8 Jul 2012 (RB)
Skriflesing: Jer. 32:26 – 33:26 Teksverse: Jer.
32:30 en Jer. 32:40 en 3:8
Sing
Lofsang: Ps. 89 v 1 & 2 (OAB)
Na
wet: Ps.
103 v 1 & 2 (OAB)
Na
gebed Ps. 119 v 7&19 (OAB)
Slotsang Ps. 32 v 1 & 3 (OAB)
Inleiding
Maak God nog ’n verskil in ons lewe? As Christene
aanbid ons die Skeppergod en ons bely dat Hy almagtig is, dat Hy in Jesus
Christus ons Vader geword het. Ons glo dat dit Hy is wat ’n verskil in die
wêreld kan maak. Tog leef ons dikwels asof Hy nie bestaan nie. Ons doen nie
moeite om met Hom te praat nie en ons is traag om na sy stem te luister. Ons
gaan Sondae kerk toe, maar vergeet van Maandag tot Saterdag feitlik heeltemal
van sy bestaan.
Ons glo nie in die bestaan van afgode nie, maar ons
vertrou ook nie juis op God vir elke oomblik van die dag nie. Die volkome
beheer van ons lewens berus by ons en nie by Hom nie. In ons teksgedeelte hoor
ons dat God volkome beheer oor ons lewe alleen vir Hom opeis. Hierin openbaar
God Homself as die Heilige God wat sonde nie kan verdra nie, maar ook as die
God wat ons geken het nog voordat ons gebore was en wat ons nooit sal verlaat
nie, selfs nie wanneer ons ter wille van ons geloof moet ly nie. Wanneer ons
die realiteit van God in ons lewens ervaar sal ons ook outomaties ons roeping
uitvoer om as kerk van die Here om die heerskappy van God op elke lewensterrein
met ons hele lewe te verkondig.
Historiese agtergrond
Die historiese agtergrond van ons teksgedeelte is
soos volg: Dit is 587 vC die tiende jaar waarin Koning Sedekia regeer en
dieselfde jaar dat die stad ingeneem sou word en die Jode in Ballingskap
weggevoer sou word waar hulle vir 70 jaar sou bly voordat hulle na hul land kon
terugkeer. Die Noordelike ryk of die 10 stammeryk Israel is reeds ongeveer 100
jaar vantevore deur Assirië in ballingskap weggevoer. Op hierdie stadium is die
Babiloniërs besig om Jerusalem te beleer waar hulle stelling rondom die stad
ingeneem het. Die prentjie lyk maar donker vir die Jode. Tog glo hulle en veral
Koning Sedekia dat die Here nie sal toelaat dat die Babiloniërs hulle sal
oorrompel nie. Jeremia was in gevangeskap omdat bly verkondig het dat die
Babiloniërs die stad gaan inneem. Koning Sedekia vra vir Jeremia waarom hy so
negatief is en dan antwoord Jeremia dat daar geen keer is aan wat noodwendig
moet gebeur nie soos ons hoor in Jer. 32:28:
So sê die Here: Ek gee
hierdie stad in die mag van die Galdeërs, in die mag van koning Nebukadnesar
van Babel. Hy sal dit verower.
In hierdie gedeelte hoor ons dat God se Heiligheid
vereis dat sonde gestraf moet word. God is egter nie net regverdig nie, maar Hy
is ook genadig en dit is dan ook die twee aspekte waarby ons in die prediking
gaan stilstaan, naamlik die werklikheid van sonde en God se genade.
Is sonde vir my nog ’n werklikheid?
In Jer. 32:26 tot 35 hoor ons dat die inwoners van
Jerusalem gestraf gaan word oor hulle sonde. Die Jode het gedink hulle kan maar
doen wat hulle wou en sonde doen. Daarom wys die Here hulle baie pertinent op
hulle sonde soos ons hoor in Jer. 32:32:
Die mense van Israel en
Juda het My getart met al die verkeerde dinge wat hulle gedoen het, hulle,
hulle konings, hulle amptenare, hulle priesters, hulle profete, elkeen in Juda,
al die inwoners van Jerusalem.
Is dit nie ook maar die probleem van ons tyd nie?
Met die mond bely ons God, maar ons leef asof Hy nie bestaan nie. Die moderne
mens wil nie weet van sonde nie. Die ongelowige sal baie vinnig vir jou sê dat
jy nie veroordelend moet wees nie wanneer jy van sonde praat. Die gelowige aan
die ander kant wil ook nie eintlik van sonde hoor nie. God is dan ’n God van
liefde. Moenie vir ons van die Ou Testamentiese God preek wat vol oordeel is
nie! Daarmee verloor ons baie gerieflik; net soos die Jode van ouds; die
werklikheid dat God regverdig en heilig is. Hy kan geen sonde verdra nie. Sonde
MOET gestraf word! Die straf vir sonde is die ewige dood weg van God.
Besef ons werklik hoe ernstig sonde is en wat die gevolge daarvan is?
Hiermee saam moet ons net weer mooi verstaan wat
sonde werklik is. In Jer. 32:34 & 35 hoor ons presies wat sonde werklik is:
Hulle het hulle
afskuwelike afgode in die huis gesit waaroor my Naam uitgeroep is en so het
hulle my huis verontreinig. Hulle het hoogtes vir Baäl gebou in die
Ben-Hinnomdal om hulle seuns en dogters vir Molek as offers te laat verbrand.
Ek het hulle dit nie beveel nie; so ’n afskuwelike gedagte om vir Juda te laat
sonde doen, het nie eens by My opgekom nie.
Ons mag dalk nou dink dat ons nie meer afgode
aanbid nie. Ons bring tog nie meer offers aan Baäl nie.
Maar ons moet insien dat afgodery vandag nog net so
aktief is as wat dit in die tyd van die Jode was. Mens dien afgode wanneer jy
iets in die plek van God aanbid of anders gestel wanneer iets in jou lewe
belangriker as God word. Maartin Luther het gesê: “dit waaraan jy bereid is om
die meeste van jou tyd en geld te spandeer is op die uiteinde jou god, al sê jy
ook dat jy ’n ander een aanbid!” In die tyd van die Jode het hulle Baäl, die
vrugbaarheidsgod in die plek van God aanbid. Doen ons dit nie vandag nog met
die permissiwiteit wat so algemeen geword het nie?
Die Jode het hulle kinders vir Molek as offers laat
verbrand. Offer ons nie ook maar ons kinders op wanneer ons hulle maar net laat
begaan nie? In pleks van liefde en aandag oorlaai ons, ons kinders met al wat
wêreldse goed is en leer ons hulle daarmee om die afgod van materialisme en
geld te aanbid. Wanneer ons self daardie afgod aanbid dan stel ons mos die
voorbeeld vir ons kinders. Is dit nie maar so dat kinders doen wat ons doen en
nie doen wat ons sê hulle moet doen nie?
Wanneer ons leef asof God nie bestaan nie is ons
besig met afgodery. Wanneer die eie ek in my lewe so belangrik word dat dit die
enigste ding is waarop ek fokus, dan is dit ook afgodery. Wanneer ek eksklusief
op myself en my behoeftes en wat van my verlang word fokus. Wanneer ek my
verkeerde gedrag en optrede regverdig met “ag dit is nou maar eenmaal hoe ek is
en mense moet my maar so aanvaar.” As ek in weerwil van God se opdrag weier om
my broeder of suster te vergewe soos Hy byvoorbeeld in Kol. 3:13 vir ons sê:
Wees geduldig met mekaar
en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle
vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
’n Baie goeie toets om te bepaal of ek die afgod
van die eie ek aanbid is: “het ek nou enigsins gedink hoe my broeders of
susters gesondig het na aanleiding van die voorbeelde wat nou genoem is?
Hoogmoed, waar ons maklik die sonde by ander raaksien terwyl ons dit nie by
onsself raaksien nie, is sonde! Hoe dikwels is ons nie ook maar self skuldig
aan die sondes wat ons so maklik by ander raaksien nie?
Genadiglik is God nie net regverdig nie, maar Hy is
ook genadig!
Hoe groot is God se genade?
In Jer. 32:40 hoor ons:
Ek sal nooit ophou om
aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en
nie van My af weg te draai nie.
In Jer. 33:8 hoor ons:
Ek sal hulle reinig van
al die sondes waarmee hulle teen My oortree het en al hulle sondes vergewe
waarmee hulle teen My oortree het, en in opstand gekom het.
Deur die Heilige Gees verander God ons op grond van
sy groot genade. Ons vergeet dit so maklik en die hoogmoed van die eie ek kry
so maklik weer die oorhand in ons lewens. Wanneer ons uit God se genade begin
leef dan trap ons so maklik in die strik van hoogmoed waar ons begin trots word
op die goeie werke wat ons wel doen. Dan begin ons so maklik dink dat God ons
iets skuld terwyl ons so maklik vergeet dat ons beste werke nog steeds so vol
sonde is dat dit nie vir ’n oomblik voor God se heiligheid kan bestaan nie. ’n
Christin kan en mag nie roem oor die goeie wat hy doen nie. Hy kan enkel en
alleen maar net dankbaar wees oor God se genade wat in sy lewe werksaam is.
Dit is alleen op grond van God se genade wat Hy in
Christus vir ons gedoen het dat ons enigsins vanuit sy genade begin leef. In
Jer. 33:15 hoor ons:
In daardie dae, in
daardie tyd, sal Ek vir Dawid ’n wettige afstammeling gebore laat word en hy
sal in die land reg laat geskied en reg doen.
In die geslagsregister waaruit Christus gebore word
soos ons hoor in Mat 1:1-17 sien ons dat hierdie belofte in Christus vervul is.
Christus is die ewige Koning wat uit die geslag van Dawid gebore is. Hy is die
Koning wat die gevolge van ons sondes op Hom geneem het sodat ons vlekkeloos
voor God kan staan. Christus het ons sondes op Hom geneem en sy heiligheid en
geregtigheid vir ons gegee sodat ons kan lewe. Daarom moet God die middelpunt
van ons lewens wees. Christus se evangelie, dit wil sê die goeie nuus dat Hy my
sondes op Hom geneem en vir my lewe gegee het, is nie die eerste stap in ons
nuwe lewe saam met God nie. Die evangelie van Jesus Christus is die spilpunt
waarom my hele lewe draai.
Slot
Geliefdes kom ons sien weer raak watter verskil God
in ons lewens maak. Neem God ernstig op wanneer Hy in Jer. 33:33 sê:
Roep My aan, Ek sal jou
antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet
nie.
Ons is geroepe om die heerskappy van God op elke
lewensterrein met ons hele lewe te verkondig. Kom ons leef elke dag uit die
geskenk van God se groot genade wat Jesus Christus vir ons deur sy kruisdood en
opstanding gebring het. Kom ons gryp dit vas met die geloof wat God, die
Heilige Gees aan ons gegee het. Kom ons leef asof Christus gister gesterf het
en vandag uit die graf opgestaan het en more weer kom op die wolke soos Hy
beloof het.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking