6 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Psalm 1. Teksverse: Ps. 1 v 1
& 2
Sing
Lofsang: Ps. 91 v 1 (OAB)
Na
wet: Ps.
119 v 1 (OAB)
Na
gebed Ps. 119 v 2 (OAB)
Slotsang Ps. 1 v 1 - 3 (OAB)
Inleiding
Is jy werklik gelukkig?
Wat bepaal ware geluk in die lewe? Ps. 1 verskaf vir ons antwoorde op hierdie
vrae. Ps. 1 is die ingangsportaal wat ons bekendstel aan die groot skat wat God
vir ons in die Psalms gegee het. Die hoofkarakters wat in die Psalms aan die
woord is, word in hierdie Psalm aan ons bekendgestel. Daar is drie persone wat
’n sleutelrol in die Psalms speel, naamlik die gelowige mens en teenoor die
gelowige staan die goddelose. Die derde Persoon wat ons in die Psalms ontmoet
is God, dié Een wat ’n mens se lewensgeluk bepaal.
In Ps. 1 word hierdie twee
groepe mense en hul verhouding tot God aan ons voorgestel. Aan hierdie
beskrywing kan ek myself toets en vasstel of ek waarlik gelukkig is of nie. In
hierdie Psalm word die verskil tussen regverdiges en Goddeloses teenoor mekaar
gestel. Ons sien ook wat die oordeel ten opsigte van elkeen is.
Die regverdige
Verse 1 tot 4 skets vir
ons by wyse van kontras die verskil tussen die Goddelose en die regverdige is.
In vers 1 hoor ons dat dit goed gaan met die regverdige. Die Hebreeuse woord
wat met hierdie sinsnede vertaal is, beteken letterlik gelukkig en daarom is
dit in die Ou Afrikaanse vertaling vertaal met welgeluksalig. Hierdie Hebreeuse
woord het ’n baie sterker betekenis as om net bloot die situasie te beskryf.
Dit gee ’n versekering aan die betrokke persoon dat dit goed sal gaan met hom.
Dit sê nie dat dit moontlik goed gaan nie of dat dit behoort goed te gaan nie.
Nee, dit is baie sterker. Dit SAL goed gaan.
In Psalm 1 word hierdie
regverdige net aan ons voorgestel. Verder aan in die Psalms hoor ons wat die
regverdige se karaktereienskappe is. Dit is ’n mens wat God heelhartig dien.
Dit is ’n mens wat sy krag by die HERE soek en absoluut op Hom vertrou. Hierdie
persoon lewe in God se lig en hy doen slegs iets as dit tot God se eer strek.
Dit is vir hom ’n loutere vreugde om gedurigdeur sy gedagtes besig te hou met
die Woord van die HERE. Sy kennis van God se Woord leer hom om na swakkes om te
sien en te sorg dat reg geskied.
Die Goddelose
Teenoor die regverdige
word goddelose beskry wat absoluut op ’n pad van agteruitgang is. Dit is die
mens wat afkerig is teenoor God en sy Woord, wat God blameer wanneer dit sleg
gaan sonder om self verantwoordelikheid te aanvaar vir dit wat hy oor homself
bring. Sy leefwyse bevestig dit ook omdat hulle hul lewe in sonde deurbring.
Dit wat die Woord van die HERE vir uitwys as verkeerd, doen hulle en hulle hou
daardie optrede as reg voor.
In plaas van om op te bou
breek hulle af. Dit is die mens wat altyd negatief in die lewe is en alles en
almal om hom moet dit ontgeld. Hulle word nie net ten kwade beïnvloed deur die
geselskap waarin hulle verkeer nie, maar hulle werk self ook aktief mee daaraan
om diegene om hulle aan te hits om sonde te doen. Hierdie mense het geen
eerbied vir God en sy Woord nie en hulle gaan selfs so ver om God se Woord te
verdraai om hulle eie sondige en verkeerde optrede te regverdig. Dit is die
persoon wat God verag en opstandig is teenoor God. Hy steur hom nie aan God se
wet nie en doen alles wat verkeerd is met oorgawe.
Die lot van die regverdige
In Psalm 1 hoor ons ook
wat word op die uiteinde van die regverdige en die Goddelose. Dit word deur
twee beelde beskryf. Die regverdige word deur ’n boom wat by ’n waterstroom
staan uitgebeeld. ’n Boom wat langs ’n standhoudende waterstroom staan se
wortels kry altyd water. Dit verseker dat daardie boom groei en sterk word
sodat dit stewig vasgeanker is. Wanneer die stormwinde waai bly die boom staan.
Dit is hoe die regverdige is. Die persoon wat vasgeanker is in die lewende
Woord van God groei en is in staat om die lewensstorms te trotseer. Wanneer dit
swaar gaan in sy lewe dan vind hy sy sterkte in die HERE en nie in homself nie.
Wanneer ons hoor dat dit
goed gaan met die regverdige, dan moet ons verstaan dat dit nie eintlik soseer
na fisiese omstandighede verwys nie, maar veel eerder na ’n innerlike vrede wat
in God sy oorsprong het. ’n Regverdige verstaan dat dit nie sy omstandighede of
materiële rykdom of sy status in die lewe is wat aan hom vrede gee nie, maar
dat dit die teenwoordigheid van God is wat vrede in sy gemoed gee. Ware geluk
word net by God gevind en nie in rykdom of status of baie besittings nie. Ware
geluk en vrede word nie in die gebrek aan teenspoed gevind nie, maar wel in die
teenwoordigheid van God in my lewe.
Die regverdige word
verseker dat hy God se seën in hierdie lewe ontvang en ook dat hy in die
hiernamaals met God se liefdevolle teenwoordigheid geseën sal wees.
Die lot van die Goddelose
Teenoor die regverdige
staan die Goddelose wat deur middel van kaf uitgebeeld word. Kaf is die droë
blaarbedekking in ’n koringaar waarin die koringkorrels toegevou is. In
teenstelling met die sterk lewende boom is kaf dood en droog. Anders as die
boom wat ’n stormwind kan weerstaan word kaf deur die ligste windjie weggewaai.
Dit is hoe die Goddelose
is. Selfs al gaan dit op die oog af goed met hom, is daar ’n gebrek aan
innerlike vrede omdat hy van God geskei is. Die Goddelose soek daardie vrede op
baie plekke, maar vind dit nie. So neem party hulle toevlug tot drank en
dwelms. Ander soek dit weer in harde werk en die najaag van rykdom en status.
Teenoor die regverdige wat
God se liefde ontvang staan die Goddelose wat God se oordeel ontvang. Net soos
wat kaf nie teen die wind staande kan bly nie, sal die goddelose nie staande
kan bly teen God se oordeel nie.
Waar staan ek?
Die vraag is: “waar pas ek
in?” Pas ek in by die regverdige of pas ek in by die Goddelose? Ek moet sê dat
ek baie ongemaklik was nadat ek die Psalm gelees het, want ek het besef dat
daar baie meer van die Goddelose se eienskappe in my lewe is as wat daar van
die regverdige se eienskappe in my lewe is en dat die lot van die Goddelose
eerder as die regverdige my voorland is. As dit van my afhang gaan ek nooit by
die ideaal kom wat vir die regverdige gestel word nie!
In die geskiedenis van die
wêreld is daar een Mens wat op grond van sy eie verdienste 100% regverdig is.
Hy het egter gekies om die straf van die Goddelose te dra sodat daar vir ons
hoop is. In 1 Pet. 3:18 hoor ons:
Ook
Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om
julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees
lewend gemaak is.
In Joh. 1:1 hoor ons:
In die
begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.
Jesus Christus is die
Woord. In Ps. 1 hoor ons dit gaan goed met die mens wat sy vreugde in die Woord
van die HERE vind. Ons moenie die fout maak om te dink dat die Woord van God
net ’n lang lys is van onmoontlike moets en moenies nie. Die ware Woord is God
se genade in Jesus Christus wat in ons plek as verlore sondaars die straf vir
ons sonde gedra het sodat ons weer met God versoen kan word.
In Jesus Christus is ons
regverdig voor God en daarom kan ons ook soos die regverdige begin leef. Daarom
kan ons God heelhartig dien. Ons kan ons krag by die HERE soek en absoluut op
Hom vertrou. Ons kan in God se lig lewe en slegs dit doen wat tot God se eer
strek. Dit is moontlik om loutere vreugde te vind deur gedurigdeur ons gedagtes
besig te hou met die Woord en om deur ons kennis van God se Woord te leer om na
die swakkes om te sien en te sorg dat reg geskied.
Ons het nie nodig om die
pad van die Goddelose te volg nie. Ons hoef gedurig net af te breek in plaas
van om op te bou nie. Ons hoef nie geselskap by die Goddelose te soek wat ons
beïnvloed om sonde te doen nie. Ons hoef self ook nie ’n negatiewe invloed op
diegene rondom ons uit te oefen nie. Ons hoef God se Woord te verdraai om ons
eie verkeerde sondige optrede te regverdig nie. Ons hoef nie meer soos vyande
van God te leef deur ons nie aan Hom te steur nie en om sy wet te verontagsaam
nie.
Kom ons vind ons vreugde
in die Woord, dit wil sê in Jesus Christus en weet dat ons daarin ware geluk en
vrede sal vind.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking