Wys tans plasings met die etiket Ps 23. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ps 23. Wys alle plasings

17 Desember 2017

Die HERE is my Herder.

Ps. 23 (OAV) en Joh. 10v1-21 (NAV) Teksverse Ps. 23 (hele Psalm)
17 Des. 2017

Inleiding

Hoeveel troos het die mensdom nie al uit hierdie Herderspsalm geput nie? Dit is maar net ses versies lank, maar tog is daar genoeg rykdom in die inhoud daarvan om ’n hele lewensboek mee vol te maak. Psalm 23 is ’n persoonlike belydenis van Dawid se absolute vertroue in die HERE se sorg.

In vers 1 stel Dawid sy absolute vertroue in die Here se sorg, in verse 2 tot 5 vertel Dawid wat daardie sorg van die Here behels en in vers 6 meld hy wat die gevolg van die Here se sorg is.

Hierdie Psalm was vir Dawid ’n groot vertroosting. Hoe kan ek die vertroosting van Ps. 23 ook my eie maak? Hoe kan ek ook met sekerheid sê die Here is my Herder en ek kom niks kort nie? Dit is alleen maar moontlik omdat daar ’n persoon was wat alles kortgekom het. Selfs sy enigste aardse besittings naamlik die klere aan sy lyf is onder die soldate uitgeloot. Hy het geen rus en vrede geniet in die groen weivelde langs die stille waters nie. Al wat Hy gekry het om sy dors mee te les was ’n klein bietjie bitter asynwater. Daar was vir Hom geen beskerming toe Hy deur die vallei van die dood moes gaan nie en in bange Godverlatenheid moes Hy uitroep :’My God, My God, waarom het U my verlaat?”

In Joh. 10v10b-11 sê die Here vir ons:
10b Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
Elkeen wat in Jesus Christus glo kan net soos Dawid ook troos vind in Ps. 23 soos die gelowiges trouens deur al die eeu al gedoen het. Dit is egter net vir diegene wat glo in Jesus Christus. Sonder geloof in Jesus Christus kan daar geen aanspraak op die troos van Psalm 23 gemaak word nie.

In vers 1 begin Dawid met ’n persoonlike belydenis. Die Here is my Herder en daarom kom ek niks kort nie. Die enigste manier om hierdie belydenis ook op my persoonlik van toepassing te maak is om te glo in die verlossingsdaad van Jesus Christus aan die kruis en dat Hy die dood oorwin het. Kan u met volle vertroue en eerlikheid vanoggend saam met Dawid sê: Die Here is ook my Herder? As u dit nie kan doen nie, dan het u dalk nog nie by die hek van die skaapkraal uitgekom nie. (vgl. Joh. 10v1)
Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower.
Dan is dit nodig dat u die volle betekenis van Joh. 10v7-9 besef:
7Toe het Jesus verder gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.

In vers 2 beskryf Dawid die absolute rustigheid wat Hy ervaar in die teenwoordigheid van die Here:
Hy laat my neerlê in groen weivelde;
  na waters waar rus is, lei Hy my heen.
In die teenwoordigheid van die Here is daar rus en vrede weg van die dolle gejaag van ons daaglikse lewens. In vers 3 hoor ons hoe die Here aan Dawid nuwe lewe gee:
Hy verkwik my siel;
Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
Hierna wys die Here vir Dawid wat die regte pad is sodat hy die nuwe lewe wat die Here vir hom gegee het, ten volle kan geniet.

Geniet u ook die rustige teenwoordigheid van die Here in u lewe, geliefdes? Of is die sorge van die lewe vir u soos die droë Vrystaatse grasstoppels wat in ’n erge droogte vasgevang is? Is u lewe soos ’n rustelose rivier wat besig is om vloed af te kom? Verlang u ook na die vrede en gemoedsrus van groen weivelde en die waters van rus by die Here? As u nog nie by hierdie groen weivelde en stil rustige waters uitgekom het nie, moet vir ’n slag weereens luister na Jesus se uitnodiging in Mat. 11v28:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

In vers 4 sien ons hoe groot Dawid se vertroue in die Here werklik is. Selfs in die aangesig van uiterste lewensgevaar en selfs in die aangesig van die dood, vertrou Dawid die Here tot so ’n mate hy geen onheil vrees nie. Hy het ’n absolute vertroue daarin dat die Here hom teen elke gevaar en selfs teen die dood sal beskerm.
Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee,
ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

Geliefdes, kan u ook soos Dawid met sekerheid sê dat geen onheil u sal tref wanneer u deur donker dieptes gaan? Is u ook seker van die Here se teenwoordigheid te midde van die skadu’s van die lewe wat oor ons hang? Volg u die leiding van ons Herder wanneer u in die werklikheid van siekte vaskyk, veral daardie siektes waar daar geen werklike genesing voor is nie? Vind u skuiling by die Here wanneer u huwelik deur hewige storms geteister word? Vind u vertroosting by die Here wanneer u met die dood gekonfronteer word? Het u vrede met u eie sterflikheid?

Indien nie, moet weer uitkom by Joh. 10v10b
Ek (Jesus) het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
Dan is dit nodig dat u weer verstaan wat Jak. 1v2 vir u beteken:
My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom
Dan is dit nodig dat u verstaan dat die Here nie noodwendig die moeilike tye in die lewe van ons af weghou nie, maar dat Hy ons in alle omstandighede nooit alleen laat nie. Ons moet verstaan dat Jesus bange Godverlatenheid ervaar het sodat ons wat in Hom glo nooit deur God verlaat sal word nie. Dan sal ons ook in vertroue die Here volg (vgl. Joh. 10v40:
Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.

In vers 5 sien ons dat Dawid nie alleen net vertrou dat die Here vir hom rus sal gee en hom sal beskerm teen gevaar nie. Hy vertrou ook dat die Here vir hom sal sorg in oorvloed.
U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders;
U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

Beleef u ook die oorvloed van God se genade in u lewe? Verstaan u hoe groot sy genade vir ons werklik is? Verstaan u dat daar niks in hierdie lewe is wat ons kan doen om die Here meer van ons te laat hou nie? Of dat ook niks wat ons kan doen dat Hy minder lief vir ons sal wees nie? Besef u dat u met u goeie werke niks van God se guns kan verdien nie? As u nog sukkel om uit die oorvloed van God se genade te leef dan is dit nodig dat u weer eens God se vertroosting van Ef. 2v8-10 u eie maak:
8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

In vers 6 bely Dawid dat dit in die teenwoordigheid van die Here net goed met hom sal gaan, selfs wanneer hy in gevaar is en dat die Here op grond van sy troue verbondsliefde vir hom sal sorg.
Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe;
en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Geliefdes, is u seker van u ewige bestemming of twyfel u soms daaroor? As dit wel so is geliefdes dan is dit nodig dat u weereens seker maak van die vaste sekerheid wat die Here vir ons in sy Woord gee (vgl. byvoorbeeld Hand. 16v31):
“Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
of Rom. 5v9-10 om maar net enkele voorbeelde te noem:
9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 
10 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 

Geliefdes as ons aan die soenverdienste van Jesus Christus vashou met die geloof wat God gee, kan ons ook met sekerheid weet dat Open. 21v3 vir ons waar sal wees, nou in hierdie bedeling en ook in die toekomstige bedeling na die wederkoms van ons Here:
Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.
Dan sal ons ook saam met Dawid kan bely:
ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
Slot
Die HERE is my Herder.
Is dit ook u persoonlike belydenis en anker in die lewe?
Amen