26 Aug. 2012 Nagmaal (RB)
Mar 14:26-31 :
Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Teksvers Mar 14:29
Luk. 22:54-62: Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my
sonde en ellende.
Teksvers Luk.
22:62
Joh. 21:15-19
Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Teksvers Joh. 21:19
Sing
Lofsang: Ps. 8 v 1 & 4 (OAB)
Na
wet: Ps.
91 v 1 & 3 (OAB)
Na
gebed Ps. 86 v 1 & 3 (OAB)
Tydens
Nagmaal Ps. 23 v 3 & Ps. 116 (OAB)
Slotsang Ps. 18 v 1 & 2 (OAB)
Inleiding
Die verhaal van Petrus is
kenmerkend van ons lewens saam met ons Here. Dit is ’n verhaal van bittere
teleurstelling. ’n Verhaal van hartseer. ’n Verhaal van vergifnis. ’n Verhaal
van ’n nuwe lewe saam met ons Here.
Voordat hy Jesus ontmoet
het was Petrus ’n eenvoudige visserman sonder enige geleerdheid. Sy ontmoeting
met Jesus verander sy hele lewe. Hy het ’n nuwe mens met nuwe doelwitte en
prioriteite geword. Hy het egter nie ’n volmaakte mens geword nie, maar het nog
altyd Simon Petrus gebly. Simon die seun van Johannes, Simon die voortvarende
een. Simon die een wat eers gedoen en dan gedink het. Simon die een wat Jesus
bitter teleurgestel het in sy uur van nood en benoudheid.
Wanneer ons na die lewe
van Petrus kyk dan sien ons, ons eie lewens saam met die Here raak. Alhoewel
ons ontmoeting met die Here ’n nuwe mens van ons gemaak het, bly ons nog steeds
wie ons is. Die Here verander nie ons persoonlikheid en menswees nie. Hy
gebruik dit in sy diens. Ons het nie nou skielik volmaakte mense geword na ons
ontmoeting met die Here nie. Wat wel verander is dat ons nou nuwe doelwitte en
prioriteite in ons lewens het.
In ons voorgelese
gedeeltes hoor ons dat daar drie fases in Petrus se lewe saam met Christus was.
Die eerste fase was die tyd van sy voortvarendheid. Kom ons noem dit die fase
van voortvarende oppervlakkige Christenwees. Die tweede fase is Petrus se
verraad & berou. Kom ons noem dit die dieptepunt van my sonde en ellende.
Die derde fase is waar Petrus vergifnis ontvang. Kom ons noem dit God se genade
in ons lewens.
Petrus se voortvarendheid
– Voortvarende oppervlakkige Christene
Nadat Jesus sy dissipels
van sy dood en opstanding vertel hoor ons in Mar 14:29 hoe Petrus ewe
selfvoldaan verklaar:
“Al sal
hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”
Kenmerkend van Christene
wat in hierdie fase is, is ’n selfvoldane trotsheid. Dis tipies daai houding
van die Fariseër wat saam met die tollenaar gebid het soos ons hoor in Luk
18:11 & 12:
O God,
ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en
ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n
tiende van my hele inkomste.’
Dis die Christene wat baie
maklik hulle mede broers en susters veroordeel omdat hulle manier van
aanbidding nie volgens hulle oordeel korrek is nie. Hoe maklik beland ons self
nie ook daar nie? My lewe is reg, kyk maar self hoe goeie lewe ek ly! As die
ander in die gemeente maar net soos ek kon wees soos Petrus verklaar, “al sal
hulle ook, ek sal nie!” ’n Christen met so ’n houding en gesindheid is nie baie
bruikbaar in God se koninkryk nie en doen selfs die koninkryk skade aan deur
mense af te sit met hulle arrogansie en selfvoldaanheid. Die Here waarsku ons
ook inderdaad daarteen soos ons hoor in 1 Kor. 10:12:
Daarom,
wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
Dit is inderdaad wat ook
met Petrus gebeur het soos ons in die volgende deel van sy verhaal hoor.
Petrus se verraad &
berou – Die dieptepunt van my sonde en ellende
Kan u, uself indink hoe
Petrus gevoel het toe hy opkyk en hy kyk in die hartseer oë van Jesus vas? Ons
hoor so ietsie daarvan in Luk 22:62:
En
Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
Dit was nie maar net ’n
oppervlakkige berou nie. Dit wat ons so maklik doen wanneer ons met ons sonde
gekonfronteer word: ja ek het dit of dat gedoen, maar ...... en dan voer ons
allerlei verskonings aan om ons sondige gedrag te regverdig. Hierdie
oppervlakkige berou is nog steeds deel van die voortvarende oppervlakkige
Christen! Petrus het ’n diepe berou gehad waar hy in absolute wanhoop besef het
wat sy sonde aan die Here gedoen het.
Geliefdes, het u al
opgekyk en die pyn en hartseer in Jesus se oë raakgesien? Besef ek werklik die
erns van my sonde wat ek daagliks teenoor die Here begaan? Is ek al op daardie
punt dat ek vra: “hoekom doen die Here nog moeite met my?” Geliefdes, voordat
ek nie die dieptepunt van my sonde ellende ervaar nie sal ek nooit werklik die
diepere betekenis van geloofsversterking van die Nagmaal ervaar nie. Daarom sê
die Here ook vir ons in 1 Kor. 11:28:
Maar
elkeen moet eers homself ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker
drink
Om werklik die troos van
die Nagmaal te ervaar moet ons vooraf eers nadink oor ons sonde en vervloeking
sodat ons, ons met ’n diepe berou daaroor voor God kan verootmoedig. Het ek al
soos Petrus buitentoe gegaan en bitterlik gehuil oor my sonde en ellende?
Wanneer ek op daardie punt kom is ek reg vir die genesende salf van God se
genade. Dit bring ons by die derde deel van Petrus se verhaal:
Petrus ontvang vergifnis -
God se genade
Petrus het Jesus langs ’n
vuur verloën en nou langs ’n vuur ervaar Petrus die helende salf van God se
genade. Drie maal vra die Here vir Petrus of hy Hom liefhet en driemaal
antwoord Petrus positief. Wanneer Jesus vir Petrus vra of hy Hom liefhet, vra
Hy vir Petrus of hy lojaal teenoor Jesus is en of hy bereid is om homself op te
offer. Die derde maal antwoord Petrus deur middel van totale onderwerping
wanneer hy erken dat Jesus alles weet. Petrus het Jesus regtig lief, hoe skeef
en krom sy optrede ook al is. Hy ken Jesus en het Hom werklik lief, al is sy
menslike pogings vol gebreke.
Met die Nagmaal vra ons
Here ook aan elkeen van ons: “het jy my waarlik lief?” Met die Nagmaal word God
se genade en sy vergifnis opnuut weer aan ons bevestig. Die wonder van God se
genade is dat Hy nie verwag dat ons volmaak moet wees voordat ons in sy diens
kan staan nie. Al is ons menslike pogings ook krom en skeef, het Hy ons
onvoorwaardelik lief. Daarom moet ons nie by die dieptepunt van ons sonde en
ellende in wanhoop bly vassteek nie. Dit moet ons bring na die wonder van God
se genade sodat ons daarin sy liefde vir ons kan ervaar.
Dan is dit moontlik dat
ons ook die opdrag van die Here wat Hy aan Petrus gee, kan nakom: “Volg My!”
Dan kan ons ook hier van die Nagmaaltafel opstaan en versterk in ons geloof
werklik dissipels van Jesus wees. Dan kan ons navolgers van Jesus wees en so
ook bruikbaar in sy Koninkryk waar ons die evangelie uitdra sonder dat dit vir
ons moeite is.
Geliefdes kom ons gaan sit
nou aan by die tafel van die Here om daar in ons geloof versterk te word want
by die Here is daar weer ’n geleentheid om weer te begin!
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking