Lees Johannes 15:1-17 Teksvers Joh. 15:12
Ons roeping
is: “Stap die pad in volle vertroue saam met God.” Ons kan alleen maar die Here
se roeping gehoorsaam wanneer ons weet hoe afhanklik ons van Hom is. Wat verwag
die Here van ons verwag wanneer ons sy roeping opvolg om die pad saam met Hom
te stap.
Julle
behoort mekaar lief te hê. Dit is die Here se opdrag aan ons. In die vertaling
gaan daar so ietsie van die Griekse grammatika verlore. Dis nie ’n klipharde
opdrag wat ons moet doen of ons nou wil of nie. Liefde kan tog immers nie
afgedwing word nie. Dit is veel eerder ’n aansporing van iets wat ons behoort
te doen.
In
sekere sin is die aansporing dat ons dit behoort te doen ’n baie strenger
opdrag as “julle moet dit doen of julle nou wil of nie”. Die opdrag behels dat
ons mekaar moet liefhê omdat ons dit vanuit ons eie wil doen en nie omdat ons
dit MOET doen nie.
Ons
moet wil liefhê omdat ons oortuig is dat dit die regte ding is om te doen en
ons behoort dit te doen. Dit is die opdrag wat die Here aan sy kerk gee.
In
hierdie teksgedeelte wys die Here ons hoe ons dit kan regkry, want om mekaar
lief te hê druis in teen ons sondige natuur. Uit ons sondige natuur sal ons
veel eerder haat as om lief te hê en dit kom heel dikwels in ons optrede
teenoor mekaar na vore.
In
hierdie teksgedeelte hoor ons hoe die Here die beeld van ’n druiwestok gebruik
om aan ons te verduidelik hoe ons dit kan regkry om mekaar lief te hê. Dit is
inderdaad wat die Here van ons verwag wanneer ons die nuwe lewensjaar aanpak.
In
Joh. 15 v 1 hoor ons:
“Ek is die ware wingerdstok
en my Vader is die boer.
Die
Vader is die Boer en Jesus is die wingerdstok (dit wil sê die hoofstam waaruit
die take dit wil sê die lote groei) wat Hy geplant het en die lote is ons die
gelowiges wat moet vrugte dra soos ons hoor in Joh. 15 v 2.
Hiermee
sê die Here vir ons dat God die Vader sy Seun Jesus na die mensdom gestuur het
sodat hulle waarlik die lewe kan leef wat Hy vir ons beplan het. Die vrug wat
ons moet dra is liefde en ons kan dit slegs doen as ons in Jesus ingeplant is.
Die
Here gebruik hier ’n baie mooi beeld om vir ons te verduidelik hoe sy liefde
werk. Net soos wat ’n druiweloot nie op sy eie kan vrugte dra nie, net so kan
ons nie vrugte van liefde dra as ons los is van Jesus Christus se verlossing
nie. As die lewegewende sap nie uit die wingerdstok (die hoofstam) vloei in die
loot nie, gaan die loot dood en dit verdroog.
Die
mens wat nie glo in Jesus se verlossing nie is net soos daardie verdroogde loot
soos ons hoor in
Joh. 15 v 6:
As iemand nie in My bly nie,
word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote
bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.
So
verduidelik die Here vir ons dat ons op ons eie nie lief kan hê nie. As God se
liefde nie in ons is nie kan ons nie liefhê nie soos Johannes ook in sy eerste
brief 1 Joh. 4v19 verduidelik:
Ons het lief omdat God ons
eerste liefgehad het.
In
die eerste plek is die liefde van God dus ’n genadegawe wat ons van God
ontvang. Aan die ander kant is dit ook
’n opdrag soos ons in ons teksvers Joh. 15 v 12 hoor:
Dit is my opdrag: Julle moet
mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
Die
genade van God is dat Hy nooit meer vra as wat Hy alreeds vir ons gegee het
nie. Aan die een kant gee Hy, maar aan die ander kant vra Hy wat Hy gee. God
het net een doel voor oë met dit wat Hy vir ons gee en dit wat Hy vra soos ons
hoor in Joh. 15v11:
“Dit sê Ek vir julle sodat
my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.
In
dit wat God vir ons gee en wat Hy van ons vra, doen Hy sodat ons net die heel
beste in die lewe kan ontvang.
Die
Here verwag van ons om vrug te dra in ons lewens. Die vrug wat Hy verwag is
liefde. In Gal 5v22 & 23 sê die Here vir ons waaruit die vrug van liefde
bestaan. Die vrug van liefde bestaan uit : vreugde, vrede, geduld,
vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.
As
ons in Jesus, die ware wingerdstok ingeënt is, dan sal Hy vir ons hierdie vrug
gee soos ons hoor in
Joh. 15v7:
As julle in My bly en my
woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.
As
ons vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
nederigheid en selfbeheersing van die Here vra, dan sal Hy dit vir ons gee.
Wanneer
die Here sy opdrag vir ons gee om mekaar lief te hê, dan sê Hy ook hoe ons dit
moet doen: “soos Ek julle liefhet”. Jesus se liefde strek so ver dat Hy sy lewe
ter wille van ons geoffer het. Ware liefde beteken opoffering. Die vrug van
liefde vereis opoffering van ons.
Wat
se opoffering vereis die liefde wat die Here vra van ons? Dat ons nie net vir
die mense sal lief wees waarvan ons hou nie, maar dat ons ook vir diegene moet
lief wees waarvan ons nie hou nie!
Dit
is maklik om my mede broeders en susters waarvan ek hou lief te hê. Ongelukkig
is ons nog blootgestel aan die gevolge van sonde en daarom is dit so dat daar
broeders en susters in die gemeente is waarvan ons minder hou. Ons moet ook vir
hulle lief wees!
Die
grootste aspek van opoffering wat liefde verg is dat ons ook na onself moet
kyk. As daar dalk een van ons is wat voel dat my broeders en susters nie so
lief is vir my soos die Here van ons vra nie, dan moet ek na myself kyk.
Die
opoffering wat ons moet maak is dat ek dit vir my broers en susters in die
geloof moet maklik maak om my lief te hê. Is ek heeltyd net kwaai en nors? Is
ek gedurigdeur skoorsoekerig en soek ek rede om te baklei? Loop ek heeltyd rond
en verwyt? Maak ek die lewe vir die mense om my moeilik? Doen ek aspris goed
waarvan my broers en susters nie hou nie, sodat ek hulle kan grief?
Is
ek die een wat altyd net kla en fout vind? As vreugde, vrede, geduld,
vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel
is van my lewe, dan maak ek dit maklik vir my broers en susters om vir my lief
te wees. Dit kan soms een van die grootste opofferings wees wat ek moet doen,
naamlik om my eie foute raak te sien en vir die Here te bid dat Hy my help om
daarvan ontslae te raak.
Nog
’n aspek van liefde is die invloed wat ek op die mense om my uitoefen. Ons het
’n spreukwoord wat sê dat maats jou kan maak of breek. As ek met die verkeerde
maats deurmekaar is, dan kan hulle my lewe baie negatief beïnvloed.
Die
vraag is hier of ek nie ’n verkeerde maat is vir my vriende nie? Is ek besig om
my vriende saam met my in die afgrond in te ly? Is ek daardie persoon teen wie
ouers hulle kinders waarsku? Is ek die persoon wat heeltyd veroorsaak dat ek en
my maats in die moeilikheid beland? Hierdie geld nie net vir die kinders nie,
maar ook vir die grootmense. Bou ek op of breek ek af?
Geliefdes,
die Here se opdrag aan ons is:
Julle behoort mekaar liefhê
soos Ek julle liefhet.
Hierin
leer die Here ons dat ware liefde opoffering vereis.
Dit
vereis opoffering in die sin dat ek moet liefhê omdat ek wil en nie omdat ek
dit maar net doen om dit gedoen te kry nie. Ware liefde is opreg en dit vereis
opoffering in die sin dat ek ook diegene liefhet waarvan ek nie hou nie.
Ware
liefde vereis opoffering deurdat ek dit vir my broers en susters moet maklik
maak om my lief te hê. Ek kan dit slegs doen as ek bereid is om my eie foute
raak te sien en dat ek vir die Here bid om my te help om dit reg te kry.
Ek
kan slegs hierdie gebed bid as ek glo dat Jesus Christus vir my sondes aan die
kruis gesterf het en dat Hy die dood oorwin het deur op te staan uit die dood.
Ware
liefde vereis opoffering deurdat ek moet streef om ’n positiewe invloed uit te
oefen op my vriende sodat ek hulle opbou en nie afbreek nie.
Geliefdes,
kom ons wees lief vir mekaar soos die Here vir ons lief is.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking