22 Augustus 2012

Dit is net God wat sin en betekenis aan ons lewens gee


19 Aug. 2012 (RB)
Pred. 2:17-26; Teksvers Pred. 2:22
Sing   Lofsang: Ps. 48 v 1 & 5       (OAB)
           Na wet:    Ps. 48 v 4             (OAB)
           Na gebed Ps. 119 v 1 & 2   (OAB)
           Slotsang  Ps. 18 v 12 & 14  (OAB)

Het my bestaan in hierdie wêreld enige sin en betekenis? Dit is een van die belangrike vrae wat elke mens homself op een of ander tyd afvra. Hoekom is ek hier? Wat is my doel? Sou dit enige verskil gemaak het as ek nie hier was nie?

Dit is die vraag waarmee die Prediker homself besig hou in ons teks vanoggend:
Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?
Prediker is een van die boeke wat saam met Job en Spreuke as wysheidsliteratuur bekend staan. Hierin vind ons twee kategorieë, naamlik wysheid met die doel om onderrig te gee oor hoe mens moet lewe soos wat ons in Spreuke vind. Die ander kategorie is nadenkende wysheid waar die skrywers daarvan poog om die sin en doel van die lewe te bepaal soos wat ons in Job en Prediker vind.

As mens so deur die boek prediker lees, lyk dit dat die boek vir ons tyd geskryf is want daarin word die kwessies van ons tyd aangespreek. Sake soos die onvoorspelbaarheid van die lewe, die onsekerheid, onreg en wanhoop word bespreek. Die antwoord wat ons in Prediker hierop vind is skokkend. Telkemale hoor ons die refrein “dit kom tot niks. Dit is ’n gejaag na wind.” Nadat die skrywer homself bekendstel as die seun van Dawid en koning in Jerusalem in Pred.1:1 is sy volgende woorde:
Alles kom tot niks , sê die Prediker, tot niks.
soos ons hoor in Pred. 2:2. Hierdie woorde word dan telkemale weer herhaal as ’n slotsom van dit wat bespreek word.

Inderdaad word Prediker deur baie mense beskou as ’n pessimistiese depressiewe boek omdat dit die lewe as nutteloos, vrugteloos en sonder welslae beskryf. Dit bring ons by die ongemaklike vraag: “Het my bestaan in hierdie wêreld enige sin en betekenis?” Of anders gestel, “waarin soek ek na sin en betekenis vir my lewe?” Soek ek daarna deur rykdom na te jaag? Dit is belangrik dat ek daardie duur sportmotor besit, want dit wys darem vir die wêreld dat ek al iets bereik het! Ek glo die leuen van die satan dat as ek tog net ’n miljoenêr kan wees, dan sal ek gelukkig wees. Soek ek daarna in dit wat ek in die lewe kan bereik? Die mense moet sien wie en wat ek is. My posisie in die lewe gee vir my sin en betekenis. Soek ek dit in die najaag van fisiese plesier soos byvoorbeeld kos, opwinding, avontuur? Of soek ek daarna deur kennis na te jaag?

As ek by status of rykdom of plesier of geleerdheid sin en betekenis in die lewe soek, vind ek dat dit doelloos en leeg is soos die Prediker ook vir ons bevestig in Pred. 2:21:
’n Mens wat met wysheid en kennis gewerk en sukses behaal het, laat sy besittings na aan een wat glad nie daarvoor gewerk het nie. Dit is nie reg nie.
Ook dit kom dus tot niks.
As ons maar net na die lewens van die mense om ons kyk, sien ons die waarheid daarvan raak. Hoeveel mense wat skynbaar alles in die lewe het is sielsongelukkig! Besittings of rykdom of status kan mens nie gelukkig maak nie.

En dan kom ons maar weereens by die vraag:
Wat het die mens nou eintlik aan alles waarmee hy hom met soveel sorg en ywer in hierdie wêreld besig hou?
Beteken dit dat mens nie moet hard werk om vorentoe in die lewe te kom nie? Mag ons nie die goeie in die lewe geniet nie? Mag ons nie ’n feesgeleentheid hou soos gisteraand se biltongete nie? Is dit wat ons in die lewe bereik inherent boos?

Glad nie geliefdes. Diegene wat deel is van God se uitverkore kinders, ervaar die lewe as ’n gawe van God en daarom kan die lewe ten volle geleef word soos ons dan ook hoor in Pred. 2:24-25:
Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?
Prediker is inderdaad ’n boek wat hoop bied en daarom moet mens nie net teen die negatiewe daarin vaskyk nie. Om die lewe ten volle te leef en geniet beteken nie dat ons nou maar net leef om ons eie selfsugtige begeertes te bevredig nie. Dit is veel eerder ’n erkenning dat alles wat ons in die lewe het, ’n gawe uit die hand van God is.

Prediker is ’n boek van hoop, want daarin leer die Here ons dat alhoewel die mens baie dinge kan bereik en baie rykdom en kennis kan vergader, dit sinloos en leeg is sonder God. Dit kom tot niks en dit is ’n gejaag na wind. In prediker leer die Here ons dat die lewe slegs sin en betekenis het wanneer ons dit buite onsself soek deur in die regte verhouding met God te leef soos ons hoor in Pred. 2:26:
Vir die mens met wie se lewe God tevrede is, gee Hy wysheid, kennis en blydskap.

Die Here leer ons ook dat daar net een manier is hoe ons in die regte verhouding tot Hom kan leef. Ons kan dit slegs doen deur sy genade in Jesus Christus soos ons hoor in 1 Pet. 1:3-4:
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Deur God se genade in Jesus Christus kan ons as sy uitverkorenes die diepere sin en betekenis in die lewe ervaar juis ook in daardie dinge wat die Prediker so depressief gemaak het. Jesus Christus gee sin en betekenis aan die lewe en Hy wys vir ons dat dit wat die Prediker so baie gevrees het, naamlik dat alles met die dood tot ’n einde kom, nie waar is nie. Die dood is in Jesus Christus nie die einde nie, maar juis ’n heerlike deurgang tot God.

Hoe deel ek in hierdie wonderlike hoop? Ek deel daarin wanneer ek in geloof wat die Heilige Gees vir my gee vasgryp aan die genade van God dat Jesus Christus vir my sondes aan die kruis gesterf het en dat Hy aan my die nuwe lewe geskenk het deur die sy opstanding uit die dood. Geliefdes, kom ons deel in hierdie hoop. Glo, glo in Jesus Christus, want dit is net God wat sin en betekenis aan ons lewens gee.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking