15 Julie 2012

God is Lig – wandel in sy Lig!


17 Jun. 2012 (RB) 15 Jul. 2012 TB
Skriflesing: 1 Joh. 1 Teksverse: 1 Joh. 1:5-7

Sing    Lofsang:  Ps. 100 v 1 & 4   (OAB)
           Na wet:     Ps. 40 v 4            (OAB)
           Na gebed Ps. 119 v 52       (OAB)
           Slotsang   Ps. 119 v 39       (OAB)

Inleiding
Wat verwag die Here van sy kerk? En as ons dit vra impliseer die vraag ook outomaties: “wat verwag die Here van my?” Dit is een van die vrae wat gelowiges oor al die eeue heen vra, veral in krisis tye en wanneer ons lewensbelangrike besluite moet neem. Wat verwag die Here van mense wat Hom opreg wil dien?

In 1 Joh. 1 kry ons ’n antwoord op bogenoemde vraag. Dit was een van die kwessies wat Johannes in sy brief wil opklaar en daarom skryf hy hierdie brief in die vorm van ’n preek omdat dit ten doel het om gemeente te leer. Hulle het ook gesukkel met die vrae “wat verwag God van ons? Wat beteken dit om ’n navolger van Jesus te wees?”

Om hierdie vrae te antwoord gebruik Johannes die beeld “God is lig - wandel in God se lig” en dan verduidelik hy wat dit beteken. Eerstens verduidelik hy wat beteken die stelling “God is Lig” en daarna wat dit beteken om in God se lig te wandel.

God is Lig
Hierdie stelling beskryf vir ons hoe lyk God se karakter en daarmee saam dan ook wat dit vir elke volgeling van Jesus beteken. Die tema van God wat Lig is loop soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel van Genesis 1 tot en met Openbaring 22. Lig staan vir alles wat eie aan God se wese is, dit wil sê vir alles wat reg en goed is. Lig wat goed is teenoor donker wat boos is, dit wil sê alles wat sonde is. Lig is iets konkreets wat wetenskapliks kan meet en bepaal.

Teenoor lig is donker. Donker is egter nie streng gesproke die teenoorgestelde van lig nie. Donker is die afwesigheid van lig en daarom kan mens nie donker meet of bepaal nie. Hoe donkerder dit is hoe minder lig is daar teenwoordig. Mens moet egter die hoeveelheid lig meet om te bepaal hoe donker dit is. Waar daar geen lig is nie is dit absoluut donker. Net so is sonde dit wil sê die boosheid nie die teenoorgestelde van goed en reg nie. Dit is die AFWESIGHEID van goed en reg. “God is Lig” verduidelik vir ons God se absolute heiligheid, dit wil sê daar is geen sonde teenwoordig nie soos ons dan ook hoor in 1 Joh. 1:5
God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

God is alles wat sonde nie is nie. God is liefde. Sonde is ’n gebrek aan ware liefde. Hierdie beeld van God is Lig en daar is geen duisternis in Hom nie, is nie maar bloot net ’n teoretiese beeld van God nie. Dit beskryf vir ons ten diepste wie God werklik is. Hy is die suiwer bron van lig. God is volkome heilig en Hy is nie besoedel met die boosheid van byvoorbeeld haat, leuens, vyandskap en al die ander sondes nie. God is suiwer liefde. Daarom is dit ook ’n onsinnige vraag om te vra of God regverdig optree in dit of dat wat Hy doen. Wanneer mens dit vra dan meet mens God se regverdigheid aan ’n maatstaf wat buite God is terwyl God self die maatstaf is waaraan regverdigheid gemeet word.

Dink so daaraan. Toe hulle bepaal het hoe lank een meter is, het hulle ’n maatstok geneem en bepaal dat dit die standaard is. Daardie maatstok word veilig gebere. Mens kan dus nie gaan meet of daardie maatstok een meter is nie, want dit is die maatstaf wat bepaal hoe lank ’n meter is. Enige maatstok wat daarmee verskil is verkeerd. Net so is God die maatstaf wat bepaal wat goed en reg is en enige iets wat daarmee verskil is verkeerd. God is Lig en daar is GEEN donker in Hom nie.

Die duidelikste beeld van God wat lig is, word verteenwoordig in Jesus wat as mens na die aarde gekom het om God se liefde soos ’n lig in ons donker sondige lewens in te skyn. Dit is waarvan Johannes ’n ooggetuie is soos ons hoor in 1 Joh. 1:1-4.
Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe. Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is. Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.
Jesus Christus laat die volmaakte lig van God se liefde skyn op ’n donker wêreld wat God nie ken nie. Daar waar God se liefde soos ’n helder lig skyn kan die sonde nie langer bestaan nie. Daar is nie genoeg donkerte in die heelal om die lig van een klein kersie uit te doof nie. Hoeveel te meer sal die donker staande kan bly voor God se suiwer lig van geregtigheid?

Daarom beteken die stellig “God is Lig” ook
Wandel in sy lig
Wandel is ’n mooi Afrikaanse woord wat veel meer beteken as loop. Mens loop van een plek na ’n ander, maar mens wandel deur die lewe van jou geboorte tot aan die einde van jou lewe. Wandel in God se lig beteken dus: lewe jou lewe daar waar God se lig van liefde op jou skyn of nog eenvoudiger, om in God se lig te wandel beteken dat jy jou hele wese , dit wil sê alles wat jy dink, alles wat jy besluit en alles wat jy doen eers meet aan God se standaard. Dit beteken nie dat mens nou skielik volmaak word nie want die Here sê tog baie duidelik in 1 Joh. 1:8:
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.
en in 1 Joh. 1:10 beklemtoon die Here dit:
As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Ons is nie die bron van lig nie, maar slegs die spieëls wat God se lig weerkaats. Net soos ’n spieël nie volmaak al die lig weerkaats wat daarop skyn nie, net so is ons in hierdie lewe ook nie volmaak nie. Sommige spieëls het dowwe kolle en weerkaats dus maar flouerig. Die rede waarom ’n spieël lig flou weerkaats is omdat daar iets tussen die spieël en die bron van lig is. Dink byvoorbeeld aan die maan. Dit weerkaats die son se lig op die aarde, maar wanneer die aarde se skaduwee op die maan val kan dit nie die son se lig weerkaats nie. Sonde is soos ’n skaduwee wat op ons val omdat dit soos ’n muur tussen ons en God is en dan is dit onmoontlik om God se lig te weerkaats soos ons hoor in 1 Joh. 1:6:
As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.

Hoe verder mens dan van God af wegbeweeg, hoe donkerder word dit in mens se lewe. Hoe meer mens sondig hoe verder beweeg mens van God af. As ons uit die donker van sonde in ons lewens wil wegbeweeg moet ons nader aan God se Lig kom. Die enigste manier hoe om dit te doen is deur Jesus Christus soos ons hoor in 1 Joh. 1:7:
Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.

Hoe doen ons dit prakties? Hoe kom ons nader aan die Lig? Die Here spel dit vir ons uit in 1 Joh. 1:9:
Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.
Dit is eers wanneer ons bewus word van ons sonde dat ons daarteen kan stry. Ons word bewus van ons sondes wanneer ons, ons lewenswandel meet teen die volmaakte Lig van God se Woord. Mens kan eers die vuil kol op jou gesig raaksien wanneer jy in ’n spieël kyk. Net so kan jy eers die sonde in jou lewe raaksien wanneer jy na dit kyk in die spieël van God se Woord. As ek alles wat ek dink, alles wat ek besluit en alles wat ek doen meet teen die suiwer Lig van God, is die vraag “sal dit aan die standaard voldoen?” Indien nie maak dan soos die Here sê: Bely jou sondes teenoor die Here en weet dat Hy getrou is om ons te vergewe en te reinig van al ons ongeregtighede. Ons moet egter net baie goed onthou dat dit nie hier gaan oor verlossing nie. God gee verlossing uit genade sonder dat ons dit verdien vir elkeen wat glo aan Jesus Christus se dood aan die kruis en sy opstanding. Dit gaan hier oor hoe Jesus ons help om die sonde in hierdie lewe te oorwin. Dit is die pad van heiligmaking wat ons saam met die Here stap. Dit is soos ’n ghrieskol op jou hand. Die eerste keer wanneer jy dit was is dit nog daar, dit is net ligter, maar hoe meer jy dit was hoe ligter word dit totdat dit heeltemal skoon is. Hoe nader ons aan God se lig beweeg hoe minder word die sonde in ons lewens en hoe meer gehoorsaam ons sy heilige Woord.

Slot
Wat verwag die Here van ons as sy kerk? Hy verwag dat ons sal weet dat Hy die enigste bron van ware Lig is, dit wil sê Hy is die enigste bron van waarheid goedheid en regverdigheid is. Ons moet op Hom alleen vertrou. Ons moet met ons lewens al hoe nader aan die Lig beweeg, dit wil sê al hoe nader aan God beweeg sodat die lig van sy liefde deur middel van ons lewens al hoe helderder kan skyn in ’n donker wêreld wat Hom nie ken nie. Ons moet sy liefde weerkaats. Ons beweeg nader aan die lig van God se genade en liefde wanneer ons, ons sondes teenoor Hom bely. Wanneer ons, ons sondes teenoor Hom bely vergewe Hy ons sondes en reinig Hy ons daarvan. Hoe meer ons dit doen hoe nader beweeg ons aan God se lig.

Kom ons vat saam vir die jonger kinders. Net soos lig die donker wegvat, net vat Jesus al die verkeerde en lelike dinge wat ons doen weg. Al wat ons moet doen is om aan Jesus te glo en hoe meer ons dit doen hoe minder word ons sondes in ons lewe. Dan sien die mense wat Jesus nie ken dit raak en dit maak dat hulle Jesus ook wil leer ken. Die belangrikste wat julle moet onthou is “Glo in Jesus Christus”

Geliefdes: God is Lig – wandel in sy Lig!                          
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking