04 Oktober 2012

Jesus is die enigste ware weg na God en die lewe


30 Sep. 2012 (RB)
Joh. 13:31 – 14:18; Teksverse Joh. 14:16
Sing    Lofsang: Ps. 150 v 1 & 3      (OAB)
           Na wet:    Ps. 32 v 1               (OAB)
           Na gebed Ps. 84 v 1 & 6       (OAB)
           Slotsang  Ps. 105 v 1 & 2      (OAB)

Die lewe het ’n manier om anders uit te draai as wat ons verwag! Nes dit lyk of alles nou in plek val en my vooruitsigte lyk mooi en goed, dan gebeur daar iets wat alles deurmekaar krap. Dit is iets wat al meer as een maal in my lewe gebeur het en ek glo elkeen van ons het dit al ervaar.

In Joh. 14 vind ons dat dit ook iets is wat Jesus se dissipels ervaar het. Hulle is hewig ontsteld oor dit wat Jesus hulle nou net meegedeel het terwyl hulle besig was om die Paasmaal saam met Jesus te nuttig. Judas het homself verskoon nadat Jesus aan hom openbaar het dat Hy weet dat Judas Hom gaan verraai. Nou hoor die agterblywende dissipels hierdie onstellende boodskap wat in Joh. 13:33 vir ons opgeteken is:
My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.

Simon Petrus vra die vraag wat in almal se gemoed is: “Here, waarheen gaan U?” Hy kan maar net nie aanvaar dat Jesus weggaan nie en vol bravade roep hy uit: (Joh. 13:37)
“Here, hoekom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.”
Dan hoor hy en die ander dissipels Jesus se skokkende antwoord v38:
“Sal jy jou lewe vir My aflê? Dít verseker Ek jou: Nog voor die haan kraai, sal jy My drie keer verloën.”

Dink net hoe ontsteld die dissipels op daardie punt was! Vir drie jaar lank het hulle Jesus gevolg nadat hulle alles opgegee het. Hulle hoop was totaal en al op hierdie Messias gevestig en heimlik het hulle verwag dat Hy Israel weer in sy vorige glorie sou herstel en van hulle vyande verlos. Nou moet hulle hoor die Messias op wie hulle al hulle hoop gevestig het, weggaan! Alles verniet, tevergeefs soos die Prediker gesê het!

Jesus se dissipels verstaan nog steeds nie die groter prentjie van God se koninkryk nie, naamlik dat dit nie maar net nog ’n tydelike aardse koninkryk is nie. God is besig om sy ewige koninkryk te vestig wat wyer strek as net die hier en nou waarin die dissipels vaskyk. Daarom sê Jesus vir hulle: (Joh. 14:1-4)
“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.”

Geliefdes, het ons nie ook maar dikwels dieselfde probleem as wat die dissipels gehad het nie? Is ons nie ook maar vasgevang in die hier en die nou nie? En wanneer dinge nie heeltemal glad verloop soos wat ons verwag nie, dan raak ons ook paniekerig en ontsteld! As ek tog maar net hierdie maand kan deurkom en dan breek die kar. Ek het nie geld om die kar reg te maak nie! En dan gaan ons vol ontsteltenis na God toe. Net soos die Jode ’n tydelike aardse koninkryk verwag het, ten spyte van wat Jesus reeds vir hulle gesê het. Kyk ons nie ook maar net in die hier en nou vas nie? Wil ons nie ook maar so dikwels vir Jesus gebruik om huidige probleme op te los sonder dat ons kyk na die groter prentjie van God se koninkryk waarmee Jesus besig is nie? Ons kyk net in die hier en nou vas en wil Jesus net soos die Jode van ouds misbruik om ons eie behoeftes te bevredig. Die Here waarsku ons teen so ’n benadering soos ons hoor in 1 Kor. 15:19:
As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

Jesus antwoord Petrus se vraag van “waar gaan U heen?” deur hom eers te kalmeer: “Moenie ontsteld wees nie.” Hoe kry mens dit reg om nie ontsteld te wees oor die dinge waarmee ons in hierdie lewe mee sukkel Nie? Eenvoudig: “Glo in God; glo ook in Jesus.” Vertrou God, Hy is in beheer. Niks op hierdie aarde gebeur buite sy wil nie. Dan gee Christus weer vir sy dissipels die groter perspektief van God se koninkryk. Dit is meer as net die hier en nou. Christus is besig om vir ons plek voor te berei om in die ewige heerlikheid saam met God te wees. En julle ken die weg na die plek waar Jesus is.

Die probleem is egter dat ons so dikwels net soos Tomas nie verstaan nie en dan het Jesus met ons ook net soveel geduld as wat Hy met Tomas gehad het. Hy verduidelik weer die eenvoudige boodskap van die evangelie (dit wil sê die goeie nuus van Jesus Christus) soos ons hoor in ons teksvers Joh. 14:6:
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.
Jesus is die enigste ware weg na God en die lewe, daar is nie ’n ander weg nie. Dit is ’n boodskap wat by die wêreld nie baie gewild is nie. ’n Wêreld wat vasgevang is in die leuen van die satan dat elkeen maar op sy eie manier wel by God sal uitkom. Dis nie ’n probleem wat uniek is aan die tyd waarin ons leef nie. Dit was maar eintlik van die begin af dat die mens onafhanklik sy eie pad wil loop.

Die probleem is egter dat dit die pad na die ewige dood is waar mens vir ewig van God verwyder is. Die beskuldiging word so dikwels gemaak dat dit ’n veroordelende boodskap is, maar dit is nie waar nie. As jy verkies om God te verwerp, dan kan jy mos vir niemand anders as jouself blameer wanneer jy as gevolg van daarvan vir ewig van God geskei word nie soos ons hoor in Joh. 3:17-18:
God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.

Die mens kan egter nie op sy eie sonder God bestaan nie. Filippus spreek hierdie versugting van die mens uit met sy vraag: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Dan wys Jesus weer eens vir die waarheid uit soos ons hoor in Joh. 14: 9-10:
“Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê: ‘Wys vir ons die Vader’? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?
Ten spyte van hierdie duidelike boodskap is daar sommiges wat nie glo nie en as gevolg van daarvan verlore gaan. Elkeen wat verlore gaan kan niemand buiten homself blameer nie.
Die uitverkore kinders van God ken egter vir Jesus en word sodoende weer met die Vader versoen soos ons hoor in Joh. 14:7:
As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”
Jesus se dissipels het Hom geken omdat hulle Hom persoonlik gesien het en na Hom geluister het. Ons kan Jesus egter ook ken en as te ware ook sien. In Gal 3:1 hoor ons:
Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel? Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ’t ware aan die kruis kon sien hang!
Deur Woordverkondiging en persoonlike Bybelstudie leer ons Jesus ken asof ons self soos sy dissipels saam met Hom geleef het en ook gesien het toe hulle Hom gekruisig het. Deur ons geloof in Jesus sien ons die wese en heerlikheid van die Vader self raak. God is onsigbaar en tog sien ons Hom!

In Joh. 14:11 herhaal Jesus dan weer hoe ons met die Vader versoen word en sodoende deel kry aan sy koninkryk:
Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self.
Glo in Jesus Christus en beleef die wonder van God se genade!

In Joh. 14:12 hoor ons dan ook wat die doel en opdrag van Jesus se kerk op aarde is:
“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.
Jesus het aarde toe gekom om die verlossing van die mensdom te bewerkstellig. Sy kerk het die doel en die opdrag om hierdie verlossing aan die wêreld uit te dra. Die groter dinge waarna hier verwys word is nie belangriker as Christus se werk nie, maar wel dat daardie werk deur sy kerk voltooi sal word om al sy uitverkore kinders te laat deel in die heerlikheid van sy koninkryk. Self in hierdie taak laat God ons nie alleen nie, want Hy belowe dat hy sal luister wanneer ons bid. Hy verseker ons dat elke keer wanneer ons bid
Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;
laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
Dat Hy ons gebed in die Naam van Jesus Christus sal verhoor.

Jesus laat nie sy kerk alleen agter nie. Hy het die Heilige Gees gestuur sodat ons deur sy Gees hierdie opdrag kan uitvoer wat Hy vir ons gegee het soos in Joh. 14:16&17 verseker:
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.
En dan gee Hy ook nog vir ons die troos van Joh. 14:18:
“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.

Geliefdes, is u so vasgevang in die dinge van hier en nou dat u nie die groter prentjie van God se koninkryk raak sien nie? Is u so verstrengel in die sorge van u onmiddellike omstandighede dat dit vir u voel of alles tevergeefs is? Moenie dat die tydelike dinge van hierdie lewe u ontstel nie. Sien die groter perspektief van God se koninkryk raak. Glo in God, glo in Jesus Christus. Glo dat Hy die enigste ware weg na God en die lewe is. Gaan dra hierdie goeie nuus in woord en daad uit sodat elkeen wat uitverkore is, die blye boodskap kan hoor en deur die Gees tot bekering gelei kan word. Maranate! Kom Here Jesus, kom!
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking