15 Julie 2012

In Christus is ons nou kinders van God en nie meer slawe nie


27 Jun. 2012 (RB)
Skriflesing: Gal. 2:11-21 & Gal. 5:13-26
Teksverse Gal.52:16 & 5:13 & 16

Sing    Lofsang:   Ps. 9 v 1 & 7       (OAB)
           Na wet:      Ps. 86 v 1 & 3     (OAB)
           Na gebed  Ps. 84 v 1 & 6     (OAB)
           Slotsang    Ps. 18 v 1 & 2     (OAB)

Inleiding
Seerowers laat Suid-Afrikaners vry. Dit is een van die koerant opskrifte hierdie week. Bruno Pelizzari, wat 20 maande gelede saam met sy meisie, Debbie Calitz, deur Somaliese seerowers ontvoer is, het gesê hy is bly om sy vryheid terug te kry. Sou dit nie baie eienaardig wees as hulle twee weer willens en wetens hulself as gyselaars by die seerowers gaan aanmeld het nie?

As mens ’n gevange was en jy word dan vrygelaat wil mens nie maklik weer ’n slaaf of gevange word nie, maar tog is daar so baie gelowiges wat hulself weer slawe maak nadat Christus hulle van die slawerny van sonde vrygelaat het. Dit is oor hierdie eienaardige gedrag van Christene dat Paulus hierdie brief aan die gemeente in Galasië geskryf het.

Daar is twee maniere waarop ’n vrygekoopte gelowige weer ’n slaaf word. Of jy word ’n slaaf van die wet of jy word ’n slaaf van die sonde. Altwee is ewe erg en het verwoestende gevolge in ’n mens se lewe omdat beide mens wegneem van Christus se genade.

Agtergrond
Die gemeente in Galasië het veral die gevaar geloop om weer ’n slaaf van die wet te word. Nadat Paulus die gemeente gestig het en hy daarna weer op ander plekke besig was met sendingwerk het daar dwaalleraars gekom en ’n vals leer in die gemeente ingebring. Dit was Joodse Christene wat gemeen het dat die geloof in Jesus Christus nie genoeg was om deel van God se volk te word nie. Hulle het vir die gelowiges in Galasië gesê dat daar nog bykomende vereistes was waaraan hulle moes voldoen voordat hulle deel van God se volk kon word. So het hulle byvoorbeeld van die gelowiges in Galasië verwag om hulself te laat besny en om die Joodse feesdae stiptelik na te kom soos ons hoor in Gal 4:10:
Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier.

Dit is dan ook hierdie dwaalleer wat Paulus in sy brief aanspreek. Die kern boodskap in hierdie brief is dat mens alleen op grond van geloof in Jesus Christus vrysgespreek word en dat dit onmoontlik is om self jou verlossing te verdien. Die gevare wat in hierdie brief aangespreek word is vandag nog steeds teenwoordig in die kerk van die Here en daarom is dit noodsaaklik dat ons daarop bedag moet wees.

Wanneer die kerk toelaat dat hulle ingesuig word in hierdie dwaalleer hou hul op om kerk van die Here te wees omdat hulle van die waarheid afwyk. Dan kan hulle ook nie hulle roeping vervul om die evangelie; dit wil sê die goeie nuus van die verlossing in Jesus Christus uit genade alleen; aan die wêreld te verkondig nie. Die twee gevare waaraan ons vandag in die prediking gaan aandag gee is of ’n slaaf van die wet of ’n slaaf van die sonde.

Slaaf van die wet
Hoe word mens ’n slaaf van die wet? Jy word ’n slaaf van die wet wanneer jy bewustelik of onbewustelik begin om allerlei voorskrifte vir jouself en ander voor te hou om die Here te dien soos Petrus byvoorbeeld gemaak het soos ons hoor in Gal. 2:11 & 12:
11Toe Sefas egter later na Antiogië toe gekom het, het ek my openlik teen hom verset omdat sy optrede duidelik verkeerd was. 12Voordat daar van Jakobus se mense aangekom het, het Sefas gewoonweg saam met nie-Joodse gelowiges geëet. Maar toe dié mense daar aankom, het hy hom onttrek en hom eenkant begin hou, omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis.

Dit spruit voort uit interpretasie van hoe die wette wat Moses in die eerste vyf boeke van die Bybel gegee het nagekom moet word. Neem byvoorbeeld die voorskrif in Eks. 23:19 dat ’n boklam nie in sy ma se melk gekook mag word nie. Die Jode se interpretasie daarvan is dat mens nie vleis en melk of self ’n melkproduk soos kaas mag saam eet nie. Hierdie interpretasie is mensgemaakte reëls. In die praktyk kom dit daarop neer dat jy hierdie reëls MOET nakom, anders is jy jou saligheid kwyt en so word jy ’n slaaf van die wet.

Dit plaas ’n geweldige swaar las op ’n mens omdat ons ten spyte van die beste bedoelings nie 100% getrou al die reëls kan nakom nie. Daarmee saam kom dan die oordeel soos ons hoor in Gal 3:10 wat ’n aanhaling uit Deut. 27:26 is:
Maar almal wat staat maak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek, want daar staan geskrywe: “Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie.”

Wat het dit dan nou met ons te doen? Ons hou tog nie meer by die Joodse gebruike van destyds nie. Die beginsel bly egter dieselfde. Sodra mens allerlei reëls en voorskrifte begin voorhou van dit mag en dit mag nie dan raak mens besig met ’n wettiese godsdiens net soos die Judaïste wat daar in die gemeente in Galasië besig was. Is ons kerke se groot stryd met watter berymings ons mag sing en nie mag sing nie ook nie maar besig om op ’n wettiese godsdiens af te stuur nie? Om nou maar ’n enkele voorbeeld te noem.

Wanneer mens so wetties raak, dan word mens gewoonlik ook baie veroordelend teenoor diegene wat nie daarby inpas nie. Dink maar net hoe venynig is gelowiges met mekaar oor die en die ander strydpunte daaroor. En so vertoon ons al hoe meer die karaktereienskappe van ons sondige natuur waar vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring aan die orde van die dag is soos ons hoor in Gal. 5:19-21.

Die troos is egter dat ons nie nodig het om slawe van die wet te wees nie want die Here sê tog baie duidelik vir ons in Gal 2:16:
En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.
Dit is alleen op grond van mens se geloof in Jesus Christus dat ons vrygespreek word!

Wanneer hierdie waarheid so duidelik verkondig word kom die vraag noodwendig op: “Maak hierdie leer van genade dan nie van ons onverskillige mense nie?” Maar net soos ons slawe van die wet kan word, kan ons ook slawe van die sonde word.

Slaaf van die sonde
Hierteen waarsku die Here ons ook baie duidelik soos ons hoor in Gal. 5:13:
Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.

Christus het ons bevry van die slawebande van die sonde. Daar is geen vryheid in die sondige praktyke van onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al sulke dergelike dinge nie!

Dit is nie die lewe nie. Dit is die dood! Wanneer Jesus ons vrygemaak het moet ons, ons lewe deur die Heilige Gees laat lei soos ons hoor in Gal. 5:16:
Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

Wanneer ons dit doen dan sal die vrug van die Gees duidelik in ons lewens sigbaar wees soos ons hoor in Gal.5:22:
Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Slot
Geliefdes pasop vir die gevare daarvan om weer ’n slaaf van die wet of ’n slaaf van die sonde te word. Kom ons soek ons vryheid in Jesus Christus en nie in die nakoming van allerlei voorskrifte soos wat ons mag aantrek of nie aantrek nie of dit mag ons op ’n Sondag doen en dit nie. Wanneer ons, ons lewens deur die Gees laat lei dan sal ons outomaties so aantrek dat dit tot eer van die Here strek en sal dit wat ons doen lei tot liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Ons moenie weer slawe van die wet of sonde word nie. Kom ons vind ons vryheid in Jesus Christus want in Christus is ons nou kinders van God en nie meer slawe nie.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking