16 September 2012

Ons swaarkry in hierdie lewe is net tydelik in vergelyking met die ewige heerlikheid wat op ons wag.


16 Sep. 2012 (RB)
2 Kor. 4:7 – 5:10; Teksvers 2 Kor. 4:17
Sing    Lofsang:  Ps. 107 v 1 & 2      (OAB)
           Na wet:     Sb. 9-2 v 1 & 9       (Sb 26 in swart Psalmboek)
           Na gebed Ps. 130 v 1 & 4      (OAB)
           Slotsang   Ps. 86 v 1 & 3        (OAB)

Die tragiese gebeure die afgelope week waar nog ’n plaasmoord plaasgevind het bring opnuut weer die harde werklikheid van lyding na vore. Hoekom moet ons so swaarkry? Wanneer gaan dit eendag eindig? Hierdie is moeilike vrae in die lewe waarop ons in die meeste gevalle nie antwoorde kry nie. Dit is maklik om hieroor te debatteer wanneer ons na die klein probleempies in die lewe kyk soos my kar wat alweer gebreek het of die 101 ander dinge wat die lewe elke dag so ’n bietjie moeiliker maak.

Wanneer ons egter met die harde werklikheid van die gebrokenheid van hierdie lewe kennis maak soos die afgelope week se moord waar self geharde polisiemanne geskok was oor die wreedaardigheid daarvan, dan val ons vinnige maklike antwoorde op die vraag ten opsigte van lyding plat. Wanneer ons eie menslike wysheid ons in die steek laat besef ons maar net opnuut weer dat ons by God antwoorde moet soek. Dit is net die Here wat ons kan sterk maak om vas te staan wanneer die lewe sy lelikste kant vir ons wys soos Christene dwarsoor die eeue gevind het. In die aangesig van die dood besef mens dat jy net by God ware antwoorde kan kry.

In ons teks vind ons ’n verrassende antwoord wat eintlik teenstrydig is met ons menslike wysheid. Hier leer die Here ons hoe om sterk te staan sodat lyding ons nie platslaan en verpletter nie. Dit klink amper ongelooflik wanneer die Here vir ons se in 2 Kor. 4:17:
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

Dit is moeilik om werklik perspektief te hê wanneer jy binne in die storm is. Wanneer die koeëls hier om jou kop vlieg, is dit moeilik om die groter prentjie te sien. Ons sien net die onmiddellike prentjie hier voor ons en dis moeilik om die groter perspektief rondom dit raak te sien. Dit is binne hierdie omstandighede wat die Here ons troos met die woorde:
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby

In 2 Kor. 4:7 sê die Here vir ons hoe ons moet staande bly wanneer dit vir jou voel of die wêreld rondom jou intuimel:
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
In die Bybelse tyd het hulle kleipotte gebruik om kosbaarhede in te bere. Dink maar aan die Qumran boekrolle waar daar vir 2 000 jaar boekrolle van die Bybel in kleipotte behoue gebly het. Met hierdie beeld van kleipotte sê die Here vir ons dat ons opsigself broos en swak is.

Uit ons eie krag kan ons nie staande bly nie. As ons in eie krag probeer vasstaan teen die aanslae van die lewe dan is ons soos kleipotte wat maklik breek. Die skat wat ons in ons het is ons verlossing in Jesus Christus wat van ons Koningskinders maak. God gee vir ons die krag om staande te bly soos ons ook hoor in Rom. 8:38-39 hoor:
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

God se liefde in Jesus Christus hou ons staande teen die aanslae van die lewe. Mense kan en sal ons in die steek laat, maar God sal ons nooit in die steek laat nie. Daarom kan ons ook met vertroue getuig:
In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie. Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam. Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word.

God hou ons staande en Hy troos ons met die wete dat “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby.” Saam met hierdie troos gee die Here vir ons ook die perspektief dat daar ’n groter prentjie is as dit wat ons hier en nou sien en beleef. As mens ’n legkaart bou en jy het nie die prent op die boks nie is dit baie moeilik om te bepaal presies waar die verskillende legkaart stukke moet inpas. Hoe groter die legkaart, hoe moeiliker word dit. God gee egter vir ons die perspektief deur vir ons ’n gedeelte van die groter prent te wys.
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

Om die ewige heerlikheid te verduidelik gebruik Hy die beeld van ’n tydelike tentwoning teenoor ’n permanente vaste gebou. Wanneer mens vir ’n paar dae in ’n tent gaan kamp dan is dit nie so erg om sonder die geriewe van ’n permanente woning klaar te kom nie. Dit is die perspektief God vir ons gee ten opsigte van ons lewe op aarde. Die lewe hier op aarde is maar net tydelik terwyl ons op is na ons ewige heerlikheid saam met God.

As jy skielik deur ’n reënstorm oorval word terwyl jy kamp en alles reën sopnat, dan voel dit vir jou of daardie situasie baie erg is. Op daardie stadium is dit vir jou baie sleg en ongemaklik, maar as jy dit in perspektief stel dat dit maar net een nag is wat jy koud en nat moet slaap en dat jy op pad is na ’n stewige huis met al die geriewe waar mens nie natreën nie, dan skep mens weer nuwe moed. Terwyl jy daar is doen jy dan wat jy kan om die ongemak te verlig, want jy weet dit is net tydelik.

So is dit ook met die lewe. Soms is die lewe moeilik en dit voel of die storms van die lewe ons gaan platslaan. Dan voel dit vir ons of ons heeltemal platgedruk gaan word en dat ons radeloos is wanneer ons op die grond neergegooi word. Dan voel dit of ons heeltemal vernietig gaan word. Genadiglik los die Here ons nooit alleen nie en gee Hy vir ons die vertroue en ondersteuning wat ons nodig het om staande te bly soos ons hoor in 2 Kor. 5:5:
Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee.

Die Heilige Gees verseker ons dat God ons nooit alleen laat terwyl ons op pad is na die ewige heerlikheid nie en Hy gee ook vir ons die geloof om met vertroue daaraan vas te hou soos ons hoor in 2 Kor. 5:6-7:
Daarom is ons altyd vol moed. Ons weet dat, solank as ons in die liggaam bly, ons nog nie by die Here woon nie, want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.

Elkeen wat glo in Jesus Christus se verlossingsgenade aan die kruis kan met sekerheid weet dat niks ons van sy liefde kan skei nie. Selfs nie eens die dood nie soos die Here ons dan ook in Luk 12:4 verseker:
Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak en daarna niks verder kan doen nie.
en ook in Rom. 14:8 bevestig:
As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.

Die Here het volgens sy wysheid bepaal hoe lank elkeen van ons in hierdie tydelike tentwoning op aarde gaan bly voordat Hy ons wegneem na sy ewige heerlikheid toe. Ons weet nie hoe lank nie, maar “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie maar deur God, en dit bly ewig staan.”
Soos die Here vir ons sê in 2 Kor. 5:1.

Soms word die tent van ons aardse woning op ’n geweldadige wyse afgebreek soos wat die geval was met die Fouries die afgelope week en dit is vir ons wat agterbly skokkend. In dit word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie. Is ons oor raad verleë, maar ons is nie radeloos nie. Word ons op die grond neergegooi, maar ons word nie vernietig nie omdat die krag wat alles oortref van God af kom en nie van ons nie.

Ons teksvers in 2 Kor. 4:17 vat hierdie troosboodskap van ons Here baie mooi saam:
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.
Kom ons vind ons troos daarin dat ons swaarkry in hierdie lewe net tydelik is in vergelyking met die ewige heerlikheid wat op ons wag.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking