Joh. 2 v 18 tot 22:
Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”
Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”

Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”

Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. (21)

Die verandering tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament het aan die kruis gekom. Ons hoor in Mat. 27 v 50 & 51 wat gebeur het toe Jesus gesterf het:
Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur.

Die voorhangsel wat gekeer het dat die volk by die heerlikheid van God uitkom, het geskeur en dus nou toegang verleen. Dit is van bo na onder geskeur, dit wil sê van God af na die mens toe.

Dis die volk se sonde wat gekeer het dat hulle die heerlikheid van God kon aanskou, want dit sou veroorsaak dat hulle sterf. Maar nou het Jesus die hele mensdom se sondes op Hom geneem en Hy het gesterf en daarom het ons nou direkte toegang tot God.

Die hoë priester het simbolies tussen God en die volk gestaan en dit het heengewys na Jesus wat as ons enigste hoë priester tussen ons en God staan. Deur Jesus kan ons nou direk tot God nader.

In Joh. 2 v 22 is daar egter 'n belangrike stukkie inligting wat ons nie moet vergeet nie:
Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

Dis Jesus se opstanding wat alles in werking gestel het, want as Jesus nie die dood se mag gebreek het nie, sou alles tevergeefs gewees het soos ons ook in 1 Kor. 15 v 19 hoor:
as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.

Jesus se opstanding is die hoogtepunt van Paasfees en dit is wat ons vandag en elke Sondag herdenk. Ons aanbid nie 'n dooie God nie, want Jesus het opgestaan.

Die opstanding van Jesus gee vir ons troos.
Die Here is in sy heilige tempel!
Die Here is op sy troon in die hemel!
Deur die heilige tempel, dit wil sê deur Jesus Christus kry ons toegang tot die Here wat op sy troon sit.

Daarom mag ons tot Hom nader. Daarom mag ons, ons bekommernisse na Hom toe bring. Hier is baie onsekerhede met hierdie pandemie teenwoordig. Daar is baie bekommernisse oor wat gaan gebeur. Gaan ek ook aangesteek word en siek word? Gaan ek ook my werk verloor? Wat gaan met ons ekonomie gebeur? Gaan ons kan oorleef?

Ons mag en ons moet hierdie bekommernisse na die Here toe bring. Ongeag wat ons vandag in die gesig staar, Jesus se opstanding beteken dat die bose nie sal wen nie - selfs nie wanneer ons deur duisternis omring word nie.

Ons weet nie hoekom God hierdie swaarkry in ons lewens toelaat nie. Wat ons wel weet is dat Hy omgee. Hy het ons baie baie lief.
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Wanneer die lewe vir jou te veel word. Wanneer hierdie inperking jou wil oorweldig, kom skuil by ons Hemelse Vader.
Amen