23 September 2012

Gee al jou hartseer en pyn aan die Here, want God is ons toevlug en ons sterkte


23 Sep. 2012 (RB)
Ps. 73; Teksverse Ps. 73:26 & 28
Sing    Lofsang:  Ps. 1 v 1 & 3          (OAB)
           Na wet:     Ps. 42 v 1 & 3        (OAB)
           Na gebed Ps. 31 v 1 & 4        (OAB)
           Slotsang   Ps. 146 v 2 & 3      (OAB)

Inleiding
Misdaad affekteer elkeen van ons op een of ander wyse. Op hierdie stadium het Suid-Afrika een van die hoogste moordsyfers in die wêreld per 100 000 mense van die bevolking. Elkeen word op een of ander wyse direk of indirek daardeur geraak. Dink maar net aan die effek wat die plaasmoord naby Trompsburg op ons en op die gemeenskap van Trompsburg gehad het. Dan hoor ons ook nuusberigte van hoeveel ander soortgelyke voorvalle wat die afgelope tyd plaasgevind het. Byna daagliks is daar berigte in die nuus van moorde en geweldsmisdade wat plaasgevind het.

Dit is ook iets wat die Psalmdigter van Psalm 73 ervaar het. In die eerste deel van die Psalm hoor ons van sy moedeloosheid wat hy ervaar omdat gelowiges swaarkry terwyl die goddeloses oënskynlik net voorspoed beleef. Die Psalmdigter verwoord die gevoel wat baie van ons beleef met die misdaad wat so hoogty vier in die land. In hierdie Psalm is daar twee opvallende temas wat ons vandag ook ervaar. Die voorspoed van bose mense en die effek wat dit op ons het. Die tweede tema in die Psalm is hoe ons die emosies hanteer wat uit die situasie voortkom.

Die voorspoed van bose mense en die effek wat dit op ons het.
In Ps. 73:1-3 hoor ons hoe die Psalmdigter begin twyfel het aan God se goedheid en dat hy byna van koers af gegaan het omdat hy die hooghartige goddeloses met afguns bejeën het toe hy hul voorspoed sien. Die Hebreeuse woord wat met afguns vertaal is dui letterlik op ’n gevoel van kwaadwilligheid en woede teenoor die goddeloses. Hy het kwaad geword oor dit wat hulle gedoen het.

Ek moet erken dat ek ook ’n gevoel van woede en kwaadwilligheid ervaar het teenoor die drie verdagtes wat vir daardie plaasmoord naby Trompsburg in hegtenis geneem is. Toe ek later in die week lees dat die vyf verdagtes wat vir die moord op Alyssa Botha van Muldersdrif in hegtenis geneem is, weer vrygelaat is, was ek regtig kwaad! Die reaksie van Trompsburg se gemeenskap tydens Donderdag (20 Sep 2012) se hofverskyning waar hulle gedreig het om die drie verdagtes dood te maak wys vir ons dat woede en aggressie ’n algemene reaksie is wanneer mense met onreg gekonfronteer word.

Die vraag is: “is dit reg? Mag ons so kwaad word?” Woede is ’n werklikheid van die lewe. Dis ’n emosionele toestand wat deur almal ervaar word. Wat leer die Skrif ons daarvan? Goddelike toorn en menslike woede word herhaaldelik in die Bybel in die Ou en Nuwe Testament genoem. Woede is ’n kenmerk van God en ’n algemene, waarskynlike universele ervaring van die mens.

Die Bybel kritiseer nooit God se woede nie terwyl daar herhaaldelik teen menslike woede gewaarsku word. Woede teen ongeregtigheid is egter reg en goed by God sowel as by die mens. God vertolk altyd reg en word kwaad oor sonde en ongeregtigheid. Teenoor dit begaan die mens oordeelsfoute en reageer soms met wraaksug en vervolgsug. Die gevolg is dat menslike woede skadelik en gevaarlik kan wees! Menslike woede kan die satan ’n geleentheid bied om ’n vastrapplek in jou lewe te kry (Ef. 26:27) wat jou lewensvreugde steel.

Hoewel woede opsigself nie verkeerd is nie, kan woede maklik hand uit ruk en probleme veroorsaak en daarom waarsku die Here ons ook daarteen soos byvoorbeeld in Ps. 37:8:
Moenie kwaad word nie, laat staan die woede, moet jou nie ontstel nie: dit bring net ellende.

In Ps. 73 hoor ons dan ook wat die effek van hierdie ellende is wat uit woede kan voortspruit. In Ps. 73:2b hoor ons:
ek het byna koers verloor
en in vers 13&14 hoor ons:
Dat ek die kwaad vermy het en met ’n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie, want elke nuwe dag het vir my teenslae gebring en elke nuwe môre straf.
Die Psalmdigter het in ’n moedelose depressie verval waar hy begin voel het dat die lewe nie meer die moeite werd is nie. Hy het ’n geestelike stryd gevoer waarin hy byna koers verloor het.

Dit is inderdaad die effek wat woede en wrokke wat bitterheid tot gevolg het op ons lewens kan hê. Woede en bitterheid veroorsaak:
·        Fisiese simptome soos hoofpyne; maagswere; hoë bloeddruk en self hartaanvalle. Depressie veroorsaak dat die liggaam se immuunstelsel onderdruk word met die gevolg dat die persoon meer vatbaar is vir siektes en infeksies;
·        Sielkundig simptome soos angstigheid, vrees, spanning en selfs depressie;
·        gebrek aan eie waarde selfbejammering; wraakgedagtes waarin mens vasklou aan die verlede;
·        geestesstryd wat mens se verhouding met God beïnvloed waarin selfs die Heilige Gees bedroef word;
·        ’n kwaai ingesteldheid en ’n negatiewe vyandige lewenshouding waarin mens net die slegte in die lewe raaksien.
·        Ongelukkige mense met ’n siniese lewenshouding waarin mens skaamteloos ongevoelig, meedoënloos spottend is, sonder geloof in die goeie en die opregtheid van mense. Niks is meer lekker of aangenaam nie. Voel nie lus om iets te doen nie.

Slegte gebeure in die lewe wat ’n direkte of indirekte invloed op ons het wek intense emosies soos woede, haat self bitterheid by mens op en dit kan daartoe lei dat dit ’n baie negatiewe impak op ons lewens het.

Hoe hanteer ons die emosies wat uit die situasie voortkom?
Daar is ’n verkeerde manier en ’n regte manier. Ons kan ook daarna verwys as ’n negatiewe of ’n positiewe manier. In Ps. 73:15 hoor ons dat die Psalmdigter waarsku teen die negatiewe manier:
Maar as ek so sou aanhou praat, sou ek dié verloën wat aan U behoort

Hoe reageer mens negatief? Mens kan deur direkte aggressie reageer en dit is nogal ’n reaksie wat redelik algemeen by mense voorkom. As jy my seer gemaak het moet jy boet. ’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand! Dit verskaf tydelike verligting, maar op die lang duur versterk dit net die negatiewe emosies en word jou lewe naderhand deur jou woedebuie oorheers.

’n Tweede manier is deur middel van passiewe aggressie. Mens gee voor dat alles goed is en jy steek jou ware emosie agter ’n aangeplakte glimlag weg, maar agteraf kry jy jou mes in. Mens sal so op ’n subtiele manier iemand wat jou te na gekom het grappenderwys verkleineer in die geselsskap. Agteraf word skadelike skinderstories versprei om die persoon in ’n slegte lig te stel. Die groot kenmerk hiervan is ontkenning. Die passiewe aggressiewe mens het ’n besondere talent om te doen wat die seerste maak, maar het altyd ’n onskuldige verduideliking om die optrede te regverdig. Selfs teenoor myself word die passiewe aggressie ontken en dit het die gevolg dat mens opkrop en opkrop totdat dit op ’n dag uitbars as gevolg van ’n kleinigheid.

’n Ander manier wat ook baie dikwels voorkom is herleide aggressie. Dit is waar jy jou woede op onskuldige mense uithaal omdat die persoon of persone wat jou kwaad aangedoen het onbereikbaar is. Dit is gewoonlik die mense wat die naaste aan jou is wat dit die meeste ontgeld wanneer mens van hierdie tegniek gebruik maak. Die man kom van die werk af waar sy baas hom kwaad gemaak het en nou moet sy vrou en kinders dit ontgeld. Die kind wat op skool deur sy onderwyser of skoolhoof ontstel is haal sy woede en aggressie op sy maats uit. Dink maar aan die diensleweringsprotesaksies waar onskuldige mense se eiendom beskadig of afgebrand word.

Al hierdie benaderings is op die uiteinde baie afbrekend en dit veroorsaak net dat mens dieper en dieper in die put van wanhoop insink. Mens fokus naderhand net op die negatiewe in die lewe met die gevolg dat die lewe nie meer sin maak nie. Die Here waarsku ons daarteen soos ons hoor in Spr. 4:23:
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.
As jy op die negatiewe fokus in die lewe dan is jou hele lewensbestaan naderhand negatief sodat jy geen lewensvreugde meer ervaar nie. As mens egter op die positiewe fokus, dan help dit jou om die negatiewe dinge in die lewe te hanteer en te verwerk.

Hoe hanteer ons, ons emosies op ’n positiewe manier wanneer ons met die slegte kant van die lewe te doen kry? Aanvaar ons dit nou maar net gelate? Nee, geliefdes. Ons kan en ons mag ontsteld wees wanneer slegte dinge in die lewe gebeur. Dit is egter hoe ons, ons woede en seergemaaktheid hanteer wat die verskil maak. In Ps. 73 leer die Here ons hoe om dit positief te doen soos ons hoor in verse 15 en 16:
Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is.

Erken die woede soos die Psalmdigter gedoen het. Verstaan wat die oorsaak is en kyk op ’n ander manier na die situasie. Hoe kry ek reg om dit te doen? Daar is maar net een manier. Die Psalmdigter het eers ’n ander perspektief begin kry nadat hy by die heiligdom van God ingegaan het. Hoe gaan mens in die heiligdom van God in? In ons teksverse (Ps. 73:26) hoor ons die Psalmdigter se belydenis:
Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd.
En ook in vers 28
Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug!

Daar is net een manier hoe ons die Here as ons toevlug kan kies. Jesus Christus. Luister na sy uitnodiging (Mat 11:28):
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Ons moet besef dat ons ook verlore mense was wat in Jesus Christus vergifnis by God gevind het. Dit is net die Heilige Gees wat hierdie insig teweeg kan bring en ons maak dit ons eie met die geloof wat God die Heilige Gees self vir ons gee. In Jesus Christus help God ons om ons pyn en hartseer aan Hom oor te gee sodat ons by Hom genesing kan vind. God help ons om nie self wraak te neem nie, maar om dit aan Hom oor te laat soos Hy vir ons sê in Rom. 12:19:
Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.

Kom ons lê ons hartseer en pyn voor God neer. Kom ons gaan in by die heiligdom van God. Kom na Jesus toe almal wat oorlaai is en vind die rus wat net Hy vir ons kan gee. Kom ons gee al ons hartseer en pyn aan die Here, want God is ons toevlug en ons sterkte.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking