15 Julie 2012

Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie


10 Jun 2012 (RB)
Skriflesing: Open. 3:7-13 Teksverse: Open. 3:8 & 11

Sing    Lofsang:   Ps. 145 v 1&9     (OAB)
           Na wet:      Ps. 130 v 1 & 2   (OAB)
           Na gebed  Ps. 9 v 1 & 7       (OAB)
           Slotsang    Sb. 18-7 v 1,11 & 12   (Sb 45)

Inleiding
Een van ons groot bekommernisse is dat kerk op die platteland al hoe kleiner word. Heelwat gemeentes wat baie jare oud is moes hul deure sluit. Dit is ook nie net die Dopperkerk wat krimp nie. Ons broeders en susters in die NG kerk sit met dieselfde probleem. Ons gemeentes is maar klein en onaansienlik. Ons lidmaat getalle is maar klein. Ons sukkel met finansies met begrotings wat maar net nie wil klop nie. Daar is nie vername persone by ons nie. Menslik gesproke lyk die prentjie maar donker vir die kerk op die platteland.

In hierdie brief aan Filadelfia vertel die Here vir ons die verhaal van ’n kerk wat baie in gemeen het met ons plattelandse gemeentes. Filadelfia of Alaseïr soos dit vandag bekend staan lê ongeveer 45km suidoos van Sardis op die hoofposroete langs die Kogamisrivier. Die stad was ook gereeld deur aardbewings geteister en dit is ook ’n paar keer deur aardbewings verwoes en moes dan weer opgebou word. Die gemeente daar was maar klein en onaansienlik. Hulle was arm en daar was ook nie juis vername mense daar by hulle nie. Verder het hulle ook groot teenstand van veral die Joodse gemeenskap, die sogenaamde Judaïste ervaar wat Jesus nie as God aanvaar het nie en wat ook sy lyding verwerp het. Hierdie Judaïste het hulle probeer wysmaak dat hulle geen toegang tot God gehad het nie omdat hulle in Jesus geglo het.

Geleentheid
Wanneer Jesus ’n brief aan die gemeente stuur vertroos Hy dan ook die gemeente. Filadelfia en Smirna is die enigste twee gemeentes wat nie bestraf of vermaan word nie. Dit is ook die enigste twee gemeentes wat vandag nog bestaan. Ten spyte daarvan dat hierdie gemeente maar klein en swak was, was hulle getrou aan hulle opdrag om die evangelie te versprei en het hulle vasgehou aan die boodskap van Jesus se volharding in die lyding tot versoening.

Jesus stel Homself op ’n besondere wyse bekend in sy brief aan die gemeente. Hy begin deur te sê dat Hy die Heilige, die ware God is. Die titel van ware God beklemtoon sy egtheid as God. Die verwysing na die sleutel van Dawid dui sy mag as Messias aan. Hy is die enigste ware God wat in beheer van alles is. Al het die Jode hulle uit die sinagoge uitgesluit is dit net Jesus wat toegang kan verleen na God se volmaakte koninkryk, die nuwe Jerusalem. As Christus die deur oopsluit kan niemand dit toesluit nie. Die verwysing in vers 8 na die deur wat Christus oopgesluit het, het ’n dubbele betekenis. In die eerste plek dui dit daarop dat die gemeente toegang het na die koninkryk van God ten spyte daarvan dat die Jode hulle uit die sinagoge uitgesluit het. Aan die ander kant dui dit ook op hul sendingtaak wat hulle het deurdat die poort na die Ooste vir hulle ooplê.

In ons teksvers sien ons ’n belangrike beginsel wat vir ’n gemeente nodig is om die oop deur wat Christus gee te kan gebruik. Filadelfia was klein en swak. Hulle kon dus nie uit hulle eie vermoë gebruik maak van die oop deur nie. Die belangrikste aspek wat vir elke kerk van alle tye nodig is, het hulle nagekom. Hulle het in geloof bly vashou aan Christus se boodskap van volharding en sy lyding. Dit is die boodskap van die evangelie of goeie nuus dat Jesus Christus vir ons sondes gely het aan die kruis en dat Hy met sy opstanding aan ons ’n nuwe lewe gegee het. Filadelfia het aan hierdie boodskap vasgehou en dit beteken dat hulle Christus nie verloën het nie. Dit is nie hul goeie werke wat hulle gedra het nie. Dit is God se genade in Jesus Christus en hulle het in geloof vasgehou daaraan.

Omdat hulle aan God se genade met geloof vasgehou het, kon hulle groot teenstander hulle nie onderkry nie, want op die uiteinde is dit maar die satan wat mense gebruik om die kerk teen te staan. Die troos is dat hy God nie kan oorwin nie en dat ook hy wat die gelowiges gedurig deur aankla sal moet erken dat God sy kerk liefhet.

Wat sê hierdie brief vir ons? Ons moenie teen ons swakheid vaskyk nie. Die feit dat ons maar min lidmate het en dat ons daarom ook sukkel met ons finansies hoef ons nie te keer om God se opdrag uit te voer nie. In 2 Kor. 12:9 hoor ons dat God se krag tot volle werking kom wanneer ons swak is:
Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.
Dit is juis deur ons swakheid wat die Here se krag werk en daarom is ons gemeente se kleinheid en swakheid nie ’n nadeel nie, maar is dit juis ’n voordeel, want nou kan God se krag deur ons begin werk!

Om God se sending opdrag uit te voer moet ons net met geloof vashou aan die evangelie van Jesus Christus. Wat beteken dit prakties? Dit beteken doodeenvoudig dat ons nie spesiale vaardigheid of bekwaamheid nodig het om die evangelie te versprei nie. Al wat ons moet doen is om te glo in Jesus Christus se verlossing en dat ons teenoor almal wat oor ons pad kom kan getuig watter verskil Jesus in my lewe gemaak het. Dit is iets wat elke lidmaat, dit wil sê elke grootmens en elke kind in hierdie gemeente kan doen. Met my lewe wys ek vir die wêreld en met my mond getuig ek teenoor die wêreld watter verskil Jesus in my lewe maak. As Jesus nog nie ’n verskil in my lewe maak nie dan het ek nog nie by sy genade uitgekom nie. Dan is dit nodig dat ek in geloof (wat die Heilige Gees gee) na Hom toe kom en dat ek in geloof die verlossing wat Hy uit genade gee my eie maak.




Belofte
Elkeen wat met geloof vashou aan God se genade deel in die wonderlike belofte wat Hy gee. In die eerste plek is die belofte dat Hy ons in tye van beproewing sal vashou soos ons hoor in vers 10:
Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.
Christene word nie gevrywaar van die beproewings wat oor die wêreld kom nie, maar ons het wel die belofte dat God ons sal vashou en sal dra wanneer die beproewings oor ons pad kom.

Die opdrag wat die Here aan sy kerk gee hoor ons in vers 11:
Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.
Die kroon waarvan hier gepraat word is die ewige lewe wat God gee. Hier word die beeld van ’n pilaar in God se tempel gebruik. Die gelowige staan stewig net soos ’n pilaar vas staan. Verder word God se Naam op elkeen geskryf. Dit dui op die vaste sekerheid dat elkeen wat glo aan God behoort en dat niks ons uit sy hand kan ruk nie. Hierdie belofte is egter net waar vir diegene wat glo in Jesus Christus en wat sy Naam bely as hul Heiland en Verlosser.

slot
God se krag kom juis tot volle werking wanneer ons swak is. Dit is juis dan wat God se krag in ons lewens sigbaar word en dan kan ek teenoor die wêreld getuig watter verskil Jesus in my lewe gemaak het. Dit is God se genade in Jesus Christus wat vir ons die belofte van die ewige lewe gee. Om deel te hê daarin moet ons luister na wat die Heilige Gees vir ons sê: “Hou in geloof vas aan God se genade.” Laat ons daarom vashou wat ons het sodat niemand ons kroon wegvat nie.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking