09 September 2012

Die heiligheid van die wet bring my by God se genade in Jesus Christus


9 Sep. 2012 (RB)
Rom. 7:7-25; Teksverse Rom. 7:12, 24 & 25
Sing    Lofsang:    Ps. 119 v 1 & 2       (OAB)
            Na wet:      Ps. 119 v 7 & 19     (OAB)
            Na gebed  Ps. 119 v 52 & 53   (OAB)
            Slotsang    Ps. 119 v 39 & 63   (OAB)
Inleiding
Is dit vir u moeite om eredienste by te woon? Vind u vreugde in ons Christelike godsdiens? Ervaar u die vrede wat God beloof? Hierdie vrae is vrae wat elkeen eerlik vir hom of haarself moet beantwoord. Hoekom ervaar ons soms dat ons godsdiens moeitevol en vreugdeloos is? Een van die aspekte van ons geloof wat ons dikwels verwar, is dat ons nie weet wat die werklike betekenis en doel van die wet is en hoe God se genade daarby inskakel nie.

Dit is belangrik dat ons as Christene moet weet en verstaan wat ons glo. Een van die aspekte van ons geloof wat ons dikwels verwar, is wat die werklike betekenis en doel van die wet is en hoe God se genade daarby inskakel. As ons nie werklik verstaan wat die onderskeid tussen die wet en God se genade is nie, raak ons vasgevang in ’n wettiese moralistiese godsdiens wat daartoe lei dat ons aanbidding nie meer ’n vreugde is nie, maar dat dit net ’n pligpleging is wat ek nakom omdat ek moet.

Om werklik by God se genade uit te kom en te verstaan wat die evangelie vir ons beteken, is dit nodig dat ons die verkeerde verstaan van God se wet uit die weg ruim. Die wet in hierdie sin is wyer as net die tien gebooie. Dit beteken al God se voorskrifte wat ons in die Bybel vind. Daar is ’n paar maniere waarop die verhouding tussen God se wet en sy genade verkeerd verstaan word. 

In die eerste plek word God se wet afgewater of selfs geïgnoreer. Die uiterste vorm is om God self saam met sy heilige wet te verwerp. Dis egter nie almal wat God verwerp nie, maar wat wel gebeur is dat die wet heeltemal eenkant toe geskuif word. God se genade word uitgelig ten koste van die wet. Hiermee word ’n tipe bandeloosheid verkondig. Ek kan maar leef soos ek wil, want God vergewe my mos! Of die voorskrifte van God word afgewater tot op so mate dat dit wat verkeerd is goedgepraat word. En so word dit wat God uitdruklik as verkeerd uitwys goedgepraat. Ons lewe mos nou in ’n moderne tyd en daarom kan ons mos maar saambly. Dit maak nie saak as ek ’n paar drankies te veel drink of selfs dat ek myself heeltemal vergryp aan drank nie. Onkuise gedrag is nou aanvaarbaar en seks buite die huwelik is nou reg. So is daar nog baie voorbeelde waar dit wat verkeerd is nou goed en aanvaarbaar geword het. God is mos ’n God van liefde en daarom word sy oordeel oor die sonde geïgnoreer.

Aan die ander kant word God se wet oorbeklemtoon en dan word God se genade eenkant toe geskuif. Dan word godsdiens ’n baie lang lys van moets en moenies. In die praktyk kom dit daarop neer dat ek met ’n goeie lewe vir God moet bewys dat ek goed genoeg is vir Hom. Ek moet eers my kant bring voordat ek God se genade kan ontvang. Dit bring mee dat ek veroordelend is teenoor almal wat na my mening nie heilig genoeg is nie.

Ek verwag perfektheid by ander, maar ek sien nie my eie liefdeloosheid raak nie. Ek sien net sonde by ander raak, maar nie by myself nie. Ek is liggeraak en neem vir die kleinste dingetjie aanstoot. As ek eers aanstoot geneem het vergewe ek ook nie maklik nie. Ek krap gereeld ou koeie uit die sloot uit. Op die uiteinde gaan dit net oor my en hoe sleg mense my behandel, terwyl ek nie eens raaksien dat ek hiermee net so liefdeloos is as wat ek die ander oor beskuldig.

In ons teks wys die Here vir ons dat die onderbeklemtoning of oorbeklemtoning van die wet verkeerd is deur vir ons aan te toon wat die werklike doel en betekenis van die wet is. In Rom. 7:1-7 het Paulus aangedui dat ons redding alleen op genade berus en dat mens nie deur wetsonderhouding gered kan word nie. Dit kon die persepsie skep dat die wet sonde is en daarom boos is. Daarom word daar in Rom. 7:7-25 uitgewys wat die doel van die wet is en hoe dit by die genade inskakel. Hier word aangetoon dat God se redding uit genade nie beteken dat die wet onderbeklemtoon word nie.

Vandag nog kan die onderbeklemtoning van die wet daartoe lei dat die wet as boos en sleg beskou word. In Rom. 7:7 sê die Here baie duidelik dat die wet nie sonde is nie. Met ander woorde die wet is nie boos nie en kan daarom nie ignoreer word nie. Dan word die doel van die wet duidelik uitgespel:
Inteendeel, ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. Ek sou byvoorbeeld nie geweet het dat dit sonde is om te begeer nie as die wet nie gesê het: “Jy mag nie begeer nie.”
Omdat die wet sonde uitwys beteken nie dat die wet boos of verkeerd is nie. Met ander woorde dit beteken nie dat ons nou maar die wet kan ignoreer nie.

Wanneer mens in ’n spieël kyk en jy sien dat daar ’n vuil kol op jou gesig is, kan mens die spieël die skuld gee vir die vuil kol op jou gesig nie. Die wet is spieël wat vir ons, ons sonde wys. Die wet is nie boos of verkeerd nie, inteendeel God se wet is heilig soos Hy vir ons Rom. 7:12 sê:
Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed
Ons kan nie maar God se wet afwater nie. Ons kan nie maar kompromieë aangaan ten opsigte van God se wet nie. God se wet wys vir ons op God se oordeel van sonde.

Beide benaderings waar die wet onderskat word en waar dit oorskat word kom nie by die werklike bedoeling van God se wet uit nie. Om die wet te onderskat beteken dat die wet nie ernstig opgeneem word nie en daarom word die erns van sonde nie raakgesien nie. Dit lei daartoe dat sonde goedgepraat word en op die uiteinde bring dit mens op daardie punt dat Jesus se Verlossing nie meer ’n werklikheid in my lewe is nie.

Om die wet te oorskat aan die anderkant bring mens by die siening uit dat ek eintlik ’n goeie lewe lei. Ek is nie eintlik so sondig nie. Ek sien maklik my medemens se sondes raak en ek veroorloof myself om regter oor hulle te speel. Ek veroordeel maklik iemand met die gedagte of woorde, “jy gaan in die hel brand!” En so kom ons ook nie by die doel van die wet uit nie.

In ons teks wys die Here vir ons deur middel van Paulus se persoonlike worsteling op die ware doel van die wet. Wanneer ons eerlik in die spieël van die wet kyk dan moet ons ook soos Paulus bely in Rom. 7:18-23:
Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.
So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.
God se wet is heilig. Dit vereis perfektheid. Die doel van God se wet is om ons sonde vir ons te wys soos ’n spieël die vuil kol op jou gesig vir jou wys. Dit is nie die spieël se skuld dat jou gesig vuil is nie, maar die spieël kan ook nie die vuil kol afwas nie. Die wet wys vir ons dat ons sondig is. Die wet is nie daarom boos nie, maar die wet kan ook nie sonde wegneem nie. Inteendeel die wet wys vir ons dat die oordeel van God op ons rus vanweë ons sonde soos ons ook hoor in Rom. 3:10:
“Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie

Wanneer ons so eerlik in die spieël van God se wet kyk kom ons saam met Paulus tot die besef:
Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?
Geliefdes, het u al op die punt gekom dat u in wanhoop uitroep “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” Voordat ons nie by hierdie punt kom nie, sal ons nie werklik verstaan wat God se genade vir ons beteken nie.

Dit is eers wanneer die Heilige Gees ons by daardie punt van verlorendheid bring dat ons werklik saam met Paulus kan getuig:
Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
Dan kan ons ook met sekerheid weet dat ons kinders van God is soos ons hoor in Rom. 8:16:
Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.
Dit is dan wanneer ons uit die Gees begin lewe en dat ons as kinders van God lewe omdat die Heilige Gees nou in beheer is van ons lewens.

Geliefdes ons kan vreugde in ons diens aan God beleef. My Christenskap kan ’n vreugde wees in my lewe wanneer ons werklik besef wat die doel van die wet is en dat God se wet absoluut heilig is. Dan sal ons nie die wet onderbeklemtoon nie en sodoende in sonde vasgevang bly nie. Ons sal ook nie wet oorbeklemtoon deur te dink dat ons deur middel van wetsonderhouding vir God kan wys dat ons goed genoeg is nie.

Die wet is die spieël wat ons sonde vir ons wys en daarom dwing dit ons na God se genade in Jesus Christus. Dan kan ons in die Gees werklik die lewe saam met God begin leef wat Hy vir ons beplan het want die heiligheid van die wet bring my by God se genade in Jesus Christus.                                           
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking