Wys tans plasings met die etiket Psalm 23. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Psalm 23. Wys alle plasings

01 Augustus 2025

Selfs die dood kan ons nie van die liefde van Christus skei nie



 

Psalm 23 (OAV) Lukas 21:17-19

Hier in Lukas 21 v 17 – 19 ontmoet ons Jesus waar Hy besig was om sy volgelinge by die tempel met gelykenisse te leer. Onder andere het Hy hulle ook vertel van wat in die toekoms gaan gebeur. In Lukas 21 wat ook as die profetiese rede bekendstaan vertel Hy hulle in vers 17 van vervolging wat op Christene wag: “En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word.”

En dit is inderdaad wat gebeur het en wat tans nog besig is om te gebeur. Kort na Jesus se Hemelvaart moes Christene uit Jerusalem vlug vir hul lewens en tans staan meer Christene onder vervolging as enige tyd in die geskiedenis.

Jesus voeg egter die troos by: “maar daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie.” Jesus beklemtoon God se sorg en beskerming vir gelowiges, selfs te midde van lyding en verdrukking.

In Luk. 21 v 16 Waarsku Jesus dat party doodgemaak sal word en hier in Luk. 21 v 18 gee Hy die versekering dat self wanneer jy sterf, dat niemand jou van die ewige lewe kan beroof nie.

Daarom moet ons volhard in geloof soos ons ook hoor in Luk. 21 v 19: “Deur julle volharding moet julle julleself red.” Bly glo in God se sorg en beskerming.

Hou in geloof vas aan die belofte dat “geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here,” soos ons hoor in Rom. 8:38 & 39.

In Psalm 23 vind ons ook hierdie belofte van God se sorg en beskerming. In Psalm 23 v 1 hoor ons: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.” Hier gebruik die Here die beeld van ’n herder wat vir sy skape sorg en hulle beskerm om God se sorg en beskerming vir ons te verduidelik.

Dan hoor ons in Psalm 23: 2 & 3

Hy laat my rus in groen weivelde.

Hy bring my by waters waar daar vrede is.

Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.

Sien in julle gedagtes hierdie prentjie wat die Here vir ons skets. Die herder saam met sy skape in ’n pragtige groen weiveld met bome en skaduwee langs ’n stil meer waar die skape kan drink. Daar waar hulle veilig is in die sorg van hul herder. Sien u die kalmte en rus raak in hierdie prentjie? In God se teenwoordigheid is daar rus vir jou siel.

Die lewe kan egter ook onstuimig wees soos Jesus vir sy dissipels gesê het daar in Luk. 21 v 18 en hier in Psalm 23 v 4 kry ons ook die versekering van God se sorg wanneer die lewe moeilik en onstuimig word.

Selfs wanneer ons deur donker dieptes gaan is die Here by ons en is ons veilig in sy hande. Die geweldige troos wat die Here vir ons hier gee is dat sy sorg verder strek as net hierdie lewe.

Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Selfs die dood kan ons nie van die liefde van Christus skei nie.

Jesus gebruik ook die beeld van ’n herder wat vir sy skape sorg om te verduidelik hoe lief Hy ons het.

Ons hoor in Joh. 10 v 14 & 15:

Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.

Jesus het vir ons aan ’n vervloekte kruishout gesterf om die verskrikking van die dood van ons af weg te neem.

In 1 Kor. 15 v 54 & 55 hoor ons:

En wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word:

“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Die dood is nie die einde nie! Die angel van die dood is die sonde wat skeiding bring tussen ons en God. En dit is wat Jesus vir ons kom doen het. Hy het sy lewe vir ons afgelê sodat die angel van die dood ons nie meer kan seermaak nie.

Hy het ons sondes op Hom geneem en die prys daarvoor betaal met sy dood en met sy opstanding het Hy die mag van die dood gebreek.

Daarom hoef ons nie bang te wees vir die dood nie en kan ons saam met Paulus triomfantlik uitroep: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Vir elkeen wat in Jesus Christus glo is die dood nie die einde nie. Die dood is die begin van ’n nuwe bedeling in ons lewens waar ons ewig saam met God sal wees waar daar geen dood, hartseer, pyn of leiding meer sal wees nie.

Elkeen wat bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, kan verseker wees van die ewige lewe. Die ewige lewe begin egter nie eers daar waar ons deur die dal van doodskaduwee gaan nie.

Die ewige lewe begin nou. Elkeen wat in Jesus Christus as sy enigste Verlosser en Saligmaker glo kan nou reeds verseker wees dat God saam met jou sal wees. Ons kry nou reeds ’n voorsmakie van ons ewige heerlikheid saam met God.

Jesus het na sy Hemelvaart vir ons die Heilige Gees gestuur om ewig saam met ons te wees, elke oomblik van elke dag. Jy is nie alleen nie.

Die Heilige Gees gee vir ons die geloof om vas te hou aan God se troos dat Hy vir ons rus vir ons siele gee. Die geloof om vas te hou aan die troos dat daar waar ons deur donker dieptes gaan, dat God by ons is en dat ons geen onheil hoef te vrees nie.

Wanneer ons by ’n oop graf van ’n geliefde staan gee die Here vir ons die troos van die ewige lewe in al sy volmaaktheid. Ons is hartseer want ons geliefde se plekkie is nou leeg in ons lewens en daarom treur ons. Ons moet treur, maar daar is ’n verskil. Ons treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie, want God gee vir ons ’n lewende hoop van die ewige lewe.

Dit is met hartseer dat ons vandag hier afskeid neem van tannie Martie, maar ons doen dit ook met die troos dat selfs die dood ons nie van die liefde van Christus kan skei nie.

Amen


04 Mei 2025

Psalm 23

Lees ook Joh. 10 v 1-21 hiermee saam.

       Hoeveel troos het die mensdom nie al uit hierdie Herderspsalm geput nie? Dit is maar net ses versies lank, maar tog is daar genoeg rykdom in die inhoud daarvan om ’n hele lewensboek mee vol te maak. Psalm 23 is ’n persoonlike belydenis van Dawid se absolute vertroue in die HERE se sorg.

       In vers 1 stel Dawid sy absolute vertroue in die Here se sorg, in verse 2 tot 5 vertel Dawid wat daardie sorg van die Here behels en in vers 6 sê hy wat die gevolge van die Here se sorg is.

       Hierdie Psalm was vir Dawid ’n groot vertroosting. Hoe kan jy die vertroosting van Ps. 23 ook jou eie maak? Hoe kan jy ook met sekerheid sê die Here is my Herder en ek kom niks kort nie?

       Dit is alleen maar moontlik omdat daar ’n persoon was wat alles kortgekom het. Selfs sy enigste aardse besittings naamlik die klere aan sy lyf is onder die soldate uitgeloot.

       Hy het geen rus en vrede geniet in die groen weivelde langs die stille waters nie. Al wat Hy gekry het om sy dors mee te les was ’n klein bietjie bitter asynwater.

       Daar was vir Hom geen beskerming toe Hy deur die vallei van die dood moes gaan nie en in bange Godverlatenheid moes Hy uitroep :
’My God, My God, waarom het U my verlaat?”

  In Joh. 10v10b-11 sê die Here vir ons:

10b Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

       Elkeen wat in Jesus Christus glo kan net soos Dawid ook troos vind in Ps. 23 soos die gelowiges trouens deur al die eeu al gedoen het. Hierdie troos is egter net vir diegene wat glo in Jesus Christus. As jy nie in Jesus Christus glo nie, kan jy geen aanspraak op die troos van Psalm 23 maak nie.

       In vers 1 begin Dawid met ’n persoonlike belydenis. Die Here is my Herder en daarom kom ek niks kort nie. Die enigste manier om hierdie belydenis ook op jou persoonlik van toepassing te maak is om te glo in die verlossingsdaad van Jesus Christus aan die kruis en dat Hy die dood oorwin het.

       Kan jy met volle vertroue en eerlikheid vanoggend saam met Dawid sê: Die Here is ook my Herder?

       As jy dit nie kan doen nie, dan het jy nog nie by die hek van die skaapkraal uitgekom nie. (vgl. Joh. 10v1)

Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower.

Dan is dit nodig dat jy die volle betekenis van

Joh. 10 v 7-9 moet leer ken:

7Toe het Jesus verder gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.     

In vers 2 beskryf Dawid die absolute rustigheid wat Hy ervaar in die teenwoordigheid van die Here:

Hy laat my neerlê in groen weivelde;

na waters waar rus is, lei Hy my heen.

In die teenwoordigheid van die Here is daar rus en vrede weg van die dolle gejaag van ons daaglikse lewens.

In vers 3 hoor ons hoe die Here aan Dawid nuwe lewe gee:

Hy verkwik my siel;

Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

Hierna wys die Here vir Dawid wat die regte pad is sodat hy die nuwe lewe wat die Here vir hom gegee het, ten volle kan geniet.

       Geniet jy ook die rustige teenwoordigheid van die Here in jou lewe? Of is die sorge van die lewe vir jou soos die droë Vrystaatse grasstoppels wat in ’n erge droogte vasgevang is?

       Is jou lewe soos ’n rustelose Oranje rivier wat besig is om vloed af te kom? Verlang jy ook na die vrede en gemoedsrus van groen weivelde en die waters van rus by die Here?

       As jy nog nie by hierdie groen weivelde en stil rustige waters uitgekom het nie, moet jy vir ’n slag weereens luister na Jesus se uitnodiging in Mat. 11v28:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

       In vers 4 sien ons hoe groot Dawid se vertroue in die Here werklik is. Selfs in die aangesig van uiterste lewensgevaar en selfs in die aangesig van die dood, vertrou Dawid die Here tot so ’n mate hy geen onheil vrees nie. Hy het ’n absolute vertroue daarin dat die Here hom teen elke gevaar en selfs teen die dood sal beskerm.

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

       Kan jy ook soos Dawid met sekerheid sê dat geen onheil jou sal tref wanneer jy deur donker dieptes gaan?

       Is jy ook seker van die Here se teenwoordigheid te midde van die skadu’s van die lewe wat oor ons hang?

       Volg jy die leiding van ons Herder wanneer jy in die werklikheid van siekte vaskyk, veral daardie siektes waar daar geen werklike genesing voor is nie?

       Vind jy skuiling by die Here wanneer jou huwelik deur hewige storms geteister word?

       Vind jy vertroosting by die Here wanneer jy met die dood gekonfronteer word?

       Het jy vrede met u eie sterflikheid? Verstaan jy dat jy nie meer vir die dood hoef bang te wees nie? Verstaan jy dat die dood vir die wat glo nie meer `n verskriklike einde is nie, maar dat dit `n heerlike deurgang is na die volgende fase waar jy ewig saam met God sal wees?

Indien jy nog twyfel, moet jy weer by Joh. 10v10b  uitkom:

       Ek (Jesus) het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Dan is dit nodig dat jy presies moet verstaan wat Jak. 1v2 vir jou beteken:

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom

       Dan is dit nodig dat jy verstaan dat die Here nie noodwendig die moeilike tye in die lewe van ons af weghou nie, maar dat Hy ons in alle omstandighede nooit alleen laat nie.

       Jy moet verstaan dat Jesus bange Godverlatenheid ervaar het sodat elkeen wat in Hom glo nooit deur God verlaat sal word nie.

Dan sal jy ook in vertroue die Here kan volg vgl. Joh. 10v40:

Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.

In vers 5 sien ons dat Dawid nie alleen net vertrou dat die Here vir hom rus sal gee en hom sal beskerm teen gevaar nie. Hy vertrou ook dat die Here vir hom sal sorg in oorvloed.

U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders;

U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

Beleef jy ook die oorvloed van God se genade in jou lewe?

Verstaan jy hoe groot sy genade vir ons werklik is?

Verstaan jy dat daar niks in hierdie lewe is wat ons kan doen om die Here meer van ons te laat hou nie? Of dat daar ook niks is wat ons kan doen dat Hy minder lief vir ons sal wees nie?

Besef jy dat jy met jou goeie werke niks van God se guns kan verdien nie?

       As jy nog sukkel om uit die oorvloed van God se genade te leef dan is dit nodig dat jy weer eens God se vertroosting van Ef. 2v8-10 jou eie moet maak:

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

In vers 6 bely Dawid dat dit in die teenwoordigheid van die Here net goed met hom sal gaan, selfs wanneer hy in gevaar is en dat die Here op grond van sy troue verbondsliefde vir hom sal sorg.

Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;

en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Is jy seker van jou ewige bestemming of twyfel u soms daaroor?

Indien jy nog twyfel, is dit nodig dat jy weereens seker maak van die vaste sekerheid wat die Here vir ons in sy Woord gee vgl. byvoorbeeld Hand. 16v31:

“Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

of Rom. 5 v 9-10 om maar net enkele voorbeelde te noem:

9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 

10 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 

As jy aan die soenverdienste van Jesus Christus vashou met die geloof wat God gee, kan jy ook met sekerheid weet dat Open. 21v3 vir jou waar sal wees, nou in hierdie bedeling en ook in die toekomstige bedeling na die wederkoms van ons Here:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.

Dan sal jy ook saam met Dawid kan bely:

ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.

Is die HERE jou Herder?

Amen

  

21 Junie 2020

Die Here is my Herder

Datum: 17 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Begrafinis Magda Gerard – Pongola diens

Skriflesing: Ps. 23; Joh. 10 v 14 - 15

Teksvers: Ps. 23 v 4

 

Die preek is ook in video formaat beskikbaar:

1) Volledige preek op Facebook - Gereformeerde Kerk Empangeni

2) YouTube (preek alleen)


Die Psalms is 'n baie spesiale gedeelte in die Bybel. Dit kan beskryf word as die geestelike asemhaling van die gelowige. Die intrek van die lewendgewende asem van God se Woord en die uitblaas van jou bekommernisse, vrese en nood.

In hierdie bundel in die Bybel vind ons Psalms wat vir jou iets sê van God se liefde en goedheid vir jou. Wanneer jy Hom wil loof en dank sal jy Psalms vind wat verwoord wat in jou hart is en ook wanneer jy moedeloos, ontsteld, bang of onseker is sal jy vind dat hulle saam met jou huil of kla.

Wanneer jy nie meer woorde het om aan jou gevoelens uitdrukking te gee nie, sal jy 'n Psalm vind wat jou gedagtes in woorde stel waarmee jy in gebed na God toe kan gaan.

Psalm 23 gebruik die beeld van God as Herder om die verhouding tussen 'n gelowige en God uit te beeld. Dit is seker een van die bekendste gedeeltes in die Bybel en dwarsdeur die eeue het gelowiges troos en vrede daarin gevind.

Wanneer jy na hierdie Psalm luister, hoor jy as te ware Jesus se stem wanneer Hy sê: “Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.”

Wat leer ons van die Here as ons Herder in hierdie Psalm? Hy is 'n Herder wat sy skape versorg en omgee vir hulle. Hy voed en beskerm hulle. Hy werk hard om hul welsyn te verseker. In Joh. 10 Hoor ons dat Jesus die Herder is in Psalm 23 en dat Hy sy lewe vir sy skape aflê.

Wie is sy skape? Elkeen wat glo dat Jesus Christus sy lewe vir hom of haar afgelê het. Elkeen wat glo dat Jesus sy of haar Verlosser en Saligmaker is kan aan die troos wat God in hierdie Psalm gee, vashou. Is die Here jou Herder? Is jy een van sy skape? Glo jy dat Jesus jou enigste Verlosser en Saligmaker is?

Psalm 23 verwoord hoe dit voel wanneer Jesus jou onder sy sorg neem. Die troos in hierdie Psalm is, dat jy nie alleen is nie, veral nie wanneer jy deur donker dieptes moet gaan nie.

Psalm 23 is 'n kort Psalm, net 6 verse lank tog is die inhoud daarvan gevul met soveel rykdom dat dit byna onmoontlik is om dit alles in een preek te verwoord. Ons fokus vandag in hierdie Psalm is vers 4.

Ps. 23 v 4 NAV

Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie,

want U is by my. In u hande is ek veilig.

Ps. 23 v 4 OAV

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

In vers 3 hoor ons: “Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.” Hierdie paaie neem sy skape na die rus van groen weivelde en die vrede van stil waters en dit gee vir hulle nuwe krag vir die pad vorentoe.

Maar dan hoor ons ook in vers 4 dat die pad ook deur die vallei van donker dieptes en doodskaduwee gaan. Dit is nie 'n fout dat ons daardeur gaan nie. Dit is deel van die regte paaie waarop ons Here ons lei. Jesus bevestig dit in Joh. 16 v 33 wanneer Hy sê: In die wêreld sal julle dit moeilik hê”

Om by die finale rusplek van groen weivelde en waters waar daar rus is te kom moet ons deur die dal van doodskaduwee gaan. Die troos wat die Here vir ons gee is dat ons nie alleen daardeur gaan nie want Hy is by ons.

Terwyl ons in hierdie wêreld is, is ons in die land van dood wat deur die sondeval en die nagevolge daarvan veroorsaak is. In hierdie lewe is daar hartseer, pyn en lyding.

Die donker vallei van doodskaduwee is egter nie iets waarvoor ons bang hoef te wees, want dit is juis die plek waar jy God se teenwoordigheid in jou lewe die beste ervaar.

Die troos wat die Psalmdigter vir ons verwoord “u stok en u staf dié vertroos my” gee vir jou die versekering dat jy veilig is in die Here se hande. Die skaapwagters van die Bybelse tyd het 'n stewige stok as wapen gehad om roofdiere mee te beveg en sy staf het hy gebruik om die skape op die veilige pad te hou.

Aan die ander kant van hierdie donker vallei is die poort na groen weivelde en waters waar rus is waar ons as eregaste gaan aansit by 'n feesmaal waar die Here ons met hartlikheid gaan oorlaai. Daar waar die goedheid en die liefde van ons Here vir altyd by ons sal wees in sy ewige tuiste.

Open. 21 v 3 en 4 gee vir ons so 'n klein kyktjie van hoe in God se ewige woning dit sal wees:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Dit is net die Here wat jou kan vergesel op hierdie pad na die deurgang van die ewige heerlikheid saam met God. Jesus het belowe dat Hy ons nie as weeskinders sal agterlaat wanneer Hy na die hemel opgevaar het nie. Hy het die Heilige Gees in sy plek as Trooster gestuur om ons te lei op die pad.

Op die uiteinde is dit God Drie-Enig wat jou vergesel op hierdie pad deur die donker vallei van doodskaduwee. God die Vader het sy Seun gestuur as offer aan die kruis om versoening vir ons sondes te doen.

Die Heilige Gees gee vir jou geloof om vas te hou aan die soenoffer van Jesus Christus. Jy moet dit in geloof aanvaar. Glo jy in Jesus Christus? As jy glo, kan jy vir seker weet dat God saam met jou is en jou nie alleen sal laat nie.

As die Ewige Lewende God wat die hemel en die aarde geskep het saam met jou die pad stap, vir wie of wat sal jy bang wees? Jesus het belowe dat daar nie 'n haar van jou hoof af sal val as God dit nie gewil het nie. Daar is niks wat jou van die liefde van God kan skei nie.

Die Here gee vandag vir ons wat nog op pad is deur die donker vallei van doodskaduwee as troos deur hierdie Psalm. Niemand weet hoe ver die pad nog is nie, maar ons weet vir seker dat ons nie alleen is op hierdie pad nie.

Geliefdes moenie bang wees vir die pad wat voorlê nie. Daar gaan tye wees waar dit moeilik gaan wees. Daar gaan dae wees wanneer dit gaan voel of jy nie kans sien om aan te gaan nie.

Jesus het ons gewaarsku dat hierdie lewe moeilik is, maar Hy gee ook die troos dat Hy hierdie wêreld klaar oorwin het. Jy is nie alleen wanneer jy deur die donker dieptes gaan nie.

Wanneer jy deur donker dieptes gaan, soek rus by die Here sodat Hy vir jou nuwe krag vir die pad vorentoe kan gee. Weet dat jy nie alleen sal wees nie. 

Die Here is jou Herder.

Amen