Joh. 3:22 - 36; teksverse Joh. 3:30 & 36
Inleiding
Een van die mees basiese behoeftes by
die mens is die soeke na erkenning. Daardie soeke daarna dat mense weet en
erken dat ek ook iets beteken. Daardie behoefte om te weet dat ek spesiaal is
en dat mense dit raaksien.
Daar is niks fout daarmee nie,
inteendeel dit is hoe God ons geskep het. Hy sê tog vir ons dat ons vir Hom
kosbaar is. Dis ’n tema wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop dat God
vir die mens omgee.
Die probleem kom egter in dat die
sonde hierdie soeke van die mens skeefgetrek het. In plaas daarvan dat ons by
God bevrediging soek vir hierdie behoefte gaan soek ons op ander plakke daarna en
omdat die mens van God af weggedraai het, word hierdie behoefte nooit bevredig
nie. Dit laat daardie leë gevoel by jou en daardie stemmetjie in jou kop wat
vir jou sê “jy is nie goed genoeg nie!”
Dit is ook iets wat jy om die dood toe
teenoor niemand wil erken nie en daarom ontstaan daar allerlei negatiewe
maniere om jouself te handhaaf en daardie bang klein mensie wat agter die
bravade wegkruip weg te steek. Die wêreld mag net nie sien hoe ek regtig voel
nie! Ek moet ten alle koste agter ’n masker wegkruip en seker maak dat die
mense daarbuite vir my die nodige erkenning gee!
Die manier waarop jy jouself handhaaf
is deur aggressie wat ook fisiese geweld kan insluit. As mense jou haat sal jy
terug haat. As hulle jou seermaak sal jy terug seermaak. As hulle teen jou diskrimineer
sal jy ook terug doen. As hulle jou vloek sal jy hulle ook terug vloek. As
hulle liefdeloos optree sal jy ook. Ek moet seker maak dat mense weet hoe
belangrik ek is en hulle durf nie waag om nie my belangrikheid te erken nie! Ek
dwing my gesag op mense af.
Die probleem is dat hierdie negatiewe
benadering nie geluk bring nie. Maak nie saak hoe suksesvol ek is om mense te
kul met hierdie masker van my nie. Ek weet wie skuil daar agter! Met hierdie
benadering is daar nie plek vir God
in my lewe nie, selfs al gee ek ook voor dat daar is, want dit gaan om my en my
eer. As daar egter nie plek vir God is nie bly daar ’n diep leemte in my wat
deur niks anders bevredig kan word nie, maak nie saak hoe hard ek probeer nie.
Hoe bevredig ek hierdie ingeskape
drang binne in my na aanvaarding?
In ons teksgedeelte gee die Here gee
vir ons ’n antwoord op hierdie vraag. Ek moet minder word. Ek moet hierdie eie
belangrikheid en selfhandhawing van my prysgee! In die plek daarvan moet Jesus
meer word. Vreemd soos dit mag klink lê die antwoord daarin dat Jesus meer
moet word en ons minder.
Ek moet minder word!
Dis die enigste manier uit die spiraal
van negatiwiteit en minderwaardigheid te ontsnap, om los te breek uit hierdie
spiraal van aggressie waar ek op mense trap om bo te kom. Ek moet my eie
selfopgelegde status waarvoor ek so hard baklei opgee. Dan hoef ek nie meer
voor te gee dat dit goed gaan nie.
Met Johannes die Doper se reaksie
wanneer sy volgelinge na hom te kom en sê:
“Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by
u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.”
wys die Here vir ons hoe ons dit moet
doen. Vir ’n kort rukkie voor Johannes gevang is en in die tronk gesit is, het
hy en Jesus ’n parallelle bediening gehad. Nou het daar ’n woordewisseling
tussen Johannes se volgelinge en ’n Jood ontstaan oor die reiniging.
In hierdie woordewisseling wil
Johannes se volgelinge seker maak dat sy status gehandhaaf word deur hom
teenoor Jesus te wil afspeel. Hulle wil bevestiging hê dat Johannes se doop
beter is as die doop wat deur Jesus se dissipels gedoen word.
Hierdie reaksie van Johannes se
volgelinge is tipies die gedrag wat jy waarneem wanneer jy op ’n negatiewe
manier jouself wil handhaaf. Om my belangrikheid te bewys moet ek dit ten koste
van iemand anders doen. Om bo te kom moet ek op die mense onder my trap!
Ek is seker dat Johannes se volgelinge
verbaas en dalk ook teleurgesteld was met Johannes se reaksie toe hulle vir hom
kom vertel dat die mense al hoe meer agter Jesus aanloop. In Joh. 3:30 hoor ons
egter wat is die regte manier om my eie waarde as mens te handhaaf:
Hy
moet meer word en ek minder.
Wanneer ek ten koste van mense myself
handhaaf is ek in opstand teen God.
Johannes verduidelik die beginsel aan
sy volgelinge deur gebruik te maak van ’n beeld wat die verhouding tussen ’n
bruidegom en die vriend van die bruidegom. In vandag se terme sal ons praat van
die bruidegom en sy strooijonker.
Die vriend van die bruidegom het ’n
baie belangrike taak gehad. Hy moes sorg dat al die rëelings vir
bruilofsfunksie getref word. Wanneer die bruilof egter op hande was, het hy
teruggestaan. Nou was dit nie meer hy wat belangrik is nie. Die kollig was nou
op die bruidegom gerig.
Geliefdes, dis wat ons moet doen. Ons
eie eer en belangrikheid moet terugstaan sodat die fokus nie op my nie, maar
wel op God gerig word. Ek moet minder word en Jesus moet meer word in my lewe.
Jesus moet meer word
Hoe kry mens dit reg om af te sien van
jou eie eer en belangrikheid? In Joh. 3:36 sê die Here vir ons:
Wie
in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is,
sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”
Wie in Jesus glo het die ewige lewe.
Wie nie glo nie, aanvaar nie God se gesag in sy lewe nie en daarom is hy ook
ongehoorsaam aan God. Ons moet nie die waarskuwing wat die Here hier vir ons
gee ligtelik opneem nie. Wie Jesus verwerp is onderworpe aan God se straf.
Wat moet ons dan glo? Wat beteken dit
om in die Seun te glo? In Joh. 3:31-35 sê die Here vir ons wat ons moet glo.
Ons moet glo dat Jesus deur God gestuur is. Ons moet glo in die hemelse
oorsprong van Jesus, met ander woorde ons moet glo dat Hy self ook God is en
daarom kan Hy die verlossingswerk doen waarvoor God Hom gestuur het.
Ons moet glo dat dit wat Jesus vir ons
vertel in die Bybel God se boodskap aan die mensdom is en dat die evangelie;
dit wil sê die goeie nuus dat Jesus gekom het om ons van ons sondes te verlos;
die waarheid is. Ons moet glo dat die Heilige Gees ook God is en dat Jesus die
Gees in sy plek gestuur het na sy hemelvaart.
Jesus was deur die Gees gelei terwyl
Hy op aarde was en net so moet ons ook aan die Gees gehoorsaam wees. Ons moet
gehoorsaam wees aan die Gees geïnspireerde woord van God. Ek moet God se gesag
in my lewe aanvaar.
Die belofte wat die Here vir ons gee; dat
ons die ewige lewe sal ontvang; is dat wanneer Jesus meer word in ons lewe sal
ons waarlik lewe. Die ewige lewe wat ons ontvang begin nou reeds.
Wat beteken die ewige lewe vir ons?
Daar is ’n verandering in my lewe. Dit
beteken dat as ek Christus volg sal ek sy goedkeuring en erkenning ontvang. Dit
beteken dat ek as 'n leier sal uitstaan al ken niemand my nie, want wanneer ek
gehaat word, het ek lief. Wanneer ek seergemaak word, vergewe ek. Wanneer ek
gevloek word, seën ek. Wanneer almal in die duisternis leef, staan ek in die
lig.
Die ewige lewe beteken dat ek my hart
na God draai en Hom alleen ten volle vertrou om my te dra wanneer ek krisisse
moet hanteer. Dit beteken dat ek nader aan God beweeg en dat daar by my ’n al
hoe groter wordende behoefte is om God beter te leer ken. Dit beteken dat ek na
God se stem luister deur tyd te maak vir Bybelstudie (persoonlik en
gesamentlik) en dat ek God antwoord deur gebed.
Dit beteken dat ek verstaan dat ware
vrede nie afhang van die gebrek aan probleme in my lewe nie, maar dat dit
afhang van God se teenwoordigheid in my lewe. Dan sal ek ervaar dat die belofte
wat die Here vir ons in Jes. 40:31 gee ook vir my waar is:
dié
wat op die Here vertrou , kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle
hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.
Dan vertrou ek dat selfs binne in die
grootste krisis in my lewe die Here in beheer van sake is. As ek daar by die
dokter se spreekkamer uitstap met die nuus dat ek ook ’n slagoffer is van
daardie gevreesde siekte, sal ek vertrou dat die Here my sal dra op die pad
vorentoe.
Dat ek die vaste wete het dat selfs as
die ergste in hierdie lewe gebeur, dat dit nie die einde is nie, maar dat die
dood slegs ’n heerlike deurgang na God is waar ek vir ewig saam met Hom sal
wees sonder trane, hartseer, pyn en dood.
Wanneer Jesus meer word kan ek God
vertrou om beheer van my lewe te neem en dat ek nie ten alle koste self in
beheer moet wees nie.
Slot
Hoe bevredig ek hierdie ingeskape
drang na aanvaarding binne in my?
Jesus moet meer word en ek minder. Ek
moet minder word deur my eie eer en belangrikheid terug te laat staan sodat die
fokus nie meer op my nie, maar wel op God gerig word.
Ek moet in Jesus Christus en sy
verlossingwerk in my lewe glo sodat Hy meer kan word in my lewe. Dan kan ek
vashou aan sy belofte dat ek die ewige lewe ontvang, dit wil sê die vaste wete
dat ek my lewe met vertroue aan God kan oorgee met die vrede in my dat God my
sal dra selfs deur die grootste krisis in my lewe.
Dan sal ek beleef hoe ek nader aan God
beweeg, dit wil sê hoe daar geloofsgroei in my lewe plaasvind. Hoe nader ek aan
God beweeg hoe meer seker sal ek wees dat selfs as die ergste in hierdie lewe
gebeur dat dit nie die einde is nie, maar dat die dood slegs ’n heerlike
deurgang na God is waar ek vir ewig saam met Hom sal wees sonder trane,
hartseer, pyn en dood.
Geliefdes, gee die beheer van jou lewe
aan God oor deur self minder te word sodat Jesus meer kan word.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking